Author Topic: Die ding op die dak (Upington is nie vir sissies nie)  (Read 1040 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Die ding op die dak (Upington is nie vir sissies nie)
« on: November 23, 2015, 04:43:10 AM »
“Onse Vader ...” Elmie maak haar bene reguit,  haar boude in die lug. Sy buig weer haar bene op haar bed tot sy weer in ʼn knielende posisie is. Haar gesige tussen haar hande gedruk op die kussing. “ wat in die hemel is ...” en sy maak weer haar bene reguit, boude in die lug. “Laat U Naam ...”

“Koekie, bid eerbiedig,” plof Mammie se vermaning saggies langs Elmie. Haar valstande in die tandeglas vol Steradentwater.

“Maar ek bid mos eerbiedig,” teken Elmie verward protes aan en beslis nie saggies nie.

“Mens staan stil op jou knieë,” verduidelik Mammie met liefde en geduld. “Bid weer.”

Elmie kniel weer met haar gesig in die kussing. Haar arms onder die kussing in gedruk.

“Onse Vader wat in die Hemel is,” haar bene skiet soos styf opgewende vere reguit, “laat U Naam ...” sy is in ʼn semi-knielende posisie, “ geheilig word.” Haar bene skiet weer reguit. “U wat is en was in der eeeeewigheid,”

“Laat U wil geskied,” gaan Mammie voort.

“Laat U wil geskiet,” Elmie se bene kriewel. Hulle hou nie daarvan om so te kniel nie. Dit voel soos duisende rooimiere wat oor haar bene loop. Vinnig maak sy haar beene reguit en knak hulle dan weer.

“Soos in die Hemel, so ook op die aarde,” bid Mammie haar weer voor.

“Net soos in die Hemel,” haar beentjie raak moeg en sy ruil haar bene om. “Laat dit so wees ook op dese aarde,” Dit is weer tyd vir haar om te kniel. “En laat ons nie verlei ...” Elmie wip nou op en af. “ word deur die bose ...” ʼn sagte warm windjie ontsnap tussen haar boudjies uit, “versoekings nie ...”

“Koekie wees stil en bid eerbiedig,” Mammie draai haar gesig na die oop buitedeur van hul kamer.

“Mammie maar ek bid mos saggies én stadig én reg,” Elmie se kop verdwyn tussen haar skouers as sy haar handjies moedeloos opbring. “Hoe moet ekke dan bid?”

“Kom kniel en bid weer, dit raak laat. Begin weer voor,” en Mammie kniel weer voor die bed.

“Nee. Dit gaan nie meer help nie.” brom Elmie binnensmonds.

“Hoekom nie?” Mammie bly verbaas in die knielende posisie staan haar voorkop teen haar hande gedruk.

“Hy’t verby gegaan,” sê Elmie saggies en binnensmonds.

“Wie het verby gegaan?” Mammie kom uit die knielende posisie en gaan sit op die kant van die bed.

“Hý,” sy benadruk die persoonlik voornaamwoord. Druk haar hand onder haar wang in en snork gemaak kliphard. Sy is nou vies vir Mammie. Volgende keer moet Mammie self bid, besluit sy.

“Wie is weg Koekie,” vra Mammie dringend.

“Sjuut, ek slaap. Kan Mammie nie hoor hoe snork ekke nie?”

“Koekie, sê nou vir Mammie,” en sy skud haar kleindogter se skouers.

“Die Here. Hy kon nie meer by ons vertoef nie. Toe loop Hy by die deur uit na ander mense toe.” Elmie ruk haar skouertjie uit Mammie se warm hand.

“Mammie is jammer Koekie. Ek wou my kind net reg leer,” sê Mammie berouvol en trek die laken oor hulle.

Elmie draai om en gaan lê in haar Ouma se arm. Haar arm sirkel om die sagte lyf.

“Toemaar Hy sal weer kom, dan kan ons weer vir Hom bid,” troos sy haar ouma.

Wanneer sy haar ouma se lyf saggies teen hare begin ruk, voel sy dadelik aan haar ouma se oë.

“Hoekom huil Mammie?” Sy sit nou regop na haar Ouma en kyk. Die maan se lig laat Mammie se oë soos twee donker kolle lyk.

“Sommer niksie. Ek is sommer verspot.” troos Mammie haar.

“Issie. Dis oor die Here geloop het. Mammie wou nog bid. Toe jaag ek Hom weg oor ek nie stil kon wees nie.” antwoord Elmie afgehaal. Hartseer klim sy uit die bed en loop deur toe.

“Waar gaan jy heen?” Mammie druk haarself tot sy op haar elmboog rus. Haar lang, swart hare het fyn silwerstrepies by haar slape.

“Gaan op die muurtjie loop,” Elmie se keel is seer van ingehoue trane. Sy het veroorsaak dat Mammie hartseer is. Wanneer Mammie huil of ongelukkig is, word Elmie se bene loodswaar.

“Dis gevaarlik buite Koekie, kom lê dat ons kan slaap,” Mammie maak weer die laken oop sodat Elmie kan inkruip.

“Nee, dis warm,” sy moet buite gaan huil waar Mammie nie kan sien nie. Mammie se hart gaan nog seerder wees as sy haar sien huil. “Ek sal sing. Dan kan Mammie hoor waar is ek.”

“Hoe slaap ek dan? Kom klim maar in die bed. Mammie is jammer Mammie het gehuil.”

Elmie vlieg om en hardloop die paar treë tot by die muur tussen hulle en die Ou Apostoliese Kerk. Sy druk met haar handjies op die muur en laat haar momentum haar help om haar lyf op die muurtjie te swaai.

Sy loop tot waar die muurt eindig teen die sypaadjie. Daar draai sy om en begin saggies sing: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels ...” voor haar ma-hulle se kamervenster bly sy stil en sing bietjie harder toe sy regoor die kamer se deur is, “Al sy pêrels .... Kan Mammie my hoor?” vra sy en vee die trane van haar wange af.

“Ja, ek kan jou hoor. Kom slaap liewers,” soebat Mammie.

“Nou-nou,” en Elmie druk haar hand voor haar mond as sy snik. Mammie moet nie hoor sy huil nie. Verwyt oor sy Mammie seer gemaak het vreet aan haar hart. In haar gedagtes sien sy die hartseer daaraan kou. Sy sal doodgaan van die pyn.

Hardop bid sy: “Liewe Jesus maak my bene dat hulle stil bly staan as ek kniel. Vat die miertjies wat hulle so vreet in die nag weg na ander mense se bene toe, seblief.”

ʼn Hele rukkie later hoor sy Mammie maak plofgeluide toe sy regoor die kamerdeur is. Sagter sing: “Witter as sneeu, ja, witter as sneeu ...” So sing sy die een halleluja liedjie na die ander wat sy ken.

Hoe meer sy sing hoe minder raak die pyn in haar hart. Op ʼn stadium gaan sy staan en draai versigtig op die muur in die rondte.

Die kiel voor haar pa se werkskamertjie lyk spookagtig in die donker met sy werksbank en skroef wat daaraan vas gebout is. Die huis en die buitekamers glim in die maanlig. Die venster lyk soos Mammie se oë toe sy gehuil het. Swart kolle met ʼn blink weerkaatsing. Haar boomhuis is weg gesteek agter die seringboom se blare.

Die riviersand in die kerk se erf glim in die maan se strale. Dit lyk asof daar ʼn silwer stralekrans om die kerk gevorm het. Die geel straatlig versag die strak lyne van die kerk. Elmie kan die buitelyne van die kerk se banke sien deur die gekleurde glasvensters.

Die Rooms Katolieke Kerk staan soos ʼn wit koning op ʼn skaakbord aan die oorkant van die kruising; beskermend agter sy groen heining met skelrooi bessies. Die Provinsiale gebou lyk soos die hemel voor dit gereën het daai een keer. Die wit geverfde gedeelte van die muur om die venster, lyk soos watte waarop geel koekkleursel gedrup is.

Dan sien sy Porkie-hulle se huis by die begin van die fly over met die twee begrafnisbome by die tuinhekkie. Die huis lyk deur die dag onvriendelik en in die maanlig maak dit haar bang. Stadig draai sy ʼn aks terug.

In die Provinsiale gebou se venster kan sy hulle huis se weerkaatsing sien. Die lemoenbome langs die stoep se trappies. Die stoep se dak wat soos ʼn brander lyk net voor dit op die strand stoot. Alles laat haar aan die huisie in die storie van Hansie en Grietjie dink.

Elmie gaan sit versigtig op die muur en laat haar voete na die sypaadjie se kant afhang. Haar hande druk sy onder haar boude in. Die muur is effens koud onder haar. Sy kyk op en af in die straat. Die verkeersligte by die kruising knip hulle oë, dan rooi dan groen, dan geel en dan weer rooi.

Tevrede sug Elmie. Upington is die heel mooiste dorp in die hele land, sy wil nooit op ʼn ander plek bly nie. Upington lyk soos die borreltjies in ʼn botteltjie Coke net nadat mens dit oopgemaak het en die bottel teen die lig hou, soet en kriewelrig op jou tong.

Skielik is daar ʼn hengse lawaai by die buitekamers wat ʼn blondekop tannie by hulle huur. Elmie draai vinnig om en verloor amper haar balans toe sy regop kom. So vinnig as sy kan loop sy op die muur na die buite toilet se kant toe.

Hulle bediende staan buite haar kamer en gil want bo-op die kamers se dak hardloop ʼn gedaante gebukkend in die maanlig rond. Doef-doef klink dit op die plat sinkdak. Die gedaante se skaduwee vertoon enorm teen die Afdelingsraadkantore se muur. Dit lyk vir Elmie of Kwasimoto uit die fliek The Hunchback of Notre Damme , wat hulle die vorige naweek in die Inry gaan sien het, ontsnap het.

Die gedrog spring van die bediendekamer se dak af en beland in die lemoenboom wat haar pa langs die bediendekamer vir koelte gee,  geplant het. Die tannie met die blonde hare het ook uit haar kamer gekom en skree na die ding wat vloek in die lemoenboom.

Skielik kom daar ʼn oom uit die stegie agter die buitekamers uit; hy kom ook onder die boom staan en hy het ʼn sambok in sy hand. Elmie weet hoe lyk ʼn seekoei sambok, haar oom het een en hy is nie skaam om dit te gebruik nie.

Die gedierte val skree-skree en vloekend uit die boom. Elmie druk haar hande oor haar ore om die klap van die sambok se houe asook die gedierte se pynigende geskree te verdoof. Die ding kry kans om die man met die sambok te ontsnap en krom storm hy reg op Elmie af.

Iemand gil nog harder as die bloeiende half mens, half sjimpansee wat op haar afstorm. Al die ligte in hul huis gaan met een slag aan. Haar pa en Albert gryp na die ding wat oor die muur langs Elmie spring, maar hy is te rats vir hulle en hardloop tot by die kerk se groot hek waaroor hy spring en oor die pad hardloop en agter die Provinsiale gebou verdwyn.

Die Duiwel-in-die-Kinderbybel kom ook nou te voorskyn.

“Wat gaan aan?” sy trek die Peter Stuyvesant tussen haar vinger dat die kooltjie lank en rooi in haar gesig skyn.

“Ek weet nie. Vra hulle,” en haar pa beduie na die blondekop tannie en die oom met die sambok.

“Wat het hier gebeur?” die Duiwel se stem is nou harder as die modderkoekies wat Elmie altyd bak in die son.

Die tannie en oom ignoreer haar en verdwyn in die tannie se kamer. Mens ignoreer nie die Duiwel as sy jou iets gevra het nie. Sy wikkel haar ronde lyf tot by die blou deur en klop dringend daaraan. Niemand maak oop nie. Dit is nagdonker en tjoepstil binnekant.

Die Duiwel hamer nou met haar vuis teen die deur. Die tannie maak die deur op ʼn skrefie oop.

“Ek wil weet wat het hier aangegaan!” die Duiwel se oë blits in die olielamp se lig wat die tannie vashou.

“Wie is die man hier by jou en wie was die ander een wat weg gehardloop het?” dring die Duiwel op ʼn antwoord aan.

“Sy is my vrou. Die ander man is haar boyfriend,” antwoord die man met die sambok van binne die kamer.

Die Duiwel ignoreer hom, net sy mag mense ignoree, haar bybel sê so.

“Ek dag dan jy sê jy is ʼn weduwee en het geen boyfriend nie? Dit is die rede hoekom ek toestemming gegee het dat jy hier mag huur.” spoeg sy soos ʼn Egiptiese kobra na die tannie. “Nou moet ek in die middernagtelike ure uitvind jy hoer hier! Pak jou goed. Jy het ʼn halfuur dan is jy van my werf af.” beveel die Duiwel terwyl die rook uit haar neus borrel as sy praat. “Of ek laat jou deur die polisie verwyder,” gee sy ʼn laaste waarskuwing as dit wil lyk of die tannie wil protesteer.

Albie snuif ʼn paar keer hard voor hy vra: “Wat ruik soos piepie Pa?” Hy snuif weer ʼn paar keer na Elmie se kant toe.

“Seker daai ou oor hy opgefoeter is,” tjie-tjie lag haar pa.

Albie loop tot by Elmie wat nog geskok op die muur staan.

“Dis sý! Sy het van bangeit haar bepiepie, Pa,” gil hy en wys met sy vinger na sy sussie.

“Maak skoon,” blaf die Duiwel-in-die-Kinderbybel na Elmie wanneer sy by haar verbystap huis toe.

“Kan ek nie maar môre nie? Dis donker en ...” vra Elmie smekend.

“Maak skoon. Dis al klaar môre.” Kom dit beslissend van die Duiwel.

Elmie gaan soek iets om water in te tap en seep om die muur te gaan was. Daar is nie ʼn emmer in die badkamer nie. Sy loop tot by haar en Mammie se bed,  bid  dat Mammie nog nie die pot gebruik het nie.

Geluk is nie aan haar kant nie. Vies dra sy die pot na die buitetoilet om dit te gaan leegmaak. By die kraan onder die seringboom tap sy water in om dit uit te spoel.

Stadig draai sy met die oorvol pot water in die rondte op soek na ʼn geskikte plek om dit uit te gooi. Sy wil nie weer die hele ent toilet toe loop nie.

Die lot word gewerp tussen haar pa se groentetuin of die buurvrou sʼn aan die ander kant van die draad. Die lot val op die buurvrou se groentetuin.

Skuifel-skuifel loop Elmie om nie die water op haar te mors nie, na die draad. Die pot is effe swaar vir haar maer armpies en sy besluit om eers te rus.

Na ʼn rukkie tel sy weer die pot stort-stort op; mik vir die buurvrou se tuin en slinger haarself teen die draad vas met die oorvol pot water tussen haar en die draad.

Dêmmit! Nou stink sy eers!

Klangelang, tref die pot die sementlad wat haar pa tussen die huis en die Seringboom gegooi het. Vies trek sy haar nat nagklere uit en gooi dit op ʼn hopie langs die pot.

Sy trek haar asem skerp in as die kouewater oor haar bors loop. Nadat sy haar klaar afgespoel het tel sy weer die pot op en maak dit vol water. Die keer sorg sy dat daar minder water in is. By die draad gooi sy die water  na die buurvrou se tuin toe.

Weer gaan maak sy die pot vol en loop na die muurtjie toe waar die nat kol beskuldigend na haar wys. Elmie sit die pot op die muurtjie en klim op. Haar piepie het aan die kerk se kant van die muur afgeloop. Nou sal sy oor moet klim en dit daar afwas.

Elmie staan op die muur met Albie se waslap in haar hande. Haar ma se bottel borrelbad het met ‘n kwart gesak. Na die petalje is sy nou skrikkerig om in die kerk se erf te gaan staan om haar blaps af te was.

Sy besluit sy gaan die pot stadig omkeer sodat die water bietjies-bietjies oor die muur loop. Hopelik sal dit haar skande afwas.

"Vir wat kon die piepie nie maar aan ons kant afgeloop het nie?" Vra sy hardop aan haarself.

“Dit is beter dat dit hierdie kant afgeloop het. Hierdie kant sal jou boude nie brand nie,” antwoord ʼn sagte stem haar.

Elmie ruk regop waar sy nog gebukkend staan en konsentreer om die seepwater teen die muurtjie af te gooi. ʼn Sagte windjie waai oor haar nat lyfie en sy ril merkbaar. Sy verloor haar balans en oorkompenseer om nie af te val nie; sy beland toe mooitjies in die kerk se erf; die pot seepwater bo-oor haar.

Die seep brand haar oë maar dit keer nie dat sy soos blits met pot en al oor die muur terug klim en huis toe hardloop nie.

Haar maermerries pyn soos die enamel pot hulle kap. By die badkamer gooi sy die pot met ‘n pieng teen die buitemuur en ʼn stuk van die afgewitte muur splinter af. Klangelang – elang – elang hop die pot oor stoepie voor die badkamer.

Haar hartjie bons behoorlik wanneer sy agter haar ouma se rug gaan lê.

“Koekie jy is yskoud. Waar’s jou kleertjies?” vra Mammie en rol om terwyl sy die koue lyfie nader trek.

“Buitekant, dis vol sieps.” Haar armpies glip om Mammie se nek en sy soen haar ouma se ingeduikte wang.

©Orange Blue

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie skrywe mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie.
Upington is nie vir sissies nie.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die ding op die dak (Upington is nie vir sissies nie)
« Reply #1 on: December 09, 2015, 08:28:01 PM »
Jy skryf baie beskrywend Marinda.  Ek sien die prentjies en geniet dit.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Re: Die ding op die dak (Upington is nie vir sissies nie)
« Reply #2 on: December 09, 2015, 10:18:48 PM »
Dankie PM  :notworthy:
Upington is nie vir sissies nie.