Ek is nie sportmal nie en steur my gewoonlik nie aan enige opgewondenheid oor sport nie. En om ons SkepperHeer te bedank vir enige medaljes wat “ons land” wen, maak nie vir my sin nie, maar dis net my persoonlike gevoel. Elke speler en atleet en ondersteuner is mos geregtig op hul eie mening oor hul opgewondenheid en/ of teleurstelling.
Vanoggend egter, het iets my oog gevang en ek het daaroor gewonder. Die berig handel oor Wayde van Niekerk se uitstekende, maar gemaklike, vertoning. Ook dat hy in die “slegste” baan moes hardloop. Onkundig het ek gewonder hoekom daar 'n ‘slegste’ baan is, en in die kommentare onderaan die berig, het iemand anders daarna gevra. Die antwoord het my getref: omdat die atleet dan nie die ander atlete kan sien nie.
En daar het ons die antwoord vir sy uitstekende vertoning!
Dit het my teruggeggooi na ons geloof. Ek hoor gereeld dat iemand sê sy/haar geloof is nie so ‘groot’ of ‘sterk’ of ‘diep’ soos 'n ander s'n nie. Dan wonder ek hoekom vergelyk mense hul geloof met die van ander. Dis verkeerd. Ons moet elkeen in onsself glo in die Verlossing wat Christus vir ons gee; glo dat Hy hier was, gekruisig is en weer opgestaan het en so die dood oorwin en daardeur ons sonde op Hom geneem het, maar dit oorwin het sodat ons vrygespreek kan word. Daarmee bedoel ek nie ons moet soos kluisenaars in geloof lewe nie, maar net onthou dat jou geloof van jouself afhang, nie van hoe jy dit teen die mense om jou meet nie. Ons het wel nodig om mekaar te dra en te help om van versoekings af weg te bly.
Hardloop jou wedloop in die geloof vir jouself, nie in kompetisie teen enige iemand anders nie!