Raaitjie .... ek sit en huil, huil, my hart breek vir haar, vir julle. Ek wil so graag my gevoelens met jul deel, my ondervindinge, maar ander wat hier lees gaan dit as negatief beskou. So een en ander, soos wat PM hier onder gesê het ... "Nee ek dink nie ander het die REG om vir haar voor te skryf nie, maar ek verstaan hoe hulle voel. Hulle liefde vir haar skryf vir hulle voor."
Nee, lief julle, dis nie hul liefde vir haar nie. Dis die sleg van ons lewe vandag, vandat sielkundiges begin het om die wêreld te oorheers, moet alles en almal mos positief wees, die meeste sg vriende vertel so gou dat as jy nie positief deur die hel van chemo gaan nie, jou geloof in God te swak is.
Snert!!!.
Liefste Raaitjie, toe my kinders se pa gediagnoseer is, was sy kanker al baie ver versprei en die wonderlike dokter wat ek glo deur God gestuur is, het later by ons in die kamer ingekom, die deur toegemaak en min of meer die volgende gesê:
""Riaan, jy gaan hiervandaan na die kankerafdeling gestuur word, dis die prosedure. (Hy was toe in die Universitas hospitaal.) Daar gaan hulle vir jou oorreed om chemo te kry, want so en sus en watookal die roetine en plig van die geneeshere daar. Maar ek wil net vir jou sê, as dit ek was, sou ek gesê het dankie, maar nee dankie. Gun my eerder 'n korter tyd, goeie kwaliteittyd saam met my geliefdes, as om 'n jaar of twee langer te leef met die nadele van chemo en die pyn wat dan aan die einde gaan wag.""
wel, Riaan het een sessie chemo deurgegaan, die dokters se verslae weer gelees en baie uitgevra, en verder chemo geweier. Hy was tot op die einde, vyf maande later, wel baie siek en net vel-en-been, maar by sy positiewe en gerus en gemaklik. Ons het hom nooit verwyt nie, nooit probeer oorreed om aan te gaan met chemo nie, maar het wel baie oor die dood en Jesus gesels, oor my en die kinders wat agterbly, ag sommer alles. Ons kon sy dood verwerk o.a. in die sin dat hy geweet het ons gaan oukei wees en ons kon weet waarheen hy gaan. Hy was 52 jr.
Oor Eben se kanker was dinge bietjie anders, want daar het ek te doen gekry met mense wat weer soos profete op 'n miershoop gestaan en 'positief' roep het. Hy is weg sonder dat ons ordentlik oor die dood en hiernamaals en ons wat agterbly, kon gesels. iets waaroor ek vandag nog huil.