Die laaste paar dae het ons vogeltjies wat dink hulle moet in die huis woon. Die duifies kom sit sommer op die eetkamertafel en 'n rooibekneushoringvogel besluit hy sal hom sommer self help aan die lemoene wat in die groenterak is.
Ons het 'n paar fisante wat gereeld hier kuier. As Hannes nie vroeg genoeg kos uitsit nie kom klop hulle aan die kamer se glasskuifdeur. (Nogal baie lastig as jy 'n bietjie laat wil inlê. 'n paar dae gelede besluit een hy gaan kom kyk waar is die man wat die kos bring en hy loop tot in die eetkamer. Net toe kom Hannes uit 'n ander vertrek en vogeltjie skrik hom boeglam. Hy vlieg op en beland op die stoof waar ek besig is om kos te kook.
Ons hou mos al die vensters toe vir die "bobjane", so, "hoender", soos Hannes hulle noem, sit in die vensterbank, heel verskrik. Ek dag ek sal hom gou vang en by die deur uitsit, maar was ek verbaas toe ek met 'n hele klomp klein veertjies opland. Ek het skaars aan hom geraak!? Ek kom nog elke dag 'n paar veertjies tee.
Vandag sien ek op TV hoe 'n leeu in die lug opspring en 'n tarrentaal probeer vang. Daardie hoeveelheid klein veertjies wat daardie tarrentaal "afgeskud" het was verbasend. Nou wonder ek of dit 'n "ontvlugtings" metode is om hulle veilig te hou?