Daar was 'n paar scary nagte vir ons PM, maar genadiglik was en is die ander kreatiewe gedoentes tot dusver 'n bron van vermaak. Touch wood. Ek het gister oggend buite gaan staan en skielik vang my oog 'n klip wat ek nie kon onthou dat ek dit opgetel het nie.
(Waar ons ook al gaan, ek moet 'n klip saambring huistoe.)
Eers myself vergaap aan die mooiste mooiste pers spikkels op die klip en toe nader gestap en hom opgetel. In my hand verdwyn die skitterende pers spikkels na lewelose grys. In ongeloof het ek net hardop gesê: "Neeeee neee!" Met brand oge en 'n olifant op my borskas het ek eerder vir myself 'n troos-brekkie gaan maak.
Die vreugde toe die kleure op my vurk in die bord, dieselfde bly was onbeskryfbaar. Ongelukkig sal 'n kamera nooit dit wat ek sien, kan weergee nie lol. Julle mis regtig egtig uit! Mind you, ek mis dit om gemaklik saam met gaste aan te sit en 'n vurk na jou mond toe te kan bring sonder dat jy onsigbare woefters voer, so ek verkies dit om sover moontlik, eerder alleen te eet omdat onwillekeurige bewing (tremors) in my hande die afgelope 2 weke vererger het in so mate dat ek vir myself giggel.
Hoekom pers so groot rol speel in hierdie hoofstuk van my lewe sal ek seker nooit weet nie. Die horlosie in ons kamer is swart en wit maar kom skemer, verander die wit syfers soms in die mooiste pers. Dink die Liewe Vader weet hoe die ouvrou kan verdrink in kleur en dit is 'n lewensgordel wat na my toe gegooi is in die kleurvolle see van illusie.