Author Topic: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte  (Read 8239 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Ek 't  vandag gaan sit
as *immigrant -
by die voete van Jan F.E Cilliers
wou daar net weer gaan leer
sodat ek ook soms kan dig
soos die meesters uit die verlee'
in my taal aan moederskoot geleer

So pas ek vermoeid die woorde toe:
al stuiwend en stampend vorm ek nou deel 
van die *verraaier se geslag deur jou verag
die dag  toe ek die land verlaat het
met my jas van nuwe woorde
wat  nie  meer  knus wou pas

En tog pas ons nog áltwee toe
die reëls om met stemming,
saam te voeg wanneer ons dig
en gebruik ons uit dieselfde bron:

Rympatrone - vir ritme
twee reëls is 'n koeplet
en ses pronk as sekstet
agt vir oktaaf -
en veertien -
'n sonnet!

Ons weet van jambe en pirre
selfs trogee en spondee,
ons leer van skema's met die abc:
Gekruis is abab cdcd
omarm vertoon as abba cddc.
Met slagrym gebruik ons slegs - aaaa!
En ámper vergeet ek die gebróke een
abcd!

Ek 't vandag ook gaan sit by die voet
van 'n knaap genaamd:
... Koos Kombuis ...

So was 'k vanuit die verlede 
geruk tot midde in die hede!

Tot daár waar my ou meester's drome
vergruis geworstel het met sy woorde
soos babelaas en loom,
en die verveelde doringboom!

Nou wonder ek,
maak ons dan nou plek
vir woorde wat bely
uit die mond van Koos Kombuis:
van 'n eeu wat end -
going, going gone!


Ek 't toe maar weer gaan sit
by die voete van Jan F.E Cilliers
"So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder 'n held van die daad...
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver op die velde verlaat."

Is die era van die doringboom verby?
Het dit tyd geword om te bely:
Hierdie boompie is verplant -
Ek is nou 'n *immigrant
in 'n land waar almal om my,
in 'n ander taal praat!

* Verraaiersgeslag en immigrant moet gelees word in die terme van 'n nuwe skryfstyl
en die minagting van verandering en aanvaarding veral in die nuwe neiging
van lirieke in die Afrikaanse musiek gebied.
« Last Edit: August 04, 2016, 12:43:40 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #1 on: December 18, 2015, 03:18:31 AM »
Tiktak van die lewensklok

Ure
van staar
na eindelose beelde
opgetower in flikker van warm vure
word gister weer magies herskep tot lewe

Rook
en roet
verdoem die siel
wat hunker na verborge skat
alom gepluk as die eens verbode vrug

Daar's
'n tyd afgemeet
vir ieder en vir elk
tog weet steeds niemand presies
wanneer die dood stil by jou deur kom staan

Elke
uur verby
bring jou nader
sonder om te huiwer of talm
Tiktak 'n lewensklok die minute een een af

Stof
tot stof
is die bordjies verhang
want daar is geen een van ons
wat die einde kan verkul met systap na links.

©
« Last Edit: December 18, 2015, 04:57:26 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #2 on: December 18, 2015, 03:24:45 AM »
Donker Verse
Uit die bundel: Iewers tussen gister en vandag

onthou so goed toe ek jou
die eerste keer hoor lag

saamgesnoer vir ewig
was die belofte aanmekaar
saam gedans terwyl die maan koekeloer
oor heuwels met blink strome

onvervuld staar ek na die vlam se vuur
wat in sag-oranje-geel voortduur

verwonderd oor waaroms
en hoekoms

ek plaas vanaand
'n verdorde ruiker
in die vaas vir jou

want

iewers tussen gister en vandag
het ons mekaar verby geloop
en 'n droom gesterf

**********

dwalend deur skemerte van 'onthou jy nog'
lê spore van seer gekerf
met stomp lemme
 
kortstondige geluk
kru verkrag

baie woorde
stom verkrom

dit wat was
kan nooit meer wees

want

iewers tussen gister en vandag
is môre verwoes en los 'n wrang smaak
van bitter gebraak
 
***********

sonder jou bekendheid wat warmte kon bring
en donker laat verdwyn
omsingel vrees my lewensbaan

soos skepe in die nag
vaar ons nou net sku verby

so vreemd-bekend
dit trek ingewande
op 'n knop

wange blink van baie trane
reeds gestort oor dit wat was
en nie meer kan

*************

snags wanneer die swaar jas van donker
se duister om alles kom hang
 
wanneer elke geluid daar buite
my tastend laat reik na die koue kant van ons bed

en ek sag jou naam wil fluister
wetende jy het altyd geluister

onthou ek weer

iewers tussen gister en vandag
het 'ons' verdwyn

©

***************

Soms as mens terugkyk kan jy nie glo dat jy weer heel geword het na sekere kronkels en afgronde op jou lewenspad. Soms is dit die stryd tussen lewe en dood. Soms die stryd tussen twee gehawende siele. En soms net 'n uitlaatklep.

Die skrif is teen die muur

jy en ek
ons
twee pole
suid
noord

tussen jou en my
woed
'n oorlog
klaarblyklik
(on)versoenbaar

jy en jy en
iewers
in die middel
veg
ek

murasies
van
weer probeer
stom
getuies

cul de sac
graffiti
teen ons
gister's
vandag en more's

©
« Last Edit: April 20, 2016, 09:05:50 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #3 on: December 18, 2015, 04:55:48 AM »
Die holtes van my hart
huisves mosbegroeide geraamtes
skadu's van geroesde verwagtings
en ranke wat wurg
met  trane gevoed
©

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #4 on: December 18, 2015, 05:01:56 AM »
En op 'n dag verskyn daar 'n ridder op sy witperd en skyn die son weer vir my  :love7:

Geheime na vervulling

Soos gate in my gees geboor
het eensaamheid eens my siel vertoorn
Toe kom maak jy my laslapjas se gate
weer heel met ragfyn liefde

Nou weerklink klokkespel sag
by die ingange van my stadspoort
waar duistere geheime na vervulling
opgesluit lê

Soos 'n hert smag na waterstrome
bruis diepgewortelde behoefte
om soos die môre te ontwaak
tussen heuwels van orgideë

Kan ons die werklikheid 'n wyle ontvlug
sprei ons vlerke en vlieg saam
waar skuim van branders klotsend
teen ruwe rotse slaan

Brand in my 'n duisend liggie's vlam
en met Godgegewendheid van
volkome vrou-wees blom ek skaam
in oorgawe en 'n hemelse legkaart
val in plek.

©

*Opgedra aan Outop

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #5 on: December 18, 2015, 03:09:24 PM »
Pragtig, soos altyd.  Ek lief jou werk.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #6 on: December 18, 2015, 09:14:33 PM »
 :love7: :icon_salut: Opregte dank!

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #7 on: March 10, 2016, 11:19:13 PM »
Woordbeitels & Slypstene uit die Digter's Gereedskapskis

(1) Alliterasie en assonansie is vir my persoonlik die rymende klankbeitel waarmee ons woordskatte, ritmies tussen lyne en spasies 'poëties formeer'. Deur die gebruik van herhaalde klanke is ons doel dan ook om daarmee aan die ontwikkeling van die strofes te timmer. Woorde en gedagtes saam te heg/bind, sodat ons as eindproduk - 'n gedig het.
 
Met die alliterasiebeitel kap ons herhaaldelik dieselfde konsonante uit die abc.
Wanneer ons die assonansiekant van die beitel gebruik, kap ons dieselfde vokale of diftonge op kort afstand van mekaar, in ons skepping uit, om byvoorbeeld emosie oor te dra.
 
Lang klanke om 'n stadiger ritme aan te dui. 'n Pragtige voorbeeld is die 'ee' en 'aa' assonansie in 'Winter'  (NP van Wyk Louw). So gebruik ons dan ook die kort klanke om 'n gevoel oor te dra van opgewondenheid of angs. Dit is ook die towermiddel waarmee ons klanknabootsing kan toepas.                                         



Skuinsgestrekte silhoeëtstrepe in sonneblomgeel;
só kom versier die somerson se skaterlag
soggens, guitig deur die kantgordyn
suutjies my goudgeel kamermuur.
 
© Meraai vannie baai

******************************************

(2)
 Oxus-Moros: Hier maak ons gebruik van OKSIMORON (twee teenoorgestelde begrippe met mekaar verbind) Die woord is van Griekse oorsprong - en is saamgestel uit twee woorde: oxus, wat skerp beteken, en moros wat verspot beteken.

VOORBEELD: SIENDE BLIND

Die eerbare skurk
met sy ernstige spel
en wrede vriendelikheid

laat ons in stille uitbarstings
geluidloos uitroep en
vanuit die koue vuur

loop lewende lyke
met langsame haas
die doodloopstraat van 'n sirkel

met oneindige beperkings
want die oorspronklike kopie
van lewe en dood - is half voltooid
en vermis bevind.

© Meraai vannie baai

**********************************************

(3) Ekphrasis 'n Woord & Beeld Duet.





Wanneer ons 'ou uitdrukkings' klee met 'n 'nuwerwetse baadjie', kan dit kreatief/verfrissend opgedis word. Ek het die nagmerrie gedagtes wat my blootsry, 'hokgeslaan'.



*******************************************

(4)Gesegdes in Versvorm.
 
Hier en daar het ek minder bekende uitdrukkings (vir my), gebruik in die gedig wat uit drie gekombineerde strukture bestaan: Oorbruggende-/Herhaalde Titel en Gesegdes in Versvorm.

Die man van sesse klaar

met sy mantel na die wind gedraai,
had hy heelwat in sy mars gehad.
Sommiges sê die meetsnoere het vir hom
op lieflike plekke geval, en hy was met
'n silwer lepel in die mond gebore.
So het hulle voet by stuk gehou.

Maar hy - die man van sesse klaar,
moes self die mas opkom en toe hy
met die noorderson verdwyn, was
daar van heinde en vêr bespiegel:
dit was laaste sien van die blikkantien.

Almal was dit eens en het tromp-op stories
loop verkoop: Die tweegatjakkals het hul
donkiejare laas gesien. Hy het soos mis
voor die son verdwyn...

Hy het sweerlik die emmer geskop;
hulle vryf die kneukels blink, en
kiewe trek styf van die suurdruiwe
uit Nabot se wingerd ...

Nog voor hy 'n enkel ysterklou,
aan die grond kon slaan -
is die vlag halfmas laat hang
en daarmee saam, was die
man van sesse klaar -
se naam in eer herstel.

© Meraai vannie baai

*bron van navorsing: Oorsprong van gesegdes - Afrikaans in Europa
As lesers belangstel in uiteensettings van die minder bekende gesegdes kan hulle hierdie skakel volg:  http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=2343.0

***************************************************

(5) Die "Caesura-tegniek" / "Tipografiese wit", kan ingespan word vir daardie tikkie 'ritmiese zing' tussen die lyne. Hierdie tegniek kom tot sy volle reg met voorlesing. Wanneer jy dus so gedig skep, is dit skryf, luister; skryf luister. Maak seker die woorde wat jy wil laat hang, is op die regte plekke geplaas. Die spasies werk soos die rusteken in musiek. En soos met alles, het dit die mooiste inpak as jy dit spaarsamig toepas. Soos met gewone spreektaal, laat ons die leser hier rus tussen woorde met die gebruik van 'n dig-element,  meestal sonder die gebruik van leestekens.
 
Ek het toeka se woorde gebruik om hierdie geselsverse saam te stel waar die tegniek van tipografiese 'witspasies' toegepas word in die laaste reëls van die 1ste, 3de en 6de verse.
 
Vanmelewe ...
 
Sawens om die skoongeskropte kombuistafel,
sit die kjenners nes hoenders  op stellasies.
Pagoed het stil verdwyn met die draadloos;
hy gaan 'n wyle skuinslê, magoed sal omsien
na huis en haard     opgetooi      met oulap se rooi.
 
Die gedurige aanmaan en gestaan agter klôgoed
nes 'n grêmmefone wat vashaak in die agtergrond:
"Span daai harregat klapperdoppe ín vir 'n slag!
Tiekies en pennies, sjielings en halfkrone, dié
groei nie aan bome nie. Julle moet geleerd kom!"
 
Ons doet so voort Moeder! Ses griffels krap oor leie.
Streepsuiker is jou voorland sou jy dink aan slaplê!
Vandeesjaar is Ouboet se laaste boeksakdra;
sy skaapogies en gesoek na perde en osse,
die is púre verniet              aanskomende jaar kom hy boer.
 
Die gôwerment het brieke aangedraai met die aalmoese,   
dis glo 'n bielie van 'n saak; hiér te kort en dáár te lank.
Ieder en elk - Gatjieponners, Hervormes en Doppers,
die is nou aan't swoeg en sweet vir elke mudsak koring
soos die Grootboek beveel om jou hand aan die ploeg te slaan.
 
Van gunste en gawes die is daar geen sprake meer van nie.
Vir elke sjieling of pond sal jy kromstaan of sekel swaai,
prosedeer gaan vir jou nie 'n tiekie ekstra in die sak bring nie.
Elke man vir homself. Ou Sekelstert sal sorre vir die res;
dít is die wet van Transvaal my geliefde ou swaer.
 
Voordag met die haan se kraai, trek jy suutjies
die warm flênnie oor jou blaaie en stook die koue vuur.
Skouer aan die wiel; baie myle lê tussen saai en oes.
Dank die Liewe Vader, voor jouse twak staan en nat worre
en jy Bokveld toe verhuis       sesvoet      ônner die grond.

© Meraai vannie baai

************************************************

(6) Kruis en dwars skryftegniek
Nog 'n manier om kreatief te skep is met die 'kruis en dwars' metode. Die skrywer neem 'n klompie woorde, plaas dit in twee kolomme teenoor- of ondermekaar. Verbind nou die twee kolomme sonder om ag te slaan op die woorde. Hieruit kan nou nuwe woorde/begrippe of humoristiese verbindings verkry word. Ek het as voorbeeld veertien woorde uit ons Eksosentriese Komposita (die kruiemiddel waarmee daar  kleur en geur aan die alledaagse spreektaal gegee word) gebruik.

A  kwaggakaiing: koeksuster
B  krabbelpoot: slordige handskrif
C  bokverdriet: onplesierige dik mistige weer
D  help-my-bykommetjie: hoe hakskoen
E  stoutpootjie: vryer wat nie sy hande kan tuishou nie
F  adamsvurk: met die vingers eet
G  Kalaharibesem: sterk kalahariwind wat alles met sand bedek

1. Hemeltoorts: die son, ook genoem: Janbantam en Janlap
2. Kop-en pootjiesdraai: agterbuurt
3. genade water: flou koffie
4. Kekkelbessie: benaming vir hoendereier
5. blikperd: trapfiets
6. knordonkie: bromponie
7. goggabangmaak: skreeulelike persoon of ding

Uit hierdie twee groepe het ek die volgende woordverbindings gekry:

A7: Kwaggakaiing/goggabangmaak
B6: Krabbelpoot/knordonkie
C5: Bokverdriet/blikperd
D4: Help-my-bykommetjie/kekkelbessie
E3: Stoutpootjie/genade water
F2: Adamsvurk/kop-en pootjiesdraai
G1: Kalaharibesem/kwaggakaiing

Jy kan ook die twee groepe blindelings verbind. Eindelose woordpret wanneer hierdie verbindings in versvorm ingespan word!

Sagrys Stoutpootjie.

Daarbo by kop-en pootjiesdraai
waar die kekkelbessies nesskrop
langs 'n papwielblikperd;

speel Janbantam stille toeskouer
as bokverdriet nie sy sluiers gooi.

Op die trappie langs die malvas,
sit ou Sagrys Stoutpootjie.

Met adamsvurk eet hy Kalahariprawns
en sluk dan af - met genade water

Om die hoek kom Kalaharibesem
sy vaaljas gooi, oor mens en dier

©Meraai vannie baai

WOORDLYS SPEL

Drie Donker Donau Dramas

Duskant
die dooie denneboom,

draai
dwarrelwinde dreigend.

Delikaat
dans die Deense Dolla daar.

Dekor
deurgaans dieselfde:

Die Drinkpan -
dekades dor/droog.

Donderdae;
dikwels die diamantdief deurpad...

*********

Duister
die digter's dimensie;

dog
detail duidelik daar.

Dokumenteer
die destydse demokrasiedanse:

"Donasies
deur dorpsdokters/dominees!"

Duidelik
dus, die deursnee doel daarmee :

departementele dade
deur dorstige duiwelsgade".


***************

Dis dié Desemberfees;
daar drup-drup druifsap dragtig.
Dwing dapper dwase durf, die
dom-dommer-domste d(r)onkies
dwarsdeur diensbare 'doringdrade'.

Danksy deftige damesdruk,
droog die drankbare dramas
darem deels. Deporteer die
departement daarna dertig
droewige dasdraers!
 
© Meraai vannie baai

************************

Ekstremiese Eenvoud

Erediens erns,
elke Eva's eksperiment.

Eufratiese
evolusie-elegie.


Eenvoudige ervarings;
elektron-ekstase!

Eintlik elkeen
elementêr.

Ek erken eselrig
(enigste elegante emosie)

êrens
emigreer energie.

Eie Eksodes
en elders, erf enkeles, eensaamheid...

© Meraai vannie baai

*Alledaagse takies het oornag vir hierdie Eva 'n reuse uitdaging geword op die Eksodus kringloop tussen goeie en minder goeie dae. Geleende asem uit onelegante pypies - opreg dankbaar - 'n eensame erfdeel.

Die volgende een was geskep met Naas se eie Tru Vers Struktuur  :notworthy:

Freudian-glips

Duistere geweste in die siele argief;
"Kreukelkamer biografieë"
So onwetend impulsief,
verklap in verswygde onvermoë

met 'n glip van die tong
en onverwags, deurklief
die tuin van Eden's slang
'n duistere geweste in die siele argief

Freud verklaar my die ewige kneg
wat verklap met verswygde onvermoë
en verbeur daardeur die kopiereg
op my kreukelkamer biografieë

Sonder ag gee op my gedagtes
ontbloot die tong-glip-dief
verskuilde geraamtes;
so onwetend impulsief

Verklap in verswygde onvermoë
so onwetend impulsief;
"Kreukelkamer biografieë"
Duistere geweste in die siele argief

© Meraai vannie baai

Teenoorgestelde Skryfstyl - aanleiding van Dolly Parton se lied 'The grass is blue'.

Nóg hier nóg daar

Tussen iewers en nêrens
swerf ek stagnant
nóg hier nóg daar
niet in vlees of gees
spook die lewende.

Daar waar die horisonne
getyelose seë, kus op die wange
kraai 'n nagtegaal drie maal
oor haasbek-herinneringe
in alwynsoete môres
in 'n swart en wit reënboogland
waar sterre snags slaap
waar die son nooit skyn.

Sielepleister van onsekerheid
wanneer bangwees kom troos
in die lewensgang sonder end
waar tyd stil gaan staan
as die aarde stol op sy as.

Dit is daar waar niks alles is
dit is daar waar alles niks is
en die waarheid knoei openlik
oor ek so droewig kan lag
oor 'n vergete toekoms en
oor koue vure se warm as en
oor die sterre wat snags slaap en
oor die son wat nooit meer skyn

oor 'n swart en wit reënboogland
oor sewe seë net 'n klipgooi ver
as ek deur die lug kon swem
oor en oor, was ek al daar
maar die hemel kan val
en dan is een plus een vier
oor die sterre snags slaap en
oor die son nooit skyn nie,
swerf ek liewers net hier
oor die son nooit weer gaan skyn nie

nóg hier nóg daar.

© Meraai vannie baai

« Last Edit: November 08, 2021, 12:48:17 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 362
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #8 on: March 14, 2016, 12:02:47 PM »
Dankie Meraai. Jy het die mooistes van die mooistes gaan uithaal en afstof vir ons. Ek wonder hoeveel van ons lees nog hierdie gedigte. Joune? Nie net mooi nie maar ook 'n les daarin vir ons wat nog so baie het om te leer. Dankie weereens

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #9 on: March 15, 2016, 04:05:16 AM »
 :notworthy: :icon_salut: :love7: So baie dankies Ans. Ons leer bymekaar. Mis ons saamkuiers tussen lyne en woorde ongelooflik baie.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #10 on: August 03, 2016, 08:10:08 PM »
Hierdie bydrae van jou is kosbaar Raaitjie!
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #11 on: October 27, 2021, 02:33:47 AM »
En hier word my werk in geheel weggedra  :color: :color: :color: :color: :color: :color:
Ek besef daar is nie veel wat ons kan doen nie maar wou tog my frustrasie hier pen, en aan die wegdraers wys dat ons bewus is van die situasie.

Aan ons gas: Weet jy wat dit beteken © ???

Meraai vannie Baai   02:35:22 AM   Viewing the board index of Die Afrikaanse Forum.
Guest   02:35:18 AM   Viewing the board Bekgeveg.
Guest   02:35:17 AM   Viewing the board Bekgeveg.
Guest   02:34:48 AM   Viewing the topic Afrikaanse weergawe van die Staccato Struktuur .
Guest   02:32:58 AM   Viewing the topic Vuurwarm....
Guest   02:32:46 AM   Viewing the topic Metrum en versvoete..
Guest   02:32:42 AM   Printing the topic "By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte".

Author Topic: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte  (Read 4726 times)
Meraai vannie Baai and 12 Guests are viewing this topic.
« Last Edit: October 27, 2021, 03:23:30 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: By die voete van Jan F.E Cilliers en Koos Kombuis & ander gedigte
« Reply #12 on: October 27, 2021, 02:37:20 PM »
Dit is so jammer.  Ongelukkig is daar baie mense wat hulle nie aan reels en regulasies steur.    :crybaby2:
Om te weet is om te verstaan.