Author Topic: Sara  (Read 213 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1804
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Sara
« on: June 17, 2020, 08:59:14 PM »
Sara

Nog steeds in ‘n dwaal, sluit Sara de Wet haar blyplekkie se voordeur oop en stap deur na die sitkamer. In die sonkol wat deur die wye venster na binne val, gaan sy staan en laat die hitte oor haar spoel. Dis meer as die ysige winterkoue wat in haar kom lê het.

Sy het sowat ‘n jaar gelede hier ingetrek en koester ‘n hartsliefde vir hierdie twee-slaapkamerhuisie wat so uit ‘n Engelse “cottage”-era dateer. Ten spyte van die oopplan-leef-kombuis-area, is dit knus en gesellig, en toe haar hele wêreld uitmekaar geval het, was dit eenkant en ver genoeg om in te kon wegkruip. Sy het genoeg gehad en ‘n egskeiding verkry, voordat haar moed haar weer sou begewe. Thys moes haar genoeg betaal om redelik gemaklik te lewe, daarom kon sy tuis met haar eksklusiewe naaldwerkprojekte aangaan.

Met die liefde van ‘n jong meisie het sy ‘n lewe saam met Thys begin, en toe hy haar verneuk het, het sy bly glo hy gaan weer na haar toe terugkom. So opreg was sy smeking om vergifnis, sy kon dit nie ignoreer nie. Maar die volgende keer het die krakie groter geword, en die volgende keer het sy uitgetrek. Later het sy weer teruggetrek, maar toe sy hier ingetrek het, het sy seker gemaak dat Thys nie weet waarheen sy is nie.

En nou? Sara vat haar Bybel, gaan sit in haar geliefkoosde rottangstoel met die geweefde kussing agter haar rug en vou die bypassende kniekombersie oor haar bene. Nou wil Thys hê sy moet teruggaan en weer in sy groot, ruim huis gaan bly. Weer met hom trou!

“Ek weet nie, Thys,” het sy ‘n uur tevore vir hom gesê.

“Wat weet jy nie?” het hy gevra.

“Ek weet nie of ek kans sien nie …” sy kon die frons tussen sy oë aanvoel, nog voor sy dit gesien het, “… of wil nie.”

“Enige rede hoekom nie?”

“Ja,” het sy na ‘n paar sekondes gesê. “Ja, die enigste rede is jy. Ken jy jou arrogante-self nou nog nie, Thys? Daardie eerste keer het jy geloop en weer teruggekom, maar die volgende kere moes ek uittrek. En twee keer het jy my terug-belowe in jou lewe in, maar nou?”

Thys het sy kop in sy bewende hande laat sak. Sy kon die moeë worsteling in hom aanvoel en het gewonder of hy dan wraggies gedink het sy gaan juigend toegee.

Sy jarelange doktersvriend, Armand Steyn, het hom gewaarsku dat ‘n volgende aanval noodlottig gaan wees. Thys het hul seun, Theuns, gesmeek om hulle te sê waar sy is, maar hy het net gesê dat hy haar sal vertel. En Sondagmiddag toe hy en Grietjie by Sara aankom, was daar iets in sy oë wat haar laat asem ophou het. Sy het eers koffie gemaak en oor dit en dat gesels, maar Theuns was te stil.

“Komaan Theuns, uit daarmee,” het sy oplaas gesê.

Hy het na Grietjie gekyk, maar sy het by die venster uitgestaar.

“Mams, Pa het ‘n hartaanval gehad en is in ICU. En voor Ma vra,” het hy effe bitter gesê, “daai flerrie is lankal terug Kanada toe. Pa vra al die laaste twee maande na Mams.”

Theuns het nie gevra nie, maar net die feit gestel dat sy pa se hart so verswak het, dat hy vir lank nog goeie sorg gaan nodig hê. Sy was verbysterd. Haar jeugvriend en haar man, sterk en fiks, op nege-en-veertigjarige ouderdom deur hul hemelse Vader tot stilstand geruk?

Dis eers Vrydag toe sy Thys gaan besoek. En nou moet sy besluit wat sy gaan doen. Sy blaai deur die Bybel se hoofstukke, al weet sy nie regtig waarna sy soek nie, dink sy, maar dit moet iets wees wat haar leiding en vrede gee.

In Matthéüs 19 lees sy eers die verse wat haar die afgelope paar maande aan die gang gehou het en uiteindelik ook rustigheid in haar hart gebring het. Vers 9 se woorde van Christus het haar meer as ‘n jaar gelede deurgedra, want met haar konserwatiewe opvoeding en agtergrond, wou sy vroeër nooit ‘n egskeiding oorweeg nie. Sy lees weer : “Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”

Sy kon haarself troos dat sý geen egbreuk gepleeg het nie. Al het Thys haar verseker hy sou nooit met Carlin trou nie, het sy genoeg seergekry. Sy was net op ‘n dag woedend, omdat hy haar hele jongmeisielewe verwoes het; haar ontneem het van die kans om saam met iemand anders ‘n gelukkige getroude lewe te kon geniet. Ook het sy Theuns belet om oor sy pa te praat, al het sy hom nie verkwalik dat hy kontak met sy pa het nie.

Maar nou besef Sara sy is nog uiters verbitterd. Asof sy gif gedrink het en verwag die ander moet daarvan doodgaan, het sy iewers gelees. Hier het sy vir haar ‘n veilige, maar valse beeld van vrede, opgebou.

Sy blaai weer na die Evangelies en in Lukas se 17de hoofstuk lees sy dat ‘’as jou broer teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.’’ En net die volgende vers beveel haar om iemand elke dag tot sewe keer te vergewe. Maar hoeveel keer, dink sy weer, moes sy Thys nie vergewe nie?

Dan blaai haar vingers, asof vanself, terug na Matthéüs toe. Petrus het aan Jesus gevra hoeveel keer moet iemand dan vergewe word; tot sewe maal toe? Maar Jesus het geantwoord: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.’’

Sara sit haar Bybel neer en gaan kombuis toe. Sy is glad nie gereed hiervoor nie. Terwyl sy die ketel laat kook en vir haar tee inskink, worstel sy met haar Skepper. Sy kan nie tot ‘n besluit kom nie. Die volgende dag bly sy besig met dringende naaldwerk en Sondagoggend staan sy moeg op. Sy het elke nag rondgerol en min geslaap.

Dis baie koud sy steek die verwarmer aan. Later, toe die vertrek warmer is, kies sy ‘n gunsteling prediker se diens op haar rekenaar en luister daarna. Die son skyn ook lekker by die venster in, en sy luister na ‘n tweede boodskap. Dis omtrent 11 uur toe sy hospitaal toe ry.

Thys lyk moeg. Die suster noem dat hy rusteloos bly en dat dokter Armand hom ‘n kalmeermiddel gegee het. Hy wil haar hand vashou en sy plaas dit in syne, maar gesels nie veel nie. Daar is te veel pype en masjiene by almal in ICU en sy voel gespanne, daarom wil sy gou loop. Maar Thys se oë hou hare vas. Dan, sonder dat sy regtig daaraan dink, sluit sy haar oë en begin bid.

“Here, ons Vader, hier is ons en almal om ons is baie siek. Ek kan nie vra dat almal gesond word, vir hul geliefdes gespaar word, sonder om u Wil ook in te bring nie. Daarom, Here, laat u Wil geskied, hier en by elke bed. Gee die verpleegstaf ook die nodige krag vir hulle werk, gee hulle hulp vir hulle deernis en versorging, asseblief.
En hier, Here, hier waar my hart verlore is in die afstand tussen ons, vra ek vir u leiding, vra ek of U vir ons rigting sal gee. Vader, U ken my seer en bitterheid, en ek vra dat U my hier by Thys sal help om dit alles af te skud. Gee my die kans om hom te vergewe soos Christus ons vergewe en al ons skuld gevat het, daardeur is ons gered, Amen Here.”

Sara haal diep asem, maar draai haar kop weg voor sy haar oë oopmaak. Sy voel uitgeput asof sy sukkel om asem te kry. Dan voel sy ‘n warmte deur haar lyf trek, van haar koue voete en hande af, en kom rus ‘n onbeskryflike vrede in haar binneste. Sy besef dat God na haar luister, haar in sy hande toevou en sy kyk na Thys. ‘n Traan loop oor sy wang en hy glimlag, soos sy hom baie jare laas gesien het.

Thys weet nie wat aangaan nie, maar voel ‘n andersheid in die lug aan. Hy druk haar hand effens.

“Sara,” vra hy met ‘n helder stem, “kan jy my vergewe vir my onnosele stommiteit en arrogansie?”

Sara knik net stom.

“Ek weet nie hoe ek ooit sal kan opmaak vir al die verlore jare nie, maar ek smeek jou, gee my nog een kans, asseblief.”

“Thys, natuurlik vergewe ek jou. Voel jy ook dat ons hier in genade toegevou is? Maar ek moet ook vir jou vra om my te vergewe, dat ek nie vir jou kon wees wat jy gedink het ek sou wees nie …”

Thys skud sy kop voor sy verder kan praat en hou sy arms na haar uit. Sy staan op, buk in sy arms in en gee hom ‘n sagte drukkie terug. Na ‘n rukkie val hy in ‘n rustige slaap en groet sy die verpleegsters met ‘n ligte hart. Op pad huis toe sing sy heeltyd ‘n loflied.

Tuis skakel sy die ketel aan, maar bel eers vir Theuns en Grietjie en vertel wat gebeur het, voor sy vir haar koffie inskink. Hulle spreek af om vroegaand saam by die hospitaal te gaan inloer. Sara verwyl die middag deur te lees, terwyl sy ook na musiek luister. Die kalmte wat haar ná haar gebed oorval het, lê nog diep in haar hart. Toe dit tyd word om te ry, trek sy warmer aan. Die son het dit matiger laat voel, maar sy weet dis baie kouer buitekant. Toe sy die kam deur haar hare trek, klop iemand aan haar voordeur.

Sy maak oop toe sy Grietjie deur die venster raaksien.

“My kind, en nou? Dit was nie nodig om my te kom haal nie.” Theuns kom ook aangestap.

“Mams, ek … ek weet nie wat om te sê nie … maar Mams …”

“Wat bedoel jy, wat gaan aan?” Sara voel ‘n koue beklemming om haar hart vou.

“Mams, die hospitaal het net nou gebel. Dit gaan nie goed nie. Pa het nog ‘n hartaanval gehad. Kom, ons het Ma kom haal.”

Theuns ry versigtig, maar so vinnig moontlik, met die flikkerligte aan. Hulle word by die eenheid se deur voorgekeer. Die gordyne om Thys se bed is toegetrek, maar Armand kom dadelik na hulle toe.

‘’Sara, kom gou, hy het na jou gevra.”

Thys is baie bleek. Sy vat sy een hand in albei hare vas. Die kinders gaan staan aan die anderkant van die bed. Ongemerk laat dr Armand en die suster hulle alleen, maar bly net buite die gordyn staan. Thys beweeg sy oë van haar na Theuns en Grietjie, en weer terug.

“Ek het julle so lief,” s hy sag en haal dan eers dieper asem. “Theuns … moet nooit my foute herhaal nie … bly altyd lief vir Grietjie en pas haar soos goud op.”

“Ek sal, Pa, moet nou nie kommer nie. Rus liewer …’’

Maar Thys beweeg sy kop baie effens en kyk weer na Sara. ‘’Saartjie, my vrou ….’’ Dan snak hy asof na asem. Die monitor skree skielik skril.

Armand is dadelik by en ‘n verpleegster trek Sara weg. Theuns-hulle maak aan die anderkant plek. Die mense weet wat hulle moet doen, maar die spesialis weet ook dit gaan tevergeefs wees. Sy ou vriend se hartskade was reeds te veel.

Dis baie laat toe hulle tuis kom. Sara is in ‘n dwaal en Grietjie lei haar na haar stoel toe. By die saal het hul reeds vir haar iets gegee om haar kalmte te gee. Theuns maak vir hulle iets warms om te drink en hulle besluit om daar oor te slaap.

Sara drink klein slukkies van haar tee. Theuns is hartseer, maar baie bekommerd. Hoe gaan sy reageer, dink hy. En hy wil vra, hoekom Here, hoekom? So pas na hulle mekaar weer gevind het. Maar asof sy ma sy gedagtes lees, glimlag sy skielik en dis vir Grietjie die mooiste glimlag wat sy ooit gesien het.

“Dit moes so wees,’’ sê Sara dan. ‘’Vergifnis, aanvaarding en vrede is aan ons gegee, hoe kan ons nou daaroor in opstand kom?”

Theuns frons, maar Grietjie staan op en sit haar arms om sy lyf. Dan eers raak hy ook rustig. En wanneer Grietjie hom los en weer gaan sit, vra hy vir Sara om ook vir hulle te bid. Hy hoor skaars haar woorde, maar toe sy afsluit met ‘’amen,’’ weet hy alles gaan regkom. En met ‘n sagte stem sluit hy af:

‘’Dankie, onse Vader, vir die voorreg om u genade te kon ervaar en te weet my pa is by U. Amen Here, amen’’

©adéle theron
junie 2020

adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9708
  • Gender: Female
Re: Sara
« Reply #1 on: June 24, 2020, 11:57:31 AM »
Pragtig geskryf adele.  Dankie vir die deel hiervan matertjie.
Om te weet is om te verstaan.