Author Topic: Oor die groen veld dartel veldblomme in die wind.  (Read 1492 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Oor die groen veld dartel veldblomme in die wind.
« on: January 05, 2020, 06:08:11 AM »
Oor die groen veld dartel veldblomme in die wind. So wil jy miskien ‘n storie begin ...

Goeie môre vriende, ja in hierdie eerste paar dae van die nuwe jaar en nuwe dekade dans jy dalk nog op maat van musiek van jou keuse. My musieksmaak is nie joune nie, en andersom, daarom moet jy jou eie musiek kies. En jy dartel nog vrolik rond in die naloop van die feesdae en vakansiegees.

Maar die werklikheid van die lewe is iets anders. Duisende mense besef dit nie. Enersyds omdat hulle dit nie ken nie. Vir hulle was die feesdae nog altyd net toegedraai in ‘n klein geskenkpakkie van ‘n handvol lekkers of ‘n ry bont liggies in die straat. En vir ander het die gedagte van ‘fees’ ‘n dieper stiltetyd geword. ‘n Tyd van stry teen moed verloor en hooploos na die droë blou lug kyk, met trane oor hul wange die kaal vlaktes probeer oorsien.

Vrydagmiddag was die N1 pad deur die Vrystaat na die dorp so besig, dat ek ‘n paar minute moes staan en wag om daar te kon draai. En in die dorp was dit ‘n miernes van voertuie en mense, almal op pad huis toe en vir sommige het nog lang ure se ry voorgelê. Wat sou op hulle wag? Veilige tuiskoms en alles soos hulle dit agtergelaat het? Hoopglo met gebed, was my gedagte.

Maar vir baie dartel daar geen blomme in die wind nie. Dis kaal om hulle, met alles wat groen kon wees, pikswart verstar en verdor in droogte. Vir ander ‘n paar hope grond wat ‘n graf moes opvul. Of langs ‘n siekbed waar iemand geliefd, dalk met angs, of vredevol ‘n hand vashou ....

Tog, al is daar geen blomme nie, is daar die ewige liefde van Christus ons Here. Sy hand wat joune sal vashou as jy maar net jou versugting in die wind na Hom rig, jou hand uithou, jou oë na Hom draai. Hy is daar, nee Hy is hier!

Vriende, ons het mekaar, ons deel en word geraak deur vreugde en opgewondenheid van wonderwerke en uitkoms en genesing, ja heling van siel en liggaam, van reëndruppels en verwagting wat ons knielend na uitsien. Maak gebed jou heeldaggesels met Hom, met ons God en Redder en vou sy genade om jou en jou geliefdes. En deel daarvan oor na ander naaste aan jou, en aan hulle wat jou pad kruis.

adéle theron
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Oor die groen veld dartel veldblomme in die wind.
« Reply #1 on: September 13, 2021, 01:01:27 AM »
Pragtig dartel jou blomme in die wind lief vriendin.  Ek verlustig my in jou geloof. 
Om te weet is om te verstaan.