Dit was toe só
7.Maria in die hospitaal
Valdimar bel sy dokter op die dorp. Hulle is goeie vriende.
“Gerald,” en dan haal hy eers diep asem, “Kan jy dadelik uitkom na Janneman-hulle se plaas toe?”
“Magtig, net nie Anneke nie …?”
“Nee, nee. Dis iemand anders van die dorp. Ek dink sy het by Anneke gekuier, ’n ou vriendin; Maria.”
Dr Gerald mis nie die vrees in Valdimar se stem nie. Hy vra uit en vertrek feitlik dadelik nadat hy vir ’n ambulans gereël het. Sy vrou, Surene, ry saam. Hoeveel keer op hierdie wye vlaktes, was hy al oneindig dankbaar dat hy haar aan sy sy het. Die volgende halfuur is die langste in Valdimar se hele lewe. Janneman het saam met Jafta opgedaag. Anneke wou niks daarvan weet dat hy nié saamgaan nie en Saartjie sit by haar. Sy moes haar man eers belowe om glad nie op te staan nie.
Dokter Gerald Struwig se bakkie het ook ’n draagbaar en baie ander hulpmiddels in. Hy is nie gelukkig omdat Maria nog nie haar bewussyn herwin het nie. Met almal se hulp, het hulle haar nek gestut en haar versigtig uitgetel en op die opvoubare draagbaar gelaai. Hy sit ’n drip op en hou haar indringend dop. Dan besluit hy dis gevaarliker om vir die ambulans te wag as om self te ry. Hulle reël vinnig, laai Maria agterin die bakkie en Surene klim ook agterin. Die dogters sal saam met Janneman plaas toe gaan en hy sal solank die polisie ook kontak. Hulle laai al haar bagasie in die cruiser, dan ry Valdimar ook dorp toe. Jafta en Janneman moet die dooie perd nog eers uit die pad uit kry.
Gerald ry vinnig sonder om onverskillig te wees terwyl Surene hom deur die venstertjie tussen hulle op hoogte hou van Maria se pols en bloeddruk. Maria is baie bleek en Surene sorg vir suurstof. Tog slaak hy ’n sug van verligting toe hulle die ambulans bietjie meer as halfpad dorp toe, teëkom. Vinnig laai hulle haar oor en ry verder. Die ambulans se sirene loei luid toe hulle die dorp inry tot waar hulle by noodgevalle stilhou.
Intussen wonder Valdimar oor die dinge wat Janneman kwytgeraak het.
“Valdimar, Sy het jou tegemoet gery; wou nie wag tot jy by ons kom nie.”
“Ek verstaan nie. Hoekom?”
“Dit moet jy haar maar self vra. Maar, moet haar nie weer deur jou vingers laat glip nie.”
“Weer?”
Maar toe Gerald daar stilhou, kon hulle nie verder praat nie. Nou dink hy daaraan en verstaan niks nie. Maar dat hy haar nie weer gaan verloor of laat gaan nie, is seker. Die pyn om sy hart om haar so bleek te sien en die vrees vir die ergste, is amper te veel om te dra.
Maria word dadelik in die intensiewe sorgeenheid opgeneem. Nadat sy beter gestabiliseer is, het dr Gerald x-strale laat neem. Hy het haar ook deeglik ondersoek en die snye teen haar skouer en voorkop wat so gebloei het, geheg. Dan praat hy met Valdimar wat heeltyd in die rondte is.
“My maat, ek dink nie dit is nodig om haar stad toe te stuur nie. Ons kan net die Here dank dat sy niks gebreek het nie. Haar nek het wel baie seergekry, maar haar werwels is nie gebreek nie. Ek hoop net sy herwin nou haar bewussyn.”
“Dankie Gerald,” sê Valdimar sag. “Dankie Here, Amen.”
“Ken jy haar goed?”
Valdimar knik net.
“Wat makeer haar been? Daar is groot fout en hierdie slag kon dit verger het. Ek weet nie hoe ver ondertoe die slag teen die perd haar geruk het nie.”
“Gerald, haar pa het op ons plaas gewerk, maar hulle is in my matriekjaar hier weg. Sy het eers onlangs teruggekom. Tannie Bessie was haar ouma.”
Tannie Bessie was ook sy pasiënt en Gerald weet nou wie Maria is. Haar ouma het altyd vertel van haar kleindogter wat oorsee so goed gedans het. Ook hoe sy haar been tydens ’n skivakansie sleg gebreek het en haar dansloopbaan daardeur kortgeknip is. Hy wil nog iets sê, maar dan lui sy selfoon. Hy stap ’n entjie weg om die oproep te beantwoord en Valdimar gaan sit langs Maria se bed. Hy vat haar hand en voel weer die vrees deur hom spoel wanneer hy intens na haar bleek gesiggie kyk.
“Magriet,” praat hy met haar, “Magriet, word nou wakker, toe.”
“Dit was Janneman,” sê Gerald toe hy terugkom. “Hy bring vir Anneke hiernatoe.”
“Is daar fout?” Valdimar skrik weer.
“Nee, dit klink nie so nie, maar ek wil haar tog ondersoek en seker maak. Miskien haar vir die nag hier hou. Die opwinding en skok kan dalk net te veel ...”
Maria hoor hulle praat en probeer iets sê maar haar mond is kurkdroog. Haar vingers beweeg in Valdimar se hand.
©adéle theron