Personifikasie ('n vorm van beeldspraak) kan ingespan word om natuurverskysels/diere/plante of abstrakte voorwerpe, toe te dig met menslike eienskappe. Dit is een van die digter se geurigste kruie en speserye. 
Insomnia
Hekse in stergewaad
verrys vanuit gapende grotte 
slu swaai towerstokke onverpoosd
slaap verdwyn; sluip tussen donker skare 
van sekondes, minute, ure en sterf dag vir dag
in triomferende sirkelgang          nimmereindigend 
Asemdief
As ongenooide gas
het jy jouself stil-stil kom tuismaak
in hartskamers en longare is lewenskwaliteit verkrag 
sonder kaart of transport het jy terminaal teen (m)ure geverf
met organiese plundertog word elke asemteug geboeie agtergelaat
en in appèlhowe ontvang jou verslae slagoffers hul lewenslange vonnisse. 
Uitslag: (Ab)normale selle
Daglig -  slegs 'n tonnel 
na die duister van onsekerheid
en vrees - 'n serp, geweef 
met die laaste kleure van die son
wat wurg om menswees krom;
die maan - 'n sekel teen die hemel...
Rolbos tolbos
Winde uit vergange pluk verwoed 
aan snare van tolbos emosies
wat prikkend, steeks bly kleef 
teen menswees-heinings broos
waar onkruidgedagtes 
stekelrig opgehoop, vrede verlam
maar laatreën baar weer seën
en hoop ontkiem vlindersag uit die niet.
© Meraai vannie baai