Author Topic: Spinnerakke en stof  (Read 1442 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Spinnerakke en stof
« on: April 12, 2022, 09:11:17 PM »
Gegroet vriende …

Jare gelede het ‘n kollega ons een oggend vertel hoe haar man die vorige aand gemor het oor spinnerakke in die hoek. Of hul in hul kombuis of tv-kamer of waar ookal gesit het, weet ek nie. Sy het hom toe mooi vertel dat hy moet kies tussen ‘n huis wat silwerskoon is, sonder stof, of vertrekke waar alles mooi weggepak is, want sy kan regtig nie alles elke aand perfek hê nie. Sy werk voldag, soms oortyd; hulle het twee kleuters gehad; sy het geen huishulp gehad nie.

Sy het hom ook daarop gewys dat ‘n ywerige spinnekop ‘n nuwe spinnerak binne ure weer kan spin. Sy antwoord was iets soos: “dan moet die spinnerak nie vol stof wees nie.”

Ek het ‘n paar Bybels op die Bybel-boekrak in ons huis se gang. Verskillende afrikaanse vertalings en ‘n engelse een of twee. En ja, hulle word gereeld afgestof, en gebruik. Soms sommer op die tafel in my hoekie waar die son namiddag inskyn, vir elke dag se Bybelstudie of voorbereiding daarvoor. Hulle is ook almal op internet beskikbaar, op my skoottoppie of my selfoon. Ook die program e-Sword, met al sy verklarings en honderde ander vertalings ook.

Hoeveel van julle gebruik jul Bybel elke dag? Nie net vir ‘n vinnige leesstukkie en gebed nie, maar vir lees, opsoek, verwysings, soeke na vrede en troos in hartseer tye, of lofsange in vreugdetye. Of is jou Bybel vol stof?

Wanneer jy nou uit jou Bybel van papier sit en lees, of van jou selfoon af, hou ‘n pen en boekie byderhand. Griffel ‘n paar gedagtes neer waarna jy later weer kan teruggaan. Herleef weer die emosie wat jy ervaar het. Lees dieselfde verse dan weer, en laat dit dieper in jou hart insink. Leer jouself só om meer daarvan te onthou.

Jesus het daardie Sondag Jerusalem ingery. Leef jou in daardie prentjie in. Gooi nou ook jou palmtak “op die pad” waarop hulle was. Stap dan “agter die donkie aan.” Kyk hoe dwarrel die stof onder jou voete. En onthou hoe stil die pad ‘n paar dae later geword het, want alles en almal het tot stilstand gekom, toe dit in die dagure donker geword het. Dan kan jy met jou hande omhoog, God loof en prys omdat sy Seun die verlatenheid vir ons deurleef het, sodat dit nooit met ons sal gebeur nie. Hou net vas aan Hom.

Vriende, moet nie toelaat dat vuil stowwerige “spinnerakke” verlore oor jou Bybel, of in jou hart gaan lê nie. Stof dit elke dag af, sodat net die blink deeltjies in jou hart en gedagtes kan rondsweef. Hou Jesus se teenwoordigheid lewendig. Lê jou Bybel op ‘n plek neer waar ‘n sonstraal daaroor kan val, dan sal jy sien hoe die stofdeeltjies in die sonstraal blink. Dis asof ‘n engel ‘n kwassie vol blinkertjies daar rondswaai. Vertel iemand daarvan en beleef die lewende Here se teenwoordigheid daarmee saam.

Here, stof die vuil spinnerakke van twyfel in ons af en laat net die blink deeltjies van u teenwoordigheid, u liefde, oor, in en om ons hart en verstand bly sweef.
Amen amen Here.

Vrede en vreugde vir julle.
Groete tot volgende keer. Totsiens.

adéle theron.
adéle  :grommit: