Author Topic: 1 April 2018  (Read 3412 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
1 April 2018
« on: April 02, 2018, 10:41:37 AM »
‘n Lieflike goeie môre wens ek julle toe

Ek lees my vriendin, Sanna, se woorde ‘Spesiaal vir hierdie tyd’ en in hierdie alleen-vroegoggend-ure sit dit met my op loop … Ek kyk na die volmaan; het gisteraand op die stoep al gewens ek kon een hele nag net daarna kyk sonder om van moegheid om te val. Maar nou is dit nog mooier. Dit laat skadu’s langs die bome en die huis, so helder skyn dit hier op die vlakte.

Ek dink weer aan hierdie tyd. Wonder of dit daardie nag, ongeveer tweeduisend jaar gelede, dalk ook volmaan was. Dié Vrydag was dit sekerlik ‘n helder sonskyndag; die wolklose lug was so blou as kan kom. En toe die son op sy hoogste was, het dit donker geword … donker soos ‘n donker, maanlose nag. Niemand sou kon sê dat dit net onweer was nie.
‘Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn.’ (Lukas 23:44-45)

Dit moes skrikwekkende angs oor almal gebring het. Net hulle wat geweet het waaroor dit werklik gaan, het nie geskrik nie. Nee, die engele het reeds getreur, snikkend moes hulle die Koningskind se verskriklike pyn, sy liggaam se onmenslike lydingspyn aanskou. Het hulle mekaar vasgegryp, mekaar in rou probeer ondersteun, saam in groepies gesit en bid, hul hande voor hul monde gedruk om nie angstig uit te roep ‘stop dit!’ nie … of hul vlerke oor hulle gevou om hul oë te kon toemaak?

Maar die ergste moes nog kom! Sy Vader het van Hom af weggedraai! Het die engele kon glo dat God dit werklik gedoen het? Sy Seun in die stikdonker duisternis alleen gelaat? Hulle het geweet dit sou kom, maar hulle trane en snikke het seker die ewige ruimte in weerklink.

Maar toe kom die spesiale tyd! Daardie minute na middernag in die derde dag. Jesus het opgestaan! Die ure wat ons nou omgeslaap het, is met vreugde en heerlikheid deur daardie selfde engele omhels. Hy het die dood oorwin! Die massas sonde wat Hy aan die kruis op Hom geneem het, het Hy afgegooi en vernietig. En rein en wit soos sneeu, het Hy sy Vader gegroet; vir die engele gewaai en in heerlikheid sy hande opgelig om hulle te seën. Ek wonder weer of dit toe volmaan was?

En toe het Hy van die engele aarde toe gestuur om die vroue by die graf in te wag; die sware grafsteen weg te rol. Ja, hulle het nie nodig gehad om daardie klip weg te rol sodat Jesus kon uitgaan nie, maar moes dit doen net voor die mense daar aangekom het sodat hulle die leegheid daarbinne kon ervaar. Hulle moes baie spesiaal gevoel het. Dink net, die voorreg om aan daardie vroue te kon vertel dat Jesus nie meer daarbinne was nie. Hoe spesiaal lekker moes dit nie gewees het nie. En toe het een engel hulle gestuur om dit aan die dissipels, veral vir Petrus, te gaan vertel. Ai, wat ‘n heerlike gedagte op hierdie vroeë Sondagoggend!
‘Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe.’ (Markus 16:7)

Here, vul ons ook vandag met daardie engelvreugde. Vou ons toe in ‘n karos geweef met U liefde wat nooit ophou nie. Amen, amen Here.
adéle  :grommit: