Ontdek ek vanoggend hierdie bydrae van my en staan verwonderd oor die draaie in ons lewenspaaie...
Die prys van Voortrekkerbloed in jou are
Hoe vêr strek die eindeloosheid van opoffering vir jou nageslag se toekoms? Wanneer mag ek halt roep en uitskreeu dat my voete lam is? Here laat hierdie beker by my verby gaan asseblief bid ek. En so worstel ons almal deur die storms. 'n Lewenskruis wat gedra word op ons eie Golgota pad.
Vir my is hierdie kronkel pad die een van gedurige verandering en aanpassing in vreemde lande.
Wie ken of verstaan die hart van 'n vrou wat vir die hoeveelste keer moet groet en weggaan? Die onbekende te gaan 'tem' vir ons nageslag. Is daar in ons moderne lewe 'n stukkie uit die verlede ongesiens vasgevang in ons gene, wat hierdie kringloop onophoudelik laat voortduur?
Is dit die prys van Voortrekker-bloed in jou are? Die soeke na dit wat anderkant die horison verskuild wag.
Hoekom elke keer hierdie Golgota pad Here, vra ek in my binnekamer. Ondersteunend aan die sy van die man in my lewe wat onverskrokke vorentoe beur op die kronkelpad van nuwe ervarings. My eie vrees diep verborge vir die barendsnood-van-afskeid, wanneer ons as ouers die pad weereens gaan ooptrap in die vreemde vir ons kinders en hulle kinders.
Wanneer die hemelse vrede van alles omhelsende liefde van die nabyheid van die familiekringetjie my padlangs kom, weet ek diep binne in my, dat die kruisigingsproses vir my, nog 'n keer voorlê. Wanneer gaan dit ophou?
Oorkant wink die onbekende met belofte van beter. Outop se Voortrekker-geit? Wat is oor die volgende bult? Ek weet uit ondervinding dit bring voorspoed. Altyd beter. Weet dat ek SO dankbaar moet wees vir wonderlike geleenthede in ons lewe, daar is geen twyfel eers daaroor. Waarom sak ek dan elke keer in hierdie donker put as ons by hierdie kruising op ons lewenspad kom Here?
Elke keer as ons die epos kry - hier is u vlugplan en hotelverblyf is gereël. Kry asseblief u motor by die huuragentskap .... alle onkostes is reeds gedek deur die firma.
Daar is WEL 'n prys etiket aan hierdie 'voordele'. Soutspore wat merke laat ... ingegraveer met bekende leed se vlymskerp lem in die binnekamer van my stukkende hart. Daar waar niemand sien of hoor hoe die flenters in duisend stukkies spat teen wande van ou rowe wat ru weer oopgeruk word.
Ek kyk na my meisiekind en twee kleinkinders. Hulle aan die eenkant met die groot seer om weer te moet agterbly en die twee opgewonde seuns aan die ander kant van die vreemde land. Dad en Moek kom nader na ons toe! Dit is nie meer ure se vlieg. Dit kan nou rybare afstand wees! En verspot speel hulle soos kleinkindertjies by die speelpark. Hulle Dad is by hulle.
Ons aardse skatte wat die Here aan ons toevertrou het. Drie, wat vyf geword het met die koms van die twee klein kaboutertjies.
Hoe goed onthou ek die pyn van haar, my enigste meisiekind wat moes agterbly in SA. Swanger na sewe lange jare van soebat, smeek en wag en wag... Die dag voor ons moet immigreer kom die langverwagte uitslag - geluk Mevroutjie, jy is swanger!
Die Here gee en die Here neem het deur my gedagte geflits. Daar gaan 'n bondeltjie groei onder haar warm hartjie. Iemand om ons leë plek te vul. Ons eerste kleinkind is oppad - nes ons - net meer letterlik want ons is oppad landuit. 'n Nuwe begin en 'n nuwe lewe vir baie gesinne wat sou volg.
Ons gaan om die kronkelpad van immigrasie voor te berei. Die pad gelyk maak Vrou, was Outoppie se trooswoorde terwyl ek terugkyk deur die venster van die vliegtuig en die seer van geliefdes groet op die lughawe my nog sporadies laat afvee aan die stroom van trane.
Die stap is nodig sodat ons nageslagte eendag die vrugte kan pluk van 'n veilige hawe. So gaan ons vooruit en vorm halfwegstasies. Jan en Maria van Riebeeck? Nee Jan en Meraai van Anderland.
Vriende en familie het gekom en ons huis was altyd oop. 'n Ark op die eiland. Vanuit 'n land waar geweld geseëvier het en nog steeds doen het die stroompie aankomeling nooit opgehou.
So kon ons vir ons kinders 'n nuwe land se burgerskap as geskenk gee waar voordeure nie eers kon sluit en jy maar jou beursie op 'n bankie kan vergeet en weer gaan haal. Ongeskonde laat in die nag te voet.
Maar die prys was met baie trane van verlange betaal tot die drie jaar verby was en ons Meisiekind en gesinnetjie kon laat kom om te deel in die voorregte van die eiland van die lang wit wolk.
Die hemel se sluise het vir my oopgegaan die dag toe ek hulle teen my kon vasdruk op Auckland lughawe. Nooit weer sonder hulle, tot dit die Here behaag, was my smeekgebed. Dat ek hulle kan toemaak met liefdeskombersie van daar wees, dit is al wat ek vra.
Wanneer hulle in die put van onsekerheid beland - kon ek gee, 'n oor of net 'n gebaar van ons is hier my kind. Môre sal die son weer skyn.
Die vreugde ingedrink van herenigde gesinslewe. Met dankbare ouerhart die wete vertroetel - ons is weer saam! 'n Gesin in een land. My beker het oorgeloop.
Drie korte jare later het die Golgota bordjie weereens verskyn op die aanwysing van my lewenspaadjie. Die laaste Kersfees in New Zealand saam as 'n volledige gesin, terwyl trane oor Outop se wange rol en die liggies flikkerend 'n feesseisoen aandui. Maar binne die moedige kringetjie heers die versteekte pyn van afskeid wat voelbaar in die lug bly hang het tussen die reuk van 'n feesmaal geskik vir 'n koning en tog het die opdienbakke vol gebly.
Vir oulaas in een land saam. Weereens - want die onbekende stem het geroep en Outop het geantwoord met - baie dankie, ek aanvaar die aanbod!
Ons maak die pad oop vir hulle Vrou. Neem die regte afdraai by die kruising vir ons kinders en hulle kinders. Nou bekende woorde want weer is daar 'n Golgota pad vir ons en die liggies gaan hierdie kersfees weer moedig flikker terwyl traanverblinde oë die stukkende harte verbloem en moedige stemme die kerslied saam sing.
Here Here, hoeveel keer dan hierdie pad van afskeid vir my as moeder?
Hoe lank voor ek weer my gesin by my sal hê? Waár mag ek die streep trek en sê: "Hier wil ek bly.en kan ons voorberei vir die laaste skof .... dit was genoeg. Ek is moeg om oor te begin!"
Kan ons ook nie maar soos miljoene ander gesinne op een plek gevestig wees? Jaar in en jaar uit. Die koel skadu van saamwees geniet en ervaar. En die enigste seer afskeid is die dood van 'n geliefde. Natuurlike afskeid en onafwendbaar vir ons almal.
Dit is nie vir my so beskik want oorkant wink nog steeds die onbekende pad. En ek volg my man wat álles sal opoffer sodat ons nageslag die beste kan hê. Al neem dit ons eers deur woestyne tot by die oases van die lewe.
Wie is ek dan om murmererend te sluk teen die knop in my keel waneer ek weer die proses van afskeid in die oë staar? Wanneer ek skuilend wegkruip om nie die seer in my kinders se oë te sien. Here ons tyd was so kort. So bitter kort. Slegs 'n kale paar weke saam hierdie keer.
Ons gaan oor die volgende bult ... sodat daar eendag .... vir hulle - ons drie kinders - 'n plekkie sal wees in die son. 'n Veilige hawe vir hulle lewenskepe se vasmeer teen die storms van die lewe. Geskep deur ouerharte wat smag na die beste vir hulle en ook vir ons. Ek pluk saam die vrugte van soveel ervaringe. Moet dit vir myself oor en oor noem. DIT is hoekom ons dit doen!
Here vergewe my vir die swaar gemoed waarmee daar gewag word op die uitslag van hierdie nuwe wending in ons lewe. Laat U wil geskied en dit ook my lig op die pad vorentoe sal wees in geloof. Maak my sterk wanneer ek die warm lyfies van die kaboutertjies weer teen my moet vasdruk om te groet, tot hulle by ons kan wees aansluit, waar dit 'nog beter' gaan wees want daar is nuwe ontwikkeling en iemand moet vooruit gaan. Die pas aangee. Dankie vir voorregte soos hierdie al voel die prys soms te duur om te betaal. Dankie vir firma's met oop hande en harte vir immigrante met die durf soos die van ons voorvaders.
Spaar ons as 'n gesin - weereens op die vooraand van verskeuring ... tot U wil geskied en ons weer vir hulle die pad kan aanwys en sê kom - Dad het gesorg.
Ons Hemelse Vader, laat my berus in U wil. Gee my vrede en maak die seer toe met U wye genade wat oor ons hang soos die wolkkolom van ouds. Dat ek weer met dankbaarheid na geleenthede sal kan uitsien en dit aangryp met volle lewenskrag en blymoedig langs hom - die man wat ek gekies het as my kinders se aardse vader.
*soveel water in die see geloop alreeds en weereens is daar die verlange na kinders (ons jongste en sy gesinnetjie) in 'n ander land.