Dinsdag, op pad huis toe, reg voor die ingang na ‘n bekende plaasrestaurant op Durbanville heuwels, slaan ek ‘n padgat met die i10.
Dis erg.
Dit voel of die onderstel des moers breek tot by die motortjie se knersderm.
My siel kry seer.
Ek voel die seer tot binne in my beursie.
Ek het nou die dag nuwe bande opgesit. Daai slag was hard genoeg om die vellings te buig. Nou sal ek die wielsporing moet laat nagaan.
Versigtig haal ek my hande van die stuurwiel af. Die i10 hou spoor.
Gelukkig nie ‘n papwiel nie.
Maar my siel bloei tot laat in die nag voor ek aan die slaap raak.
Nou vermy ek dit elke middag maar ek besef skielik in watter haglike toestand die Kaapse paaie deesdae is.
Is die Kaap se regering ook besig om die weg van Afrika te volg.
Ek onthou (dit is snaaks hoe ouderdom die onthou-boeke in die breinkamer afstof) die tye toe daar vooruitgang was. Vooruitgang is baie makliker wanneer die paaie waarop die vooruitgaan moet ry sonder slaggate is.
Vooruitgang was so algemeen dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar het. Instandhouding van alle hulpbronne het net gebeur en ons het dit aanvaar. Nie eers daaroor gedink nie.
Soos daai padda wat in kouewater gesit is en toe doodgelukkig dood gekook is…
Ons pragtige land…
Vooruitgang het sy voet van die versneller gehaal en die padgate begin vermy. In die proses tot stilstand gekom want instandhouding het hom in die steek gelaat. Met die tot stilstand kom van instandhouding en vooruitgang het agteruitgang sy kans gekry om te toyi toyi en te brand na hartelus.
En ek?
Ek is nog steeds op pad. Ek vermy maar die padgate in my lewe en skryf net so nou en dan ‘n paar paragrawe as ek onverwags ‘n nuwe padgat slaan dat my onderstel bewe tot binne in my knersderm. Te bly daar is nie ‘n papwiel nie.
Maar my beursie kry seer en my siel bloei...