Author Topic: Hoe soek ons 'n toekoms  (Read 261 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Hoe soek ons 'n toekoms
« on: January 18, 2022, 04:30:47 AM »
          Die Vrystaat (ook ander streke in ons mooi land) is nat. Eintlik NAT. Plek-plek was daar weke gelede laas enige droë plekkie grond. Lande is oorstroom en diere deur vol spruite vasgekeer.

          Mag ons vra dat ons Here weer sonskyn en wind gee om die lande so effens op te droog? Natuurlik. Hoekom nie. Is dit nie dalk waarvoor Hy wag nie? Ons glo ons moet vra, maar dan vergeet ons, in die ramp van té nat, om weer te vra, want ons het vir reën gevra omdat dit te droog was. Ek onthou iemand het eenkeer gesê, pas op waarvoor jy vra.

         Begin elke dag met gebed, en sommer gesels met ons Vader. Saans dink ons daaraan, maar dan vergeet ons môreoggend weer daarvan.

          Hy stap uit stoep toe, wil so na aan die landerye kom as wat hy kan. Maar dit is, soos hulle in engels sê ‘useless’ want die tuin is ‘n dam. Laasnag se reën kan nie meer wegsak nie; die grond is oorversadig. Die water lê reeds teenaan die boonste trappie en dreig om die huis in te vloei. Die skuur se vloer is reeds oorspoel. Die voertuie daar naby is tot by die deure onder water. Sakke saad, kunsmis, voeding, soutblokke … alles is nat en die skade is te veel om te bereken.

          Toe die son opkom, blink die landerye soos ‘n spieël. Daar steek nog enkele koringare bokant die water uit, maar dis net die langste stele. Die res het reeds ongesiens verdwyn. Verderaan is lande met ander gewasse, sommige pas geplant, ander met lusern reeds weggespoel en nog ‘n land wat voorberei was om binnekort te plant… Here Help! 

          Hy sluit sy oë en roep nog ‘n keer na die enigste Here wat hy ken en by wie hy hulp soek. Hy voel nie die trane oor sy wange nie, ook nie eers toe hulle afdrup op sy bors nie. Hy sien net die waterbeeld wat in sy betraande oë uit fokus raak en verdof.

          Terug in die huis in, gaan skink hy twee bekers koffie en stap dan weer stoep toe. Hy gaan sit langs haar op hulle rottangbankie. Toe hy haar plaas toe gebring het en oor die drempel gedra het, het sy hierdie stoephoekie ingerig en dit het hulle bidhoekie geword. Hulle oggend-huisgodsdiens-, gesels-, beplanning-, smeking- en dankiesê plekkie.

          Sy gee vir hom ‘n paar tissues, ja sneesdoekies, maar tissues vee meer trane af. Dan snik hy hardop en sy vat net sy hande in hare vas. Hy kry sy emosies vasgevat en begin dan bid. Hy bid tot die God van hemel en aarde, hulle Skepper wat alles onderhou. Hy pak sy hele hart se seer en angs en vrese vir die toekoms, op Christus se skouer af. Hy gaan haal dit by die droogte van die afgelope paar jaar, dan die vlamme wat die winter feitlik alle weiveld opgevreet het en kom by die reën van die afgelope twee maande uit, maar toe hy by vanoggend se vloed kom, breek sy stem weer.

          Sy tel die Bybel op, blaai na Psalm 23 en lees die eerste vers:
Die Here is my herder. 'n PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie
… dan kom sy nie verder nie. Maar oomblikke later bid sy met haar helder stem:
Here, soos vir Dawid, is U ook ons Herder en ons weet U sal ons nooit verlaat nie. U genade sal ons nie ontbreek nie. Kom gee ons asseblief nou moed om aan te gaan, om die seisoen weer oor te begin. Here, ons glo in U. Amen.

          Hy kyk in haar oë en begin glimlag. Dan kyk hy uit, van die tuin af tot waar die horison die water ontmoet. En sy weet, als sal regkom. Soos ná die droogtes en die brande, die plaasaanval ‘n paar jaar tevore, sal hulle ook hierdeur kom. Ook dié ramp oorwin.

          Met al die seën en genade van Bo, stap hulle weer die nuwe toekoms in.

©adéle theron
Januarie 2022
adéle  :grommit: