Author Topic: Oggendboodskappe  (Read 7901 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Oggendboodskappe
« on: December 30, 2020, 10:10:08 AM »
Oggendboodskap 28 Desember 2020
 
En so kom ek tot die besef dat vandag die laaste Sondag van die jaar 2020 was. En ek wonder wat ons voetspore wat ons agterlaat, vir ander gaan vertel. Ons kan al in die herfs of winter van ons lewe wees en weet daar is ander wat ons volg, eintlik ons voorbeeld wil navolg soos wat ons probeer om Paulus te volg, soos wat hy Christus volg. maar al is jy nog in jou lente- of somerdekades .... daar is altyd iemand wat jou gaan navolg, al is dit net jou kinders ... en hulle maats. Soos wat dit in ons lewe gaan, het ek die woorde gehoor en dit al hier genoem, is elkeen van ons dalk die enigste Bybel wat sommige mense raaksien .... al is ons so vol foute en het ook al soveel verkeerd gedoen, is die nie-volharding in die sonde, ‘n baie belangrike punt. Die “probeer” om af te sien daarvan ....

So ook .... dié in wie se voetspore ons volg? Wie is so ‘n paar treë voor ons op pad na die wenstreep toe? Daardie wenstreep waar Christus vir ons wag? Gaan jy met jou geliefde saam met wie jy ‘n belofte voor God afgelê het, die nuwe jaar instap? Gaan jou kinders ook al die Heilige Gees binne-in hulle se liefde ervaar het? Kinders, kleiner of al volwasse wat vasgevang is in die kuberruim se verleidings wat hul weghou van God af .... En die “slange” of satansverleiers wat so graag vir ons wil vertel dat sekere gruwels in God se oë, in vandag se lewe glad nie meer ‘n gruwel is nie ... die Bybel verander nooit, en God ook nie.

As jy dalk die ‘ongelukkige’ ervaring gehad het om iemand anders se oë te ontmoet het, dalk baie meer as net dit, en gedagtes koester om ‘n gesinsgeluk op te breek, of af te dwaal na ander geloof soos wat christene al gedoen het .... al is dit vir ons onverstaanbaar hoe dit moontlik kan wees .... of om dalk ander gode aan te hang ... iets wat elkeen van ons dalk onbewus doen wanneer jou werk of sport of stokperdjie vir jou belangriker as God geword het ....
Weet net, ander het dit al voor ons gedoen .... en ja, party het die kans gehad om reg te maak, om weer na God te draai, maar ander het nie. So, vriende, weet dat jy nog kans het om om te draai, terug na jou gesin toe, terug na jou kerk toe, of selgroep, terug na God toe.
En julle wat nog steeds die nouste paadjie saam met God stap, wat aan Christus se Kleed se Soom vas hou, julle moet sy Voorbeeld ook oordra aan ander, aan elkeen wat dalk nog nie weet hoe lief ons Vader hulle ook het nie.

Here Jesus, gee ons asseblief hierdie week en die Volgende Jaar, nog meer verlange om geesvervuld te lewe, ons eie-ek heeltemal af te lê en U te volg. Mag die laaste week van hierdie deurmekaarste 2020 vir elkeen wat luister, bewus maak van U oneindige goedheid, Verlossing en genade. Amen Here

Vriende, aan julle wat hierdie week verjaar, of n ander geluksherdenking vier, baie geluk. Aan elke vriend/vriendin wat seer het, wat oneindig verlang na ‘n geliefde wat nou by God is, weet ons ander dra julle aan Hom op. Sy Troos is die breedste skouer. Maar ons is ook hier vir elkeen wat wil gesels. Ek en Sandra is net ‘n boodskap ver.

Groete, totsiens tot ons weer gesels.
adéle theron
« Last Edit: January 07, 2021, 10:41:00 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #1 on: December 30, 2020, 10:11:37 AM »
Oggendboodskap 30 Desember 2020

Goeienaand, vriende en goeie mooi môre vir julle wat eers in die oggendure kom luister. Ons jaar 2020 is amper verby en wat ‘n jaar was dit nie. Geeneen kan seker sê dit was maar soos elke ander jaar nie. Daar is baie seer in hierdie jaar se harts-annale aangeteken. Die hartseer van werksverliese, van finansiële ondergang, van onlogiese besluite omdat magsbeheptheid sommiges se afgod is; van die gemis van ‘n eerste of laaste skooljaar en jaarlikse funksies wat nie kon plaasvind nie; vakansies wat gekanselleer is ... waarvoor party mense lank gespaar het omdat dit ‘n luukse is; kuiers vir verjaarsdae, veral spesiale herdenkings wat nie kon gebeur nie; afskeid van geliefdes wat in hul laaste ure alleen moes wees, omdat besoeke eenvoudig verbied is, en baie ander seer herinneringe. Maar ook van onbegrip omdat besluite, reëls en regulasies, so ver verwyderd is van verstaanbare logika waarmee ons grootgeword het, dat niks meer sin gemaak het nie.

Dit alles bo en behalwe die gewone gemors waarmee ons elke dag worstel, berigte van terrorisme, moorde, ontvoerings, kindermishandeling, bedrog, ongelukke ens ens ... En vals berigte oorheers die kuber-nuuskantore met die spoed van sterlig. Wat se plesier en genot vind mense daaruit om sulke vals dinge, “fake news” die wêreld in te stuur? Berigte van kompetisies waar jy glo groot kan wen ... van hospitale wat toemaak of oorvol is ... (ek praat nie van werklike gevalle nie) Net hulle wat lag omdat hulle ander mense mislei of teleurgesteld laat, sal dit kan antwoord.

Aan die ander kant is daar ‘n klein keersy van die munt. Mense, veral in families het mekaar weer leer ken, gesinne het geleer om saam te wees en veral om krisisse saam te bowe te kom; mense het die natuur om hulle raakgesien, volgens berigte het die lugruim bokant China se groot stede weer blou .... Daar het ook ‘n geweldige uitbreiding in die kuberruim se vriendskappe ontstaan (al is daar ook soveel kwade bewegings daar)

Ek lees baie sêgoed raak, bemoedigings, opbouende skrywes, ondersteuningsgroepe, mense wat eers niks van Christus wou weet nie, maar Hom nou liefgekry het, omdat Hy hulle eerste liefgehad het. Ons kry die versekering daarvan in 1 Johannes 4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

Vriende, kies die goeie wat jul uit 2020 geleer het en bou daarop voort. Haal die beste van elke les wat jul positief en gelowig geïnspireer het, uit die onverstaanbare en seer herinneringe en pak dit in jul nuwejaarsmandjie vir die nuwe pad wat ons nou stap. Ek lees vir julle 1 Johannes 4:16  “En ons het die liefde wat God vir ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”
Is dit nie die wonderlikste, sterkste troos wat ons om ons skouers kan vou nie? Maak dit jou eie. Gee aan ons Vader jou pinkie, en Hy sal jou heeltemal toevou in sy arms.

Daarom vriende, moet nie ‘n kamera saamvat wanneer jy vir iemand iets goeds doen nie, maar vat jou selfoon met klankopnemer saam wanneer jy iemand gaan slegsê, uitskel en vernederd laat. As iemand dit aan jou doen, gee hom/haar ‘n glimlag en dra jou “kruis” onder Jesus se genade, met waardigheid.

Vriende, maak vandag onvergeetlik, want daar sal ‘n dag kom wanneer gister se onthou al is wat oorbly!

Groetnis tot volgende jaar. 😊
adéle theron
« Last Edit: January 07, 2021, 10:41:22 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #2 on: January 03, 2021, 10:25:24 PM »
Oggendboodskap 1 Januarie 2021


Goeiemore vriende, die jaar 2020 is vir altyd verby en ons staan voete vierkantig in ‘n nuwe jaar. Soveel mense het uitgesien na vandag, soos elke ander nuwe jaar, maar hierdie keer bring dit ons min in die sak. Weet julle, niks verander nie. Niks gee nuwe hoop vir ‘n beter jaar, vir groter rykdom of ‘n hoër leefwyse of beter gesondheid nie. Inteendeel.


Maar soos elke ander nuwe jaar, is ons God Drie-enig nog steeds hier. Nog steeds het Hy nie verander nie. Nie Hy of enige iets in sy Woord, die Bybel nie. Christus se Verlossingsgenade is nog steeds vir elkeen van ons dieselfde. Al net, jy moet sy Woorde glo en in Hom glo, in daardie verlossing; jy moet Hom volg, nie meer volhard in enige sonde nie, maar dit vermy, wat ons net met sy genade kan regkry. Daarvoor moet jy luister na sy Heilige Gees wat in jou hart ingetrek het. En dan moet jy dit alles, (wat ons sy Evangelie noem) uitdra na elkeen met wie jy in aanraking kom. Deur woord en daad, elkeen naby en oor ‘n afstand, want vandag het ons internet om dit maklik te maak.


Mattheus 25 vertel ons dat daar 10 meisies was wat gewag het om saam met die bruidegom die saal binne te gaan, maar ongelukkig het 5 van hulle dit nie reggekry nie, want hulle was nie regtig gereed nie. Wat vertel dit vir jou? Dat jy in oorgawe in alle omstandighede op God kan en moet vertrou, Hom bo alles moet stel. Jy moet nie nog wil dit en dat, omdat jy dink daar is nog tyd nie. Begin vandag, nou, om alle ‘afgode’ ja, enige iets wat jy eers wil doen voor jy met iemand oor Hom gesels, tweede te stel. As die geleentheid hom voordoen om oor Christus te praat, doen dit.


'n Eenvoudige uitreik na 'n ander, gee meer vreugde as enige iets anders. Uitreik na iemand wat eeue se seer, verwerping, afdanking en vertrapping ervaar het. Ek lees die volgende iewers raak .... “‘n Omhelsing, 'n glimlag, 'n kom-drink-saam-koffie, 'n ons-is-sò-bly-jy-is-ook-hier, 'n kom-kuier-gou, 'n ons-ken-jou-eerlike-integriteit, 'n kan-ons-whatsapp, 'n dankie-ook-vir-jou, 'n ons-is-lief-vir-jou-tannie en 'n onverwagse vriendskap deur iemand wat jy nog net enkele kere ontmoet het ... word 'n oase in 'n emosionele woestyn. Nooi elke dag iemand saam na ons Vader se palm-oase vir iets te drinke en ervaar Sy Liefde in julle harte en hande.” 


Vriende, mag die beste van gister die slegste van dié nuwe lewensjaar wees! Vou daardie karos genade wat Christus saam met sy Heilige Gees vir jou gestuur het, dubbel en dwars om jou skouers. En, onthou ook, maak vandag onvergeetlik, want daar sal ‘n dag kom wanneer gister se onthou al is wat oorbly! Wanneer jy net herinneringe gaan hê van ‘n geliefde of dalk gaan iemand anders net herinneringe van jou oorhê. Doen daarom alles in jou vermoë om net die mooiste mooi in ‘n ander se herinneringe agter te laat.

   
Groetnis 😊
adéle theron
« Last Edit: January 07, 2021, 10:25:59 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Oggendboodskappe
« Reply #3 on: January 05, 2021, 03:53:19 AM »
'n Pragtige boodskap! Hoe waar is hierdie woorde van jou nie:  "...daar sal ‘n dag kom wanneer gister se onthou al is wat oorbly..." en ek besef vandag dat dit 'n seening opsigself is want vir baie is 'gister' verborge in vergetelheid.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #4 on: January 07, 2021, 10:21:06 AM »
Oggendboodskap 5 Januarie 2021

Goeiemore vriende,

Ek lees ‘n stukkie uit Jakobus, daardie boek wat geskryf is omdat Jakobus gesien het hoe mense swaarkry en teen allerhande versoekings moes veg. Ek kry hierdie inligting uit Die Boodskap uit, die Bybelvertaling wat vir my soms net iets meer in plat Afrikaans sê, wat ek beter kan verstaan. “Slegte dinge is nie altyd sleg nie”, dis die opskrif van die eerste stukkie in Jakobus. Die mense het swaar gekry en moes teen allerhande versoekings veg, ondermeer, die skittering en blink van geld, onmin onder mekaar, families en vriende en natuurlik die soeke na eie eer. So graag wil hulle tog hê die sonstraal moet net op hulle skyn. Jakobus wou hulle oog weer op God vestig.

Vers 1 van Jakobus: “Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien, met alles wat hy het. Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort, moet die brief lees. Dit is vir julle bedoel”. Ek wonder of Jakobus daardie tyd gedink het dat ons 2000 jaar verder nog steeds sy boek gaan lees. Ja, dat ons nog steeds die hele Bybel gaan lees, wat later saamgestel is.

Ek gaan verder. “My liewe mede-christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.” Ons hoor baie keer, en dit is baie keer vir ons nodig om vir iemand te sê, Cristus belowe nêrens dat jy hemel op aarde gaan hê as jy Hom volg nie. As ons in Christus se voetspore volg, moet ons weet, so volmaak as wat Christus was, so groot is die kans dat ons eerder gaan swaarkry as om ‘n gladde-water-lewe te hê, omdat ons aan Christus vashou.

Vriende, julle weet, ek het al gedink die kleed wat Christus aangehad het toe die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aan Hom geraak het, is ‘n kleed wat van die sterkste materiaal ooit gemaak moes wees. Ek sê dit in aanhalingstekens met respek, want daardie Kleed raak ons vandag nog aan om ons te genees van ons sonde, want in werklikheid is die genesing nie net medies van aard nie. Dis geestelik, om ons van sonde te genees en ons daarvan vry te stel.

Soos wat sy aan sy kleed geraak het, het Hy gevoel hoe die krag uit Hom gaan. So het Hy immers gesê en Hy wou weet wie het aan Hom geraak. Natuurlik het Hy geweet wie het aan Hom geraak, maar Hy wou hê die mense om Hom moet besef dat Hy God is. Sy dissipels het gesê maar Here, hier is soveel mense, hoe weet ons wie raak aan U? En daardeur het sy na vore gekom en dit erken, want haar sondes was alreeds toe vergewe en sy wou nie oneerlik wegsluip nie. Nee, sy het vir God kom dankie sê.

Ek lees vers 4 van Jakobus 1. “Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou. Kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.” Ons moet reg optree. Ons moenie wegkruip agter iets nie. Ons moenie wegsluip omdat ons bang is ons het ‘n verkeerde ding gedoen nie. As jy altyd die regte pad loop, altyd in Christus se voetspore loop, en daar nie ‘n skelm gedagte deur jou kop flits of ‘n haatgedagte of ‘n bedroggedagte of enige iets wat iemand kan skade aandoen nie, dan loop jy mos die regte pad. Dan leef jy Jesus se liefde uit, want Hy het ons eerste liefgehad. Ons kan dit, as sondige mense nie uit eie krag regkry nie, maar mag ook nie doelbewus volhard in enige sonde of verkeerde gedagtes nie.

Vriende, ek wil die volgende paar weke elke keer ‘n paar verse uit Jakobus lees, want dit is ‘n boek wat vir my al baie beteken het. Ek kan nie vooruit beplan wat ek gaan sê nie, want dis elke keer asof ek eers op die Here se leiding wag. Ek hoop dit sal vir julle ook soveel van waarde wees soos vir my. Geniet die dag.

Mag julle geseënd wees in elke woord en ook die hunkering voel om julle Bybels op te tel en die eerste verse saam met my te lees.

Groete in Christus se liefde en Evangelie
adéle theron
« Last Edit: January 07, 2021, 10:24:13 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #5 on: January 07, 2021, 10:23:43 AM »
Oggendboodskap 7 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Ek het eergister iets nagelaat en wil dit eerstens byvoeg. As jy altyd die regte pad loop, altyd in Christus se voetspore loop, en daar nie ‘n skelm gedagte deur jou kop flits of ‘n haatgedagte of ‘n bedroggedagte of enige iets wat iemand kan skade aandoen nie, dan loop jy mos die regte pad. Dan leef jy Jesus se liefde uit, want Hy het ons eerste liefgehad. Iemand het my daarop gewys dat ons dit, as sondige mense nie uit eie krag kan regkry nie, slegs met die hulp van die Heilige Gees, maar ons mag ook nie doelbewus volhard in enige sonde of verkeerde gedagtes nie.

Ons moet na die lewe kyk, soos God. Nie soos sondige mense nie.

Jak 1:2-5 ... uit die 53-vertaling

Die beproewinge en versoekinge.

2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,
3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. (dit toets of julle geduldig is en na aan die Here leef, Hom werklik vertrou)
4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. (Laat die Here toe om julle te leer wat dit beteken om op Hom te vertrou)
5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie —
8 so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. (Ons moet by daardie punt kom dat ons nie vir die Here se hulp vra, maar dan omswaai en sê dit sal tog nie gebeur dat Hy sal help nie, dan jou eie ding gaan doen, jou eie heil gaan soek nie)

Uit Die Boodskap gaan haal ek die gedagte van vers 5 weer. As julle egter in ‘n situasie kom waar julle oor iets twyfel, onseker is of wat julle wil doen die regte ding is, of julle gedagte daaroor reg is, gaan vra vir God. So eenvoudig is dit. Eenvoudig? Dalk nie.

Is daar iemand wat sukkel daarmee? Ons, ek ook, kan so maklik loop en sê gaan vra vir God. Ons sukkel om te verstaan hoe iemand daardie gedagte nie kan insien nie, nie kan verstaan nie. Maar doen óns altyd die regte ding? Vra ons elke keer vir God of Hy tevrede is met ons beplanning of dit wat ons afgehandel het? Nee, ons ploeter ook soms deur ‘n situasie sonder ‘n gedagte daaraan. En agterna, soms baie later, sal die dwarshou ons tref dat God ons die hele tyd vasgehou en beskerm het, want eintlik het ons heel onnosel opgetree.

Net so is dit vir baie mense nie moontlik nie. Nie almal stap ‘n pad met God nie. Hulle dink dalk so, of gee so voor. maar wanneer hulle omdraai, loop hul die wêreldse pad. Dan moet ons nie wonder hoe hulle nie kan insien dat dit so maklik, so wonderbaar is om God aan te roep en sy leiding in elke omstandigheid te vra nie.

Jakobus, Jesus se broer wat leier van Jerusalem se gemeente was, het hierdie boek/brief geskryf is omdat hy gesien het hoe mense swaarkry en teen allerhande versoekings moes veg. Is dit nie waarmee ons vandag net so sukkel nie? Benewens baie ander, is vandag se sterkste versoekings dalk om te vloek en skel teen hierdie virus, teen die mense wat inperkings toepas, of teen almal wat nié reëls en regulasies gehoorsaam nie .... maar hoe tree jy op?

Vriende, wanneer jy jou humeur verloor, wanneer jy binnenshuis of daarbuite in die straat beweeg, hou vas aan die Christus se hand. Tree te alle tye op om ander te beskerm, al is jou siening oor die omstandighede wat ook al.

Groete in Christus se liefde en Evangelie

adéle theron
(te luister op whatsapp MANNA vir die Siel)
inboks met jou selnr as jy belangstel)
« Last Edit: January 07, 2021, 11:10:45 AM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #6 on: January 29, 2021, 09:33:38 PM »
Gegroet vriende ...

Jakobus 1:9 - 11

9 Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid,
10 en die ryke in sy geringheid, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan.

11 Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.

Ja nee, hier lees ons baie duidelik dat status, rykdom en bekendheid, beroemd of berug, by God niks tel nie. Hy kyk anders as wat ons na mekaar kyk, na ons mensekinders. Vir Hom is die arme wat aan (soos die spreekwoord sê) die “verkeerde kant van die spoor” bly, of die swakker mense, of die wat verdwaal en verlore voel, ja die wat verwerp voel deur die lewe, net so belangrik as enige een wat dink hy/sy is ryk en belangrik.

Wat het Jesus gesê toe hy deur die land gestap het om almal van sy Vader se liefde te vertel? Hy het nie die fariseërs en skrifgeleerdes se siening dat hulle geregverdig is om die ewige lewe te beëerwe, gedeel nie, nee … Hy het die armes besoek en saam met hulle geëet; hulle gesond gemaak en geseën. Maar Hy het ook by die berugte en gehate tollenaars gekuier.

Daarom sê Jakobus Maar laat hulle wat gering is, roem in hul hoogheid; laat jy wat arm is, weet dat God jou lief het, jou optel en dra, jou beskerm en bewaar. Wanneer dit swaar gaan, kom Hy onverwags en tel jou op, gee uitkoms wanneer jy dit die minste verwag en uit ‘n oord waarvandaan jy dit nooit sou kon droom nie.
Maar van hulle wat in hul hoogmoed roem en neersien op enige ander, sê Jakobus, soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan … vroeg in die oggend glimlag daardie veldblommetjies gelukkig en vrolik, maar wanneer die son warm en droog neerbak, vergaan dieselfde blomme, verlep en verdroog hulle soos kaf in die wind.

Dit gaan nie net om geld-rykdom nie, dink ek nou, maar ook oor enige hoogmoed. Ken julle ook mense wat, hoewel baie gemiddeld of arm, om een of ander rede dink hulle is beter as jy? Ek wonder of hoogmoed en neersien, nie gelykstaande is aan die rykdom waarvan die Bybel praat nie.

Dan moet hulle ag neem van wat Prediker gesê het. ‘n Hele paar keer het hy vertel hoe vergeefs alles is wat hulle najaag, ‘n gejaag na wind. Dit lei tot niks. Maar in die laaste verse van sy boek sê hy: hoofstuk 12
13 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Let wel. ALLE mense.
14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.

Daarom, laat God jou vashou. Laat Hy jou hande sterk maak om te doen wat Hy vir jou bedink het. En laat Hy jou lei in die uitdra van Christus se Evangelie; wees ‘n dissipel vir Hom deur die werking van die Heilige Gees in jou.

Ek groet julle, geseëndes, geniet die dag en die week en pas mekaar op.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #7 on: January 29, 2021, 09:35:58 PM »
Oggendboodskap 13 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Jakobus 1 vanaf vers 12

12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

Daar is al soveel oor versoeking gesê en geskryf. Die mees bekende verse seker, gaan oor Christus wat deur satan versoek is nadat Hy 40 dae in die woestyn was. Ons kan dink dat Hy ook, as mens by ons op aarde, soos ons uitgeput en rasend honger sou wees.

Mattheus 4

2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.

En net daar het die duiwel sy kans waargeneem. Maar Jesus het Hom elke keer uit God se Woord tereggewys. En daarna het satan Hom verlaat en weggegaan. Dit is vir ons ‘n baie groot les wat ons nooit moet vergeet nie. Sodra jy toelaat dat versoeking jou oorval, is die duiwel se houvas op jou al halfpad gewen.

Nee, vriende, wanneer daardie eerste woorde al op jou pad kom, in jou gedagtes of deur iemand by jou se woorde, wys dit af uit God se Woord. Hier het ons die Bybelse waarhede en dis al wat ons nodig het om versoekinge teen te staan. Elkeen van ons weet diep in ons harte wat regtig reg en verkeerd is, maar jy kan dit vir ‘n ander uit die Bybel oproep en dan sommer die kans gebruik om aan daardie persoon meer van Christus Jesus te vertel.

Mattheus 4

11 Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.

Wat ‘n wonderlike gedagte is dit nie? Ons het meestal die gedagte dat satan ons heeltyd een voor is, heeltyd om ons draai en ons in versoeking lei; ons na die slegte kant van iets toe verlei. Maar gaan sit vandag bietjie stil, raak rustig en dink aan die kere wat dit vir jou gevoel het asof daar ‘n wonderwerk plaasgevind het. Dink aan die dae wat jy regtig ‘n emosionele kalmte gevoel het. Dan sal jy besef dat God ons só getrou beskerm en bewaar, dat daar maklik tye kom wanneer satan jou uitlos.

Dit is wanneer jy (dalk onbewus) ‘n versoeking weerstaan het. Ek besef baie dae eers later, na die tyd, hoe God my gekeer het om iets verkeerd te doen, te sê, te lees ... Uit eie krag kry ons dit nie reg nie. Maar, soos ek al iewers gelees het, ons Vader is ‘n “gentleman” met respek noem ek dit so. Hy dwing Hom nie aan jou op nie, Hy dring nie in waar Hy onwelkom voel nie.

Prakties kan julle aan baie voorbeelde dink soos om in donker, rokerige plekke te gaan kuier, om saam met ‘n groep vriende aan’t drinke te raak, om ‘n fliek te kyk waar God se Naam ydelik sonder respek, meestal as ‘n vloekwoord, gebruik word. Gaan rus langs die viswaters of op die sportpawiljoene op ‘n Sondag of haat iemand permanent sonder om ooit aan vergifnis te dink. Jy kan nie van so ‘n versoeking wegbreek sonder die Heilige Gees se hulp nie. Maar die genade is heeltyd oor jou, vra net en God sorg dat jy by Hom bly, dan kan jy al daardie uitnodigings wegwys EN satan sal jou uitlos dat jy tyd saam met Jesus kan deurbring. Toets dit maar.

Dan sal engele ook kom en jou oplig. Hulle vlerke sal jou oordek en beskerm. Ek voel gereeld die begeerte om nou al saam met hulle ook vir Jesus te dien. Al verstaan ek nie presies wat dit bedoel nie, maar dit sal kom. Dit oorheers soms my denke totaal. Dit lei tot gebed, tot neerkniel en Hom te loof en prys en dan sommer al my hartseer en behoeftes ook voor Hom neer te lê.

Ek groet julle, geseëndes, geniet die dag en die week en pas mekaar op.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #8 on: January 29, 2021, 09:37:36 PM »
Oggendboodskap 15 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Jakobus 1 vanaf vers 19
19 So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.
20 Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.

Vriende, ek herhaal gedeeltes uit Die Boodskap-vertaling om dit verder te omskryf. Hoeveel van ons luister te min en praat te veel? Ek lees iewers dat ons twee ore het om te luister, maar een mond om te praat, so luister eers 2 x voor jy praat of antwoord, of sommer net ‘in-tjip’ soos ons dit graag noem. Ek is nou nog, maar was vroeër baie meer skuldig hieraan. Veral wanneer iets my persoonlike integriteit bedreig. Dan sou ek baie gou vertel dat ek sus of sò dink of doen of beplan. Veral as ek diep in my binneste weet dat ek eintlik op pad of besig was om dié iets verkeerd te doen. En net hier briek Jakobus my: wees stadig om toornig te word.

Hy sê ook julle moet ander mense kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig klaar, sonder om hulle te wil doodpraat of hulle in die rede te val. Sodoende kan jy rustig antwoord en jou kant van die saak stel, of jou mening gee of jou gedagtes deel. Onthou, net so min as wat jy tereggewys wil word, so min hou ander mense daarvan.

Maar juis daarom, as jy jou daarop instel om die Wil van God te doen, kan jy die voorbeeld aan ander stel. Moenie kwaad word nie, moenie jou vererg nie. Wat gaan dit jou help? Wat het dit jou in die verlede gehelp? Het jy al ooit iets gewen deur jou humeur langs die pad te verloor (en later daarna te gaan soek)?

Daarom, volgens vers 20 “Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.” Dit is reguit woorde hierdie. God hou nie daarvan nie. Punt. Wanneer jy vandag met ‘n ander gesels, maak ‘n punt daarvan om te luister en kalm te antwoord. En soos ek elke keer sê, gebruik die kans wat God jou dan gee, om ter ere van Hom, iets van Christus te deel.

‘n Belangrike punt om aan te dink is hoe en wat jy sê. Klim jy graag in iemand se karakter in, of sal jy net die verkeerde dinge wat hulle doen of sê of uitleef, veroordeel? Ek is niks beter as enige ander nie, ewe vol sonde en swak teen versoekings. Sonder God kan ons dit nie oorwin nie. Daarom kan en mag ons nie ‘n ander se karakter en persoonlikheid aanval nie. Sommige se eie-ek, ja hul ego, plaas hul op hul eie platform en daarvandaan lewer hulle kritiek oor ieder en elk. Niemand is goed genoeg om dieselfde suurstof as hulle in te asem nie. Nee, elke haan kraai net op sy eie mishoop en geen ander gaan hom aanbid nie.

Vriende, jy mag voor niemand op aarde, geen mens, kniel en hom aanbid nie. Moet nie iemand wat dwaas praat, of homself hoog belangrik ag, slaafs napraat nie.

Volg eerder Paulus se raad, sy opdrag aan die Galasiërs en pas dit op jouself toe, werk dit in jou eie lewe in. Galasiërs 5: 22-23
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Kies om nederig te wees en hou dit so, selfs al weet jy, jy is reg.

Om met iemand wat onlogies dink, te argumenteer, bring jou nêrens nie. Jy verloor naderhand jou humeur en niemand het tyd om daarna te gaan soek nie.

Hiermee groet ek julle, geseëndes, geniet die naweek en bring julle kant om veilig te wees. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #9 on: January 29, 2021, 09:39:11 PM »
Oggendboodskap 19 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Niemand kan belangriker wees as ons Here Jesus Christus nie

Jakobus 2

1 My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming (wat bedoel beoordeling vlg ’83 vertaling) van die persoon nie.

2 Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan;

3 en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit —

4 het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge/oorwegings geword nie?

Vriende, ek herhaal gedeeltes uit Die Boodskap-vertaling om dit verder te omskryf.
.
Hoeveel van julle onthou Jesus se teregwysing aan die gaste in Lukas 14 vanaf vers 7? Gaan lees dit gerus weer. Jesus is genooi om by ‘n vooraanstaande fariseër te gaan eet. En wat het Christus toe gemaak? Hy het die mense so stilweg dopgehou en gesien hoe die klomp daar aankom, deftig uitgevat. En toe die gasheer aankondig dat die ete gereed is, het hulle mekaar verdring vir die beste sitplekke. En toe almal sit en wag vir om bedien te word, het Hy vir hulle gesê om liewer nie die voorste plekke in te neem nie, want wat gemaak as die gasheer jou moet kom sê dat jy op ‘n eregas, meer geëerd as jy, se plek te lande gekom het.

Lukas 14:10
Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.

11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” En hierdie, vriende, geld op alle vlakke van die samelewing. Nie net by ‘n feesmaal nie. Is jou sitplek in die kerk daar heel voor? Daar waar julle gesin amper laaste inkom, regop en deftig sodat julle deur almal gesien moet word. Ook deur die armes en dié wat deur jou gehelp word, want almal weet dat jy die grootste bydraes gee, hoeveel keer jy iemand help, maar min weet dalk wat jy terugeis.

Dan gee Christus nog ‘n opdrag aan die man wat daardie feesmaal gereël het. Hy moet volgende keer die armes en kreupeles nooi. Hoekom? Nie omdat hy moet wys hoe goed hy is om die nederigste van die swakkes kos te gee nie.

Nee, vers 12 sê dit duidelik:
wanneer jy weer 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.

Hierdie is die kernpunt van die vers …sodat hulle jou moet vergoed nie. Moenie iets “goed” doen, om vergoed te word nie. Doen dit uit liefde vir jou naaste.

13Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”
(Ek wonder so stilweg of die fariseër daardie swartskaap in sy familie ook sou nooi, julle weet mos, daardie gesinnetjie wat aan die “anderkant van die spoorlyn” bly)

En dan die kernpunt hier … want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het. Ja, doen goed aan ander en wees gelukkig wanneer dit iemand is wat jou glad nie kan vergoed daarvoor nie.

Hiermee groet ek julle, geseëndes, geniet die dag en hou aan om ons God te eer vir jou vreugde. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #10 on: January 29, 2021, 09:40:52 PM »
Oggendboodskap 21 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Jakobus 2

8 As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed.
9 Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.
10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

En dan kom vers 11 wat dit verder verduidelik …
11 Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword.

Vriende, ek het grootgeword met die les in my ouerhuis: of jy 5 sent steel of R1000, dit bly steel. Vandag is daardie 5 sent en R1000 seker vir baie min werd, maar die begrip bly dieselfde. En hier kom Jakobus en vertel ons dat dit nie net die grootte, of hoeveelheid, of intensiteit van sonde is wat by God tel nie, maar dat elke wet net so belangrik as die volgende is.

Of jy dus enigiets bo God stel, of sy Naam misbruik, of jy die Sabbat ontheilig of nie jou ouers eer nie, enigiets hiervan maak jou net so skuldig as sou jy moord of egbreek pleeg, steel of lieg of iets wat nie joune is nie, begeer.

Hoeveel van julle oordink die Wet van God elke dag? Of luister jy net af en toe op ‘n Sondag met ‘n halwe oor daana? Weens werksverpligtinge en my lewens- en verblyfomstandighede het ek die afgelope paar jaar baie min ‘n kerkdiens in ‘n kerkgebou bygewoon. My huis het later ook my kerk geword, so het dit vir my gevoel. En noudat ek weer tussen mense en naby ‘n kerkgebou of twee woon, nou verhoed die landsregulasies my om op te maak vir die verlore jare.

Dink julle ook die duiwel is listig, vriende. Hy lag lekker maar ek dink aan die tekenprentjie wat ek verlede jaar ontvang het. Met respek vertel ek dit hier … Die duiwel sê aan God dat hy dit tog reggekry het om kerke toe te maak, maar God antwoord hom dat Hy nou ‘n kerk in elke huis het.

En dit bring my terug by die Wet van God. Ons sê gou die kerk bring jou nie in die hemel nie, maar dan vergeet ons dat ons die Kerk is, Christus se Kerk. En net deur Hom gaan ons hemel toe, want Hy het gegaan om vir ons daar plek voor te berei.

Maar dit gee ons nie die reg om in hierdie lewe aan alle sondige versoekinge toe te gee en vir elke aardse verleiding te val nie, met die gedagte dat ons maar kan leef en laat leef want môre sterf ons nie. Dat ons kan doen en sê wat ons wil, wanneer ons wil, soos ons wil en aan wie ons wil nie. Baie belangrik hiermee saam, ook nie kan dink wat ons wil nie. God ken jou gedagtes beter as jyself. Om enige iets te bedink, is so goed soos egbreek, of begeer, of moord, of iets bo God te stel en dit dus as afgod te aanbid …

Vriende, ek is skuldig, honderd-, nee duisendvoudig meer skuldig aan baie meer dinge as wat ek aan kan dink. Al bedink jy net hoe om iemand om die bos te lei. Al vloek jy iemand in jou gedagtes. Al begeer jy in stilte dit wat jy by iemand anders gesien het. Ja, as jy op ‘n Sondagoggend met ‘n swaar hart regmaak om ‘n kerkdiens te gaan bywoon, en daar sit en ander se voorkoms kritiseer en die prediker se woorde verdraai, en wens hy wil nou klaarkry … Dan kon jy liewer tuisgebly het.

So worstel ons deur hierdie grendeltydperk en verwens die regering se onnadenkende besluite. Skel hulle uit vir alles wat jy as minderwaardig ag. Ek sukkel om hulle besluite te verstaan en wil tog net so graag saam met almal skel en hulle verwens. En dan voel ek skuldig, want ek staan elke oggend op met ‘n gebed op my lippe dat God Drie-enig my moet lei en bewaar van elke onheil. Ek wil nie volhard in sonde nie, maar dit elke dag aflê, dit by die Kruis gaan neersit waar dit lankal van my weggeneem is.

Vriende, ons kan kopskud oor iemand se dom dade, hul besluite en onnosel aksies, maar moenie die persoon veroordeel nie. Moenie sy menswees afkraak nie, want elke sonde, klein of groot, elke wet wat jy verbreek, maak jou net so skuldig aan liefdeloosheid as wat enige ander dalk aan jou doen.

Ek groet julle tot volgende week, mag jul geseënd wees en voel, geniet die dag en bring julle kant om veilig te wees. Totsiens.
adéle theron

Image uit die internetruimte
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #11 on: January 29, 2021, 09:42:09 PM »
Oggendboodskap 25 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Ek soek na iets mooi en positief. Iets minder lelik, nuus wat die week goed laat begin. Die naweek, verlede week, verlede jaar al, het ons besluit om positief asem te haal en elke dag die blou lug agter die donker wolke raak te sien. Om veldblommetjies te sien straal. Om ‘n reënboog in elke druppel dou raak te sien.

Maar dis moeilik. Dis swaar en party dae ámper, dalk heeltemal onmoontlik. Ek lees die nuusberigte agter die skerms. Daardie wat nie voorop in elke nuustyd gestel word nie. Ek wil nie dink aan enige voorbeeld nie. Ek wil nie onthou van seer- en treurige- en arrogante- oorlogsgebeure nie. Of van bedrog en leuens en rooftogte nie. Ek wil nie dink aan die hartseer van vriende en familie wat iemand in hierdie aardse lewe moes Groet nie.

Maar dit kry ek nie reg nie. Die oorlogsherinneringe, fisies en geestelik, afgode in ons lewenswyses, haat en bedrog wel. Maar dié laaste gedagte van verlies bly my by. Hartseer van ons naby-mense. Hierdie tyd tref ons dalk harder as enige ander tyd in vorige jare. Omdat ons nie weet of ons in die laaste ure by iemand geliefd sal kan wees nie. Die wêreld se reëls en regulasies wil “omgee” en liefde uitvee. Klink dit bekend? Want die aarde is elke dag een dag nader aan Christus se wederkoms aarde toe. En die duiwel wil almal keer om met Christus Jesus saam te gaan na die Plek wat Hy gaan berei het.

Vriende, niemand weet beter as satan dat hy geen kans staan om ons, wat ons lewe in God se hande geplaas het, verlore te laat gaan nie. Ons wat deur Hom uitverkies is, ons wat weet dat goeie werke jou nie die Ewige Lewe gee nie, maar wat in geloof en in God se liefde, nie anders kan as om goed te doen nie. Maar dis nie in satan se aard om op te gee nie. Nee, as vader van die leuen, moet en sal hy aanhou tot sy laaste dag voor hy die buitenste duisternis ingewerp gaan word.

Maar ons sal nie saam met hom daar wees nie. Nee, ons sal in die Ewige Jerusalem saam met Christus wees. Die hartseer en verlange wat ons vandag op hierdie aardse bodem ervaar, sal vir ewig getroos word. God se besluite is voor die skepping en grondlegging van hierdie sonnestelsel vasgestel. En omdat Hy ons lief het, kan ons nie anders as om in Jesus se verlossing te glo nie. Kan ons nie anders as om hartstogtelik uit te sien na daardie dag wat ons by God sal wees nie.

Ek soek na goeie nuus in die ruimte om ons, maar lees my vas teen kwade dinge. Hoe mense mekaar bedrieg, maar erger, voorgee dat hulle God en sy Woord eerste in hul lewe stel, maar teleurstellend misluk. En ek besef net weer, moenie dink jy kan God bedrieg as jy dit met mense regkry nie. Wanneer gaan hulle besef hoe fataal dit is, want Hy weet wat in elkeen se hart en gedagte bedink word.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, neem nou ons hande, vou ons toe in u Genade. Ons smeek U om ons die moed en hart te gee om ons naaste en U lief te hê met ons hele hart en siel en verstand. Ons faal soveel keer in ons verdwaaldheid, om die goeie wat ons wil doen, vol te hou. In U teenwoordigheid kan ons egter die volharding van sonde probeer aflê. Nie dink ons is nou maar sús of só geskape en niks kan ons verander nie. Lei ons na waar ons iemand van U Liefde kan vertel. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, ek groet julle, mag jul geseënd wees en voel, geniet die dag en bring julle kant om julleself en ander veilig te hou. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #12 on: January 29, 2021, 09:43:17 PM »
Oggendboodskap 27 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

Eers was daar in ons kinderdae, my en my tydgenote s’n, die kinder-ensiklopedië. Later ensiklopedië vir mense wat iets wou weet, wou uitvind, moes leer en ‘n taak vir skoolklas moes opstel.

Vandag Googleloer ons na alles wat ons nooit gehad het of van geweet het nie. En die afgelope paar dae toer ek van Abraham se tyd af deur die Ou Testament se lewenswyses, deur die Nuwe Testamentiese tyd, deur die Middeleeue en Industriële Revolusie tot by vandag. Ek soek na die binnekant van hulle huise. Abraham en Jakob se tente, Jerigo en Jordanië, Jerusalem in Jesus se tyd, deur die na-Bybelse eeue, Middeleeue, Victoriaanse Tye ens ens …

Maar alles is dieselfde. Huise met slaapkamers en kombuise, eetgerei en klere. Van tyd tot tyd het plekke net beter, gemakliker, moderner en stylvoller geword. Maar wat is modern en wat is dan nou meer stylvol as een of tien of sestien eeue gelede?

Ons weet bittermin van die mooi paleise van drie milleniums gelede, of van die adelikes se kastele van 1500 jaar gelede. Of van bywonershuise en bedelaars se slaapplekkies. Hoe het hulle kombuise gelyk? Argeoloë stel scenarios voor met dit wat hulle opgrawe, fondasies wat hulle blootlê, geskrifte en eetgerei, kleipotte en ysterware wat hulle vind.

Maar wat weet ons werklik van die leefwyses van daardie tyd? Ek het ‘n paar dae gelede weer iets gelees van Abraham se staptog na die berg, Moria. Daar waar hy Isak moes gaan offer. En weer het ek gewonder hoekom hy dan so ewe gegaan het? Vriende, wat sal julle doen as dit vandag deur God van jou verwag word, om een van jou kinders prys te gee vir jou geloof?

In ons kultuur en lewe is dit ondenkbaar. Ek het begin soek na die rede hoekom Abraham nie ten volle geweier het nie. Hy het net gewonder hoekom Isak, die beloofde kind, die eersteling van sy nageslag wat ontelbaar in getal wou wees. Sou hy beter gevoel het as dit ‘n ander kins sou wees? Ek lees van kinders wat aan afgode geoffer word, en besef dat dit onder heidennasies dalk iets bekend was. Daarom het God dít gebruik om Abraham te toets.

Maar nêrens lees ek dat God verander het nie. Nêrens sien ek dat Jesus in die Nuwe Testamentiese tyd, een van die tien Gebooie verander het nie; iets omgeswaai het en toestemming gegee het dat daarvanaf as toelaatbaar gesien sal word nie.

Ek lees van Ragab wat deel van God se uitverkore volk geword het en haar ou lewe agtergelaat het, maar sien nêrens nie dat Paulus eeue later, prostitusie goedkeur nie. Ek lees hoe snobisties Naäman was, maar lees nie dat Jesus skielik snobisme goedkeur nie, inteendeel, Hy het die fariseërs behoorlik uitgetrap daaroor. Ek lees hoe Jesus by tollenaars en ander skelms gaan kuier het, maar Hy het hulle gered slegs nadat hulle in Hom geglo het, en ander nie meer sou bedrieg en besteel nie.

Ja vriende, wat in die ouer tye vir God ‘n gruwel was, is dit nog steeds. Sekere verhoudings en lewenswyses wat mense geniet, omdat hulle reken dis hul reg as mens om te besluit wat hulle met hulle lewe en liggaam mag doen, is en sal altyd sonde bly. Maar ons as gelowiges kan alle sonde aflê en die hardheid van ons harte aan God oorgee. Ons is niks, maar God is alles. Net Hy moet geloof word vir alles wat ons het en kry en regkry.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, neem asseblief ons lewe in U hande, lei ons uit die sonde, uit dinge wat ons weet verkeerd is, maar onsself so verlustig daarin en met allerhande verskonings glo ons mag daarmee aanhou. Om Christus ontwil. Amen amen Here.
Vriende, wees geseënd en bly veilig, geniet die dag met vrede en bring vreugde van Jesus in iemand se lewe. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #13 on: January 29, 2021, 09:44:37 PM »
Oggendboodskap 29 Januarie 2021

Gegroet vriende ...

In hoofstuk 3 deel Jakobus die volgende met sy lesers:

Die wysheid wat van bo is.

13 Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.
14 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.
18 En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Die Boodskap-vertaling stel dit só:
Wat kies jy: die mens se lewenstyl of God s’n?

Ons is wel op hierdie aarde, deel van en tussen mense en mense en mense. Mense met verskillende persoonlikhede en verskillende sienings wat elkeen hulle eie gedagte oor ‘n saak het. Hoe stap julle saam met vriende, kollegas of iemand wat toevallig op jul pad kom?

In Markus 9 word Jesus op die berg verheerlik, toe God uit die wolk gesê het: "Dit is my Geliefde Seun, luister na Hom." Daar het die drie dissipels saam met Hom, dit gesien. Gesien hoe belangrik Jesus is.

Maar ons ken die geboorte-vertelling van Christus, die stal en die krip. Ons weet dat herders Hom eerste gaan besoek het. Alles dinge wat van sy nederige mensekoms vertel.

Kom ons gaan kuier daar in die bokamer waar die man met die kruik reeds die tafel en als neergesit het, sodat die dissipels Petrus en Johannes, net die kos vir die pasga of paasete moes voorberei. En Johannes vertel ons in hoofstuk 13 dat Jesus daar iets meer gedoen het as net om vir Judas te laat verstaan dat Hy weet hy gaan hom verraai., al het Hy ook sy voete gewas. Die dissipels  het hulle ervaar hoe Hy hulle voete gewas het. Nederigheid in mense was en is vir God baie belangrik. Dit word ook in Galasiërs 5 genoem as deel van die Vrug van die Gees: “Maar die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

En deur al die evangelies het Jesus gewys dat Hy verwag ons mense moet vir mekaar omgee, ons moet elkeen nederig bly, ons moet teenoor mekaar optree soos wat Hy gedoen het teenoor elkeen met wie Hy, oral waar Hy rondgegaan het, gedoen het. Hy het mense jammer gekry, saam met Lasarus se familie gehuil, kindertjies en ou mense en ander gesond gemaak, melaatses ook, bedrieërs/tollenaars vergewe … noem maar op en weet Jesus Christus het met deernis, nederigheid en liefde baie na Hom toe getrek.

Slegs hulle wat hoogmoedig en snobisties, magsbehep en geldgierig was, het Hy hard aangespreek. Hulle wat in hul sonde volhard het. Dink aan die ryk jongman wat so graag ‘n volgeling van Hom wou wees, maar vasgebind was deur sy baie besittings, sy rykdom. Ook aan die ryk handelaar wat geen omgee vir Lasarus die bedelaar gehad het nie. Waar het hy beland? In die hel waaruit hy in ewigheid nie kan ontsnap nie.

Vriende, Paulus het ook in Galasiërs se brief die teenoorgestelde van die vrug van die Gees beskryf nl: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Daarom, as julle iemand ken wat hierin Volhard, praat met hom of haar, bid ook vir hulle en onthou, onsself is nog geneig tot al hierdie dinge, dit kos alles in ons saam met die Heilige Gees, om self hiervan af te sien. Maar saam met God is dit eintlik so maklik, heerlik om vry te wees in jou geloof. Weet dit en glo dit ook!

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, neem asseblief ons lewe in U hande, lei ons uit die sonde, uit dinge wat ons weet verkeerd is, maar onsself so verlustig daarin en met allerhande verskonings glo ons mag daarmee aanhou. Om Christus ontwil. Amen amen Here.
Vriende, wees geseënd en bly veilig, geniet die dag met vrede en bring vreugde van Jesus in iemand se lewe. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Oggendboodskappe
« Reply #14 on: February 03, 2021, 10:18:49 PM »
Oggendboodskap 2 Februarie 2021

Gegroet vriende ...

JAKOBUS 4

Verset teen oorheersing deur die hartstogte.

1 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?

2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.

3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

4  Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.

5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?

6 Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

Die Boodskap-vertaling stel dit só:
Leef vir die Here

Nou wonder ek, soos meeste van julle ook sovele kere al, wat is verkeerd met die mensdom. Ons stry en baklei van kleuterdae af tot in die wintertye van ons lewens. Ons hoor dit by ons ouers, kinders beleef dit in skooltyd, elkeen van ons het seker al in ons lewe van onderonsies tot vuisslaan beleef, en dan word ons oorlaai in flieks, en deesdae op sg sosiale media ook. Wie van julle kry dit reg om dit te vermy, dadelik weg te draai wanneer dit op jou pad kom?

Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Hoeveel keer waarsku Christus ons in sy Woord teen té belangrik voel, jouself verhewe ag bo ander? Jy dink miskien jy het nooit werklik vuisgeslaan nie, so wat raak hierdie boodskap jou?

Maar in woorde? In jou gedagtes? In iemand slegsê om jou wil op hom/haar af te dwing of dalk agteraf te beskinder?

Kry jy nie jou sin nie, is die duiwel los. Jaloesie neem beheer oor van jou hele persoonlikheid. Deur baie eeue het koninkryke gekom en gegaan, deur oorloë geveg om grondbesit en mag. Vandag nog, al besef meeste van ons dit nie, is daar stamgevegte en oorloë in ander lande teen mekaar, omdat hulle sekere provinsies vir hulself toeëien.

Vriende, as jul iets wil hê, vra opreg vir God, maar nie met verkeerde motiewe weens haat en magsbeheptheid of sondige begeertes nie. Vra eers, Here, is dit dalk in U beplanning vir my lewe? Maar moet nie net jou rug na God draai en in selfsug net gryp na iets wat jou goed laat voel nie. Hoeveel van ons volhard in sonde omdat iets lekker is, of omdat dit jou belangrik laat voel?

Ek lees hoe mense die Bybel verdraai om by hulle sieninge aan te pas, met “bewyse” van hoe die lewe vandag daar uitsien en die Bybelse redes, ja, God se reëls, outyds is. Ek huil vir hartsmense na aan my, wat volhou met ‘n lewe waaraan God ‘n afsku het.

Ek lees weer vers 4: Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.

Luister liewer na wat in God se Woord staan. Hoeveel word daar dinge genoem wat deur Hom verag word, wat ‘n gruwel in sy oë is. Nee, onthou, God mag wees, en is ‘n jaloerse God. Hy wil ons opreg vir Homself hê. God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê. Hy het ons dan geskape en ons is sy kinders.

Kom ons sluit ons oë. VaderHeer, neem asseblief ons lewe in U hande, lei ons uit die sonde, uit dinge wat ons weet verkeerd is, maar onsself so verlustig daarin om met allerhande verskonings te glo ons mag daarmee aanhou. Om Christus ontwil. Amen amen Here.

Vriende, wees geseënd en bly veilig, Hou vas aan God se gebooie en aan die Soom van Jesus se Kleed, nl sy Liefde vir ons. Totsiens.
adéle theron
adéle  :grommit: