Author Topic: Opdrag ‘Aan almal wat voorgegaan het’ C. Louis Leipoldt, Versamelde gedigte  (Read 1808 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female

Nog een van ons "voorouers" se "onthou" gedigte.
C. Louis Leipoldt, Versamelde gedigte

Opdrag
 ‘Aan almal wat voorgegaan het’
 Die son gaan onder in die weste, agter
 Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;
 Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,
 Met elke wolk half wit soos sneeu daarbo;
 En saggies oor die veld hier val die skemer.
 Die laaste glans en jongste gloed verdwyn
 Van elke berg, waar nog so kort die kranse
 Geverf was deur die son met karmosyn.
 Oor al ons land daar trek die nag 'n skadu,
 Groen soos die blare van 'n sederboom.
 Die hamerkop verlaat die vlei; die reier
 Stap na sy nes om op een been te droom;
 Die naguil vlieg, en vlieënd klap sy vlerke;
 In die tabaktuin gons die duiwelby;
 En die aandblommetjies is algar ope
 Om wierook oor die vlakte te versprei.
 Waar in die weste, soos 'n muur van purper,
 Die bergrand teen die lug 'n skadu bou,
 Daar stadig klim die volmaan na die sterre
 En haal die hele wêreld weer uit rou.
 Sag is die nag en slaaprig al die wêreld
 Sag soos die wit gesiggie van 'n kind.
 Dof in die maanlig skitter net die sterre,
 En rustig in 'n klipskeur skuil die wind.
 Slaap rustig so, jul almal wat geworstel,
 Slaap so, jul algar wat gesneuwel het!
 Hoe hard ook was die dag, die nag gee slaaptyd:
 Na stryd kom slaap- dis die natuur se wet!
 Kan julle op ons neerskou soos die sterre,
 Kind, vrou en man, wat in ons tyd van nood
 Die bitter kelk gesluk het en gevinde
 'n Rus vir ewig in 'n heldedood,
 Neem dan wat ek (vir wie dit nooit gegewe was
 Die laaste stap te doen uit liefdeplig)
 As brokkies vir 'n eerbewys gebou het
 'n Nietigheid van rympies- my gedig.
 Ja, nietig, want geen sterretjie kan dowwer,
 In vergelyking met jou voorbeeld, blink
 En tog, miskien, dis moontlik dis 'n weerklank
 Van wat vir altyd in ons harte klink!
 Die maanlig gooi 'n silwer waas oor velde
 Waar eens die grys kruitwolke vry mog rol;
 En elke plaas wat vroeër van rook geruik het,
 Is met die geure van aandklossies vol.
 Maar selfs dié silwer lig kan nie verberge
 Die tekens van die tyd tien jaar verby:
 Maak net jou oë toe, en tussen wierook
 Bespeur jy nog die kruitrook op die vlei!
 Ja, man wat op die slagveld wreed moes sneuwel,
 En in die kinderkampe, kind en vrou,
 Slaap rustig stil, julle wat so geworstel
 En so gesterwe het- want ons onthou
« Last Edit: May 17, 2025, 03:55:25 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.