Author Topic: Tyd vir 'n storie ....  (Read 8048 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Tyd vir 'n storie ....
« on: April 07, 2016, 05:57:00 PM »
Dit was toe só

1.Maria het teruggekom

         “Koffie?”

          So nooi Maria hom binne. In die sitkamer beduie sy met haar hand dat hy moet gaan sit en stap kombuis toe. Sy gooi die beker se water oor in die ketel toe hy agter haar kom staan. Sy vergeet om die ketel aan te skakel.

          “Mariet?”

          “Mmmm?”

           Valdimar draai haar om en trek haar teen hom vas, maar sy druk haar hande vinnig teen sy bors. Hy laat hom egter nie daardeur afsit nie.

           “Mariet, hoeveel keer was ek nou al hier?”

           “Vier keer.”

           “Mag ek jou nou die vyfde keer vashou? Maria, ek moet met jou praat.”

           Haar arms gaan om sy bors, maar haar gedagtes worstel met haar hart. ‘Net hierdie één keer, Here, asseblief. Hierdie paar sekondes vir die jare se verlange wat agter lê en die hunkering wat voorlê.’ Wanneer hulle oë ontmoet, soen hy haar. Sy haal skaars asem. Hy laat gly sy tong stadig oor haar lippe en dwing hulle oop. Hulle smelt saam in ’n omhelsing wat haar uit haar sinne uit laat duisel.

           Valdimar kan dit skaars glo. Soveel jare het hy na hierdie meisie, nou volkome vrou, verlang. Sedert hulle tienerjare het hy na haar bly soek, maar sy het net weggeraak. En sowat vier maande gelede het sy teruggekeer na hierdie tuisdorp van hulle en in haar ouma se erfhuis ingetrek.
 
          Dié dag toe hy haar langs die poskantoor gesien het, sal hy ook nie vergeet nie; net soos daardie laaste dag wat hy haar hand vasgehou het toe sy maar vyftien jaar oud was. Hy was amper klaar met sy matriekeksamen, maar toe hy haar ná die laaste vraestel gaan opsoek het, moes hy hoor sy en haar pa het oornag weggetrek. Hy was dwalend, maar toe die universiteit begin het, moes hy hom regruk. Met sy goeie verstand, kon hy sy studies en sy sosiale lewe in die hoogste rat hou, maar aan liefde het hy hom nie gesteur nie.

           Tog moes hy later dink aan trou. Die plaas was al van sý oupa se oupa se leeftyd in hulle familie en hy wou dit nie verloor nie; en sy oupa se testament sou dit laat gebeur. Valdimar het hard gewerk aan sy verhouding met Saskia en hulle tweelingdogters se geboorte was die kersie daarop. Hy wou die tyd rustig afwag vir ’n seun, maar Saskia was glad nie daarvoor te vinde nie. Sy toekomsdrome en standvastigheid het stadigaan begin verkrummel.

            Maria kom tot haar sinne toe Valdimar sy kop oplig en diep in haar groot bruin oë na haar hartsgedagtes soek. Sy hande streel nog intens oor haar rug en heupe, maar sy glip onderdeur sy arm uit sy omhelsing uit. Verbaas volg hy haar stoep toe.

           “Valdimar, ek is vreeslik jammer. Verskoon my hierdie oomblikke se hartstog en verstaan tog dit beteken niks méér as dit nie.”

            “Mariet, moenie vir my jok nie. Jy weet so goed soos ek …”

           “Ek weet niks, behalwe dat hierdie ’n fout was.”

           “Dit is geen fout nie, Maria.” Sy diep basstem gooi amper haar voornemens omver. “Ek het jou lief soos wat ek nou weet jy my ook lief het. Meisielief, hoekom het julle daardie tyd getrek? Wat het gebeur?”

           "Jý vra mý? Sorrie, Valdi, sal jy nou asseblief gaan? En ek dink dis beter as jy nooit weer terugkom nie.”

           Sy kom nie eers agter dat sy hom op haar geliefde troetelnaam vir hom noem nie, maar loop na haar kamer en maak die deur beslis agter haar toe. ’n Paar minute later sien sy hom deur die kantgordyn wegry. Dan val sy op haar bed neer, terwyl haar sorgvuldig-gelapte hart weer in stukke skeur. Eers na donker staan sy op, spoel haar moeggehuilde oë met koue water af en gaan skink vir haar warm tee. Daarmee saam drink sy twee pynpille en worstel deur die nag.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #1 on: April 10, 2016, 09:56:47 AM »
En nou probeer ek los drade knoop om die geheelbeeld te sien. Kom daar nog matertjie?

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #2 on: April 10, 2016, 12:22:29 PM »
Ek sal so doen, as julle graag wil lees ...  :toothy4: 
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #3 on: April 10, 2016, 12:25:37 PM »
Dit was toe só

2.Maria verloën haarself

     Haar kleutermusiekgroepie is op hulle stukke en mettertyd skuif Maria haar eie hartseer op die agtergrond. Laatmiddag roep ’n klop haar na haar nederige voordeur toe.

     “Anneke! Waar val jy uit?”

     “Ek kôvannie plaas af vriendin, Janneman moes iets by jul koperasie kom kry wattie daarop ons dooie dorp in voorraad issie.”

     Maria lag.

     “Stadiger praat Anneke,” lag Maria. “Maar kom in en drink iets kouds saam met my.”

     “Net vinnig Janneman kômy netnou al oplaai.”

     “Toemaar, hy sal maar net ’n halfuur moet saamkuier. Ek het ’n uur tyd voor my volgende leerling opdaag.”

     “Ai Maria, dis sô wonnerlik om jou weer te sien hoe ganit regtig met jou, het jy allie mense om jou ontmoet en iewers ingeskakel?”

     “Stadig, Anneke. Ek kan nie alles tegelyk antwoord nie. Maar nee, ek het nog min mense raakgeloop wat ek as kind geken het.”

     “En Valdimar?”

     “Wat van Valdimar?”

     “Hêjy hom al gesien? Jy weet toe julle darie tyd sôvinnig van ons plaasaf weg is was hy woedend en ek het allie jare nog geweet hy soek na jou.”

      “Huh, waar kom jy daaraan?  Is dit hoekom jy wou hê ek moes terugkom? Klink mos nou vir my die musieklesse was bysaak? Anneke, ek stel nie in jou broer belang nie. Ek moes iewers nesskrop want jy weet hoe erg my been gebreek was. Ek sal nooit weer kan dans nie.”

     Anneke hou haar hande omhoog. Al die jare het hulle vriendinne gebly, maar sy het geweet as sy iets aan Valdimar laat deurskemer, Maria hulle vriendskap heeltemal sou verbreek en nooit weer terugkom nie. Maar hoekom haat Maria hom so? Sy kon dit nooit uitvind nie.

     “Nee dis nie sônie en hy moet nooit weet ons het nô-altyd kontak nie, hy sal my nooit vergefie.”


     “Jy is reg, Anneke. Maar jy hoef jou nie daaroor te kommer nie. Ons sal mekaar beslis nie baie sien nie. Maar komaan, vertel. Is daar weer ’n bondeltjie vir julle op pad?”

     Dankbaar verander Maria die gesprekstrant voor sy laat deurskemer dat sy weet van Valdimar se eskapades en die meisies wat tou gestaan het om net deur hom raakgesien te word. Oom Karel het altyd gesorg dat hulle dit te hore kom.

     “Jip en ek is nou al amper sesmaande al lykit nie sônie en dis ’n dogtertjie met pikswart hare en als lyk goed.” Sy haal diep asem. “Mag ons Hemelse Vader gee dat sy vir ons gaan bly lewe en nie ook …”

     “O nee, geen trane nie. Ontsteltenis gaan nie nou goed wees nie. Die natuur werk self teen iets wat nie reg is nie en waarskynlik was dit die vorige kere die geval. Maar nou gaan jy positief glo in Sy genade, hoor jy my?”

     Maria gee vir haar ’n snesie aan en vou dan haar arms om haar. Sy hou Anneke vas tot die bewing in haar lyf bedaar. Toe haar man daar aankom, is sy weer haar ou self.

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #4 on: April 10, 2016, 11:03:52 PM »
Ek geniet in oorgawe. Hoop daar kom nog hoofstukke  :notworthy: :icon_salut:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #5 on: April 11, 2016, 05:39:20 AM »
dankie Raaitjie, ek griffel en skaaf en skuur ...
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #6 on: April 19, 2016, 11:18:30 AM »
Dankie vir die deel Adele.  Pragtig geskryf soos gewoonlik.  Is daar nog?
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #7 on: April 19, 2016, 12:02:23 PM »
Dit was toe só

3.Maria verstaan nie

’n Paar weke later stap Maria die oggend dorpsbiblioteek toe. Nadat sy haar boeke teruggeteken het, gaan sit sy in ‘n leunstoel om haar been te laat rus. Sy besef nou hoe min oefening sy inkry en ken die nadele daarvan. Haar been raak swakker en pyn meer. In die stilte tussen die boeke hoor sy ’n vrouestem iets vra.

“Het jy onlangs weer van Saskia gehoor?”

“Nie ’n woord nie. Dis asof Europa haar ingesluk het. Ek glo nie sy gaan ooit weer terugkom nie,” antwoord ’n ander stem ook sag.

“Ek sal nooit verstaan hoe ’n ma haar kinders kan los nie, al loop sy weg met ’n ander man. En dis nie asof hulle probleme gehad het nie want Valdimar het haar alles gegee waarvan ons net kan droom. Selfs haar vryheid toe sy daarop aangedring het.”

“Als behalwe liefde,” antwoord die ander weer sagter. ”Almal weet dat Saskia oom Karel se keuse was. En al het Valdimar haar met baie omgee behandel, was sy nooit op die plaas gelukkig nie. Hoeveel keer het sy nie stad toe geflenter nie; vir twee of drie weke aaneen. En die tweeling moes altyd tuisbly.”

“Sy het eenkeer gesê Valdimar weier dat sy die kinders saamvat omdat sy in elk geval elke aand rondrinkink. As jy my vra, was sy maar te bly daarvoor. En later was hulle in die skool.”

“Ja, arme man. Die ongeluk was nog altyd los oor daardie plaas se mense. Eers het Anneke-hulle so te sê sonder ’n ma grootgeword toe tannie Engela so skielik dood is. Ek dink hulle was nog op laerskool? En nou Valdimar se kinders ook.”

“Ja, net jammer oom Karel is so ’n snob. Niemand was ooit goed genoeg op sy plaas of vir sy kinders nie. Ek wonder hoe voel hy nou oor alles noudat leukemie sy imposante voorkoms laat wegkrimp het. Dink jy hy gaan nog gespaar word tot Anneke se baba kom?”

“Ek weet nie. Sy het darem die beste ding ter wêreld gedoen deur vir liefde te trou, al was dit teen haar pa se sin.”

Die stemme raak sagter en stil toe hulle uitstap. Maria is koud, maar voel nie die pyn in haar been nie. Sy loop sonder nuwe boeke huis toe. Hoekom haar ouers so haastig was om weg te trek van Kahrelsvleie af, kon sy nooit verstaan nie. Haar hart was gebreek en stukkies het daar agtergebly, maar hulle het genoeg geld gehad sodat sy kon gaan dans en later musiek studeer. Sy het altyd geglo oom Karel het hulle laat gaan sodat sy vanuit die huis uit universiteit toe kon gaan, maar nou maak iets nie sin nie. 

Haar pa kon sy geliefde houtwerkstokperdjie beoefen en haar mammie het voortgegaan met naaldwerk. Sy kon haar klante uitkies en haar trou-en aandrokke was van die mooiste en fynste waarvan enige vrou net kon droom.  Is hulle dalk van die plaas af weggejaag? Maar hoekom? So gou sy kan, gaan sy Centurion toe ry want iets rym nie en dit kan nie sommer oor die foon bespreek word nie.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #8 on: April 20, 2016, 07:22:35 PM »
Dit was toe só

4.Maria vind dit sleg

“Ma-Lien, dis so lekker om tuis te wees,” groet sy ’n maand later. Haar pa se vreugde is eg in die traan oor sy wang.

Die volgende dag sit hulle in die sonkamer. Maria wag haar kans af terwyl haar ma ’n nuwe rok borduur. Dit kom toe haar pa met sy tee terugsak in sy gunstelingstoel.

“Pappie, hoekom is ons destyds van die plaas af weg?”

“Hoe gaan dit met Karel en Valdimar?” vra hy eers.

“Seker goed met Valdimar. Oom Karel is in versorging in die ouetehuis. Leukemie,” amtwoord sy sag. “Blykbaar baie swak.”

Frans sit skielik regop en stort van sy tee uit. Lien laat val die rok waaraan sy werk.

“Nee! Dis nie moontlik nie,” sê sy.

Maria is verstom oor hulle reaksie.

“Hoekom nie? Wat gaan aan?” Sy kyk van die een na die ander. Eers na ’n minuut of twee praat haar pa weer.

“Miskien moet ek jou nou vertel.” Hy kyk na haar ma en sy knik.

“My kind, Karel is … was ’n hardvogtige mens. Sý pa was ’n suiplap en hulle het amper daardie spogplaas verloor. Karel wou nog gaan studeer en oorsee gaan toer, maar moes in sy matriekjaar ernstig inspring om die plaas te behou. Sy drome het in repe gehang en later het hy met Engela getrou; haar pa het hom finansieel gehelp. Tog het hy ook iemand anders liefgehad.

Hy wou alles wat hy verloor het, vir Valdimar laat toekom, maar …” Dis asof hy sy woorde versigtig kies,  “… dié het geweier om sonder jou oorsee te gaan studeer. Hy het gesê as jy klaar is met skool en hy sy graad aan Stellenbosch voltooi het, sal julle Frankryk toe gaan. Karel was woedend. Daardie dag het hy na my toe gekom.

‘Kyk, Frans, julle moet trek. En jy vat vir Maria saam.’

‘Waarnatoe. En met wat? Nee magtig Karel, na ek jou hierdie plaas help behou het?’

Maar hy het alles gereël; die trek, blyplek en jou skool. Ons moes net inpak. Ek moes jou wegvat Transvaal toe en belowe om te sorg dat jy nooit weer teruggaan nie. Hy het nie geweet jy sou ouma Bessie se huisie erf nie.”

“Maar hoe kon ons oorleef? Hoe kon jul my studies bekostig?”

“Hy het daarvoor gesorg.” Skaamte oorval Frans.

Maria voel ’n woede in haar opbou.

“Alles net om my daar weg te kry? Maar hoekom?”

Haar ma kyk op terwyl trane oor haar wange rol.

“Valdimar moes met iemand van stand trou, het hy gesê. En nou help sy snobisme en hardvogtigheid hom niks,” antwoord sy.

Uiteindelik verstaan Maria. Sy voel warm om haar hart. Sy kan nie wag om terug te gaan nie. Valdimar! Uiteindelik kan sy hom lief hê. Sy liefde beantwoord. Hy het nie net met haar gespeel nie. Hy wou na skool al met haar trou. Sestien jaar se hartseer val van haar af. Sy het hom probeer haat, gedink hy het met haar gevoelens gespeel. Sy het gehoor hoe hy op Stellenbosch tekere gegaan het, agter elke rok aangedans het. Was dit alles leuens?

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #9 on: April 20, 2016, 11:04:34 PM »
Dankie so baie vir die lekker stukkie ontspannings-leesstof matertjie! Het geniet  :hello2: Lief die einde!

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #10 on: April 22, 2016, 07:25:27 PM »
Dit was toe só

5.Maria soek ’n plan.

Oppad terug neem sy eers die afdraai na Janneman en Anneke se plaas. Hulle gesels tot laatnag.

“Nog allie jare het ek gewonner hoekom jy vir my bly skryf het want Pa het mos vertel hoe julle soos slegte bywoners gedros het,” sê Anneke op haar vinnige manier.

“En ek moes hoor hoe hoog jou broer die suksesleer geklim het; eers in sy studies en later oorsese roem verwerf het vir sy uitstekende idees en toepassing daarvan op Kahrelsvleie. Alles met die volmaakte vrou aan sy sy,” antwoord Maria hartseer.

Trane loop oor Anneke se wange. Sy kan nie glo dat hulle pa Valdimar se geluk so verongeluk het nie. Geen sukses sou hom gelukkiger kon maak as die liefde van Maria nie. Hy moes hul pa se drome uitleef, maar Karel het gesorg dat sy seun se liefde vir Maria nie in sy pad sou staan nie. En vandag is haar vriendin meer wêreldbekend as sy seun, dink sy sinies.

“Ek het seker meer van my pa se eiesinnigheid in my, daarom kon ek onder sy duim uitklim en saam met Janneman wegloop,” sug Anneke dankbaar met haar hand op haar maag. “Maar wat nou, Maria, nouda-ons als weet?”

“Nou moet jy my help. Ek het Valdimar baie seer gemaak, hom letterlik weggejaag. Hoe gaan ek hom ooit weer in die oë kyk?”

“Nou hoekom weet ek nie daarvan nie wanne was dit?”

Maria vertel haar van Valdimar se besoeke. Anneke skud haar kop.

“Ai vriendin maar ek versta’ nou hoekom en ek het ’n plan. Luister …”

Met ‘n handwuif by die venster uit, vertrek Maria sowat ’n uur later van die plaas af. Geluk, verligting, skuldgevoel en onsekerheid, al haar emosies wissel mekaar af. Sy hoop Anneke is reg: dat Valdimar haar langs die pad sal kry en dan stop. Janneman het hom gebel en uitgenooi vir ete. So terloops het hy genoem dat Anneke iets oor hulle pa en Maria met hom wil bespreek. Hulle wou nie lieg nie en hierdie is mos eintlik die waarheid. Maria sal langs die pad stop wanneer sy sy bakkie sien aankom. Dit behoort nie te moeilik te wees nie, want die laaste ent teerpad waaruit mens na hul plaas toe afdraai, is gewoonlik baie stil.

Maria wonder al hoe meer ingedagte oor wat sy gaan moet sê. Sy is nou op die teerpad en sien nie eers meer iets rondom haar raak nie. Sy kyk net vorentoe na waar die teerpad kleiner raak sodat sy betyds kan aftrek wanneer Valdimar se bakkie aankom. Onbewus van enige beweging langs die pad, ry sy al hoe vinniger en merk nie die twee verdwaalde perde langs die kant van die pad op nie. ’n Paar tree verder sien sy te laat die derde perd voor haar in die pad instap.

Sy trap die briek heeltemal plat en besef dat sy vinniger gery het as wat sy moes. Haar kar swaai effens, tref die perd se agterlyf met ’n dodelike slag en die kar swaai dwars teen die dier se voorlyf vas. Wat verder gebeur het, sou sy nooit weet nie. Bewusteloos val haar kop eenkant toe terwyl die kar van die pad afgly en skuins in ‘n effense sloot inval.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #11 on: April 23, 2016, 12:39:23 PM »
Dit was toe só

6.Maria is bewusteloos

Valdimar is nie juis haastig nie. Hy is nou glad nie lus vir hierdie kuier by sy sus en swaer nie, maar die tweeling was so opgewonde, dat hy met ’n skewe glimlag ingestem het. Hulle gesels oor alles en nog wat en hy besef hoe min hy en sy dogters werklik net ontspanne bymekaar kan wees. Op daardie groot plaas met sy intensiewe boerderyvertakkinge het hy te veel ysters in die vuur en saans is die twee so besig met hul huiswerk, dat hulle nooit by kuiergesels saam met pa uitkom nie.

Hulle ry by die hoekpaal van Janneman se plaas verby toe Gisela vra:

“Pappa, draai hier in. Ons het hierdie ou paadjie so lanklaas gery en kyk,” beduie sy opgewonde, “dáár staan die trop swart springbokke.”

“Hierdie paadjie is heeltemal te sleg, Dottie. Janneman ry seker self te min hier.”

“Ag Pappa,” kerm Gretel ook. “Ons sien hulle so min en ons ry dan nou met die Cruiser.”

Valdimar draai af en stop voor die hek. Hy buk oor na die sluitkassie, haal die slot se spaarsleutel uit en gee dit vir Gisela.

“Nou toe, gaan kyk of julle die slot oopkry. Ek dink hy is baie lanklaas oopgesluit.”

Hulle bekyk die slot van alle kante af, maar kom dan beteuterd terug.

“Die sleutel sal nooit dáárdie slot oopkry nie. Dis dan blinknuut.” Gisela stamp met haar voetjie op die grond.

“Toemaar, vra net nou vir hulle die nuwe spaarsleutel,” sê hy laggend. “Die ou slot was al so geroes dat dit seker gebreek het. Ons kan dan hierlangs terugkom. Klim in.”

Huller ry verder maar ’n paar kilometer voor die hoof-afdraai na Janneman se plaas, sien Valdimar iets snaaks in die pad lê en trek hy af. Sy intuïsie roep iets, maar hy gee nie dadelik aandag daaraan nie. Hy sien die perd raak maar toe hulle uitklim, besef hy die perd is stukkend gestamp. Die dier skop-ruk nog ’n laaste keer, maar dan is hy dood. Die kinders hardloop verder. Hy kyk op, maar voordat hy nog ’n tree kan gee, roep hulle hom.

“Pappa!”

“Pappa, kom kyk! Hier is iemand in die kar!”

Hy hardloop soontoe. ‘Liewe Heer, gee dat die mense nog leef,’ dink hy beangs. Vinnig som hy die situasie op. ’n Vrou lê skuins oor die stuurwiel en oral is bloed. Valdimar besef dat die slag teen die perd haar kar geswaai het en is dankbaar die dier het nie bo-op die windskerm geval nie. Die deur se ruit is ook uitgeruk. Hy voel in haar nek.

“Sy leef! Gou, kry my selfoon daar tussen die sitplekke, “ stuur hy Gretel. Hy is versigtig om die vrou nie te roer nie, maar kyk af om haar gesig te probeer sien. Dan besef hy dis Maria en onthou haar karretjie ook.

“Nee! Liewe Vader, wat gaan hier aan?” Skor klink sy stem.

Hy weet nie mooi wie om eerste te bel nie, maar Janneman se nommer is die eerste op die skermpie.

“Valdimar waar’s julle?” vra Anneke van die anderkant.

“Roep vir Janneman, Anneke? Ons staan langs die pad. Magriet het ’n perd gestamp.”

“O aarde nee Janneman!” Anneke roep angstig maar Janneman is klaar by haar. Hy druk haar neer op ’n stoel en hoor Valdimar se stem.

“Wat gaan aan?”

“Anneke sak inmekaar. Wat gaan daar aan? Waar is …”

Voor sy sin klaar is, praat Valdimar weer. Hy weet dinge kan handuitruk as hy nie kalm raak nie.

“Gee Anneke dadelik iets in om te kalmeer, dan kom jy hiernatoe. Dis ’n ent van julle hek af. Of nee, kry Jafta om te kom. Ek kyk solank wie ek nog kan kry om my met haar te kom help. ’n Ambulans gaan ure vat. Bly jy by Anneke en hou haar rustig.”

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #12 on: April 26, 2016, 12:25:04 AM »
Nou so dankbaar ek het gou eers hier kom inloer! My plek geboek vir die volgende hoofstuk matertjie  :notworthy: :icon_salut:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #13 on: April 27, 2016, 08:25:27 AM »
Dit was toe só

7.Maria in die hospitaal

Valdimar bel sy dokter op die dorp. Hulle is goeie vriende.

“Gerald,” en dan haal hy eers diep asem, “Kan jy dadelik uitkom na Janneman-hulle se plaas toe?”

“Magtig, net nie Anneke nie …?”

“Nee, nee. Dis iemand anders van die dorp. Ek dink sy het by Anneke gekuier, ’n ou vriendin; Maria.”

Dr Gerald mis nie die vrees in Valdimar se stem nie. Hy vra uit en vertrek feitlik dadelik nadat hy vir ’n ambulans gereël het. Sy vrou, Surene, ry saam. Hoeveel keer op hierdie wye vlaktes, was hy al oneindig dankbaar dat hy haar aan sy sy het. Die volgende halfuur is die langste in Valdimar se hele lewe. Janneman het saam met Jafta opgedaag. Anneke wou niks daarvan weet dat hy nié saamgaan nie en Saartjie sit by haar. Sy moes haar man eers belowe om glad nie op te staan nie.

Dokter Gerald Struwig se bakkie het ook ’n draagbaar en baie ander hulpmiddels in. Hy is nie gelukkig omdat Maria nog nie haar bewussyn herwin het nie. Met almal se hulp, het hulle haar nek gestut en haar versigtig uitgetel en op die opvoubare draagbaar gelaai. Hy sit ’n drip op en hou haar indringend dop. Dan besluit hy dis gevaarliker om vir die ambulans te wag as om self te ry. Hulle reël vinnig, laai Maria agterin die bakkie en Surene klim ook agterin. Die dogters sal saam met Janneman plaas toe gaan en hy sal solank die polisie ook kontak. Hulle laai al haar bagasie in die cruiser, dan ry Valdimar ook dorp toe. Jafta en Janneman moet die dooie perd nog eers uit die pad uit kry.

Gerald ry vinnig sonder om onverskillig te wees terwyl Surene hom deur die venstertjie tussen hulle op hoogte hou van Maria se pols en bloeddruk. Maria is baie bleek en Surene sorg vir suurstof. Tog slaak hy ’n sug van verligting toe hulle die ambulans bietjie meer as halfpad dorp toe, teëkom. Vinnig laai hulle haar oor en ry verder. Die ambulans se sirene loei luid toe hulle die dorp inry tot waar hulle by noodgevalle stilhou.

Intussen wonder Valdimar oor die dinge wat Janneman kwytgeraak het.

“Valdimar, Sy het jou tegemoet gery; wou nie wag tot jy by ons kom nie.”

“Ek verstaan nie. Hoekom?”

“Dit moet jy haar maar self vra. Maar, moet haar nie weer deur jou vingers laat glip nie.”

“Weer?”

Maar toe Gerald daar stilhou, kon hulle nie verder praat nie. Nou dink hy daaraan en verstaan niks nie. Maar dat hy haar nie weer gaan verloor of laat gaan nie, is seker. Die pyn om sy hart om haar so bleek te sien en die vrees vir die ergste, is amper te veel om te dra.

Maria word dadelik in die intensiewe sorgeenheid opgeneem. Nadat sy beter gestabiliseer is, het dr Gerald x-strale laat neem. Hy het haar ook deeglik ondersoek en die snye teen haar skouer en voorkop wat so gebloei het, geheg. Dan praat hy met Valdimar wat heeltyd in die rondte is.

“My maat, ek dink nie dit is nodig om haar stad toe te stuur nie. Ons kan net die Here dank dat sy niks gebreek het nie. Haar nek het wel baie seergekry, maar haar werwels is nie gebreek nie. Ek hoop net sy herwin nou haar bewussyn.”

“Dankie Gerald,” sê Valdimar sag. “Dankie Here, Amen.”

“Ken jy haar goed?”

Valdimar knik net.

“Wat makeer haar been? Daar is groot fout en hierdie slag kon dit verger het. Ek weet nie hoe ver ondertoe die slag teen die perd haar geruk het nie.”

“Gerald, haar pa het op ons plaas gewerk, maar hulle is in my matriekjaar hier weg. Sy het eers onlangs teruggekom. Tannie Bessie was haar ouma.”

Tannie Bessie was ook sy pasiënt en Gerald weet nou wie Maria is. Haar ouma het altyd vertel van haar kleindogter wat oorsee so goed gedans het. Ook hoe sy haar been tydens ’n skivakansie sleg gebreek het en haar dansloopbaan daardeur kortgeknip is. Hy wil nog iets sê, maar dan lui sy selfoon. Hy stap ’n entjie weg om die oproep te beantwoord en Valdimar gaan sit langs Maria se bed. Hy vat haar hand en voel weer die vrees deur hom spoel wanneer hy intens na haar bleek gesiggie kyk.

“Magriet,” praat hy met haar, “Magriet, word nou wakker, toe.”

“Dit was Janneman,” sê Gerald toe hy terugkom. “Hy bring vir Anneke hiernatoe.”

“Is daar fout?” Valdimar skrik weer.

“Nee, dit klink nie so nie, maar ek wil haar tog ondersoek en seker maak. Miskien haar vir die nag hier hou. Die opwinding en skok kan dalk net te veel ...”

Maria hoor hulle praat en probeer iets sê maar haar mond is kurkdroog. Haar vingers beweeg in Valdimar se hand.

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #14 on: April 27, 2016, 08:26:22 AM »
goeie mooi more [middag?] vir jou Raaitjie, dankie dat jy saam lees ...  :love7: 
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #15 on: April 27, 2016, 09:05:28 AM »
Besig om skemer te word diekant en weereens dankbaar ek het 'n draaitjie kom gooi... kry ek nog 'n hoofstuk te lese :hello2:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #16 on: April 27, 2016, 09:47:01 AM »
dankie vriendin, ek wou net 'n kort storie geskryf het ... toe dink ek drie hoofstukke sal doen, maar die hele storie hardloop toe met my weg en skryf homself verder ...  :icon_biggrin:   :icon_biggrin:  Toe beplan ek vir 5, maar nou moet ek regtig die laaste stuk griffel en SLOT onderaan tik. Hoop dit werk uit in min genoeg woorde    :toothy4: 
mooi aand, maak die herfstyd kosbaar vir julle xx
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #17 on: April 27, 2016, 11:51:58 PM »
My plek geboek vir die finale hoofstuk  :hello2: :notworthy:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #18 on: May 03, 2016, 05:37:27 PM »
Dit was toe só

8.Maria beplan om weg te gaan

Maria probeer oor haar lippe lek om te kan praat, maar sukkel. Sy verstaan nie wat aangaan nie. Sy voel iemand se hand om hare en beweeg haar vingers. Janneman dog eers hy verbeel hom, maar roep dan uit:

“Magriet?” Vinnig staan hy op. “Magrietjie, is jy wakker?”

Dr Gerald lees haar bloeddruk en alles op die monitors, maar knik heel tevrede.

“Mevrou … Maria, hoe voel jy?” Retoriese vraag, hy weet, maar dis hoe dokters altyd begin.

“Ek’s baie dors,” praat sy sag, “en my rug, my nek is vreeslik seer.”

Die suster kyk na Gerald. “Dokter?” Hy knik.

“Is goed, suster Elna, gee haar maar ’n klein bietjie water. En laat die drip vinniger inloop. Die skok moet eers uit haar gestel kom. En dien daardie pyngoed dadelik binne-aars toe.”

Valdimar het nog geen woord verder kon sê nie, toe slaap Maria. Gerald vat aan sy skouer.

“Sy gaan nou ’n ruk lank slaap en daarna sal ons eers kan vasstel hoe dit werklik gaan en wat gebeur het. Gaan jy nou polisiestasie toe en handel alles daar af.”

Valdimar sien Gerald se rede in, maar dis met ‘n swaar hart wat hy uitloop.Die tweeling is saam met Janneman en Anneke oppad en hy gaan eers buite vir hulle wag. Gerald se foon lui weer en hy stap vinnig ongevalle toe. Anneke wag reeds op ’n bedjie. Hy ondersoek haar vlugtig en reël dan vir opname.

“Dokter Gerald?” vra Anneke.

“Niks rede tot kommer nie, Anneke, maar ek wil net hê jy moet absoluut rustig wees.”

Hy wil haar nie verder ontstel nie, maar dink tog die skok het haar te veel ontstel. Hy gee streng opdragte aan die suster en hulle monitor haar en die baba se hartklop gereeld. Janneman bly by haar, maar wanneer sy vas slaap, stap hy tuin toe en gaan bid tot God om sy vrou en baba te beskerm en bewaar.

“Here, ons is so nietig en kan net vra, maar U Wil geskied. Amen.”

Toe dr Gerald laataand weer by Anneke inloer, is alles rustig. Sy kommer skuif weg en met ’n glimlag kan hy hulle gerusstel dat daar nie rede tot kommer is nie. Daardie nag skyn die maan helder oor die hospitaal en die dorp.

Die oggend na die ongeluk kom dr Gerald langs haar bed staan.

“Maria, ek is baie bekommerd oor jou rug. As jy nie gou jou bene kan beweeg nie, gaan ek jou stad toe stuur. Vertel my eers wat die ski-ongeluk aan jou rug gedoen het toe jou been so sleg gebreek het.”

So goed sy kan onthou, vertel sy van die drukking op haar werwels en hoe sy met fisioterapie weer begin loop het en alles wat sy eintlik nooit verstaan het nie. Hy vra verder uit en stadigaan besef sy, sy sal dalk nooit weer kan loop nie. Die slag teen die perd het haar spiere so styf laat ruk, dat die kneusings weer seergekry het.

Gedurende daardie volgende paar dae loer Valdimar elke dag twee of drie keer in; sy glimlag ruk haar hart. Tog kan sy die kommer in sy oë nie miskyk nie. Dan neem sy ’n besluit: Sy sal ouma Bessie se huisie verkoop en weer wegtrek. Valdimar mag nie met ’n kreupele opgeskeep sit nie. Sy sien nie kans om naby te wees wanneer hy eendag wakkerskrik en besef sy is net ’n remskoen aan sy sy nie.

Maar sy moet haar planne uitstel. Die oggend toe sy ontslaan word, kom Valdimar haar oplaai. Die kommer oor hoe sy oor die weg gaan kom, lê in haar binneste. Sy kan ook nie verstaan hoekom haar ouers nie wil kom kuier nie. En sy vertrou die dokter se bevinding dat die nuwe drukking op haar senuwees in die volgende maande sal opklaar en sy weer sal loop, glad nie.

Gou het sy besef hulle ry nie na haar huisie toe nie.

“Valdimar, waarheen gaan ons? Ek moet regtig so gou moontlik tuis kom sodat ek kan begin aanpas.”

“Als reg, Magriet, maar jy gaan eers ’n paar dae plaas toe kom. Daar is hulp en vars lug.”

Sy was ontsteld en het gestry en probeer keer met alle verskonings in die boek, maar Valdimar het net aangery. Op die plaas het ’n yslike verrassing gewag: haar ouers was daar. Die prentjie was so volmaak dat sy toegegee het. Maar haar besluit is geneem en sy sal dit net ’n rukkie uitstel.

©adéle theron

adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #19 on: May 03, 2016, 05:39:07 PM »
ek moes dit weer opdeel, die storie het weer te ver gaan draai ... maar hier is die laaste hoofstuk ook. LEKKER LEES!
« Last Edit: May 15, 2016, 07:47:46 PM by adele »
adéle  :grommit:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #20 on: May 03, 2016, 05:45:09 PM »
Dit was toe só

9.Maria dans amper weer.

’n Week of wat later sit sy en haar ouers alleen in die tuin. Sy het gou aan die rolstoel gewoond geraak, al pyn haar skouers wanneer sy die wiele rol. Sy weier egter dat haar pa haar stoot.

“Regtig Pappie, ek moet hierdie ding self gewoond raak, maar as julle nog iets vir my wil doen, verkoop dan ouma Bessie se huis … so gou moontlik, asseblief.”

“Is jy nou laf? Julle het juis nou ’n goeie dorpshuis nodig.”

“Julle?” vra sy.

“Ja, julle,” antwoord Frans, “of moet Valdimar vir julle ’n ander plek kry?”

“Nee, Pappie, nee wag,” keer sy. “Daar gaan nie ’n ‘julle’ wees nie. Ek gaan so gou moontlik weg. Ek kan nie hier bly nie.”

Op sy vraag of sy dan nou al haar varkies verloor het, vertel sy hoe sy voel. Voor hulle kan antwoord, swaai sy haar rolstoel om en beweeg huistoe. Frans kyk na Lien wie se oë nou vol trane is.

“Dit kon ek gedink het,” sê Lien. “Wat gaan nou gebeur?”

“Niks, lief Lien. Ons gaan huis toe sodat hulle hul dinge kan uitsorteer. Valdimar sal maar net geduldig moet wees.”

“Nou kom ons gaan dorp toe en vat haar saam. Dan kan Valdimar daar vir haar gaan kuier sodat sy nie voel hy is hier onder verpligting om na haar te kyk nie.” 

“Ek is nie seker of jy reg is nie, maar dit kan dalk werk. Hoe ook al, ons gaan terug huis toe. Valdimar moet haar self oortuig. Niks wat iemand anders sê, gaan haar van plan laat verander nie.”

Valdimar verstaan nie wat in Maria se kop aangaan nie.

“Valdi, dankie vir alles, julle hulp en vriendskap beteken vir my baie, maar ek moet eers alleen wees en my eie lewe uitsorteer.”

“Nou maar goed. Maar ons gaan binnekort gesels,” beloof hy haar.

Sy knik instemmend want haar trane is te naby om verder te stry.

Valdimar kom amper elke dag kuier, maar voor donker ry hy huis toe. Anders bring hy die tweeling saans saam. Hulle kruip diep in Maria se hart in, maar sy hou dit vir haarself. Intussen bedink sy planne vir haar toekoms, maar niks wil uitwerk nie. Al gaan sy ook waarheen, sy moet weer musieklesse gee want sy moet ook lewe.

Een aand tydens ete op die plaas kom Gretel met die skokvraag.

“Wanneer gaan Pappa en tannie Maria trou?”

Valdimar kyk haar stil aan. Hy het nie eintlik ’n antwoord nie. Dan sê hy:

“Ek weet nie Ek het haar reeds gevra, maar sy het net gesê sy kan nie nou trou nie en geweier om dit verder te bespreek.”

“Maar Pappa, vertel jy haar darem elke dag hoe lief jy haar het?” Gretel is nie tevrede nie.

“Ja, en soen Pappa haar darem? Ek sien nie veel daarvan wanneer ons daar is nie,” gooi Gisela ook haar pennie in die dam in.

Valdimar bly stil. Hoe kan hy hulle vertel dat sy hom belet het om haar vas te hou, anders sal sy weier om hulle weer te ontvang. Maar hulle wag vir sy antwoord.

“Sy wil niks weet nie, julle. En buitendien waar kom julle nou aan sulke gedagtes?”

Gisela besluit dis nou of nooit.

“Dis omdat sy nie kan loop nie en sy is bang Pappa gaan later nie meer daarvan hou nie.”

“Gisela! Waar kom jy daaraan?” Hy is skoon ontsteld.

“Natuurlik, Pappa,” sê Gretel. “Kan Pappa nie sien hoe hartseer sy soms na jou kyk nie? Ek dink sy gaan weggaan want Santie het gesê hulle het nog net hierdie kwartaal musiekles by haar.”

Valdimar staan vinnig op. Hy is hoogs ontsteld.

Die volgende oggend bel hy haar vroeg.

“Magriet, trek aan. Ek sien jou oor ’n uur.”

“Is jy nou laf? Ek het te veel om te doen voor jy hier kan aankom.”

“Dan kom help ek jou om dit te doen,” sê hy ernstig.

Maria trek aan. Sy is vies, maar skud dit gou van haar af. Elke oggend werk sy deur ’n reeks oefeninge en het die vorige dag skielik besef dat sy haar tone kan roer. Nou wil sy dr Gerald se raad gaan vra. Die klop aan haar deur is dringend en sy gaan maak dadelik oop.

“Wat is dit? Wat het gebeur?” vra sy toe sy sy ernstige gesig beskou.

“Is jy van plan om weg te gaan?”

“Waar … waar hoor jy dit?”

“Dan is dit waar? Een van jou musiekleerlinge vertel so.”

Maria knik. Harseer sê sy:

“Ek moet Valdi. Al loop ek dalk eendag weer, sal hierdie been my altyd terughou.”

Valdimar se oë begin vonkel. Hy het nou genoeg gewag en stoot haar stoel kombuis toe. By die tafel buk hy en steek sy arms onder hare in. Voor sy besef wat hy doen, tel hy haar op en sit haar op die tafel neer. Toe soen hy haar saggies op haar lippe. Hy vou sy hande om haar gesig en soen haar weer, hierdie keer lank en teer. Dan sê-vra hy haar:

“My liefste Magrietjie, wanneer trou ons? Ek gaan nie langer wag nie, maar sal jou twee maande gee.”

Sy kry haar asem terug en staar hom net aan.

“Vergeet van stry en baklei. Ons gaan die toekoms saamstap soos ons al jare gelede moes gedoen het,” sê hy saggies. “Ek gaan jou preekstoel toe dra, as dit nie anders kan nie.”
Maria begin lag. Haar vreugde borrel oor. Sy besef sy het tuisgekom en gaan nie meer stry nie. maar dat sy dalk self preekstoel toe sal kan loop, gaan sy hom nie vertel nie.

“Ja, dis reg, ek sal oor twee maande met jou trou.”

SLOT

©adéle theron
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #21 on: May 04, 2016, 08:11:14 PM »
Ek het die draad verloor.  Gee my kans om eers weer alles te lees voordat ek my se seg seg!  Dit kan net pragtig wees soos altyd. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #22 on: May 15, 2016, 11:35:31 AM »
Dankie baie baie vir die pragtige slotverhaal  :notworthy: :hello2:

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #23 on: May 15, 2016, 07:48:28 PM »
 :love7:    :love7:   dankie Raaitjie
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #24 on: June 25, 2016, 08:45:32 AM »
Hier was ek nou weer.  'n Pragtige storie Adele.  Dit is weer tyd vir nog 'n storie.  :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #25 on: August 01, 2016, 05:31:34 PM »
haai lief Petra, dankie vir jou saamlees. Jip, storieskryf is noal lekker as mens weet dit word gelees, maar meer nog as die storie iewers wil begin en ditself dan verder skryf. Ek kan nou eenmaal nie 'n raamweerk beplan nie. Het dit probeer en selfs ge-kursus, maar nie eers daar klaargemaak nie want ek haak nog vas by daardie voorafbeplanning.  :icon_study:
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tyd vir 'n storie ....
« Reply #26 on: August 03, 2016, 07:56:25 PM »
Ek stem!  Sodra die eerste sin sy pad gevind het volg die res van iewers waar ek nie weet nie.  Dit is net 'n mag wat homself gevestig het en daar ontstaan 'n storie! 

Ek geniet altyd jou stories.  Die woord "storie" is vir my 'n magiese konsep en ek het 'n heilige respek vir die woord. 
Om te weet is om te verstaan.