Author Topic: In Amsterdam  (Read 300 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9710
  • Gender: Female
In Amsterdam
« on: May 22, 2020, 12:03:22 PM »

In Amsterdam

As ek vanaand so moedersiel-Alleen
hier by die vuurherd sit,
Dan borrel my geheue op
En maak my hart en siel uit lid -
Dan dink ek aan die veld; en aan
Die doringbome by die krans
Waar koggelmannetjies die son
Hou vir 'n maat om mee te dans;
En aan die duine waar die wind
'n Wierook na die see toe waai;
En aan die dam waaroor die voëls
So vrolik in die nessies swaai;

En aan die seekoegate waar
Die kafferskuil en ruigte groei -
'n Donker groen die water oor,
'n Tuin deur niemand ooit gesnoei;
En aan die koppies waar die son
Ons Afrikaanse klippe soen,
En aan ons ou Karoo, so mooi
In al sy geil Oktober-groen!
En hier - hier waai die wind en raas
Die strate om my; karre dreun;
Die trein daar buite fluit en rook -
Dis orals galm, en gons, en steun!
Dis alles oud, so aaklig oud,
Die wye wêreld om my heen!
Aghonderd jare praat met my -
En tog, ek gril en voel alleen!
Ons kom van hier; ons wieg was hier,
Of verder in die suiderland -
Hier waar die Watergeuse was -
Hier, waar die strate is half strand.
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
met al jou pronk, met al jou prag,
Met al jou smeer'ge strate ook,
Jy het nog oor my siel gesag!
Ek voel as ek hier moedersiel-Alleen
so by die vuurherd sit,
Wat jy nog vir ons nasie is -
En kyk, my hart kom weer in lid!
Ons nasie? Ag, die mense praat:
Daar lê iets groots in woorde! Wat
Gee ons die reg om groot te wees,
Om saam te loop op so 'n pad?
Vir tagtig jare het hul hier
Gestruikel in die duister rond,
Die dyke oopgebreek, die see
Gemaak tot bobaas van die grond,
Die land gedoop met vuur en bloed,
Die klei vir elke huis deurwerk
Met trane; so 'n stad sal staan
Vir ewig - want dié klei is sterk.

En elke duim van hierdie land
Is duur gekoop met suur en smart;
En elke morge is betaal
Met stukkies van 'n mensehart.
Dit gee hul reg om trots te wees,
Dit gee hul reg om nou te pronk,
Al is dit lank gelede al,
Al is die see weer in sy tronk.
En ons? Ons wil 'n nasie wees!
Ook agter ons lê vuur en bloed;
Ook ons het vir ons land gestort
'n See van trane - ja, dis goed!
Maar verder - wat? 'n Nasie word
Nie somaar soos die koring groot:
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
Deur lewe ook word voortgestoot.
En as ek by die vuurherd sit
En in die vlamme kyk, dan voel
Ek in my siel daar skort nog iets -
Nog iets? - nog iets? - 'n Hele boel!
Daar buite spook die wind weer hard;
Die vensters skudde - wat 'n nag!
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
Jy het nog oor my siel gesag!

Om te weet is om te verstaan.