Author Topic: Oggendboodskappe  (Read 7908 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #15 on: February 03, 2021, 10:19:38 PM »
Oggendboodskap 4 Februarie 2021

Gegroet vriende ...

JAKOBUS 4:13 en verder

Onsekerheid van menslike planne.

13 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak —
14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar 'n damp wat vir 'n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.
15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.
16 Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.
17 Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.

Die Nuwe Lewende Vertaling vra of jy weet hoe afhanklik jy van God is ….

Sonder om te dink, beplan meeste mense elke dag se doen en late: werk, na werk se huis/kuier/uiteet-planne, naweke en vakansies se vooruitsigte, assuransies en versekering, nuwe aankope soos ‘n huis of motor, kinders se toekomsplanne …

Waar en hoe het enigiemand enige versekering dat dinge volgens sy/haar planne gaan uitwerk? Geen daarvan nie, dit kan ons antwoord. Nogtans gaan jy aan met gedagtes en planne volgens wat jy wil, volgens wat jy dink jou goeie posisie in die samelewing gaan waarborg, dan nie?

Vriende, hoeveel keer het jy al iemand hoor sê ‘As die Here wil, of in Latyns DV, afkorting vir Deo volente of ‘so die Here wil’
EK was gelukkig in die sin dat dit my pa se beskouing was. Hy het nooit, of dalk baie min kere, (waarvan ek nie eers weet nie) iets beplan of besluit sonder om dit in gebed te noem en te vra of dit ook die Here se wil is nie. Maar dit kan ook net ‘n gewoonte wees, soos dit dalk vir tye in my lewe, myne was. Tot iets die mat onder jou uitpluk en jy dan besef dat God jou tot halt roep. Jou laat verstaan jy ploeter voort in jou eie lewensbaan, en jy Hom agtergelaat het.

En hoeveel keer het ek al in trane van berou moes uitroep ‘Dankie Here, dankie dat U my op die laaste oomblik, van die afgrond waaroor ek sou stort, gered het.’ Want wat is jou lewe werd? Kan jy vir een oomblik vorentoe, sonder God se wil iets beplan?

Wat het die ryk man waarvan Lukas in hoofstuk 12 vertel, gedoen? Gewerk bymekaargemaak, meer skure gebou, meer oeste weggebêre en toe agteroor gaan sit om als te geniet. Ek mis iets, (my gedagte) daardie man het net vir homself bymekaar gemaak. Niks daarvan vir ander geskenk of aan God teruggegee nie. En geen danklied en lofprysing vir God se genade vir net ‘n klein bietjie daarvan nie.

Kom ons lees weer vers 15 … ‘In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.’ Ja, die Boodskap-vertaling lees ‘Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.”

Wees verseker daarvan dat jy nie leef soos die Here dit wil hê, as jy nie besef dat elke dag, elke uur, elke oomblik se lewe, asemhaling, gedagte, beplanning in God se hand lê nie. Maar dis nooit op aarde te laat om jou lewe so in sy Hande te plaas nie. Dis nog nie te laat om iemand daarop te wys dat hulle tweede gaan kom, as hy/sy dit nie gaan doen nie. Want ook is ons dissipels van Christus en dit beteken dat jy, by die uitleef en oordra van sy Genade, elkeen na aan jou daarvan moet vertel. Ja, ook nie wegskram daarvan om ander wat soms naby jou verbyloop en jy nie ken nie, van God te vertel nie. Jy kan nie kies wie jou naaste is nie. God stuur hulle op jou pad.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, neem asseblief ons lewe in U hande, lei ons uit die sonde, uit dinge wat ons weet verkeerd is, en gee ons die geleentheid en moed om met onbekende mense ook oor U te gesels.. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, hou aan om lof aan Jesus te bring. Wanneer jy iets beplan, vooruit wil dink, onthou om te vra of dit in God se wil vir jou inpas. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #16 on: February 07, 2021, 10:40:53 PM »
Oggendboodskap 8 Februarie 2021

Gegroet vriende ...

JAKOBUS 5

Veroordeling van die onbarmhartige rykes.

Jakobus begin hoofstuk 5 met sy vermaning, wat amper soos ‘n aanval klink, teen onbarmhartige rykes.

“1 Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom” … en verder. Hy wys hulle daarop dat geld en als wat vir hulle tog só belangrik is, sal vergaan. Wat ‘n vermorsing van jare. Ai, en wat gaan van daardie magtige rykes word? (vandag lees ons baie van hulle wat met hulle rykdom die mensdom na hulle wense probeer buig) Hoeveel van hulle gaan dit regkry om die knie in berou en verootmoediging, voor Christus neer te buig?

Onthou, daar is baie ryk mense op aarde van wie ons nie weet nie, hulle wat ‘goed’ doen, wie se regterhand nie weet wat hul linkerhand doen nie, hulle wat hul werkers barmhartig behandel, wat weet hul rykdom kom van God af, kortom, gelowiges … hierdie hoofstuk gaan nie oor hulle nie. Dit gaan oor die wat vergeet God is die enigste God, nie hulle of hul mag of hul rykdom nie. Wie van ons ken nie sulke mense nie … mense wie se magsbeheptheid hul hele wese oorheers, hulle sal almal vertrap in hul sug na groter rykdom.

Sê Christus Jesus nie self nie in Lukas 15: 25 ‘Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.’

Die Boodskap-vertaling sê ook in vers 3 van Jakobus 5 ‘Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby.’

Wat ‘n hartseer dag lê voor vir hulle. Maar onthou, ons het al gelees hoe elkeen van ons skuldig is in sonde. Moet nie dink omdat jy meegevoel het of arm is of omgee vir ander wat minder as jy het, of enige ‘goeie dade’ doen, jou paadjie hemel toe daaroor reg is nie.

Tussen alles wat jy doen en is en wat met jou gebeur, wat jy gee en hoe min jy neem, of jy nederig is, of hoogmoedig in jou geloof is, maak nie saak wie en wat jy is nie, God het jou lief want Hy het jou gemaak. En om in Hom te glo, in sy Liefde, en met jou hele hart Hom en jou naaste lief te hê en te weet en te glo dat Christus jou sonde aan die kruis weggeneem het, is al wat nodig is om die Ewige Lewe saam met God te wees. Dan kan jy nie anders as om ‘goed’ te wees nie.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, Help ons om U en ons naaste met ons hele hart en siel en verstand lief te hê, want uit onsself is ons nie daartoe in staat nie. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, hou aan om lof aan Jesus te bring. Wees goed vir jouself en almal om jou met sorgsaamheid. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #17 on: February 25, 2021, 01:41:56 PM »
Oggendboodskap 10 Februarie 2021

Gegroet vriende …

JAKOBUS 5 vanaf vers 7 vertel ons om geduldig te wees.

7 Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.

8 Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.

9 Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.

12 Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder 'n oordeel val nie.

Wees dan geduldig, vriende, wat sê dit vir julle? Wees geduldig, hou moed tot die Here terugkom. Die wederkoms van ons Here Jesus Christus is die belangrikste dag in elkeen van ons se lewe. Dis die enigste dag waarna ons met hart en siel en verstand kan uitsien, net soos wat ons God en ons naaste lief moet hê.

Soos wat ons land se boere, ons vriende, kennisse en hul familie geduldig wag op planttyd, oestyd, wag om die vrug vol in die aar te sien, so moet ons geduldig wees. Soos wat ons land steier onder droogtes en vloede, vroeë en laat reëns, maar ons landbouers geduldig wag, op hul knieë ons Vader smeek vir uitkoms, of dank vir genade, so moet ons almal geduldig wag en ons harte versterk, want die koms van die Here is naby. Dit is die woorde in vers 8, waaraan ons vas hou.

Die laaste week of twee geniet ons ook die boek van Job. Sy lewensverhaal, in ons aandstudie. Dis ‘n lang skrywe met baie gedagtes waarin ons die positiewe en negatiewe uitpluis. Maar elke keer kom ons terug by die sieninge van Job se vrou, verlore en verskeurd in haar hartseer oor haar kinders. Maar Job het, al het hy op die ashoop sy seerplekke sit en krap, nie teen God gesondig nie. Hy het nie gevloek en geskree teen God nie, selfs al het hy sy geboortedag vervloek. Op die einde, toe die duiwel nou als probeer het om Job van sy Skepper en HemelHeer te laat wegdraai, maar nie daarin kon slaag nie, het God aan Job baie meer teruggegee as wat satan weggevat het. Baie meer.

Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is, sê die Boodskap-vertaling.

Daarom mag julle mekaar nie vloek, verwens of kwaad aandoen nie, mekaar indoen, inloop met besigheid nie, nie oor ‘n ander skinder nie. As julle die Vader lief het, in Christus glo en met die Heilige Gees in julle, ‘n pad in julle gemeenskap stap, mag julle mekaar geen kwaad aandoen nie. Dan is dit nie God se pad nie.

En in vers 12 sê Jakobus: Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie. (Die Boodskap-vertaling)

Kom ons sluit ons oë en vra weer VaderHeer, help ons om U en ons naaste met ons hele hart en siel en verstand lief te hê, want uit onsself is ons nie daartoe in staat nie. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, geniet die middeldag van hierdie week. Wees goed vir en geduldig met jouself en almal om jou. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #18 on: February 25, 2021, 01:44:01 PM »
Opskrif en seëngroet.

1 JAKOBUS, 'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete!

Die Nuwe Lewende Vertaling gee dit só

Jakobus skryf aan Joodse Christene, versprei oor die wêreld

1 Hierdie brief kom van Jakobus, ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus.
Ek skryf aan die Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is. Groete!

Die Jakobus (wat waarskynlik hierdie brief geskryf het) was een van Jesus se 4 broers en het in 62 n.C. later as martelaar gesterf. Maar hy was ook leier van die gemeente van Christene in Jerusalem. Sy brief het hy geskryf aan “Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort. Met ander woorde, ook aan ons; al was ons nie van die Jode nie, is ons vandag Christene en as jy iemand raakloop wat nog nie van Christus gehoor het nie, is dit jou plig om die Evangelie aan hom/haar te vertel.

Dan sluit JAKOBUS sy brief af met gedagtes oor gebed. Dit klink vir my soos ‘n vermaning, eintlik ‘n opdrag, hoofstuk 5:13 en verder:

13 Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. (In elke geval moet ons met God praat en Hom loof)

14 Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. Vriende, lees weer hierdie vers. So iemand wat siek is, moet net met olie gesalf word … Elkeen kan die salwing op ‘n ander manier sien, maar hier gee ek net my mening. As iemand van my verskil, is dit nie te sê jy is verkeerd nie. Bedink egter die volgende:

Hier word net van olie gepraat waar iemand siek is. Nie van die bloed van Jesus nie, en ook nie oor ‘n hele huis, of om ‘n huis, of motorkar of enigiets nie. Hy het klaar sy bloed gestort tydens daardie intense lydingsmarteling. Ons gaan mos nie dat Hy dit weer en weer deurgaan nie. En ook moet die olie net gebruik word om die sieke te salf en dan moet die mense wat saamgeroep is, tot God bid. God gee genesing as dit in sy Wil is. Nie die olie nie.

15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word… Maar nooit mag ons iemand van ongeloof beskuldig, sou hy of sy nie gesond word nie. Jakobus sê net dat ons ons sonde moet bely. Ek glo wel dat ons dan gered sal word, as ons ons sonde bely en in Christus glo, Hom lief het. Vir my beteken dit dat ek gered sal word, indien dalk nie op aarde gesond nie, maar wel in die hemel, in die ewige Nuwe Jerusalem.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, help ons om hierdie reg te verstaan en in te neem soos wat U dit aan ons wil gee. Laat ons elke dag, in siekte, pyn, hartseer, wat ookal, tot U bid, maar in vreugde U loof, ja psalmsing tot U Eer. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, geniet die naweek. Lees weer deur Jakobus se brief en laat dit ‘n plekkie in jou hart vind waar jy dit bêre. Wees goed vir en geduldig met jouself en almal om jou. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #19 on: February 25, 2021, 01:46:37 PM »
Oggendboodskap 16 Februarie 2021

Gegroet vriende …

Sondagaand het ons na ‘n fliek gekyk wat ek van iewers af afgelaai het. ‘n Mamma skryf en vertel ‘n verhaal aan haar dogter en die dogter raak so meegevoer deur die verhaal, dat sy nie kan wag vir die volgende hoofstuk nie. Dan, op die toppunt van die geluk wat in die storie plaasvind, is die dogter oorstelp van vreugde. Maar haar ma sê: wat laat jou dink die verhaal is klaar?

Dan volg die laaste paar bladsye wat die storie in intense hartseer laat eindig. Sy is woedend. Hoe kan haar ma die verhaal nou so ‘n kinkel gee? Maar met die lewenslesse wat sy uit die storie leer, besef sy dit is meer algemeen om seer en teleurstelling te ervaar in die lewe, as om lewenslank op die toppunt van geluk te bly. En wanneer sy dit besef, is haar ma daar om haar trane af te vee en haar vas te hou en kyk hulle saam, glimlaggend, oor die vlakte voor hulle na waar die blou berge wegraak in die verte.

En vriende, dit is ook my ervaring in hierdie lewe gewees, en is dit nog steeds. En ook elkeen van julle wat hier lees en luister s’n. Net, ons skryf sommige dele van ons lewensverhaal. Die ander dele word deur ons HemelVader geskryf. En die verstaan kom net van Hom af. Sonder God se influistering in jou en my hart deur die Heilige Gees in ons, is dit nie moontlik om regtig te verstaan waarom slegte ervarings en teleurstellings oor ons pad kom nie. Hoekom dit ons so intens tref nie.

En omgee en vashou en ons trane afvee, is iets wat ook net van Hom af kom. Al is dit deur vriende wat ons pad kruis. Christus se omgee en liefde loop soos ‘n goue draad deur die Evangelies in die Nuwe Testament van Die Bybel. Maar dit kom al van God se liefde dwarsdeur die Ou Testament, vir sy Volk, Israel. Daarom het Hy hulle keer op keer op keer gered. Christus was nog nie op aarde om redding te bring aan elke gelowige nie. Daarom het God die volk Israel gestraf, as slawe laat leef, as ballinge laat wegvoer … maar hulle elke keer weer gered onder die ander volke se tirannie uit.

Wat het Hy nie alles gedoen om hulle na aan Hom te hou nie? Maar keer op keer het hulle agter die heidennasies om hulle, se gode aangeploeter. Klip en hout, ja edelmetale en edelgesteentes wat saamgegiet is om ‘n sg god te wees, was vir hulle baie aantrekliker as die God van hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob, van Moses en Josua en Debora en Dawid en van al die profete wat aan Hom getrou gebly het. (En vandag nog dink ek die Jode wat Christus volg, het ‘n baie sagte plekkie in sy Hart, wel, hulle sou in my hart gehad het)

Daarom wat ons ons kinders soveel keer vergewe en help en vir hulle bid, al bly sommiges hardkoppig en moedswillig buite die nou pad wat met Christus se liefde geplavei is. Maar iewers moet elke kind, of dit nou ek of jy of ons kinders of iemand anders se kind is, moet elkeen sy/haar eie besluit neem. Óf Christus, óf die wêreld. Ons kan nie God en mammon, satan, allerhande dinge om vriende tevrede te stel, volg nie. Dis óf God óf die satanswêreld. Bedink dit vandag nog! Môre mag dalk te laat wees. Gaan lees weer Openbaring 3: 15 – 16, maar lees eers die hele hoofstuk.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, ons vra u Leiding, u genade, u Liefde, vra dat U ons en ons kinders aanraak om wakker te word. Hierdie lou houding bring mense nêrens nie. Mag ons almal warm bly in ons geloof en U dag en nag volg. Amen amen Here.

Daarom vriende, al dwaal jy af, al sukkel jy om jou voete reguit op die nou paadjie te hou, onthou dis die Ewige Lewe wat jy as beloning gaan kry. Moet nie die vreugde om dit nou al te glo en te voel, weggooi deur te lank te wag nie. En gee die boodskap aan elkeen naby jou.

Geniet vandag. Totsiens.
adéle theron

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #20 on: February 25, 2021, 01:48:06 PM »
Oggendboodskap 18 Februarie 2021

Gegroet vriende …

Habakuk se gebed Hoofstuk 3

1 'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied.

2 Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn.

8 Was U kwaad vir die riviere, Here? Het u toorn teen die strome ontvlam?
Het die see U woedend gemaak dat U op u perde gery het, op die strydwaens waarmee U oorwin?

9 U het u boog uitgehaal en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig.Sela
U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom.

10 Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan.

16 Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.

Ek wil hierdie woorde so effens verander en sê ons sal geduldig wag tot die wederkoms van Christus sal aanbreek. Dan sal Hy kom oordeel oor sy volgelinge en sy teëstaanders.

Die Vrystaat-luggie is heerlik koel vir hierdie tyd van die jaar. Ek weet hoe warm Februariemaand kan wees, wanneer dit voel asof die winter eers in Augustus gaan aanbreek. Maar tog kan ons nie een dag vooruit sien of voorspel nie.

Ja, oral is weerstasies en weervoorspellingskantore mos opgerig, is mense hard aan die werk om weerpatrone met jare en dekades vantevore s’n te vergelyk, en ‘n voorspelling daarmee te waag … maar waar bring dit ons? Met ‘n sikloon soos onlangs se Eloise vanuit die Indiese oseaan, kan mense veral in die ooste van die land, teen oorstromings gewaarsku word. Maar nou wonder ek of die oorstromings oor sekere gedeeltes van Namibië en die Kalahari, plek-plek in die Vrystaat en Noordwes en ook elders in die land, so presies te wagte was?

Baie plekke het nie standhoudende riviere en damme, om dit daar van water te voorsien nie, maar mense daar moet staatmaak op boorgate. Die oorvloedige reën oor plat vlaktes wat die ondergrondse watertafel aanvul, is altyd welkom. Maar net soos droogtes, hou mense ook nie van skade wat skielike oorstromings bring nie. Dan word daar gevra hoekom Here? Hoekom ék, ons, Here. Wanneer gaan dit beter gaan hier, Here?

Geeneen van ons het ‘n klinkklare antwoord nie; ‘n dag-en-datum-antwoord nie. Al waaraan ons kan vasklou, moet vashou, is Habakuk se bekende woorde verder in hoofstuk 3.

17 Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,

18 nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.

19 Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Vir die koorleier. Met snarespel.

God weet wat sy natuurplan vir vandag is, vir hierdie tyd. Hy laat toe dat ons mense eie keuses maak, maar die res van sy skepping het nie daardie keuse nie. En ek wens ek kon voluit, sonder inmenging van satansgedagtes, alreeds so in volmaakte harmonie met Hom leef. Ek doen dit egter so goed ek in my menslike swakheid kan, en loof en prys Hom vir elke oomblik se leiding. Maak vers 18 hierbo ook jou anker. Volg Hom! Daar waar jy vashaak omdat jy bang raak vir wat wag, kniel neer en smeek Hom om jou nie te los omdat jy twyfel nie.

Dierbare Heer, genadige Vader en Christus, ons Verlosser, ek bid vir ons mensekinders hier op aarde. Ek roep almal bymekaar sodat ons onder u vleuels kan kom skuil, soos kuikens onder ‘n hen se beskerming inkruip. Here, ons God, U sien en hoor en weet hoe dit hier om ons almal gaan, hoe onrus in hierdie land opbou, hoe angstigheid onder ons mense groei en U hoor en lees die harte van ons mense. Gee asseblief leiding, Here. Maak ons harte diensbaar om vir U te werk, eerder as om opstandig, koersloos in opstande in te duik.

Laat ons voluit in vergifnis teenoor almal om ons, ons vriende en elke een naaste aan ons, leef. Hierdie en nog baie meer vra ons in U Naam, Here Jesus, ons Saligmaker. Neem ons gebed na die Vader, asseblief.  Amen amen Here.

Mag elkeen van julle vandag en verder, in sy voetspore loop met jul hande in syne. Ek bid vir leiding vir môre en oormôre en tye wat kom waar ons dit moeilik vind om sin te maak, in wat om ons aangaan. Waar ons harte soms bitter en koud is … Maar laat ons onthou dat ons lyding gering is in vergelyking met Christus s’n op ‘n dag toe Hy selfs deur sy Vader vir ons ontwil, verlaat was.

Geniet vandag. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #21 on: February 25, 2021, 01:49:45 PM »
Oggendboodskap 22 Februarie 2021

Gegroet vriende …

Ons lees in Lukas 15:11 en verder oor die verlore seun. Maar wie was eintlik verlore? Die seun wat eers verlore was, maar teruggekom het, of sy broer wat eiesinnig, selfsugtig en onvergewensgesind was? Daar is ook die vader, ja die 2 seuns se pa. Is hy so onskuldig in die hele verhaal? Vriende, in wie van hierdie drie se persoonlikheid pas jy in? Jy kan ‘n hardvogtige persoonlikheid hê; hardwerkend maar daarín op soek na erkenning en eer. Soos die fariseërs wat gereken het hulle aanhang van hul wette maak hulle volmaak.

Of die vader wat sy kinders als gegee het wat hulle wou hê. Hulle kon maar net hul vingers klap en hy het toegegee. Ja, dit kon dalk anders wees, maar hulle lewe word nie werklik beskryf nie. Maar uit die paar verse se vertelling van die een seun se eise, en die ander se woede, sien ons al genoeg. Jy is dalk ‘n “pleaser” soos die engelse taal dit noem. As ouer of kollega of vriend, noem maar op, sonder om jou naaste ooit op ‘n sonde te wys, is jy ook verkeerd.

Of jy kan verwaand wees, selfsugtig net op soek na wêreldse pret en plesier. En wat van daardie vriende wat saam gekuier en gedrink het, hulle ‘vriend’ se erfporsie saam met hom deurgebring het en toe verdwyn het. Hoeveel sulke ‘vriende’ ken julle? Ja, ‘n pragtige spreekwoord sê: met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie.

En dan is daar ook hardvogtige wreedaards, hulle wat nie ‘n flenter omgee vir ander nie. Sou die verlore seun dalk iets beters in die lewe kon bereik, as sy werkgewer hom beter behandel het?

In al hierdie mense loop een draad deur elke gebeurtenis. Alle mense word in sonde ontvang en gebore. Niemand is volmaak, kan op hierdie aarde volmaak word of in dié lewe volmaakte gelowiges wees nie. Die lewe is tot oorlopenstoe gevul met verdriet en pyn. Om in Christus te glo, waarborg geen lewe waarin jy net vooruit gaan, nooit siek word nie, nooit teleurstelling ervaar nie, nooit droogte, hael of verwoesting op ‘n plaas sal ervaar nie, nooit iemand na aan jou hart (volgens jou) te vroeg, aan die dood afstaan nie…

Ek lees Ps 51: 7 “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Hierdie psalm van Dawid het baie van ons se seer in ‘n paar woorde ineengevou. Dawid het seker elke morele wet in die boek verbreek. En hy kon nie eers vir God die tempel bou nie, want sy hande was te vol bloed van al die oorloë. Maar ná sy kind se dood, en seker soveel kere meer, het hy in trane en berou sy siel voor God uitgestort. Ek weet nie of dit die seer wat hy keer op keer beleef het, dadelik weggevat het nie, maar dat God hom liefgehad het en hy vir God, dis nie altemit nie.

Dawid was sekerlik depressief weens al die kere wat hy verwerp was; deur Saul, deur sy eie seuns en ander familie. Hy was soveel keer na aan die dood, maar hy het aan God getrou gebly. Uit eie krag? Nee vriende, so kan ons ook nie berou en geloof sonder God se genade ervaar nie.

Maar, maak nie saak wie jy is, waar jy bly, hoe ver jy geleerd is nie, hoeveel goed of kwaad jy aan ander doen nie, jou ewige vrede en rus vir jou siel, is net so ver as om jou hand uit te steek, of soos wat jou knieë van die vloer af is. En ‘n sinnetjie soos in Lukas 18: 13 “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”

Weet en onthou, niemand van ons is alleen in ons hartseer, teleurstelling of pyn nie. Maar elkeen van ons kan met berou, ons voor God verootmoedig en sy vrede en troos ervaar. Totsiens.
adéle theron

'n Boetelied van Dawid.

1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid,
2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8 Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12 Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19 Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21 Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #22 on: February 25, 2021, 01:51:37 PM »
Oggendboodskap 24 Februarie 2021

Gegroet vriende …

Ek skryf en lees baie op fb-blaaie waar ek o.a. aan interessante gereformeerde kuiers of sending-besprekings deelneem, beide in deelname en waar ek soveel van ander leer. Maar soms bly ek ‘n paar dae lank weg van sosiale media af. Om my kop skoon te maak, sê ons maklik, maar eintlik is dit om stil te raak. Stilte is die nodigste en beste raad om jou kop en hart leeg te maak van aardse dinge; ervaring en belewenisse se herinneringe; stories; gedagtes wat jy verwoord om weer op ander se kommentaar te antwoord; wrewelgedagtes wat opbou in jou binneste ens ens … sodat jy in jou binneste plek kan maak om gevul te word met God.
 

Vriende, moenie wag tot jy met ‘n koorsige kopseer neerval nie. ‘n Koorsige kopseer soos jou humeurige uitbarstings; jou onverwagse bitsigheid teenoor iemand wat dit die minste verdien; ‘n afjak teenoor iemand wat in sy/haar woord- of gedagte-armoede alles wat hulle het, jou wou aanbied. Verstaan julle wat ek bedoel? En later is jy spyt, jammer oor wat jy gesê, maar nie regtig bedoel het nie. Ons het dit al almal beleef, aan die gee- en ontvangkant.

Jesus het dit nie vir enige iemand op aarde kom leer nie. Hy het mense wat siek is, kom roep, liefgekry. Markus vertel in hoofstuk 2 al vir ons dat Jesus sê: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Dit omdat die skynheilige fariseërs en skrifgeleerdes Hom saam met tollenaars sien eet het. Die Nuwe Lewende Vertaling sê sommer immorele mense. Klink ek nie nou bitsig nie?

Deur al Jesus se woorde, optredes, gelykenisse, vertellings en lewe op aarde, het Hy die fariseërs en ongelowiges óf skerp aangespreek, óf soos vir die rower aan die kruis, geïgnoreer. Maar Hy is nie sarkasties of skuinsweg bitsig nie. Ons weet God het elkeen van ons lief; Hy het ons geskape en ons is sy kinders. Hy het gelowiges lief. En niemand van ons kan iemand wil oordeel wat in lewe, op die hel afstuur nie. Elkeen het nog ‘n kans om na God toe te draai. Soos die rower aan die ander kruis. Want al is ons reeds op die Nou Pad, daardie pad wat ons saam met Chistus stap, sondig ons steeds. Die geheim lê in ons berou, erkenning, vergifnis en wegdraai daarvan. Met ander woorde, om nie te volhard in enige iets wat jy weet verkeerd is nie! En aan Christus se verlossing vir ons, te glo. Hy help ons elke oomblik daarmee, solank ons dit wil hê.

Daardie naamlose rower wie se sonde saam met ons s’n, deur Christus op Homself geneem is, het nie gevra om vergewe te word nie. Ek wonder of hy geweet het dis moontlik? Nee, hy het net gevra: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Lukas vertel ons daarvan in hoofstuk 23: 42 Wat het hy daarmee bedoel? Ek is dalk verkeerd, maar tog dink ek dat hy net erken het dat Jesus die Here is. En dit was al genoeg.

Is jou hart vanoggend baie seer? Het jy jouself in so ‘n hartseer of verwerping verloor? Skryf jou naam in in die plek van die tollenaar wat tot God gebid het om genade, wat sy sonde erken het. Want ons het ook gesondig, male sonder tal. Jy en ek, niemand van ons kan die volle wet onderhou nie. En daarmee saam het ons al die seerste seer, pyn, verdriet, verliese, bankrotskap, armoede, verwerping, noem maar op, ervaar. Maar as dit vir jou voel asof jy aan daardie rowerskruis hang, vra net dat Christus aan jou moet dink en weet Hy sal vir jou in sy Hemelse Paradys plek berei.

Here, ons Here, ons roep na U en ons smeekbede bereik U in oorvloed. Help ons, staan ons by. As die storm nie bedaar nie, dan dra U ons daardeur. Ons loof en eer U elke dag. En Here, gee asseblief uitkoms waar mense besig is om alles te verloor en ‘n ramp plaasvind weens droogte. Smekend lê ons al daardie streke se mense en diere voor u Voete neer. Om Christus ontwil Amen amen Here.

Vriende, bly in gebed vir jouself, jou geliefdes, vriende en jou naaste. Ook vir die droogte-plekke in ons land, en die mense wat ook nou weens oorstromings onberekenbare skade ly. Maak jul dag mooi en voel God se genade elke oomblik aan. Totsiens.
adéle theron

MARKUS 2

Jesus roep vir Levi die tollenaar om sy dissipel te word

13 Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig. 
14 Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.

15 Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.) 16Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

17 Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #23 on: March 01, 2021, 10:08:28 PM »
Oggendboodskap 26 Februarie 2021

Gegroet vriende …

Johannes 11:35, 40
35 Jesus het geween. (Kortste Bybelvers)
40 Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?

Eeue gelede en vroeër, en nog vroeër was die lewe anders as vandag. Oorloë was die norm, gevegte oor grondgebied of oor die hand van ‘n vrou. Ek hoor ‘n tydjie gelede iemand sê dat in die ‘ou’ tyd, vroeër eeue, het mense so baie doodgegaan dat dit vir hulle nie so hartseer en erg was as vandag nie. Lewensverwagtinge was soms nie hoog of as belangrik geag nie. Maar regtig, sonder hartseer en pyn?

Is dit nie die grootste snert op aarde nie? Net mense wat nog nooit iemand geliefd verloor het nie, kan dalk so dink. Want vriende, dit is nie so nie. Kom ons soek ‘n paar gedeeltes in die Bybel op. Ek dink eerstens aan Dawid, wie se eerste seun by Batseba se dood, hom intens laat rou het. Maar hy het sy vertroue in God behou.

Maria, die Moeder van Jesus, was stukkend oor sy lyding en kruisdood, al het sy geglo in die Ewige Lewe. Ek bring ook Job se vrou in herinnering; haar hartseer oor hulle kinders, het haar teen God laat draai. Tog het Job aan God bly vashou, in sy Almag en goedheid bly glo.

Die profeet Eli se twee seuns is op een dag dood in ‘n geveg en Eli het ook gesterf. Nie net oor sy kinders nie, maar oor die ark van God deur die Filistyne weggevoer is. Op sy ou dag, 98 jaar oud, het hy geweet God se Almag is die hoogste. Ons lees die geskiedenis daarvan in 1 Samuel 4.

En Adam en Eva? Hulle hartseer oor Abel - en oor Kaïn ook - moes sekerlik ‘n seer plek in hul harte gelaat het, al word dit nie beskryf nie. Hoe kan ‘n ouer nie treur, wanneer ‘n kind die weg saam met God verloor nie; wie bid nie aaneen dat ‘n kind ook deur God gered moet word nie? Augustinus se moeder het jare lank vir hom gebid en hy het deur ons Vader se genade tot bekering gekom.

Voorbeelde is legio. Daar was jare gelede in ‘n Afrikaanse film, ‘n toneel waar ‘n snobistiese jongman ‘n kind doodgery het en ewe gevoelloos gesê het dat daardie huis nog baie kinders het, een minder sal nie saak maak nie. Ek kan net daardie toneel onthou, nie in watter fliek dit was nie, maar dit het ‘n skok in my kindergemoed laat groei.

Vandag is daar te veel voorbeelde waar mense gevoelloos teenoor ander se hartseer en pyn staan. Ek sukkel om gevoelloosheid teenoor jou naaste te verstaan. Hoe durf enigiemand ‘n ander, wat ook deur God lewe gekry het, so sleg behandel?

“Jesus het geween.” En Hy het ook gesê as iemand in Hom glo, hulle die heerlikheid, ja die Almag van God sal sien. Vriende, wanneer ons iemand hier verloor, mag ons treur, ons hartseer teen mekaar se skouers uitsnik, ons verlange uitroep. Maar moet nooit vergeet dat ons nie nodig het om te treur asof daar geen hoop, geen toekoms in die lewe ná hierdie aardse tyd, bestaan nie. Want dit is die sin en betekenis van ons geloof in ons enigste Here.

Neem jou naaste en jou geliefdes se name in jou handpalms en sit dit by God se voete neer, daar by die stroom waar sy voete rus; sit dit op sy skoot neer, of laai dit saam met jou gebed in sy hart af. Staan bymekaar. En hang Jesus se troos soos ‘n karos om jou skouers.

Maak jul dag mooi en wees veilig. Mag die naweek oorloop van seëninge en vrede te midde van die aardse kwellings en pyn en verlange.

Groete.
adéle theron   

Johannes 11:35 – 40

35 Jesus het geween.
36 Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!
37 En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?
38 En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê.
39 Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.
40 Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #24 on: March 01, 2021, 10:09:25 PM »
Oggendboodskap 2 Maart 2021

Gegroet vriende …

Lukas 11: 9 En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Soos die meeste dae in jou en my lewe, is daar elke dag iets wat ons aandag trek, hetsy dit interessant of irriterend is. As dit nie in die huis is nie, is dit net buite in die tuin, of oorkant in die stuk veld. Miskien op jou rekenaar waar jy Bybelstudie doen, of na iets googleloer, waar ek stories skryf, op fb inloer of dalk op die plaas wanneer ek daar rondstap. By die biduur of Bybelstudie waar ek ander mense sien en ons soveel moontlik gesels in ‘n uur probeer inpas, dit selde regkry om voor nog ‘n halfuur later daar uit te stap … of dalk in die winkel waar jy skaars met ‘n ander gesels, maar net jou nodige goed in jou mandjie pak, betaal en daar uitkom.

Waarmee bly elkeen van julle elke uur besig? Vandat jy besef jy is wakker, tot jy vanaand in jou slaap se vergetelheid wegsink … Eintlik wil ek vra dat jý dink waarmee bly jou gedagtes elke uur besig. Nie wanneer jy werk nie, nee, daardie minute tussenin wanneer jou gedagtes hul eie koers inloop. Hoe positief of negatief is dit daar in jou wese en jou hart?

Vriende, dit kos bietjie werk, dissipline, jou binneste vasvat en dwing om al jou “af-minute” aan Christus te dink. Gebruik daardie tydjies om Hom spontaan te loof vir die genade om te kan asemhaal, te kan rondbeweeg, dit wat jy wou doen te kon regkry, of wat jy gesoek het, te vind. Dalk het jy raad nodig en loop jy oral teen ‘n muur vas, maar jy besef nie die deur is net ‘n handbreedte verder nie.

In Jeremia 29 lees ons die brief wat Jeremia aan die Jode wat in Babel in ballingskap was, gestuur het:

Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het, wat Ek vir julle bedink. Goeie dinge moet met julle gebeur en nie slegte goed nie. Julle moet die toekoms hoopvol ingaan. Julle sal na My toe kom en my Naam aanroep, ja, en vir my bid. Ek sal na julle luister. As julle met alles in julle na My soek, in jul harte My soek en My wil vind, sal julle by My uitkom. Julle sal julle doel bereik deurdat Ek die taal van julle hart sal verstaan.

Luister wat sê die ou vertaling, is dit nie die kosbaarste woorde nie? “Ek sal My deur julle laat vind”

Vriende, gaan heen, soek en julle sal vind, klop net aan God se hart en vir julle sal oopgemaak word, sê Christus in Matteüs en ook in Lukas 11: 9 
Geniet vandag en bou jou gedagtes met positiewe stene uit God se hand, en sy Liefde as sement.

Groete.
adéle theron   

Jeremia 29

11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.
12 Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.
13 En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
14 En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #25 on: March 03, 2021, 09:41:55 PM »
Oggendboodskap 4 Maart 2021

Gegroet vriende …

Daardie gedagte van blom waar jy geplant is, dwarrel in my gedagtes. Ek loop soms dae lank met gedagtes rond, daardie wat so onverwags kop uitsteek, sommer opspring in jou hart. Daardie gedagtes waarvan ek eergister vertel het. Veldblomme, grondeekhorings, meerkatte wat my woestynrosies opgevreet het, giftige bolplante, kakiebos en irriterende katstert/katbosplant. Maar ook die grassoorte waar die wild en vee wei. Hoeveel voorbeelde van ‘blom waar God jou geplant het’ kan jy aan dink?

Ek trek vir Kiewiet nader, dis nou my laptop en gaan googleloer daarna. Kry die mooiste foto’s, van ‘n beker waarop die woorde staan, tot gedagtes onderaan foto’s van blommetjies oraloor; sommige gesofistikeerd, ander gewoon en ander klein en onbenullig in die veld.

Dit bring my by ons mense. Hoeveel van ons blom gewillig en tevrede net hier waar jy geplant is? Móét ons gewillig en tevrede blom net hier waar ons geplant is? En hóékom?

Wat gebeur met plante wat blom? Tensy dit deur ‘n haelstorm of ‘n snoeiskêr vernietig word, sal hulle bly blom, winter of somer, wanneer dit hulle bepaalde tyd is. Deur droogte of koue, elkeen het haar bepaalde tyd en plek om te blom en saad voort te bring wat op een of ander manier weer elders beland om vir nog ‘n plantjie te sorg. Het jy al agtergekom dat ‘n lelie, ‘n bolplant soos ‘n varkoor of amarilla, se blom sal oopmaak en kleurryk vertoon, al het jy die loot wat uitstoot dalk halfpad afgesny?

Ons moet dieselfde volharding in geloof navolg. Wanneer God jou iewers geplant het, moet jy in die verkondiging van die Evangelie blom, volhardend en aaneen. Al sou mense jou oordonder soos ‘n haelstrom op ‘n sinkdak; al sou jou uitreike na ander, platgeslaan word soos ‘n haelstorm ‘n land met gesaaides kan platvee in die modder in; al sou jou vlerke wat jou woorde verder moes neem na ander mense, geknip word … nogtans moet jy aanhou blom …moet ons met ons halwe vlerke verder vlieg, al beteken dit ons moet loop of selfs kruip.

Daardie lelies van die veld, word deur God geklee soos geen mens kan nie. Die kleinste eenvoudigste magrietjies blom is harde, droë grond waar dit jare laas gereën het. Blommetjies kleiner as ‘n 10sent, blom sonder water en sonder bemesting elkeen op hul bepaalde tyd, soms weke aaneen.

En wat het ons? ‘n Bybel en skrywes en kennis en vertellings, ‘graphics’ met die Evangelie-boodskap op wat vandag se internet ons bied; ons het mense by wie ons kan gaan kers opsteek, kan leer, verklarings kan kry wanneer iets onverstaanbaar uit Paulus se briewe opduik … en baie meer.

Maar net soos wat blomme elk in hulle eie kleur blom, en vrugtebome hul vasgestelde vrugte dra, so moet ons ook by die waarheid van die Evangelie bly. Moenie jou laat verlei deur valse boodskappe te versprei nie en vermy valse leraars en profete soos wat jy ‘n land vol duwweltjies sal vermy as jy kaalvoet daarop afkom. Die duiwel kom na jou toe met ‘n Bybel onder sy arm! En as jy nie genoeg kennis het nie, nuut is in geloof of onseker is oor Christus se verlossing, gaan jy saam met hom die helse afgrond ingly.

Daarom vriende, lees en herlees en bestudeer jou Bybel. Vra wanneer jy nie seker is nie. Luister na predikers wat die waarheid verkondig en jou nie met “goedvoel-godsdiens” mislei nie. As jy nie seker is nie, vra en ons sal jou help.

Ek groet julle vir die week en stuur (virtueel) vir elkeen ‘n bos veldblomme, geklee met God se heerlikheid. Gaan uit en saai Christus se Woord en Evangelie verder.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #26 on: March 07, 2021, 08:20:12 PM »
Oggendboodskap 8 Maart 2021

Gegroet vriende …

Ek gaan kortliks ‘n paar gedagtes deel uit ‘n preek waarna ek vanoggend (Sondagoggend) geluister het. Ds Chris Saayman is leraar van die Tafelberg-gemeente in Kaapstad en ek luister amper elke dag na boodskappe wat hy deel. Dis eintlik ‘n heerlike gerusstelling om na predikers wat nog die waarheid uit die Bybel oordra, te luister. En daar is baie van hulle, al kan ons nie na almal luister nie, die dag het ook net soveel ure. Maar ek luister heelwat na hulle wie se geloof ek weet opreg is. En ook vermy ek enige prediker wat ek reeds weet die Bybelse Waarheid liederlik kan verdraai, hulle wat ‘n “goedvoel-godsdiens” verkondig omdat hulleself skatryk word uit die oorvloedige bydraes van hulle lidmate. En jammer om te moet sê, daar is baie van hulle ook.

Terug na vandag se gedagte … 1 Johannes 5 se opskrif sê

Die geloof in Jesus en die gevolge daarvan.

1 (a) Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore;

(b) en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.

Dit sê baie duidelik dat elkeen wat in Christus glo (in sy verlossing wat Hy vir ons volbring het) die Ewige Lewe sal ontvang. Ds Chris Saayman het ook gesê dat die woorde “is uit God gebore” beteken dat ons sekerheid van die Ewige Lewe al vasgelê is nog voor jou geloof. Wat ‘n wonderlike gedagte, het dit my getref.

Vriende, wat is die Ewige Lewe? Iemand het iets daaroor geskryf en hier is my weergawe, want ek kan die oorspronklike nie heeltemal onthou nie …
‘n Swaeltjie vlieg een keer in 1000 jaar verby ‘n rots so groot soos die Drakensberge, en skuus sy bekkie daarteen, en wanneer daardie rots weggeskuur is deur die swaeltjie, is een oomblik van die Ewigheid verby.
Hoe lank is ons lewe hier op aarde? So lank as wat dit die swaeltjie neem om sy bekkie een keer teen daardie rots te skuur.

Maak dit vir julle sin? Wat doen jy met jou oomblikkie-uit-die-ewigheid, se lewe? Wat saai jy en waar val daardie saad? Is dit werklik die moeite werd om net vir hier te lewe en nie te kommer oor wat ná hierdie lewe van jou gaan word nie? Hy het jou lankal gekies, volg Hom nou al. Moenie met hierdie liefde van God speel nie.

Die (b) gedeelte van vers 1 hierbo sê
“en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.”

Dit beteken jy kan niemand seermaak nie. Verlede week het iemand op ‘n fb-kerkblad die opmerking gemaak dat net christene sy naaste is. Ek het hom geantwoord dat ek liewer elkeen op aarde as my naaste (moet) beskou, as wat ek eendag moet agterkom dat ek iemand uitgelaat het wat dit moes wees, en nie goed gedoen het aan so een nie, of nie die Evangelie aan hom/haar vertel het toe ek kans gehad het nie.

Dat ons al swaar kry en gaan ly omdat ons Christus volg, is ‘n waarheid. Christus het self gesê as jy Hom volg, sal jy vervolg word soos wat Hy vervolg is, omdat die wêreld Hom haat, ja vriende, die wêreld haat Jesus Christus nog steeds. Ons weet hoe Petrus en die ander Apostels, en baie christene en sendelinge vervolg is, wreed vermoor is vir hulle geloof. Maar dit het hulle nie gestop nie.

Almal wat begeesterd is om Jesus te volg, sal vervolg word omdat die wêreld Hom haat, het ds Saayman dit opgesom. In 1 Petrus 2 lees ons dit duidelik.

Kom ons sluit ons oë. Here, ons Here, ons wil U volg en in U voetspore loop. Al is nog in hierdie sondige wêreld, wil ons dit nie wees nie, wil ons elke sonde wat ons nogtans doen, aflê, bely en daarmee ophou. Help ons, dra ons en oordek ons met U vleuels om ons teen hierdie wêreld se versoekings te beskerm. En wanneer ons in gevaar verkeer, ‘n storm van hartseer, angs en pyn beleef, dra U ons asseblief daardeur. Om Christus ontwil, amen amen Here.

Ek groet julle. Gaan weer uit en saai Christus se Woord en Evangelie verder.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #27 on: March 09, 2021, 10:15:00 PM »
Oggendboodskap 10 Maart 2021

Gegroet vriende …

So drie-vier jaar gelede het ek begin tuin maak waar ek nou bly. Daardie tyd het ek vrolik en vol opgewondenheid, maar met min kennis, deur internet begin stap. Idees, vetplante, struike, klippe, grassoorte, skulpe, geroeste skottels en bekers, dit alles het my aandag getrek.

Nou 4 jaar later, het ek ‘n redelike tuin soos wat ek sou wou beplan. Net, dit het stukkie vir stukkie gevorm. Ek kon met die beste wil ter wêreld, dit nie presies vooruit beplan nie. En ek plant en skuif en bou nog steeds, amper elke dag, daaraan. Ek ry klippe aan en plant van vetplantblaartjies tot struike, en put uit die skatkis van idees in die kuberwêreld.

So stap ek deur die kuber-kanale. Almal googeloer mos deesdae na iets wat hul nodig het. Daar is duisende fb-blaaie en nog meer internet-blogs of webwerwe vol gesels en voorbeelde van alles op aarde … en in die ruimte. Dink maar aan iets en iewers is daar reeds iemand wat daaroor geskryf het. Foto’s is volop. Of jy nou haarstyle of prentjies vir jou naels soek; tuine vol klippe en vetplante wil pak; resepte, skole, of werk soek. Noem maar en dis daar.

Dan vat ek my Bybel en lees daaruit. En besef dat ek nie daarvoor enige internet nodig het nie. Dit is maar net altyd daar. En dit was altyd daar. God se Woord, natuurlik. En God ook want Hy en sy Woord is een.

En die wonder tref my weer! Hy het geen internet nodig gehad nie, geen vooruitbeplanning nie. Hy het nie nodig gehad om vetplante en struike te soek om die aardbol vol tuine te plant nie. Hy het net ‘n woord gespreek, en dit was daar. Het God dit uitgeroep? Het Hy dit gefluister? En gerus van sy werk, met ‘n glimlag elke skepping geniet.

Om al van ewigheid tot ewigheid tot ewigheid te wees, soos wat Hy nog ewig sal wees, en iewers in al die tyd en tye, vir ons ‘n beskermende Aarde te geroep het, beskermd tussen ander planete, net ver genoeg van die son af, daarvoor het Hy net ‘n woord nodig gehad.

Wat ‘n vreugde en voorreg is dit nie om enige tyd, enige plek, stil te raak en na Hom te luister of te bid nie. Van vreugde te sing, of ons trane teen sy skouer uit te snik nie? Hoe kan iemand nie glo dat alles in die ewigheid en ons en als op aarde, van God af kom nie, deur Hom bestaan nie?

Geliefde vriende, gebruik julle Bybels en maak gebruik van elke moment wat tussen daaglikse dinge moontlik is, om Christus se hande aan te raak. En meer nog, deel dit uit! En geniet dit. Bid na ons Vader wat in die Hemel is en luister na sy stem.

Kom ons sluit ons oë  … Dankie dat ek na U kan luister wanneer ek tuin maak, VaderHeer, en die grond wat U geskep het, tussen my vingers kan voel. Dankie dat dit U is wat ons vashou. Dankie vir al die genade wat U aan ons gee. Dankie dat U ons sonde ongedaan gemaak het. Amen amen Here.

Ek groet julle. Gaan uit, sien sy skepping raak en besef opnuut die wonder daarvan, en saai Christus se Woord en Evangelie verder.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #28 on: March 22, 2021, 07:46:12 AM »
Oggendboodskap 12 Maart 2021

Gegroet vriende …

Vir die uur of wat voordat ek hierdie boodskap begin bedink en tik, speel ek gospelmusiek sag in die huis, en raak ek stil om te luister na die fluisterstem in die wind. En, eers onbewus daarvan, besef ek skielik dat die lied wat nou speel, Rina Hugo se opname is van Wat ‘n Vriend het ons in Jesus. Omdat ek stil geluister het, het die boodskap so sag tot my deurgedring, amper onbewus op my hart kom lê.

Hoeveel keer het God iemand sy vriend genoem? Ek dink Abraham en Moses was daar. Dan was Jesus ook baie lief vir Johannes die Doper, en Lasarus, Martha en Maria wat in Bethanie gebly het, was ook goeie vriende van Hom. So ook verseker Maria van Magdala, of te wel Maria Magdalena. En later vanaf die kruis, het Hy sy moeder Maria aan sy vriend Johannes gegee.

My gedagtes trek sommer nog baie name in die Bybel onder hierdie sambreel van Liefde bymekaar. Dan raak dit te veel om almal nou hier op te noem. God was lief vir Dawid, dink ek … en skielik besef ek Hy is nog steeds baie lief vir hulle almal. Is ek verkeerd as ek so sê? Hulle is almal by God die Vader en Christus in die ewige lewe se heerlikheid, om Hom te loof en prys.

Deur die eeue het musiek ‘n groot deel in alle mense se lewe gespeel. Die Ou Testament is vol verwysings na musiek, liedere en psalms en selfs na Dawid se dans (waaroor almal nie so gelukkig was nie) Maar vandag nog speel musiek ‘n baie groot deel in ons lofprysing aan God. Joseph Scriven is in 1819 in Ierland gebore. In 1843 is sy verloofde oorlede, die dag voor hulle troue. Hy het in 1845 in Kanada gaan bly en gedurende 1855 het hy die gedig "Pray Without Ceasing" vir sy Moeder geskryf wat toe baie siek was, en na hom verlang het.

Charles Crozat Converse het dit later getoonset en die naam verander na “What a Friend we have in Jesus.’ Hulle het nie gedink of verwag die lied sou 2 eeue later nog steeds ‘n gunsteling wees nie. Daar is te veel opnames hiervan om selfs die mooiste, vir my, uit te kies. So is daar baie liedere en wysies wat al eeue oud is wat vandag nog groot gunstelinge is. Omdat dit in liefde vir Christus en in geloof geskryf is, en die digters en komponiste nie enige eer daarvoor geneem het nie, maar dit aan God opgedra het. Vandag nog is daar nuwe liedere wat net so gewild is.

En of jy nou van klassieke musiek, country, rock of wat ookal hou, iewers gaan jy iemand kry wat hierdie mooi lied met oorgawe sing. Vriende, dink aan ‘n lied tot God se eer en stap die dag daarmee in; sing dit heeldag, neurie dit, of luister net daarna. Maar loof Hom vandag meer as nog ooit.
   
Kom ons sluit ons oë … Dankie dat ons u vriende mag wees, VaderHeer, en u liefde elke dag kan beleef. Dankie dat U ons sonde tot niks verwerp het. Amen amen Here.

Ek groet julle. Gaan uit, sien sy skepping raak en besef opnuut die wonder daarvan, loof en prys Hom vir genade, vir elke keer wat Hy jou optel en deur die storm dra.

Vrede en vreugde vir julle. Totsiens.
adéle theron   
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #29 on: March 22, 2021, 07:46:33 AM »
Wat 'n Vriend

1.   Wat 'n Vriend Het Ons In Jesus,
  Hy Wat In Ons Plek Wil Staan;
  Wat 'n Voorreg Om Gedurig
  Tot Gods Troon Deur Hom Te Gaan!
  Hoe Verbeur Ons Tog Die Vrede,
  Ag, Hoe Dikwels Ly Ons Smart,
  Net Omdat Ons Nie Ons Node
  Uitstort In Gods Vaderhart!

2. As Versoeking En Beproewing,
  Of As Kwelling Ons Bedreig,
  Laat Ons Nooit Mismoedig Word Nie, 
  Laat Ons Bedes Opwaarts Styg.
  Nêrens Is 'n Vriend Getrouer,
  As Hy Wat Ons Node Weet;
  Jesus Voel Met Al Ons Swakheid,
  En Wil Deel In Al Ons Leed.

3. Is Ons Swak, Gedruk Deur Laste,
  Onder Kommer Neergebuk,
  Dierb're Heiland, Onse Toevlug,
  O Bevry Ons Weer Van Druk!
  As Ons Vriende Ons Versaak Het,
  Soek Ons In Gebed Die Heer,
  Aan Sy Boesem Is Ons Veilig,
  Hy Vertroos Ons Keer Op Keer.

https://www.youtube.com/watch?v=U-d-OrHIrbA
adéle  :grommit: