Author Topic: Naas soek werk  (Read 6103 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Naas soek werk
« on: December 02, 2012, 03:54:40 AM »
My eerste werk was op ‘n Lemoenplaas maar die voorman het suur geword vir my.

Toe kry ek werk as ‘n takbestuurder maar dit was te afgesaag na my sin.

Na dit het ek probeer om klere te maak maar ek het nie ‘n steek daarvan verstaan nie.

By die bandemaatskappy het ek twee weke gewerk voor ek spore gemaak het.
 
My volgende werk was as ‘n braaier by ‘n “Steakhouse” maar dit was bo my vuurmaakplek.
 
Toe word ek ‘n Psigiater maar my pasiente se probleme het my mal gemaak.

Word 'n proffessionele fietsryer maar die spanbestuurder het gese ek moet trap.
 
Ek het dit oorweeg om ‘n haarkapper te word maar het nie die styl daarvoor gehad nie.

Toe probeer ek ‘n kok word. Het gedink dit sal bietjie geur aan my lewe gee maar dit het ook platgeval.

Toe maak ek ‘n Deli oop maar ek moes my ham te dun sny.

Musikant was ook nie betalend nie want die note was vals..
 
Ek word toe ‘n Oogdokter maar kon nie gefokus bly nie.

My werk as dokter het my ook nie die nodige inspuiting gegee nie toe moes ek dit ook ent.

Toe gaan werk ek in ‘n skoenfabriek maar kon nie ‘n tree vorder nie.

Wou ‘n onderwyser word maar ek is nie reg geskool nie..

Visvang klink toe reg vir my maar die net inkomste was te laag.

Al uitweg was om ‘n heks te word maar ek het te veel gebrou.

Kry toe ‘n goeie werk by ‘n swembadfirma maar ek is gefire oor ek droog gemaak het.

Aanvaar pos by die dieretuin. Moes die kameelperde kos gee maar ek het kort gekom.

Wou toe ‘n sekretaresse word maar die baas het my gevang tik.
 
Ek was baie gelukkig as seiljagvaarder maar dit was ‘n gejaag na wind.

As elektrisien het dit goed gegaan maar die kragtoevoer was skokkend en dienste is kort kort onderbreek.

Word ‘n tuinier maar alhoewel ek die geld ingehark het wou die werk nie op my groei nie.
 
Toe word ek ‘n komediant maar die mense het my vir ‘n grap gevat.

Na lang gesoek besluit ek om ‘n historikus te word maar ek het na ‘n rukkie besef die werk het nie ‘n toekoms nie.

Ek wou 'n veearts word maar kon nie hond haaraf maak nie en weet daarvan net so min as 'n kat van safraan.

Het grafte gegrawe maar my gat gesien.

Toe wou ek gaan jag maar het tekort geskiet.

Apteekwese probeer maar na drie maande 'n oordosis van pille gehad.

As boemelaar het dit maar broekskeur gegaan.

Het my PDP gekry en begin taxi ry maar die pad byster geraak en kop aan kop met die gereg gebots.

Begin installeer toilette maar ook daar het ek die pot mis gesit. Probeer toe maar baddens installeer maar een of ander vuilgat het die prop op my getrek.

Van sokker speel het ook niks gekom nie want ek het die doel gemis.

Het ook vir Avery gewerk en skale herstel maar ek was te lig bevind.

Slotmaker was ook nie my sleutel tot sukses nie toe besluit ek om dit te los.

Het opleiding ontvang om 'n hangman te word maar wou nie my nek daarin waag nie.

Treindrywer het ook nie gewerk nie want ek het die spoor byster geraak.

Skape opgepas maar my lam geskrik vir die ooievaar.

Toe word ek 'n sterrekyker maar na drie nagte was ek met die maan gepla.

Sluit aan by die transportryers maar kry die trekpas oor ek nie kon handel dryf nie.

Was 'n matroos maar alhoevel ek eers goed gevaar het het daar 'n storm oor my kop losgebars en ek het gesink omdat ek nie die mas kon opkom nie

Het parrapleeg probeer maar toe kon ek nerens kom nie.

My werk as lugballonloods het wel van die grond af gekom maar voor ek hoogtes kon bereik het my borrel gebars.

Probeer toe 'n oujongkerel word maar het ongelukkig oor die tou getrap en kry toe die strop om my nek.

Word toe 'n eierboer maar was gou de hoenders in en geen haan het weer daarna gekraai nie.

As myner het ek donker tye beleef en baie neerslagtig geraak.

Was Kaptein van 'n plesierboot maar my loopbaan het op die rotse geloop omdat die kompas vir my grieks was. 'n Storm
bars toe oor my los omdat ek wou anker gooi in 'n reddingsboot.

Maak toe 'n dobbelhuis oop maar die stene wou nie reg val nie toe stap ek kaal daaruit.

Wou 'n ginikoloog word maar na 'n deeglike ondersoek het die uitsig het my nie aangestaan nie..

Begin toe 'n drankwinkel, kyk te diep in die bottel en loop drie rye spore daar uit.

My twee maande by die weerburo was maar stormagtig en toe die baas soos 'n orkaan daar instorm, het ek soos mis voor die son verdwyn.

Het prostitusie probeer maar ek moet rondborstig erken, my libido het my in die steek gelaat en ek was te pap om af te lewer.

Gaan boer met beeste maar voor ek die bul behoorlik aan die horings kon beetkry het my vrou en SARS my droog gemelk.

Met bokke ook probeer boer maar die finale klok het vir my gelui toe ek nie die kloutjie by die oor kon kry nie.

Werk as poliesman het my geboei maar ek kon nie die wette vang nie.

Fynproewery was ook maar 'n onsmaaklike werk.

Toe word ek maar 'n afslaer maar het 'n hoër aanbod gekry.

Word 'n kaartjie-inspekteur op die treine maar iemand het die fluitjie op my geblaas en my aanstelling kortgeknip.

Gaan werk toe by die kwekery maar ek was te deur die blare toe word ek gesnoei.

Was vuur en vlam om 'n petroljoggie te word maar het diesel by die petrol gegooi terwyl ek goed geolie was. Die Kliënt het 'n oktaanaanval gekry voor ek sy ruit kon was. Toe pomp die bestuurder sy wange 2 bar en gooi water op my battery.

Ek wou vandag 'n atletiekafrigter word maar dit het naelbyt gegaan en ek kon nie oor die eerste hekkie kom nie.

Probeer toe paalspring maar dit het ook nie van die grond af gekom nie.

My werk as argitek het ook nie volgens plan verloop nie want ek het nie geweet waar om die streep te trek nie.

Wou staatspresident word maar weet nie genoeg van houtwerk om 'n kabinet saam te slaan nie.

Pobeer toe maar politiek maar, om eerlik te wees, wie kan ek nou om die bos lei?

Het iemand dalk vir my iets wat sal werk want ek het nie werk nie.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Naas soek werk
« Reply #1 on: December 02, 2012, 03:56:16 AM »
Adéle: Jy kan 'n veldwagter word maar moet dan nie laat die norse buffels jou die hasepad laat kies nie.

Meraai: Sal ook nie help jy probeer 'n begrafnisondernemer word nie, want die onderneming sal ondergaan (ten gronde) en dan gaan jy self in die stof byt Naas!

Noudat ek daaraan dink - dit sal ook nie help jy onderneem 'n solovaart as kaptein van jou eie skepie nie want ongenooid is die woorddief in dieselfde bootjie saam met jou oppad na Kammaland en is jou droom gesteel 

PM:  As myner het ek donker tye beleef en baie neerslagtig geraak.
(En toe sien jy jou sinkgat.

Ek kan sien by die kwekery was jou teespoed wit in die blom.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Naas soek werk
« Reply #2 on: October 15, 2021, 05:08:53 AM »
Lekker lees ek nou weer oor 'n gas(?) se skouer wat wegdra. Naas, jou humor en talent is fantabalooslik  :notworthy:
Guest   04:54:45 AM   Printing the topic "Naas soek werk".

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Naas soek werk
« Reply #3 on: October 25, 2021, 03:03:29 PM »
Oom Naas se werksoek laat my nou weer onthou van die drie Kaapse klongens wat gaan werk soek op die myne in die Vrystaat. Daar in Verginia se wêreld rond.
So sit hulle in 'n ry voor die rekruutkantoor se deur.
Die eerste een word ingeroep.
Eerste vraag. Het jy enige ondervinding in die mynbedryf en waar het jy dit opgedoen.
Jaaa. Kom die antwoord. Ek het jare lank in die myne in die Kaap gewerk.
Jy lieg. Daar is nie myne in die Kaap nie.
Met die uitloop verduidelik hy gou vir die ander twee die uitvangvraag en dat daar net myne in Vrystaat en Johannesburg is.
Tweede een word ingeroep. Het jy enige ondervinding in die mynbedryf en waar het jy dit opgedoen?
Jaa! In Johannesburg.
Hoe diep het jy onder grond gewerk.
Aag nie baie diep nie. Net so 4 meter.
Jy lieg. Die myne is tot vier kilometer diep.
Met die uitstap waarsku hy sy oorblywende maat dat myne 4 kilometer diep is.
Derde een word ingeroep.
Het jy enige ondervinding in die mynbedryf en waar het jy dit opgedoen.
Jaa! In Johannesburg.
Hoe diep het jy onder grond gewerk.
So tussen drie en vier kilometer diep.
Dan het jy ondervinding van die veiligheidsligte op die helmits.
Nee. Glad nie. Ek het net dagskof gewerk.

En dit my vriende, is die rede hoekom daar nie Kaapse Klonge in die myne werk nie.

 :mumum:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Naas soek werk
« Reply #4 on: October 25, 2021, 03:48:52 PM »
Daar vang slim sy baas.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.