As daar een ding is wat die delwersgene in Meraai vannie baai se bloed verslawend laat bruis, is dit die ritme van woorde in sinne. 'n Stukkie van die hemel onthou ek uit my kinderdae... die pluk van snare en Pagoed se stem wat my aan die slaap sing by kerslig. Die kostelike vertellings uit sy maer kinderjare het my smoorverlief gelaat op ABC-disse waaraan die olielamp-reuk amper tasbaar bly hang het. Ek wou lees en skryf vandat ek kan onthou.
Wou al hierdie stories/gesegdes/uitdrukkings uit my kinderdae bewaar sodat die nageslag eendag self kan delf tussen vergange se lyne. Die bewaringspassie het my skaduwee geword en die begeerte om voor 'n grafsteenskrif die laaste hoofstuk van my seisoenlose pelgrimstog aandui, my eie boek styf teen die hart te kan druk, was deel van my menswees.
Vyf en veertig kersies later (op 'n koek) met my studies uiteindelik voltooi (in geradbraakte Engels op 'n vreemde eiland) was daar baie stof vir stories toe ek kreupel van verlange, grond toe gedwing word na die tweede emmigrasie.
Met manlief se aansporing sluit ek aan by 'n Afrikaanse webwerf en ontmoet mense wat my passie vir die ABC deel. Leer ek die vrypostige Aspoestertjie en haar bekkige oupa ken deur 'n geliefde skrywersmater, Naas. Word name huishoudelik soos juffrou Gawie, mevrou Varkie, fraaie Adele, die forumluis, Aurora, ons huidige forummoeder PM en natuurlik 'n paar dubbelgangers wat die gemoedere versuur het.
Saam kuier ons tussen kuber-erwe en in my element smul die uwe vroeg soggens aan 'n rondreisende woordontbyt. Vertroetel die eksotiese genot wanneer die tergende woorde rondgerol word van kies tot kies. Toonomkrulplesier wanneer die woordmandjie aan my arm gevul word met pikante griffels - padkos - wat met toestemming in 'n skuur bewaar was/is terwyl die skeppers rustig balke saag aan die anderkant van die aardbol.
Baie snorke later word 'n gesamentlike droom bewaar en spog ons verse knussies in twee krale vol glansblaaie op koffietafels. Tart verskeie gedigstrukture brawe digters en verskaf stories, fotos en kunswerke 'n vyfster-oogplesier.
Ons eie vyf boeke (hier in die buiteland saamgestel en gedruk) nooi boekwurms om te loer na verskuilde skatte wat blinkklippie tussen lyne glinster. Elke blaai getuig van vyfgetroue 'vingervrinde' wat 'n natgelekte potlood respekvol omhels het voordat die sleutelbord ritmies die geboortepyne aangekondig het van 'n droom.
Ten slotte: Tom Lanoye sê: " ʼn mens skryf ʼn boek in afsondering, dit word verkoop om in afsondering gelees te word", maar omdat hy wil help om die boek te verkoop, gaan hy soos ʼn rock band te werk. Gewapen met ’n CD (in sy geval ‘n voordragprogram gebaseer op die nuwe boek) toer hy en stel die skepping so bekend aan sy gehoor.
Die selferkende woordvraat wou nog altyd 'n voordrag-marathon aanpak êrens op 'n plein waar die mense vir 'n wyle kan gaan stilstaan en luister hoe tongkieswoorde, lettergrepig afgedruk word op jou gees en dan te peins oor geheime wat digters soms skugter bewaar tussen kreatiewe verse.