Author Topic: Rybewys  (Read 11107 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Leopatra

  • Guest
Rybewys
« on: April 07, 2011, 12:21:15 PM »
Stof het vir my gese ek kan hier hulp vra met die afronding van my gedig.  Hier kom dit:

Rybewys

Naby ons het ‘n meisie gebly
Met wie ek graag wou vry
Ek wou ‘n motor koop
Of ek moes aanhou loop

Ek gaan spreek toe my pa
Of vir ‘n motor te vra
Hy sê sommer dadelik nee
En ek voel vreeslik verleë

Ek wou vir my lisensie leer
Toe pa my opgewonde keer
Met sy wysvinger omhoog
Korrel hy met die oog

“Doer anderkant die brug
Baie, baie lank terug
Die Toetsbeampte het daar gewerk
Die gebou net duskant die kerk”.

Staan hy die dag met die verkeerde voet op
Het almal daardie dag summier gedop
Voor hom het die beangstes gebewe
DIT was sy genot in die lewe

Ek begin myself reeds verveel
Terwyl Pa onverstoord sy verlede deel
Tydens śỳ toets het hy so vaardig teruggerat
Dat jy net kon sien klippe spat

Die Toetsbeampte was taamlik nors
Sy knypbord styf teen sy bors
Skielik moes pa uitswaai
Voor hol ‘n hoender ‘n wilde draai

Die kar land reg voor Die Watergat
En Meneer Toetsbeampte lek sy lippe nat
Pa moes summier in die kar wag
Die Toetsbeampte vat sy eerste dop, die dag

Toe hy eindelik opdaag
Sê hy Pa het geslaag
Sy gesig was al effens rooi
En Pa het hom vir nog een genooi

Daaroor het Pa gesweer
Dat HY my sou leer
HY het dit eerste keer gekry
En ek sou dieselfde ry

Uiteindelik kon ek ook gaan
Om in DAARDIE ry te staan
Pa is soos ‘n wafferse majoor
Maar ai, vroeg al voor in die koor


Met ‘n bewe in die broek
Gaan wag ek in die hoek
Skielik roep die beampte my naam
En beduie ek moet saam

Die stophorlosie begin te tiek
In my binneste voel ek siek
Ek moes die voertuig inspekteur
Maar Pa het my dit nie geleer

Die Toetsbeampte begin vreeslik frons
My hart gaan onbedaarlik aan die bons
“Daar is nommer een
Neem die motor daarheen”

By nommer sewe
Begin ek te bewe
My maag voel hol
Die motor het teruggerol

“Gaan sien ‘n instrukteur
En leer om te observeer
Spaar jouself baie pyn
Leer vroegtydig om te sein”

Pa wil die Beampte sommer foeter
Beangs lê ek op die toeter
Pa se hy WEET dit was nie ek
Daarvoor was sy opleiding TE perfek

Pa sit sy hande om die man se keel
Ek kan dit nie verder veel
Pa weier om te los
En dit gaan my my rybewys kos

Hy sê hulle probeer net geldmaak
Terwyl ek al hoe rooier raak
Die Beampte begin sy kollegas nooi
Om vir Pa uit te gooi.

Die Outoppie besluit om te pleit
Maar hulle skop hom daar uit
Al was my Pa al grys
Was hy glad nie wys

Ek het toe baie hard gebid
Pa het toe die sak geskud
Hy het vir drie lesse betaal
En ek het die paal gehaal

Pa het op die harde manier geleer
Mens doen jou lisensie deur ‘n instrukteur
Pa is al bietjie oud
Sy kennis al taamlik koud

Ek het by die Bestuurskool gaan draai
Ek mag ook nou vir die spietkops waai
Maar die meisie met wie ek wou trou
Het ongelukkig toe baie meer van my Pa gehou

© Leopatra

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Rybewys
« Reply #1 on: April 08, 2011, 11:25:23 AM »
Tweede strofe,  tweede versreël, het jy 'n vingerfoutjie begaan.

Dat jy net kon sien klippe spat

As jy - dat jy net klippe kon sien spat - sou skryf,  sou jy mooi van alliterasie* gebruik maak.

* Alliterasie is die gelykheid van beginklanke.   Klippe kon -  en - sien spat. 

Al was my Pa al grys  Na die woord "my" is Pa nie meer 'n eienaam nie,  dus sal jy dit met 'n kleinlettertjie spel.

Pa se hy WEET dit was nie ek  In Afrikaans is daar altyd die bubbele ontkenningswoordjie en as jy "nie" hier herhaal, sal dit geen afbreek doen aan jou rym nie, maar dit effens verdoesel wat die rym dan sal versag.

HY het dit --- eerste keer gekry  persoonlik sou ek "die" ingevoeg het,  maar dit is jou keuse.

Pa is al bietjie oud  kan jy dalk "Pa" met "hy" vervang?

Pa het op die harde manier geleer
Mens doen jou lisensie deur ‘n instrukteur
Pa is al bietjie oud
Sy kennis al taamlik koud


Aangesien jy nou nie "Pa" weer wil herhaal nie,  kan jy dalk kyk of jy nie die versreëls kan omdraai nie.  Voorbeeld:
Pa is al bietjie oud
Sy kennis al taamlik koud
Hy het op die harde manier geleer
Mens doen jou lisensie deur 'n instrukteur.

Het ongelukkig toe baie meer van my Pa gehou  Hier sou ek ook net die "baie" uitlaat om weer 'n lettergreepbalans te handhaaf.  Onthou ook om "my pa" te skryf.

Natuurlik is bogenoemde net voorstelle.  Gebruik dit waarvan jy hou en smyt die ander uit.   :wave:
« Last Edit: April 08, 2011, 11:28:10 AM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Rybewys
« Reply #2 on: July 01, 2020, 01:34:30 AM »
En hier lees ek die ene vir die eerste keer raak oor die skouer van 'n gas  :icon_biggrin:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Rybewys
« Reply #3 on: July 02, 2020, 03:59:28 PM »
Dit is omtrent 'n storie en 'n half.   :angel4:


Meer as nege jaar gelede geskryf!
Om te weet is om te verstaan.