Author Topic: Die Hoendergeheim  (Read 3586 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Die Hoendergeheim
« on: October 03, 2013, 10:10:46 AM »
Die Hoendergeheim

Trixie woon in 'n koshuis en kan nie wag vir die vakansie nie. Haar ouers woon op 'n plaas en daarom moet sy in die koshuis tuisgaan. Die skool is te ver van hul plaas af. Die hele kwartaal se hard leer vir toetse en baie huiswerk, het haar net meer laat uitsien na die lang vakansie wat voorlê. Sy kan ook nie wag om haar goeie en getroue hondjie, Snif-Snaf, te sien nie. Hulle hou mekaar lekker geselskap en Snif-Snaf is haar skaduwee wanneer sy op die plaas is.

Sy sit lekker op haar bed en dink al die planne en avontuur uit wat sy gaan hê wanneer sy eers weer tuis is. Voel sommer vies toe haar kamermaat skielik by die deur inbars en skree: "Oor drie dae sluit die skole en Luipiet is gebore!" Trixie kyk haar kamermaat vrolik aan en vra: " Watter bohaai skop jy op, Lida?" Lida kyk haar aan en opgewondenheid lê haar hele gesiggie vol. Vir haar is skool een groot pyn en vakansies iets waarvan sy die dae begin aftel die dag wanneer die skool al begin. 'Asof jy nie weet hoekom ek so opgewonde is nie', sê Lida en val sommer so skuins oor haar bed en raak net so aan die slaap.

Drie dae later is dit dan ook net so en sluit die skool. Alles klaar gepak en gereed, sit Trixie sommer buite op die gras en wag vir haar ouers om haar te kom haal. Die kamer voel vandag net te klein en sy verlang na die wye ooptes van die plaas. Lida trippel van die koshuis se trappies af en kom reguit na Trixie aangestap. 'Ek is so bly die skool sluit. Ek maak sommer 'n wawiel net hier as dit nie vir die simpel rokkie is nie,' sê sy. Sy kyk af en sê: "Toemaar ou rokkie, vandag gooi ek jou net so in 'n bondeltjie, vergeet van jou en verruil jou vir my beste maat, ou broekies". Hulle lag vrolik saam en Lida plons neer langs Trixie. Skielik verander Lida se gesiggie en kry 'n hartseer trek op. Hulle sê byna gelyk. 'Ek gaan jou mis ou maat'. Die twee meisies gee mekaar 'n drukkie. Op die ingewing van die oomblik kry Trixie 'n plan en nooi Lida uit om vir 'n paar dae by haar te kom kuier. Lida se gesig verhelder en belowe om sommer vandag nog haar ouers te vra. Kort voor lank kom Trixie se ouers haar haal en wag die vakansie vir Trixie in volle glorie.

Trixie het gehoop om laat te slaap, maar douvoordag kraai Doempie die haan haar wakker. Sy wil hom sommer met haar pantoffel gooi so vies is sy. 'So 'n klein klits,' dink sy. Ag wat, dan is die dag net meer vol lekkerte. Sy wip uit die bed en kyk by haar venster uit. Dit gaan sommer 'n mooi dag wees. Die hoenders skrop op die grond rond, opsoek na mielies. 'n Heerlike reuk lok Trixie kombuis toe. Oeee, maar die plaatkoekies met stroop kan mens myle ver ruik en haar pa se moerkoffie konkoksie kan niemand namaak nie. Dit wat sy so na verlang het, begroet haar in die kombuis. Haar ma wat die plaatkoekies bak en haar pa wat koffie maak. Hulle gesels te lekker. Snif-Snaf sien haar eerste raak en is vreeslik bly om haar nooi te sien. Haar stert klop-klop teen die oop kombuisdeur.

Ontbyt is soos gewoonlik heerlik en daar is oor en weer gesels. Nadat sy haar ma help opruim het, besluit sy om buite op die werf rond te loop. Die oggendluggie is vars en die plaasgeluide begroet haar van alle kante af. Snif-Snaf hap na vlieë, maar is getrou aan Trixie se sy. Dis nog 'n jong hondjie. Sy was Trixie se verjaarsdag geskenk en hulle is van toe af beste maats. Sy slaap in 'n mandjie langs Trixie se bed, maar vroeg in die oggend gaan maak sy 'n draai buite.

Terwyl Trixie op die kraalmuurtjie sit, sien sy die skroppende hoenders raak. Iets aan hul houding val haar op. Die hoenders is haar ma se 'kinders'. Hulle kyk nie regtig waar hul skrop nie, hou meer vir haar dop. Voor Trixie verder kan let op wat die hoenders doen, roep haar ma haar vir telefoon. Sy spring van die muurtjie af en hardloop huistoe. Snif-Snaf dink dis 'n lekker speletjie en bly opgewonde opspring na Trixie. Dis Lida wat wil weet of Trixie haar ouers gevra het oor die beplande kuiertjie. 'O gonna!' dink Trixie. Sy het skoon daarvan vergeet en vra Lida om aan te hou. Sy gaan soek haar ma wat intussen uitgegaan het wasgoedlyn toe. Dis reg met haar ma en Trixie gaan sê dadelik vir Lida. Gelukkig woon Lida op die volgende dorp en hul ry om haar te gaan haal.

Terug op die plaas, baljaar die twee lekker in die plaasdam. Hulle lag en plas so lekker dat hulle nie die hoenders opmerk wat op hul hoede verby die dam sluip nie. Hulle hou hul koppe laag en kyk kort-kort om. Die meisies sit vrolik op die damwal en babbel. Snif-Snaf is lui en loer net met skrefies ogies na 'n besie wat moedig teen 'n grassie probeer opklouter. Die hoenders verdwyn agter die dam voor enige iemand hulle kan sien.

Die dae gaan vinnig verby. Die twee meisies wil nie dink aan wanneer Lida weer moet teruggaan huistoe nie. Hulle geniet die saam kuier. Hulle speel met Snif-Snaf wat die aandag te baie geniet, bak koekies, lê op die gras en kyk wie die meeste figure kan uitmaak in die wolke, slaan selfs 'n tentjie op en hou flitsjaag resies, net om 'n paar op te noem. Lida kuier vir 'n week en dis weer tyd om koebaai te sê. Gou sal hul mekaar weer sien by die koshuis wanneer die skool begin.

Trixie ontspan buite op die gras met 'n boek, toe 'n hen haar aandag trek. Sy pik na 'n blink plaatjie wat in die son skitter. Sy wonder hoekom sou die hoender juis nou aan die plaatjie wil pik. Die hoender skrik vir 'n denkbeeldigs iets en hardloop na die ander henne. Haar gedrag is so snaaks, dat Trixie sommer begin giggel. Amper skrik mevrou hoender haar vere af. Sy sien iets eienaardig. As sy afkyk, lyk dit of die hoenders met mekaar praat. Sodra sy vir hulle kyk, maak hulle of hul onskuldig op die grond rondpik. Sy reken miskien is die son te warm en bak sy te lank, want sy is seker sy sien verkeerd. Nee, daar is dit weer! Sy maak of sy wegkyk en dit lyk sowaar of hul met mekaar praat. Sy gaan haal haar sonbril in die kamer, want so sal hulle nooit weet dat sy vir hulle loer nie. Buite gekom, is hulle net weg. Net hul spoortjies verraai dat hulle daar op die grond gestaan het 'n paar minute gelede. Dit is baie snaaks en sy besluit om van nou af die geveerde vriendjies dop te hou. Sy voel sommer soos 'n wafferse speurder.

Daardie aand vertel sy haar ma van die hoenders se snaakse optrede en hoe sy hulle van nou af gaan dophou. Haar ouers lag, maar wil ook nie haar verbeelding te veel skade aanrig nie. Trixie sukkel daai aand om aan die slaap te raak. Sy is self bang dat haar verbeelding darm te ver met haar weghol. Sy gee die hoenders net te veel krediet om so slim te wees. Wat as sy te veel van 'n verbeelding het, maar nee, daardie gedagte is te vervelig. Sy kan nie wag tot more nie, want sy en Snif-Snaf GAAN die raaisel oplos.

Sy verslaap wraggies die volgende oggend en gryp sommer so in die verbygaan 'n beskuitjie van die bordjie af in die kombuis. Sy groet net haar ouers en is soos 'n warrelwind by die huis uit. Haar ouers kyk haar verbaas agterna en skud net hul koppe. Hulle het 'n baie goeie idee wat Trixie se planne is. Sy loop ongemerk verby die hoenders wat ewe gelukkig hoenderpitte eet. Snaaks dat sy nooit kuikens saam hulle sien nie en dit lyk altyd of hulle net hierdie handjievol is. Sy sit verskuil agter die skuur se muur. Sy sorg dat sy in die koelte sit, want al is dit nog vroeg, is dit klaar warm. Doempie die haan klap nou en dan sy vlerke. Sy stertvere pronk in die son. Hy is 'n mooi haan, maar sy is heel versigtig vir hom. Hy het haar probeer skop toe sy die vorige vakansie tuis was. Nou bly sy uit sy pad.

Sy sit skielik regop en kyk weer vir die hoenders. Snif-Snaf kyk dadelik vir haar en asof die hondjie sal verstaan, druk Trixie haar haar vinger voor haar lippe in 'n 'shuut' gebaar. Die henne skrop en kyk rond en hou skielik soos een hoender op met hulle bedrywigheid. Hulle val almal in 'n ry en begin aanstap in die rigting van die dam. Kort-kort kyk hul om en stap dan verder. Sodra hul omkyk, hou Trixie vir Snif-Snaf terug aan haar nekbandjie. 'Nou moet jy kalmeer en luister wat ek sê, Snif-Snaf. As jy nie luister nie, gaan jy als opfoeter,' vermaan sy haar hondjie. Snif-Snaf is nog jonk, maar baie gehoorsaam. Hulle loop stadig agter die henne aan, maar kyk nie 'n oomblik weg nie.

So loop hulle 'n hele ent van die werf af. Trixie weet nie hoe dit gebeur het nie, maar skielik is die hoenders weg! Haar moed sak in haar skoene. Hulle was so naby om uit te vind wat hou die hoenders so geheim. Snif-Snaf kyk verward rond. Sy het die speletjie net begin geniet. Haar pienk tong lek kort kort haar bek af. Seker dors, dink Trixie. Dit is al baie warm. Hulle wil net omdraai, toe Snif-Snaf 'n kort opgewonde blaffie gee en al snuffelend vorentoe kruip. Trixie wil sommer haar hondjie gryp en agter die ore krap om dankie te sê dat sy die hoenders se spoor raakgesnuffel het. Sy besluit om dit nie te doen nie, want nou wil sy nie haar hondjie se aandag aflei nie. Netnou is dit neusie verby. Sy volg kort op Snif-Snaf se hakke. Die hondjie kom tot stilstand teen 'n skuinste. Dit lyk soos 'n klein heuweltjie, dig begroei met plante. Net daar kom Snif-Snaf tot stilstand en maak fyn tjankgeluidjies. Sy kyk opgewonde met uithangende tong na haar nooi en wag op Trixie se reaksie.

Trixie strek haar arm uit om die plante eenkant toe te druk, maar is huiwerig. Sy weet nie wat om te verwag nie. Wat as dit 'n wilde dier se skuilplek is? Gelukkig is Snif-Snaf by haar en die hondjie sou gegrom het as daar gevaar was. Nuuskierigheid kry die oorhand en sonder om twee keer te dink, stoot sy die plante eenkant. Haar mond val oop van verbasing. Oral is vuurvliegies wat die tonnel voor hulle verlig. Snif-Snaf probeer na hulle hap, maar Trixie keer haar. Hulle loop en verkyk hul aan die liggies wat oral flikker. Sy wonder nogal wat die hondjie van alles dink. Hulle hoor ook paddatjies wat kwaak en dit klink amper soos 'n liedjie mooi in harmonie. Sy voel skoon betower.

Die tonnel lei na 'n groot kamer. Teen die mure is lanterntjies wat rosige pienk lig uitstraal. Dis so 'n rustige atmosfeer. Teen die een muur sit meer as twintag hoenderhenne op gemaklike strooibedjies, elkeen op 'n eier en broei. Nou en dan staan hul op en skuif die eier in 'n ander posisie, dan wikkel hulle weer en sit gemaklik verder. Sommige van die eiers broei uit en klein geel bondeltjies loop op 'n karweibelt na die ander kant van die vertrek waar hulle by die ander henne aansluit om deur hul versorg te word en te leer eet en skrop. In die middel van die vertrek is daar bakke met kos en nog bakke met water.  Dit alles laat Trixie verstom. Sy het soveel vrae soos wie dit bedryf, of haar ouers daarvan weet, maar weet nie waar sy die antwoorde gaan kry nie. Daar is ook hoender hane wat eenkant staan en vreet. Die een so trots soos die ander.

Snif-Snaf het nou genoeg gehad van die rond staan en toekyk. Sy raak kriewelrig en voor Trixie kan keer, gee Snif-Snaf 'n harde blaf. Dit was 'n reuse fout, want toe gebeur alles gelyk. Alles wat so glad verloop het, bars los in een groot mengelmoes. Henne spring van die strooibedjies af en al wat 'n eier is, rol rond of breek stukkend op die grond. Die henne probeer sommer opvlieg en dit laat vere rond wapper en strooistokkies die lig in opskiet. Die hane kraai van al die skrik en die henne kekkel histeries saam. Van hulle hyg om nog asem te kry vir meer geraas. Die kuikentjies hop van die karweibelt af en hardloop soos mal goedjies rond. Elkeen in hul eie rigting. Die henne pik die kuikens en sommer mekaar ook. Trixie wil sommer huil. Sy het nie bedoel om die harmonie te versteur nie. Snif-Snaf blaf net harder en steur haar min aan Trixie se kwaai stem. Sy wil vorentoe storm om die hoenders te jaag, maar Trixie is betyds om haar in haar arms op te raap voor sy nog skade kan aanrig. Met die wriemelende hondjie staan sy na alles en staar. Nie in staat om te roer nie.

Skielik hoor Trixie 'n harde kraai en voor haar staan 'n groot haan. Daar heers doodse stilte en almal staar na hom. Hy het die mooiste, helder kleure wat sy al ooit gesien het. Hy lyk baie kwaad. "Wie is jy?," vra hy met 'n diep stem. "Wat maak jY hier?" Trixie skrik, want 'n hoender wat praat het sy nog nie eers in haar beste drome beleef nie. Sy is te verskrik om te antwoord. Een van die henne wat sy herken van die werf ,sy het 'n wit kol op die regterkant van haar kam, kom na vore en antwoord namens Trixie. Sy verduidelik wie Trixie is. Die haan knik met sy kop in erkenning en verbied Trixie om ooit weer terug te gaan na hul plaas. Sy is baie geskok en vra die haan hoekom sy so swaar gestraf moet word.

Die haan verduidelik aan haar dat hul die geheime kamer vir jare beskerm en geheim hou omdat die mens hulle net gebruik as kos en soms nie eers behoorlik versorg nie. Die hoenderryk is moeg daarvoor en wil op hul eie voete staan. Die hoenders op die werf is hul ore en oë op die werf en ander plekke en daar word gereeld rapporteer hoe dit daar gaan. Sou sy terugkeer, sal sy vir almal van hulle gaan vertel en dit kon hy nie toelaat nie.

Haar hoenders sien hoe ongelukkig sy is en praat mooi met die haan. Hulle smeek hom om Trixie te laat gaan en verduidelik hoe mooi haar ma na hulle kyk. Sy belowe ook om die hoenders se geheim te bewaar en nie haar ouers daarvan te sê nie. Die haan word uiteindelik daarvan oortuig, veral toe Trixie verduidelik dat haar ouers elke hoekie en elke klippie van die plaas sal omkeer om na haar te soek. Daardie risiko kon die haan nie neem nie en hy besluit om Trixie en Snif-Snaf te laat gaan op die voorwaarde dat sy nooit weer soontoe mag kom nie. Sy maak die belofte gretig en hul word buitentoe begelei deur die hoenders. Trixie se bene voel sommer lam terwyl hul huistoe stap. Sy voel skoon verlig.

Daardie aand aan tafel, vra haar ouers haar of sy die geheim van die hoenders kon uitpluis. Haar reaksie was, 'Neeeee!!' Hulle kyk haar verbaas aan en sy begin kliphard te lag. Dit was meer van senu-agtigheid as vreugde. In haar verbeelding sien sy haarself ook op 'n nessie vir ewig sit. Sy begin sommer giggel met daardie gedagte. Haar ouers glimlag maar saam.

Die vakansie het gevlieg en met haar avontuur nog kraakvars in haar geheue is sy gereed vir die nuwe kwartaal. Net vir Lida, haar kamermaat, het sy die hoendergeheim verklap. Iemand moes deel in haar pret. . . 
                     

                                                                                                           :notworthy:
« Last Edit: December 07, 2013, 09:55:36 AM by Anicia »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die Hoender geheim
« Reply #1 on: October 03, 2013, 12:17:46 PM »
 :toothy4: ... nog iemand kon deel in die geheim en het dit geniet. More gaan ons vir tien dae bietjie wegbreek op Bribie Island en ek gaan jou stories mis Anicia. Doet asb voort en griffel nog lekkerlees stories hoor.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Die Hoender geheim
« Reply #2 on: October 03, 2013, 01:34:35 PM »
Dit was nou 'n heerlike verbeeldingsvlug. Ek het dit geniet.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die Hoender geheim
« Reply #3 on: October 03, 2013, 02:05:49 PM »
Ek is vreeslik bly julle geniet dit! Dis wat dit die moeite werd maak.  :angel8:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Hoender geheim
« Reply #4 on: October 04, 2013, 06:17:36 AM »
Lekker gelees. 
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hoender geheim
« Reply #5 on: October 06, 2013, 09:31:34 AM »
Jy skryf baie goed.  Jou werk is netjies en behalwe vir hier en daar 'n paar kleinigheidjies, is dit baie goed gedoen.  Ek wys hier en daar 'n paar vir jou uit as jy nie dink ek is baie voorbarig nie. 
Ek hou van die ligte trant van humor wat hier en daar deurslaan.

enkel aanhalingstekens slegs binne aanhalingstekens, anders is dit altyd dubbel aanhalingstekens in Afrikaans.

oggendluggie

ook/oot

wasgoedlyn  (een begrip een woord)

slaan selfs 'n tentjie

die hoender skrik vir iets dekbeeldigs

sy besluit om dit nie te "soen"?

die hoenders sit in die strooibedjies

strooistokkies - een woord

"Wat maak  jY  hier?"

geheimekamer - een woord

dalk sal "senu-agtigheid" beter werk?

hoendergeheim - een woord 

deel in haar. . . - aan die einde van die sin kom die punt na die er sonder 'n spasie en 'n spasie na elke punt.  Slegs drie punte is toelaatbaar.  Jy mag wel 'n uitroep- of vraagteken na die drie punte gebruik, maar nie nog 'n punt nie.








Om te weet is om te verstaan.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die Hoendergeheim
« Reply #6 on: October 06, 2013, 12:10:03 PM »
Baie dankie PM vir jou insae! Ek het verbeteringe gedoen en ek is sooo bly jy het dit vir my uitgewys. Nogmaals baie dankie! Dis heerlik om net 'n mens se verbeelding weer te laat gaan.  :wave:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hoendergeheim
« Reply #7 on: October 08, 2013, 03:42:03 PM »
Koester daardie verbeelding, dit is 'n gawe. 

Ek doen dit met liefde.  Wanneer 'n mens begin publiseer kos proeflees 'n arm en 'n been.  As ons dit hier kan regmaak is dit 'n groot hulp. 

Adéle gaan nou deur 'n moeilike tyd, maar ek is seker sy sal kort voor lank kom help. 
Ek wag vir nog, jy skryf goed. 
Om te weet is om te verstaan.