‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 7
Die dae gaan verby en die atmosfeer raak al hoe strammer. Dorothy is onkeerbaar toe Donnie haar vertel dat hulle gaan trek.
“Maar ek wil nie trek nie, Pappa. Hoekom, wat moet ons in die groot stad gaan maak. Hoe kan ons vir juffrou tannie Hannah alleen los? En wat van my maatjies?”
Donnie antwoord met geduld en kalmte, maar later vervies hy hom vir haar en stuur haar met ‘n skerp teregwysing kamer toe. Die atmosfeer bly stram. Op kersoggend ruil hulle geskenke uit, want die vorige aand was daar ‘n familie wat tot laat in die koffiekroeg gekuier het. Hannah het vooraf besluit om die koffiekroeg vir Kersdag en die volgende dag gesluit te hou.
Dorothy se opgewondenheid het die dag met meer vrolikheid laat begin. Sy en Hannah besluit om saam ontbyt te maak sodat hulle drie in die tuin kan gaan eet en Donnie speel saam, asof hul ‘n familie is. So kuier-kuier gaan die dag verby. Die skielike stil ure voel vir hom vreemd en Donnie sluimer in waar hy op die bank gaan lê het.
Hannah besluit om die kans te gebruik om Dorothy se klerekas deur te gaan. Oor twee weke moet hulle trek, en sy weet nie wanneer ‘n vrouehand weer die meisie se klere kan opvolg nie. Saam met haar kyk sy na alles en geniet elke oomblik van besluit wat kan saamgaan, en wat is al te klein. Sy vra wat Dorothy met haar klere wil maak wat nou al te klein is.
“Weet tannie Hannah, ek wil dit vir iemand gee,” sê sy, skielik teruggetrokke.
“En wie is die iemand?”
“Ek weet nie of Pappa sal dink dis reg nie ...”
“Wie is dit? As jou pa nie dink dis goed nie, sal ons hom wel oortuig.”
Dorothy vertel vir Hannah dat haar beste maatjie, Vera, vir haar vertel het van ‘n plaaskind, Ivory, wat baie arm is. Haar ma het weggeloop, haar pa kom net af en toe huis toe en haar ouma werk by drie huise om hulle vier kinders se magies kos te gee. Dorothy se oë raak vol trane.
“Dink tannie ek kan maar van my klere vir Ivory en haar sussie gee?”
“Ek dink beslis so. Ek sal hierdie stukke eenkant hou, en met Vera se ma gaan praat en hoor waar bly Ivory-hulle. Dan sal ek haar gaan opsoek en besluit wat sal solank pas. Is dit goed so?”
Dorothy sit haar arms om Hannah se nek en gee haar ‘n stywe drukkie. Sy is so bly, alle onsekerheid nou vergete.
“Hoekom wil Pappa nie dat tannie my ma word nie, hê Tannie?” Met groot oë kyk sy haar aan.
“Ummm, laat ons maar eers kyk waar julle gaan bly, dan hoor ons wat jou pa sê. Kyk, pak jy nou eers hierdie skoene terug in jou kas en speel met jou nuwe pop.” So verander Hannah die gesprek vinnig en stap uit. Dorothy raak besig en vergeet van tyd.
Hannah gaan lê in haar kamer en blaai deur ‘n tydskrif, maar sien niks raak nie. Dan sluimer sy ook in. Toe Donnie wakker word, is die huis doodstil. Hy gaan loer by Dorothy is, maar sy lê en slaap met haar nuwe pop in haar arms. Dan gaan soek hy na Hannah. Hy wil graag ‘n rukkie alleen by haar wees en hoop sy sal weer vir hulle milo maak. Saggies stap hy tot hy by haar kamerdeur kom. Hy sien haar skuins oor haar bed lê.
‘Hoe lief het ek haar nie, daarom moet ek weggaan. Ek kan haar mos nie met my verlede en kind opsaal nie.’ So dink hy by homself. Maar dan vra hy, soos die afgelope paar dae, sommer oop oë dat God hom krag moet gee. ‘Nie soos ek wil nie, Here, maar u wil geskied.’
Hy stap na haar kombuisie toe en begin vir hulle milo maak. Voor die melk kook, kom sy binne.
“Ek het wakker geword toe jy so na my kyk. Wat was in jou gedagtes, Donnie?”
Donnie draai om. Die mikrogolfoond se klokkie lui, maar hy hoor dit nie. Hierdie vrou met haar blosende wange en deurmekaar hare laat hom alle selfbeheersing oorboord gooi. Hy trek haar teen hom vas en voel hoe sy teen hom ontspan. Dan vleg sy vingers deur haar hare. Hy trek haar kop effens terug en laat sak sy kop tot sy lippe hare raak. Sag streel hy haar skouers en rug met sy ander hand. Dan soen hy haar meer intens. Hy weet nie hoeveel sekondes, of is dit minute lank, sy hom terugsoen nie, maar dan kyk hy op.
“Hannah, liewe Hannah, weet jy nou hoekom ek moet weggaan?”
Sy hou hom vas toe hy haar wil laat gaan.
“Nee, hoe sal ek weet? Donnie, hoekom mag ons mekaar nie lief hê nie? Waarvoor is jy bang?”
“Hannatjie, juis omdat ek jou so lief het, moet ek jou kans gee om ander te leer ken. Hoe kan ek jou nou aan my bind voordat jy die lewe, sonder sy seer, leer ken het?”
Verligting spoel deur haar. Sy het nooit besef dat Donnie soveel omgee en net haar belange eerste stel nie.
“Donnie, jou liefste lawwe mansmens, ek was op universiteit ook, onthou. Daar het ek baie mense, en mans, leer ken. As ek wou, sou ek lankal weer uitnodigings aangeneem het, maar het jy nie agtergekom ek bly liewer tuis, hier by julle nie?”
Donnie kyk haar verleë aan. Hoeveel keer het hy gewonder oor haar roetine, hoekom sy nooit saam met ander, behalwe in ‘n groep, uitgegaan het nie.
“Hannah, bedoel jy wat jy sê? Sien jy kans vir my? Vir my en Dorothy?”
Sy bloos. Dan sit sy haar hande om sy wange en soen hom sag. Sy wil nog vir hom sê dat dit al is wat sy in die lewe verlang, maar dan hou hy haar so styf vas en soen haar, dat sy skaars asem kry. Dis eers ‘n hele ruk later wanneer hulle van die milo onthou.
“Nou moet die melk weer kook,” sê Donnie. Onwillig laat hy haar gaan. Dan sien hy vir Dorothy in die gang. Sy vee nog die vaak uit haar ogies, maar vra of sy ook gaan milo kry.
“Natuurlik, my skat.”
“Maar hoekom is Pappa dan hier? Ons kom dan nooit hier nie en ek het oral gesoek.”
“Ek het agtergekom tannie Hannah se milo is baie lekkerder as myne daar voor,” sê haar pa.
Dorothy staan langs hom en leun met haar koppie teen sy bene. Nie een praat tot Hannah hul milo klaargemaak het nie. Sy gee Donnie s’n aan. Dan tel sy die ander twee bekers op.
“Kom ons gaan sit weer buite. Dis die enigste plek waar die hitte nou bietjie afkoel.”
Dorothy gaan sit by hulle en drink haar milo vinnig op. Die groot mense drink hulle s’n stadig. Sy kyk van haar pa na Hannah. Met die onskuld van ‘n kind voel sy aan dat iets anders is, maar sy kan nie besluit wat nie. Sy besef nie dat die stramheid van die afgelope week of twee, uit haar pa se skouers verdwyn het nie. Maar sy onthou wel iets anders.
“Kan Pappa verlede jaar se kersfees onthou?” vra sy dan. “Toe ons nog in die karavaan gebly het.”
“Ja, ek kan, wat laat jou nou daaraan dink?”
“Toe het Pappa mos gesê dat kersfees se wonderwerk ons gaan kom haal en toe het tannie Hannah ons kom haal. Nou is dit alweer kersfees en niemand het ons kom haal nie. Maar Pappa wil sommer vanself weggaan.”
Dorothy se hartseer laat haar skouertjies sak. Donnie hou sy hande na haar toe uit en terwyl sy op sy skoot klim, kyk hy na Hannah. Hy wou hulle geluk eers tussen hulle gehou het, eers weer met haar gepraat het, maar besef nou hy sal Dorothy moet vertel. Hy is nie seker hoe Hannah daaroor voel nie. Maar sy glimlag en knik haar kop.
“Dorothy, “ sê Donnie dan, “miskien gaan ons nie meer weg nie. Dalk gaan kersfees se wonderwerk ons hier vasmaak, dan hoef ons nie te trek nie.”
“Regtig, regtig Pappa?” Sy is so opgewonde, dat sy regop spring en na Hannah kyk. “Regtig, tannie Hannah?”
Hannah knik net. Haar oë blink en Donnie weet nie of dit van trane of geluk is nie.
“Gaan vertel jou pop dat ons nie meer gaan trek nie.” Donnie lag toe sy met ‘n gejil huis toe hardloop.
Hy staan op, trek Hannah op en stap met haar aan die hand na die eendedam. Daar draai hy na haar toe en sy oë verdonker van erns.
“My Liefste Hannah, ek het nog nie kans gehad om jou te vra nie. Maar nou het ek nie ‘n keuse nie.”
“Wat bedoel jy? Wat se keuse wil jy hê?” Haar oë glinster van pret.
“Juffrou Hannah, sal jy asseblief met my trou? Nog voor Nuwe Jaar?”
Hannah wou al antwoord, maar die ‘nog voor Nuwe Jaar’ laat haar verstom. Tog, hoekom nie, dink sy dan.
“Donnie, liefste Donnie, ek wag al so lank hiervoor. En ja, ek sal, maar is ses dae nie te gou ...?”
Sy praat nog, toe soen Donnie haar weer terwyl hy haar styf teenaan hom trek. Sy hart klop doef-doef teen haar vas. Haar arms gaan vanself om sy nek en sy soen hom terug tot haar asem weg is.
Dorothy kom by die stoep af en soek na hulle. Net toe sy wil roep, sien sy hulle langs die eendedam. Instink laat haar doodstil staan, maar ‘n gelukkige laggie borrel oor haar lippe.
“Kersfees, jy hoef nooit weer iemand te stuur om ons te kom haal nie,” roep sy uit.
©adéle theron