Die bufferplakker op die ou, afgeleefde Landrover lees: “Wanneer laas het jy iets die eerste keer gedoen?”
Die Landie is nog padwaardig – hy het nog ‘n lisensie. Sy eerste, tweede en derde honderduisend kilometers is al verby. Sy eerste bergpas is intussen al geteer. Sy eerste eienaar dalk al begrawe. Elke dag ry hy verder van sy eerste kilometer af weg en bietjie nader aan sy laaste kilometer.
Hoe meer eerstes hy beleef hoe verder is hulle uitmekaar en hoe minder raak die oorblywende eerstes. Die opwinding van nuwe eerstes vervaag soos sy laastes meer word. Sy volgende eerste kan moontlik sy laaste eerste wees.
Ek wonder of hy al sy eerste laaste beleef het en of sy eerste laaste dalk ook sy laaste eerste sal wees.
My eerste geboorte was ook my laaste. Nou tussen 50 en 60 raak my eerstes ook al verder uitmekaar uit. Nie omdat daar nie genoeg eerstes oor is nie, maar eerder omdat my bakwerk en ratkas se klap knetter en kraak deesdae my ontbytvlokkies stil raas.
Soos die Landie is ek ook nog padwaardig. (Moet net nie onder my enjinkap loer nie.)
Eerstes is nog altyd lekker.
Daar is nog bergpasse wat ek die eerste keer wil ry, plekke wat ek die eerste keer wil sien, eerstes om te doen…
Maar bo alles moet die eerste keer wat ek doodgaan ook die laaste keer wees.
Wanneer hulle my as oor Tygervallei se dak strooi moet hulle daar ‘n plaatjie los wat aankondig: “Hier lê Naas. Vir die eerste keer in sy lewe, dood.”
“Wanneer laas het jy iets die eerste keer gedoen?”
