Voorstelle en klagtes > Waar is jy?

Ons groet 'n dierbare vriend en skrywersmater

(1/2) > >>

Meraai vannie Baai:
Dit is met leedwese en ongelooflike verlies dat ons vandag verneem het van Johann Mulder se afsterwe (Ou Joe oftewel oupa Ysie soos ons hom genoem het). Ons was die afgelope 13 jaar maters wat lief en leed gedeel het. Nog nooit hand kon skud of mekaar 'n drukkie gee nie maar hy sou vanuit die Kaap my Meisiekindjie kontak hier in Australia as ek vir 'n paar dae stil was. Die eerste wat sy dan ook genoem het na sy gehoor het haar oom Jo is huistoe vir altyd was wie gaan nou boodskappies stuur en bel om te hoor of mammma 'okay' is? Rus in vrede my maat. Ons vertroetel jou woorde tussen blaaie en die DVD's van julle doen en late is een van ons kosbaarste besittings.

Opgedra aan die een in my lewe!

Toe.

Toe die môrester sy laaste draai kom maak,
hier onner in die Kaap.
En die maan sy gesig ‘n slag afvee,
asvaal van al die slaap!
Toe weet ek dit het tyd geword,
Om styf te lê... vir daai laaste stukkie slaap!

Toe die Suid ooswind sy draaie gooi,
oor Helderberg se kom,
en wolke ‘n kleed drapeer, oor Tafelberg so stom!
Toe weet ek, ek's nou terug by jou,
die hartlam lief van drywer Joe!

Toe snoek begint te loop my maat,
uit ‘n see so koud en rof!
En vissers hul blink lywe gooi
op kaaie sonder stof!
Toe weet ek hoe my hart nou klop,
Verewig net vir jou!

Toe druiwe trossies begin te swel my vriend,
die nuwe jaar se oes,
en riviere nog ‘n riel uitpak
van die laaste winterreëns!
Toe weet ek dis ‘n Geseënde jaar,
vir ons, vir my en ook vir jou!

Toe blomme ‘n tapyt kom sprei,
oor Namakwaland se kim,
en mense in hul hordes stroom
na ‘n veldblom blomme skou!
Toe dank ek my Heer weer nog ‘n slag
vir jou wat my so erg bederf...
waar die liefde altyd blom!

Toe die son vanoggend weer sy kop oplig...
jy stram opstaan van 'n alleen slaap nag se rus,
toe dans ek riele, polkas en ‘n wals,
ver in sonlig in my gedagtes saam met jou!
Hoe anders dan, verstaan jy nou my lief,
tuis of weg...ek is en bly so lief vir jou!

Toe sonnetjie weer sy oë toeknip,
die dag is nou verby
Toe weet ek dit het tyd geraak
om terug te keer na jou!
En môre vroeg as die sterre groet,
voor lig en son se gloor!
Dan kruip ek stilletjies weer hier aan teen jou,
die lange eensaam nag is oor!

Joe ©

Naas:
Ek het nie vir Joe so goed geken nie maar eens die wat hy agterlaat sterkte en berusting toe.

adele:
Ai ai .... annerdag het ek deur fb geblaai en gewonder waar ons van mekaar verdwaal het. Ek het hom 'n keer of 2 ontmoet, hy het vir my goed van Stellenbosch af saamgebring. En nou hoef ek nie verder te wonder nie. Ai Maat Joe, dit was goed om jou te ken.

Meraai vannie Baai:
Hy sal verseker erg gemis word Adele. Joe het nogals probleme gehad met slapeloosheid en sou dan geselsskap gesoek het gedurende julle nag (ons dag). Die stomklets-geselsskap sou gewoonlik so verloop: "Koewie! Waar loop die oumens tog nou weer rond? Wat van 'n kommetjiegat (koffie)?" Ek sou gewoonlik afsluit deur 'n drukkie vir Riana, sy pragtige vroutjie te stuur en vanoggend besef ek, Joe is nie meer daar om hierdie drukkies oor te dra nie en het ek vir haar 'n vriendskapsversoek gestuur sodat ek soms weer 'n drukkie in die gees kan stuur. Hoe kosbaar is ons aanlynvriendskappe nie? Veral as jy in die vreemde sit!

PM:
Dit is bykans twee jaar gelede.  Kyk hoe glip die tyd by ons verby.
Ek vryf oor my arms om die hoendervleis weg te kry. 

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version