Author Topic: ‘n Ongewone reis  (Read 1749 times)

0 Members and 3 Guests are viewing this topic.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
‘n Ongewone reis
« on: November 03, 2016, 12:21:33 AM »
'n Kalahari-sonsondergang het nog altyd vir Mischa ‘n spesiale bekoring ingehou.

Attiesvlakte se stasie staan verlate, vergete. Die wind en die rolbosse speel aan-aan oor die stoep van die vernielde gebou voordat die bosse in deurlose vertrekke verdwyn. En die wind huilend om die hoeke sny op soek na sy maats.

Mischa hou haar sandale in haar een hand vas terwyl sy op een van die ysterspore loop. Haar ouerhuis langs die stasiegebou loer nou brilloos en haasbek na haar.

Die winkel aan die oorkant van die groot pad wat na Namibië lei is ook nie verwaarlosing gespaar nie. ‘n Paar treë verder in die rigting van Koppieslaagte staan die eens trotse woning van haar grootouers.

‘n Yl rokie trek tydsaam uit die kombuis se skoorsteen. So hier is tog plaasbewoners. Aan wie sou die plaas nou behoort? Dit is al twintig jaar na oupa Zoon se dood. Ouma Annie het nie die geleentheid laat verbygaan toe die staat Attiesvlakte wou koop nie.

Mischa hoor weer die troepetrein fluit. Sien in haar geestesoog hoe die troepe by die treinvensters uithang en ritmies teen die romp van die trein slaan. Hul skel fluite weerklink soos van ouds in haar ore wanneer hulle iemand buite sien beweeg het.
 
“Tannie jou dogter is pragtig! Kyk mooi na haar tot ons terug kom!” het hulle stuitig uitgeroep.
 
Glimlaggend onthou sy haar ma se verergdheid oor die mannetjies se ongepoetsheid.

Hulle was kinders wat op pad was na ‘n onseker toekoms. Aangevuur deur hul patriotisme – vir volk, vir vaderland is hulle tydens die skole se Weerbaarheidsperiodes opgesweep.

Mischa sug. Nou vlug sy weg van die misdaad wat hierdie mooi land so oormeester het. Sal sy werklik ‘n beter lewe daar bo in Zambië hê? ‘n Beweging by die ou huis vang haar oog. Dit laat haar onveilig voel.

Die son het gesak en verkleur die kim in sagte pienk en blou. Sy het verder geloop as wat sy wou. Dit is tyd om om te draai, stasie toe na waar haar motor staan.

By haar motor gekom, huiwer sy ‘n oomblik. Sy wil hierdie oomblik van vrede, vryheid net nog ‘n bietjie langer uitrek. Mischa steek haar arms in die lug. Trek vir oulaas haar longe vol met varslug.

Sjoe, dit word nou skielik kookend warm. Vreemd. Gelukkig het die Vivo darem ‘n lugreëlaar. Wat sou so knetter en druisend fluit? Dit voel vir haar of al die lug uit haar longe gesuig word. Die aarde grom en skud onder haar voete. Mischa maak haar oë oop, kyk op. Haar blik verstar. ‘n Vuurbal is besig om al nader en nader na die aarde te beweeg. Die son is besig om te val!

Sy hoor nie die slag nie. Sien nie die smeltende rotsvorming van onder die rooi Kalaharisand uit druk en na ‘n rukkie stol in rimpelings wat oor die vlakte strek vir kilometers aanmekaar nie. Ook die stof wat oor die veld soos ‘n tsnumai brander, aangejaag deur stormsterk wind na haar aan kom gaan haar genadiglik verby.

Dit is ‘n bevrydende gevoel toe die aarde onder haar verby skuif wyl sy hoër en hoër tot bokant die sysagte wolke uitstyg.

Teen duiseling wekkende spoed flits Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Malawi, onder haar verby. Die Seychelle is net stippels in die Atlantiese oseaan. Oor die branders van die Arabiese see gly sy saam met die wind. Trek sy met haar vingers wit sproei-strepe op die see-oppervlak.

Haar voete raak vir die eerste keer grond toe sy op harde-ys bo-op die Himalayas se hoogste kruin staan. Hoe op aarde kan sy hier staan waar die temperatuur ver onder vriespunt is en sy nie koud kry nie? Sy wonder egter nie te veel nie. Die skoonheid van die landskap betower haar egter. Dit voel asof sy die aarde se verste, verste anderkant kan sien.

Meteens hoor Mischa weer die troepetrein fluit, die ritmiese slaan van hande teen die sykant van die trein. Sy kyk op. Balle vuur skeur deur die hemelruim. Sommige bots teen mekaar, ontplof soos die vuurwerkvertonings met Nuwejaarsvieringe oor Syndey hawe.

In ongeloof besef sy die Derde Wêreld Oorlog het begin. Amerika en Rusland het oorlog teen mekaar verklaar.
Dit is hulle wat mekaar bombardeer. Kan dit waar wees? Sy moet van hierdie berg af kom, maar hoe? Mischa kyk hulpeloos om haar rond.

Net toe vou die wind sy arms sag om haar. Skep haar in sy sterk arms op en dra haar terug suide toe. Sy hare golf wolksag agter hulle aan.

“Ek sal jou na veiligheid neem. Jy moes net eers hierdie gebeure sien.” belowe hy. Sy asem koesterend, warm in haar nek.
“Ek is nie bang nie.” jok sy blosend.

Dalk is die koue lug op K2 wat haar wange verkleur, wie sal nou weet? Mischa nestel haar net dieper in die wind se arms. ‘n Ongekende rustigheid en tevredenheid vul haar persoon waar sy met haar kop styf teen sy bors lê en die hartklop van die heelal in haar oor weerklink.

Suid, al meer suid dra die wind haar in veiligheid. Van ver af kan sy die Auroras in die hemelkring bokant Antartika sien speel.

 ‘n Skip beur sy pad oop tussen die drywende ys op pad na sy Arktiese bestemming. Mischa hoor hoe die ys skuur en beur teen die skip se boeg.

“Is dit die SS Aghulas?” sy leuen effens vooroor om te kan sien.

“Ja die SS Aghulas II,” fluister die wind in haar oor.

“Is daar net wetenskaplikes aanboord?” Sy sukkel om haar nuuskierigheid te onderdruk.

“Onder andere,” die wind is geheimsinnig.
 
Op die rand van Antartika sit hy Mischa saggies op ‘n gletser neer.

“Kom,” hy trek haar agter hom in by een van die gletserskeure. Dit lei na ‘n grot groter as die Sistynese kapel.Uit sy dak drup stalagtiete. Die grot se wande vertoon plek-plek soos ‘n spieël maar meestal is dit die kleur van die ysige-blou Suidelike Oseaan.
“Trek aan,” die wind bied Mischa ‘n wit en swart duikpak aan.
 
“’n Duikpak? Dit lyk dan soos ‘n pikkewyn-kostuum. Wat is die doel hiervan?”

“Dit lyk net so. Kyk wat gebeur as jy aan die snawel trek.” Hy draai haar na ‘n plek teen die grot se wand wat haar beeld weerkaats.

“Sien. Dit maak jou onsigbaar vir mens en dier.”

“Kom ons moet na die landingsplek gaan. Die Aghulas is al ‘n geruime tyd in die veilige sone,” por hy Mischa aan.

Hy lei haar na Hughes Baai. So ver soos hul loop jaag die wind slierte sneeu op. Jaag dit voor hulle uit in ‘n yskoue poeierwolk. Die kleiner bote wat die nuwe wetenskaplikes en die vrag van die Aghulas gaan haal het, is besig om die vrag vlekvryestaalkiste op slee’s wat deur sneeumobiele getrek word, te laai.

Die wind tel haar op een van die slee’s wat klaar gelaai is. Nie lank nie of die slee beweeg in die rigting van een van die weerstasies op Antartika.

“Waarheen gaan hulle met ons?” Angs duidelik hoorbaar in Mischa se stem.

“Bughatti Weerstasie.”

By die weerstasie aangekom glip Mischa saam met die wind by Bughatti stasie se deur in toe die personeel dit oopmaak en in stap. Sy verstom haar aan die binnekant van die weerstasie.Daar is ‘n radiokamer, ontspanningslokaal en slaapkwartiere. Dit lyk soos haar twee broers se woonstel. Vuil borde en bekers staan die wêreld vol. Klere hang oor stoele en deure of lê in hopies op die vloer.

Aan die verste punt van die gang is daar ‘n kamer met ‘n GEEN TOEGANG bordjie op die deur geplak. Mischa en die wind sluip agter die personeel aan tot in die verbode vertrek waar die kiste op vervoerbande geplaas word. Die vervoerband verdwyn met sy vrag deur ‘n opening in die oorkanste muur.

Wanneer die laaste kis deur die opening verdwyn en die personeel die vertrek verlaat neem die wind haar aan die hand. Saam glip hulle na die trappe wat afspiraal na ‘n netwerk tonnels onder die ys.
Mischa en die wind bevind hulle in ‘n doolhof van nou gange wat al dieper en dieper in die maag van die Suidpool afkronkel.

Om een van die draaie eindig die gang waarin hulle hul bevind in ‘n enorme saal. Die dak van die saal rus op vier enorme dik pilare. Twee van die pilare is van groenmarmer en die ander twee van geelmarmer. Die vloer is afwisselend uitgelê met ligtegrys- en donkergrys marmerblokke. In die middel van die saal is daar ‘n oorgrote standbeeld van Michael Angelo se Madonna van Brugge, soos die wit koninging op ‘n skaakbord wat verseker is van haar belangrikheid.

Links van die standbeeld is glasdeure met goue handvatsels van ‘n medium grootte tempel. ‘n Biskop in goud en purper geklee is besig om die Mis te bedien aan ‘n aantal mense. Almal is in wat soos swart lycra pakke geklee. Bo-oor dra hulle swart mantels wat versier is met verskillende sterrestelsels in silwerdraad. 

Dit blyk asof die altaar uit soliede goud gegiet is. Soveel goud in een vertrek het Mischa nog nooit in haar lewe gesien nie.

Vanuit die hoofsaal vloei kleiner tempels. Daar is tempels vir Anu, Diana, Nerthus, Venus van Dolni, asook Our Lady Fatima en die Boediste se Kariteimo standbeeld. Elke standbeeld staan in ‘n nis met ‘n vergulde altaar voor die beeld.

Die tempel se glasdeure gly geluidloos oop. Van die gemeentelede kom in die saal bymekaar waar hul gesels. Hoewel niemand se lippe roer nie, is almal in een of ander gesprek besig.Dit is vir Mischa dat sy hulle gesprekke kan volg. Nog vreemder vir haar is dat sy elke woord van die vreemde tale wat hierdie mense praat, verstaan.

Een na die ander stoot hulle hul mantels se kappies na agter. Mischa is sprakeloos toe sy sien dat ieder en elk van die mense, man of vrou blonde hare en staalblou oë het. Hulle vel vertoon porseleinagtig en papierdun.

Daar is geen verskil tussen hierdie mense se gelaatstreke nie. Almal lyk asof die hulle van ‘n standaard tipe gekloon is.

Wanneer die mense die trappe bogronds bestyg, volg Mischa en die wind hulle. In elke gang draai ‘n klein groepie van die mense af en verdwyn deur swaar deure wat agter hulle toeskuif. Twee wagte in purper uniforms met glimmende swaarde met opaal handgreep langs hul sye neem voor die toedeure stelling in.

Die heel laaste groepie verlaat die weerstasie. In ‘n dwaal volg Mischa die res van die mense. Die wind waai nou sterker en vee die sneeu geniepsig teen Mischa se gesig vas.
Verbete klou sy aan die veiligheidstou wat tussen die hoofgebou en ‘n klein iglo gespan is. Een van die ysbloke by die ingang na die iglo skuif weg toe iemand daarteen druk. Deur die opening van die deur sien Mischa dat daar weer trappe is wat afdaal. Sy hoef nie lank te wonder wat om hier te verwag nie.

Aan die einde van die stelle trappe is daar ‘n groot laboratorium. Groter as die saal met die onderskeie tempels waar hulle eers was. Die vertrek lyk soos ‘n biblioteek van binne. Al verskil is daar is geen rakke met boeke is nie maar yskaste.

Ry op ry staan die yskaste wat strek van die dak tot op die vloer. Die yskaste is gekoppel aan pype wat deur die mure en bo teen die dak af loop tot in ‘n ander vertrek.

In die middel van die vertrek is daar ‘n platvorm waarop die staalkiste wat Mischa en die wind in Hughes Baai gesien het, gestapel is. Naby dit sit ‘n ou man met lang grys hare wat tot op die vloer reik. Sy baard hang tot op sy knieë. Hy is besig om aantekeninge te maak van elke kis en die inhoud daarvan.

Mischa loop suutjies na die platvorm om te lees wat op die kiste se etikette geskryf staan. Die kiste is alfabeties gestapel. Verskrik skuil sy agter een van die kiste toe sy voetstappe agter haar hoor. Sy het vergeet dat die duikpak haar onsigbaar maak.

Een van die mans maak ‘n kis oop. Hy haal ‘n silinder uit die kis. Op die silinder kan Mischa die naam op die silinder lees – Troglodytes Gorilla. Hy gaan plaas die houer in een van die yskaste. Hulle moet in ‘n kriogeniese laboratorium wees. Hieride is soos Noag van ouds se Ark. Hier word elke mens, dier , vis, voël en reptiel se DNA gestoor. Die mensdom is besig om homself uit te wis, die aarde te vernietig daarom word alle mense en diere, visse en reptiele se DNA hier gestoor.

Meteens pluk die wind haar aan die arm en sleep haar by die laboratorium uit.

“Kom!” praat hy oor sy skouer met haar. “Jy gaan die trein mis.”

“Watter trein? Waarheen gaan ek?” Mischa is nie bewus daarvan dat sy op ‘n trein moes gaan nie. Maar nou ja, die wind is in beheer van haar hier en nou. En as sy eerlik moet wees, sy verkies dit so.

Net betyds besorg hy haar op Kaapstad stasie. Die Transkaroo gee te kenne dat hy wil vertrek.
Hulle haas hulle verby die kaartjieskantoor.

“Wag! Moet ek nie ‘n kaartjie koop nie?” Sy rem aan die wind en soek na haar handsak om haar beursie te kry. Besef dan dat sy iewers op haar reis haar handsak verloor het.

Die kaartjieverkoper gooi iets na haar en skree: “Hier! Vang! Dis jou kaartjie.”

Instinktief skiet Mischa se hand uit na die voorswerp wat in haar rigting gegooi word en vang sy dit soos die kranige netbalspeelster wat sy is.

“Wag! Wag vir my!” roep sy uitasem.
Net betyds bereik sy die trein voor die kondukteur die deur toesluit. Sy druk die kaartjie in die kondukteur se hand. Sien dan eers dat haar kaartjie al die tyd ‘n turksvy is wat vir haar gegooi is.

“Jy is net betyds Juffrou. Hmm ... jou kaartjie sê jy reis eersteklas. Volg my.”
Fluit-fluit stap die kondukteur voor haar uit.

Mischa sak op die bank in die weelderige kajuit neer. Melankolie oorval haar meteens. Sy soek op die perron na die wind. Mischa hoef nie lank te wag nie. Hy ruk en pluk aan haar kajuit se vensterraam. Glimlag vir haar voor hy oor die perron die stasiegebou met ‘n vlagie reën in verdwyn.

‘n Laaste keer fluit die trein voor die trein rukkerig in beweging kom. Toe die trein goed op spoed is ruk die trein meteens; Mischa sien ‘n yslike wit vlerk langs haar wa verskyn. Sy hardloop uit in die gang en kyk deur die venster. Ja waarlik, hierdie kant is daar ook ‘n tamaaie vlerk. Strompelend probeer sy haar balans behou toe sy terug beweeg na haar kajuit. Die trein is werklikwaar besig om op te styg.

Plotseling verdwyn die trein se dak. Hulle reis nou deur die Melkwegstelsel. Mischa verstom haar skoonheid van die Melkweg. Sy steek haar arms in die lug. Probeer haar bes om elk ster aan te raak. Die trein gly geluidloos deur die sterrestelsels tot dit tot stilstand ruk diep in die ingang van die Pleiades.

“Wow!” Sy kan nie help om die geykte cliché van bewondering te uiter ten aanskoue van soveel skoonheid nie.
Elke paar sekondes glip ‘n nuutgebore ster in sy veelkleurige glorie by haar verby die Melkweg in.
“Welkom by die geboorteplek van die sterre Mischa Louw,” kraak ‘n ou stem in haar ore.
“H ... hallo,” stamel sy.

Dit is die ou man wat in Antartika in die kriogeniese laboratoruim by die tafel sit en werk het wat haar groet. Hoe sou hy haar naam ken?

“Ek is die Oue van Dae,” stel hy hom aan haar voor.

Doodluiters sit hy by sy lessenaar voor ‘n venster wat uitkyk oor die aarde en die res van die heelal. Op die lessenaar is ‘n aantal boksies wat verskillende kleure poeierstof bevat.

Hy vou sy hande bak, blaas in sy hande waarna ‘n skitterende deurskynende bal verskyn wat hy rol en vorm na sy wil. Af en toe kies hy een of meer van die kleure poeierstof, gooi ‘n knypie van die een kleur of twee knypies van ‘n ander tot hul self vermeng en die wonderlikste kleurpalet verskyn in die onstuimigheid van elke ster.

Wanneer hy klaar is met sy handewerk kyk hy daarna vanuit elke hoek en kant. Indien hy tevrede is knik hy sy kop goedkeurend, en gooi die ster deur die poort van die Pleiades, die heelal in.

“Hoe weet die ster waar hy tot stilstand moet kom?”

“Hy weet. Hy gaan waar ek hom wíl. Daar sal hy aan die hemelwand hang ”

“Dit is ongelooflik mooi hier by u. Ek wil graag hier bly. Mag ek?” Mischa se oë weerspieël haar begeerte.

Die vrede en liefde wat sy in die Oue van Dae se teenwoordigheid hier in die Pleiades ervaar is gerustellend, tasbaar. Hoe lank al begeer sy die warmte van soveel vrede, veiligheid en onmeetlike liefde nie.

“Juffrou! Juffrou Louw! Kan jy my hoor?” Dit klink of die persoon oor ‘n ver afstand na haar roep.

Mischa voel lui-lomerig en is nie lus om die persoon wat haar steur te antwoord nie. Sy wil nog bietjie by die Oue van Dae vertoef, vir ewig bly as sy kan.

“Juffrou Louw! Dokter sy toon nog geen reaksie nie,” die ver-af stem klink baie bekommerd.

Dokter? Watter dokter? Mischa skrik uit haar lomerige toestand wakker, knip haar oë. Sjoe! Maar die sonlig is fel.

“Eina verdeksels,” uiter sy as ‘n verblindende hoofpyn haar vinniger teen die kussings terugdruk as wat sy kon regop kom.

“Hoe? Waar is ek?”

“Jy is in die Joe Matanzima Hospitaal, Luutjesbaai,” antwoord ‘n vriendelike mansstem.

“’n Metoriet het naby Attiesvlakte geval. Die rand van die krater is ‘n paar kilometer van die stasie. Die paramedici het jou in ‘n bewustelose toestand tussen die ruïens van die winkel en die plaashuis gevind. Die trefslag van die meteoriet moes jou etlike meters ver geslinger,” verduidelik die dokter simpatiek.

“Jy moenie te haastig wees om op te staan nie. Jou liggaam is nog erg gekneus. Jy het lig daarvan afgekom. Behalwe vir die kneusings is net jou linker femur gebreek. Dit was ‘n lelike breuk. Ons moes ‘n pen insit om dit weer te heg. Jou motor het slegter as jy daarvan afgekom,” skerts die dokter.
 
“Hoe lank is ek al in die hospitaal?”

 “Vandag is jou derde dag hier by ons.”

Die verpleegster plaas haar hand vertroostend op Mischa se arm.

“My ouers. Weet hulle al?” Haar ouers moet al rasend van bekommernis wees.

“Ja Nooi, hulle is dadelik in kennis gestel toe die polisie jou selfoon in jou motor gekry het. Hulle is hier buite in die gang. het net gewag dat jy wakker word,” verseker die verpleegster moederlik.“Ek roep hulle gou.”

Met gemengde gevoelens wag Mischa op haar ouers. Teleurgesteld dat sy haar nie meer in die Pleiades by die Oue van Dae bevind nie, maar terselfdertyd is sy ook bly sy lewe nog en dat haar ouers hartseer gespaar is.


©Orange Blue




« Last Edit: November 05, 2016, 09:47:41 PM by Marinda Kemp »
Upington is nie vir sissies nie.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10693
  • Gender: Female
Re: ‘n Ongewone reis
« Reply #1 on: December 04, 2016, 04:54:53 AM »
Dit was 'n heerlike reis saam met jou.  Dankie vir die deel matertjie.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Re: ‘n Ongewone reis
« Reply #2 on: December 06, 2016, 12:37:44 AM »
Dankie vir jou kom kuier hier.  :love7: Ek was skepties oor die verhaal, maar dis toe gekies deur Kreativ vir publikasie. Nou swoeg ek deur die volgende verhaal. As ek nie weer hier kom draai nie geseende kersfees
Upington is nie vir sissies nie.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10693
  • Gender: Female
Re: ‘n Ongewone reis
« Reply #3 on: December 10, 2016, 05:44:40 AM »
Hoop jou vakansietydjie sal heerlik wees.  Kom deel asseblief die volgende verhaal wanneer jy klaar is daarmee.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Re: ‘n Ongewone reis
« Reply #4 on: December 11, 2016, 04:51:19 AM »
 :love7: Geseende kersfees en voorspoedige nuwejaar vir almal. Sal my verhaal kom deel :love7:
Upington is nie vir sissies nie.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10693
  • Gender: Female
Re: ‘n Ongewone reis
« Reply #5 on: December 11, 2016, 07:56:42 AM »
Dankie matertjie.
Om te weet is om te verstaan.