Julle weet ek vertel graag stories en skryf dagstukkies en gedigte, maar tog 'getuienis' ek minder in woorde. Ek leef dit liewer uit sodat iemand ons Skepper agter my, langs my kan raaksien. Maar hierdie ongeluk wat gister moes gebeur, kan nie on-vertel gelaat word nie.
Gister het ek weer beleef hoe God oorneem en ons vas hou. Ek moes (baaaie teen my sin) gisteroggend Philip Sanders-oord toe ry, so ent van Bloemfontein af. Ek wou nie, en kon net oor die tydmors-sessie kopskud. Ek het eers 18:45 die vorige aand daarvan gehoor en dit omtrent verloor (waaroor ek vanoggend bitterlik skaam is) maar nou geleer dat as God jou stuur, moet nie teëstribbel nie. Hy wil ‘n wonderwerk wys!
In elk geval, met rondbel en reëlings tref, is ek toe vroeg op pad want elkeen naby my het ‘n ander draai ook gehad en ek moes dus alleen ry. Maar net toe ek die werksbakkie gaan haal en magtigingsvorms optel, laat weet Nico, oordbestuurder, ek moet hom gaan oplaai. En saam luister ons die inligtingsessie deur.
Ons vat die pad toe so ná drie-uur terug. Ek ry oor die algemeen nooit oor spoed nie, maar omdat ons moeg was, raak die naald so aan die 120. En seker so 20 km van Winburg af, verander net die klank van die bakkie se dreuning op die teer. Geen geruk of geswaai, geen gegly nie. Nico het net gevra of ‘n wiel pap is. Ek weet nie wat ek geantwoord het nie. Maar ek weet ek was verstom toe ek sien die wiel is oopgebars, nie net pap nie.
Want ek het net die stuurwiel vasgehou, my voete opgetel en gedink ‘moet net nie nou briek trap nie’ tot die bakkie op die los gruis langs die pad tot stilstand gekom het. Die veld loop daar baie skuins af en ek was bang ek laat die bakkie omval. Maar Nico het dit tot amper oor die randjie getrek, so ver moontlik net van die teer af. En ek het nie, alleen, langs die pad bly staan nie.
Die verkeer op die pad was vol swaar voertuie, van kleiner tot ekstra-groot. Maar op daardie minuut wat die band gebars het, kan ek nie onthou dat daar enige voertuig agter my was nie, want ek het nie briek getrap nie. Toe ek stilgehou het, was daar egter dadelik weer voertuie wat verby geswiep het. Ek wil nie dink aan wat ‘kon’ nie. Net elke kort-kort my oë toemaak en sê ‘dankie, dankie Here.’
adéle theron
Raaitjie, inboks vir my jou selfoonnr, dan stuur ek die foutokie vir jou.