Die Taxi stop voor die bed. Die bestuurstoter roep amptelik my naam. “Meneer Breytenbach?”
Ek kry daai gevoel dat die doodsengel vir my wag. Huiwerig steek ek hand op.
“Ek kom u haal vir u flikkergramme.”
Ek bekyk daai vleistrollie. Van agter lyk die ding soos ‘n gebreklike fiets met sy langsmekaar wiele en die gatmat wat tussenin swaai. Van voor af soos ‘n winkeltrollie met horings. Van die kant af soos ‘n formule een afdraend stoel.
Ek klim maar in. Die verpleegster maak die suurstofsilinder tussen my bene op die stoel se sitplek staan. Ek moet hom daar vashou. Die bestuurstoter gooi ‘n kniekombersie oor my bene en die silinder. Ek sê hy moet eers wag en ek draai daai silinder dat hy eerder op sy sy lê onder die kombersie. Ek wil niemand langs die pad beïndruk nie.
Die verpleegster lag.
Hy stoot my daar in op die vleistrollie. Voete eerste.
‘n Monster met oop kake en ‘n lang tong grynslag vir my. Dit lyk soos een van daai transformer goeters waarme my seun altyd gespeel het. Net nie so vriendelik nie.
Ek skrik my laaste bietjie benoude asem weg.
Engel Gawierel verwelkom my. Sy glimlag vriendelik vir my, help my uit die stoel uit en sê ek moet op die offertong gaan lê met my kop oppie kussing, voete bek se kant toe.
Ek maak so.
Voor ek kan keer het sy my, met my arms styf teen my sy, op die offertong vasgegespe. Ek wonder vir ‘n oomblik of die dolk waarmee sy my gaan offer darem steriel is. Ek willie in die hemel aankom met klem in die kaak nie.
Sy druk ‘n knoppie en daai transformer se tong begin my bek toe trek.
Ek sweet, maar troos myself daaraan dat die ding vandag van die cholesterol gaan vrek as hy my insluk.
Bzzzzzzz snork daai monster en maak sy bokaak op my toe. Ek voel sy warm asem soos ‘n woestynbriese oor my blaas.
Skielik weet ek hoe voel ‘n beesfrikkidel tussen twee halwe broodjies en ek wonder of ek ‘n lekker spurburger sou maak want my “tjips” het ek nou gehad.
