Author Topic: Oggendboodskappe  (Read 7905 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #30 on: March 22, 2021, 07:48:07 AM »
Oggendboodskap 16 Maart 2021

Gegroet vriende …

Vriende, wat sê julle wanneer julle soggens wakker word? Wie groet julle, met wie praat julle? Ek weet nie eers hoeveel keer ek al besluit het om heel eerste met God te praat nie, Vir Hom goeie môre te sê en dankie vir die nag se rus. Gereeld besluit ek dit weer van voor af. Want … ek vergeet dit.

Nie omdat ek nie wil nie, nie omdat ek dink dis nie regtig nodig nie. Eenvoudig net omdat ek wakker word met talle ander gedagtes in my kop. Soms word ek wakker met ‘n kopseer, soms met rugpyn, dan weer kan ek skaars my oë oopkry. Ander oggende lê ek en bekommer my oor my kinders, of ek dink na oor ‘n funksie wat ek gaan bywoon.

En dan, net so “once in a while” word ek wakker met ‘n gebed op my lippe. Of in my hart. En dan kan ek lê en gesels met my Skepper, my Verlosser, ons God. Vriende, dis die wonderlikste tye wat elkeen van julle moet ervaar. Daardie toevou in God se arms. Daardie opstaan en wonder hoekom jy dan nou ‘n gospelwysie neurie. Het julle dit al beleef?

Daarom, maak ‘n punt daarvan. Dink aan ons Here Jesus Christus. Here, want Hy is ons alomteenwoordige God. Jesus, want Hy het aarde toe gekom om in ons plek te sterf, maar weer op te staan, iets wat ons nie kan regkry nie. En Christus, omdat Hy ons Redder en Raadsman is, jou Verlosser, Ewige Vader en Vredevors.

Kom ons sluit ons oë … Dankie dat ons u vriende mag wees, VaderHeer, en u liefde elke dag kan beleef. Dankie dat U ons sonde tot niks verwerp het en ons met U kan gesels elke dag, enige minuut en uur solank as wat ons wil. Amen amen Here.

Ek groet julle. En aan elkeen, probeer om wakker te word met God se naam op jou lippe en in jou hart. Dis oor en oor die oefening, die moeite werd. Jy kan dit regkry as jy saans met sy Naam in jou hart aan die slaap raak. En as jy in die nagure wakker word, gesels met ons Vader, laat sy Heilige Gees jou lei. En stap met jou hand in Jesus s’n die dag in.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #31 on: March 22, 2021, 07:49:15 AM »
Oggendboodskap 18 Maart 2021

Gegroet vriende …

Die gedagte dat jy lank van jou huis af moet weggaan, kan in vandag se lewe en omstandighede nogal traumaties wees. Hier waar ons, die afgelope maande, in ‘n misdaadvlaag vasgevang is, raak die gedagte van weggaan vir vakansie, half ondenkbaar. En dis nie asof ons ons huis en waarmee ons leef, verafgood nie, maar om dalk jou blyplek vir iemand met bose gedagtes ‘oop te gooi,’ is ‘n moeilike gedagte. En dit beteken nie dat ons nie geloof het nie, nee, ons is net nie roekeloos nie. Of daar weer tye van beter vertroue in die mensdom gaan kom, weet ons nie.

Maar Matthéüs 6 sê
19 Moet nie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en steel nie;
20-21 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes dit sal verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Die seer wat mense jou kan aandoen, kan lank, diep in jou binneste lê. Dis nie ‘n grap om dit te verwerk, weg te gooi of vrede te maak daarmee nie. So ook wanneer iemand by jou inbreek en steel, jou persoonlike ruimte betree, en dit waaraan jy sentiment heg van jou wegneem nie.

En dit het my laat wonder oor die bg verse. En die seer wat binne-in jou kan nesmaak. ‘n Klein vlammetjie van seer wat ‘n hele bos en veld kan laat afbrand, wat jou hele lewe kan verwoes. Wil jy so ‘n seer beskerm soos wat jy jou huis sal beveilig? Met ‘n alarmstelsel en sekuriteitswag om dit op te pas? Koester jy pyn en lyding wanneer dit deur mense na jou kant toe kom? Wat maak jy met jou kwade gevoelens en gevoel van haat en onvergewensgesindheid teenoor ‘n ander, of dalk in jouself?

Ons koester en beskerm soms ons haat en wrokke, soos wat jy jou besittings wat jy nodig het om te oorleef wanneer jy IN hierdie wêreld is, versorg en bewaar. Wat van Jesus se Woorde dat ons nie VAN hierdie wêreld is nie?

Daarom sê die Woord: … maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes dit sal verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie … Vriende, wanneer jy nie VAN hierdie wêreld is nie, mag jy wel jou blyplek, versorg en beskerm. Maar wanneer jy jou vertroue in God, jou liefde en geloof en hoop op God, IN HIERDIE wêreld wil toesluit en verhoed dat dit “voete kry” na ander, na jou naaste toe, dan sal dit net so vergaan soos wat jou huis en klere ens kan vergaan.

Ons mag nie die Evangelie-verkondiging in ons harte, in ons binnekamers, toesluit nie. Dit moet soos ‘n lamp op ‘n staander na buite skyn. Jou skatte van geloof en vreugde oor Christus se verlossing moet in die hemel bymekaargemaak en geplaas word, sodat dit nie kan oproes en vergaan nie. Dan kan jy dit elke dag uitdeel aan jou naaste, aan iemand wat op ‘n gegewe tydstip na aan jou is, iemand wat dalk deur die Vader op jou pad gebring word, juis sodat hy/sy van Christus by jou kan hoor.

Kom ons sluit ons oë … VaderHeer, help ons om ons skatte van geloof, hoop en liefde, in die hemel bymekaar te maak en daar te hou, sodat dit nie IN hierdie wêreld wegraak nie. Gee ons ook elke dag net iemand vir wie ons van U kan vertel, oor wie ons die saad van geloof kan saai, sodat U dit kan laat groei. Alles om Jesus se Naam te kan groot maak. Amen amen Here.

Ek groet julle. Laat julle harte en gedagtes altyd in God se teenwoordigheid vrede vind.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #32 on: March 22, 2021, 07:52:19 AM »
Oggendboodskap 22 Maart 2021
Gegroet vriende …

Ek is gelei om weer iets te sê rondom hierdie internet en die wanbegrip wat dié media soms by mense kan tuisbring; hierdie virtuele wêreld waarin ons die afgelope paar jaar gegooi is. Die goed en sleg daarvan, het elkeen van ons al ervaar. Daaroor gaan ek nie vanoggend uitbrei nie.

Prentjies/tekeninge/foto’s met mooi boodskappies op, is ‘n nuwe konsep wat ons in staat stel om daagliks vir iemand te sê ‘ek dink aan jou.’ Na eeue se slakkepas, is daar internet en Whatsapp, wat iemand in staat stel om amper deel te wees van ‘n gebeurtenis. Maar wat is vir julle belangrik, die prentjie of die boodskap? Stuur julle iets net lukraak aan, omdat dit ‘n kostelike tekening is, of ‘n katjie wat se manewales jou laat lag, of ‘n diepkleur blommeveld wat baie mooi is? Of lees jy die boodskap deur en neem in jou hart in wat dit vir jou wil sê? Wat kommentaar julle op FB boodskappe? Te veel mense ”amen” sonder om regtig te weet wat hulle beaam.

Vriende, in plaas van om “images” sonder gedagte aan te stuur sodat jy darem goed kan voel omdat jy van iemand onthou het en graag vir daardie een iets moois wil gee, gaan sit bietjie stil en soek vir elkeen iets uit wat ‘n spesifieke boodskap uit jou hart uit, kan oordra. Dieselfde met kommentare op iemand se skrywe, of opmerkings oor daaglikse gebeurtenisse.

Ek lees ook in die week weer kommentare oor ‘n ontstellende berig van kindermishandeling. Die aanvalle asof enigeen ‘n klip kan optel en gooi, die slegsê na ouers wat ons dink, nooit kinders moes hê nie, die goedvoel van mense wat dink dat hulle darem volmaak is in hulle taak as ouers en opvoeders. Maar net hier wil ek ook sê “dankie, Here, dat ons die voorreg het om kinders in geloof, vertroue en liefde te kan grootmaak en ook in so ‘n omgewing te kon opgroei.”

Een persoon het die opmerking gemaak dat dit geen wonder is, die wêreld is in so ‘n haglike toestand nie. Ek het dit al meer as een keer gelees. En skielik het die oeroue besef my weer getref. Die wêreld is nie in ‘n toestand omdat ouers hul kinders mishandel nie, of mense so graag oorlog soek nie, of omdat haat en misdaad hoogty vier nie. Nee, vriende, die hele Bybel deur lees ons die boodskap dat die aarde in sonde verval het weens die sondeval. Weens die mense Adam en Eva, se optrede toe hulle toegegee het aan satan se misleiding en die kans aangegryp het om soos God te kan wees, deur goed en kwaad te ken. Daarom is die wêreld in hierdie toestand wat by die dag verder versleg.

Daarom gaan dinge net meer en meer agteruit, bou haat verdriet tot hoogtepunte op. Want ons moet leer om ons sonde te bely en vergifnis te gee en in God se Seun se verlossing te glo. En te besef dat ons moet uitroep “Halleluja, Here, ons loof U en ons eer U. En ons kniel neer in gebed om met U te praat.” En dan Amen Here te sing, omdat Hy ons gekies het om Hom te volg.

Gaan die week in, wees na aan mekaar, lief vir God en jou naaste. Ek groet julle. Laat julle harte en gedagtes altyd in God se teenwoordigheid vrede vind.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #33 on: March 23, 2021, 10:08:15 PM »
Oggendboodskap 24 Maart 2021

Gegroet vriende …

Christus het aan die melaatse geraak. Hy het dalk sy hand op die sieke se skouer gesit, versigtig om hom nie seer te maak nie. Dalk wou Hy hom omhels en verseker van sy omgee vir hom, maar wou nie op ‘n seerplek druk wat nog meer pyn sou veroorsaak nie.

Hoe dit ook al sy, Jesus ons Verlosser, het nie teruggedeins nie. Hy het nie van die man wat maande, dalk jare lank al stinkend siek was, wie se vingers of selfs sy hande al afgevrot was, weggeskram nie. Nee, Hy het hom aangeraak, staan dit in Matthéüs en Markus en daar in Lukas 5 verse 
12 Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”
13 Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!”

Daardie man, soos ons uit die wette en reëls van Israel leer, het hulle nie sommer net ingewag langs die stofpad waarlangs Jesus en almal saam met Hom, verby sou gaan nie. Nee, hy sou moes nadersluip, koes-koes agter bome of struike bly tot Jesus naby genoeg was. Melaatses is uit die dorpe en nedersettings verban, hulle moes alleen of saam met ander melaatses, in grotte of waar ander nie naby kon kom nie, ‘n pynlike lyding leef tot hulle dood. Maar hierdie man het besluit dat hierdie Christus van wie hy gehoor het, hom kan genees. Het hy geweet God sal hom van sy sondes ook verlos?

Vriende, wat doen ons vandag? Ons wat gelukkig genoeg is om te besef wat God se genade (naastenby) beteken, koester ons in sy Liefde. Maar ek wonder soms of ons ooit die volle omvang van ons HemelVader se genade kan besef? Nogtans loof ons Hom vir elke dag se seëninge en genade. En ons aanvaar ons doen genoeg. Selfs as onrus en dwarsklappe ons tref, glo ons nog in God. Ons raak soms kleingelowig, maar ons weet en glo ons geloof sal weer versterk word.

So dink ons. Ons sê daarvoor dankie; ons gaan kerk toe omdat … omdat? Ek weet nie of ons altyd weet hoekom nie. Gewoonte, ons opvoeding? Omdat ons sentimenteel is oor ons kerk? Daar tussen ons vriende kan ons God loof en prys, kan ons ons hande oplig en jubelend, of met verwagting, sing en bid. Tussen bekendes, of tussen “goeie mense” wat ons ons naaste noem, is ons gemaklik. Ons gee wat ons kan vir armes. Hulle wat dit darem baie nodig het, maar dit moet ons eie mense wees. Wat kan God dan nog van ons verwag?

Nou wat is fout daarmee? wil julle my vra. En ek kan niks fout vind daarmee nie. Ons Vader ook nie. Solank jy dit net nie uitbasuin, aan die grootste klok hang nie. Jesus het gesê: Matthéüs 6 vers
3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,
4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou beloon.

Ek wonder net hoe gemaak met daardie arm melaatse mense? Daardie “melaatses” om wie ons draaie stap en vermy asof hulle van ‘n ander stinkende, verottende, moeras-agtige planeet af kom. Hulle wat dalk geleenthede “soos ons” gehad het, maar dit nie WIL gebruik nie. Nee, hulle wat drank en dwelms verkies en gedurig in stormwaterslote dronk lê. Tot hulle weer iets gaan steel vir die volgende bottel goedkoop wyn. En ons hulle uitmekaar vloek en skel en tot in die hel in verwens.

Wie gaan eendag langs een van hulle op die randsteen neersak en vir hom of haar vra of hy/sy weet dat Jesus hulle net so lief het as vir ons? Vriende, het jy al in jou binneste die versugting gevoel om vir so iemand jammer te voel, te wens dis moontlik om hom/haar aan te raak en te sê Jesus wil jou gesond maak?

Kom ons sluit ons oë. Here, ons Here, hoeveel keer het ons al skuldig gevoel omdat U iemand op ons pad gebring het, maar dan het ons weggedraai en aan die anderkant verbygestap. Vergewe ons o God, dat ons nie elke kans gebruik om u Evangelie, ja, die verlossing waarvoor Christus tot die dood toe gely het, wat ons eersdaags weer gaan gedenk, aan iemand arm en lelik vertel het nie. Dat ons nie eers tot U vir hulle bid nie. Wees ons genadig in ons geestes-arme menswees. Amen amen Here.

Mag julle ook die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, in hierdie komende tyd ervaar, terwyl ons die dae aftel na die voorreg om weer Paasfees te vier.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #34 on: March 30, 2021, 05:39:10 PM »
Oggendboodskap 26 Maart 2021

Gegroet vriende …

Romeine 5:8   maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Ek kyk lank na ‘n foto van ‘n ouma wat haar kleindogter op haar skoot styf teen haar vasdruk. Dis ‘n baie eenvoudige ouma met vaal haartjies en ‘n verslete rok aan. Die dogtertjie dieselfde. Sy is nie popmooi nie; op die foto het sy nie ronde perskewangetjies en rooi lippies nie en haar haartjies is so vaal soos die ouma s’n. Of dit regtig eie ouma en kleindogter is, weet ek nie. Maar die foto kry ‘n plekkie in my hart. Die hele prentjie straal liefde uit. So moet ons liefde ook uitstraal wanneer ons teenaan Jesus leef.

Ek lees ‘n plasing oor gewilde musiekvideos. Eintlik ‘n paar plasings en elkeen se gunsteling-musiek. Die genre’s is al amper net soveel soos die mense wat daar gesels. En in elke genre het elkeen nog sy of haar eie verdere keuses.

Op ‘n blad oor skrywers, boeke en funksies saam met bekende kunstenaars, word bladsye vol geskryf en gesels. Baie mense stem ooreen oor wie in hulle oë die beste is, watter boek uitstekend geskryf is, maar tog het meeste ‘n ander gunsteling skrywer of genre of verhalebundel in eie smaak.

So het verskillende sosiale platforms meer of minder lede op verskillende blaaie. Soms is daar ‘n paar duisend wat aan een groep behoort. Ander is geslote met enkele lede, want hulle kuier-gesels oor dinge waarvan hulle hou en vermy buite invloede. Maar dit is nie net buite-invloede nie, nee, dis verskille wat tot rusies en onenigheid lei. Soos om ‘n braaivleiskuier waar emosies handuit ruk wanneer een te veel van ‘n ander verskil, en die een te veel toegewings van die ander verwag.

So, vriende, weerkaats die lewe soveel fasette soos wat daar mense in die geselskap is. Ons dink en redeneer en beplan dinge verskillend. Ons is verskillend. Soms verskil ons sieninge soos die dag van die nag. Want ons is individue, elkeen geskape deur ‘n HemelVader wat ons persoonlik gevorm het, met ‘n eie liggaam, enig-vingerafdrukke, enig in verstand en denke. En wat ons daarmee maak, verskil nog meer van ander se sieninge van ons elkeen.

Maar, al verskil ons van elkander, al is ons ook hoeveel miljoene mense met elkeen ‘n eie karakter, een ding staan vas en seker: God se besitreg op my, sy kind. God se liefde vir my. God se genade en beskerming wat ons net moet aanvaar om dit te beleef, dis heeltyd net ‘n knieknik, ‘n armlengte van ons af. Hy het ons so lief, dat Hy sy liefde vir ons bewys het deurdat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, selfs nog sondaars is. Is ek dalk verkeerd as ek so sê?
Johannes 3: 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Meer bewys as dit het ons nie nodig nie. Meer bewyse om Hom te vertrou, sal ons nooit nodig hê nie. Vriende, weet dit, glo dit, vertel dit en leef dit met soveel nederige vertroue uit sodat ander Jesus deur julle kan sien en ervaar, kan aanneem en liefkry, omdat Hy ons en hulle eerste lief het.


Kom ons sluit ons oë. Here, ons Here, ons het U lief omdat U ons eerste liefgehad het. Dankie dat U ons elke dag na U toe trek, ons vashou en weer terugtrek as ons losgly en val. Amen amen Here.


Ons tel die dae af na Paasfees, omdat ons die voorreg mag opeis om dit in herinnering te vier. Wees geduldig in alles, met ander, en wanneer jy op ‘n antwoord van God wag.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #35 on: March 30, 2021, 05:40:05 PM »
Oggendboodskap 30 Maart 2021

Gegroet vriende …
Samuel 6: 14 Daarby het Dawid met volle oorgawe voor die aangesig van die Here gedans …


Vriende, hoeveel keer in julle lewe het julle al lus gekry om voor die Here se aangesig te sing en dans? Nee, nie net in die kerk nie, maar tuis, of saam met jul vriende of familie, selfs by die werk? Daar was tye wat ek werklik lus was om te sing wanneer ek Hom geloof het oor iets wonderlik wat met iemand gebeur het, goeie nuus van iemand of iets wat ek as ‘n wonderwerk gesien het.

Hoekom nie? wat keer ons dan? Die gedagte aan ‘wat sal die ander sê.’ Hoekom is ons so begaan daaroor? Ons moet ons vertroue só diep en vas in Christus geanker hê, dat ons nooit bekommerd mag wees oor enige mens se opinie nie. Die probleem is net, hoe om dit reg te kry. Selfs net om met iemand te gesels, skram ons van weg.

Ek blaai in my gedagtes terug na die eerste gelowiges, Apostels en christene wat deur vervolging oor die hele (huidige) Midde- en Verre-Ooste en Europa versprei was, maar oraloor God se Verlossingsboodskap verkondig het. En later het sendelinge oor die hele wêreld gereis en die Evangelie verkondig onder alle nasies. Soms in doodsgevaar. Maar hulle het nie teruggedeins nie. Wat het dan in vandag se lewe verkeerd geloop dat ons wegskram daarvan?

Ek het dit al genoem, maar dis so ‘n algemene gedagte: om die braaivleisvuur saam met vriende, en soms ander wat ons eers daar ontmoet, word ge-politiek en gekla en sleggesê en gedreig en ‘ek sal darem so en so maak’ as ‘hulle’ my huis inkom, as ‘hulle’ my vrou en kinders seermaak, as die regering nie nou iets doen ‘hieraan en daaraan’ nie. En hoe later, hoe kwater.

Maar noem enige iemand ooit iets oor geloof, oor God en die Kerk (met ‘n hoofletter). Oor die Apostels se vervolging, maar hoe hulle eers oraloor vertel het wat Christus op aarde vir my en jou kom doen het? Vertel ons mekaar hoe lief Christus ons het, ons vir wie Hy plek in die Hemel gaan berei het en weer sal kom om ons te kom haal? So ook by ‘n musiekaand, ‘n opvoering of skoolfunksie, in die wandelgange van die Mall, of tydens sportgeleenthede op die pawiljoen. Ja, selfs net ná die erediens wat ons nou net bygewoon het.

Ken jou vriende jou as iemand wat stilte gaan vra in so ‘n gesprek en gaan vra of iemand sal omgee as jy saam met hulle bid vir hierdie ‘hulle’ en vir die regering en almal wat nou net sleggesê, geskel en selfs gevloek is? Sal jy ook in jou gebed vergifnis vra vir jou vriende wat nie gedink het voordat hulle ander verwens en vervloek het nie?

Al is ons nog op hierdie aarde, in hierdie wêreld, roep Christus se reinheid ons van hierdie wêreld af weg; leef ons in God se heiligheid, wanneer die Heilige Gees in ons woon. Ons weet nie waar was Josef van Arimathéa se graf, waar Jesus neergelê was nie, maar ons weet die graf is leeg; dat Hy daaruit opgestaan het. Wat ‘n wonderlike, kosbare opstanding was dit nie, vir ons het Hy sy lewe gegee. Ons sal nooit deur God verlaat word nie. En as ons stilbly, sal die klippe dit uitroep en ons sal voor God staan met skaam, geboë hoofde.

Kom ons sluit ons oë. Here, ons Here, trek ons asseblief na U toe, hou ons vas, sodat ons nie twyfel of afdwaal in hierdie moeilikste van tye van vandag nie. Amen amen Here.


Vriende, raak stil in die dae en luister na die sagte aanraking van God se stem in die aandwind.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Oggendboodskappe
« Reply #36 on: September 13, 2021, 12:08:26 AM »
Dit is altyd vir my so pragtig dat jy die lewe met soveel lus en liefde ervaar.  Dankie dat jy dit wat so na aan jou hart lê met ons deel. 
Om te weet is om te verstaan.