Dit is gewoonlik klein dingetjies in die lewe wat mens werklik en opreg gelukkig maak. Dingetjies wat mens ook eers met jou eie kop moet deurwerk en daaroor duidelikheid ontvang.
Vanoggend is ek met my ou eentonige, maar noodsaaklike sleurwerkies in die huisie hier op die skoolterrein besig. Daar is vandag weer wintersport op die velde aan die gang. Tussendeur hoor ek kort kort die gejuig en gejubel opklink wanneer die een of ander span 'n doel aanteken. Ek het so tevrede gevoel in my. Ek woon in 'n plekkie wat ek kan inrig volgens ons gesin se smaak, ek kan dit huislik en warm maak. Dit is nie ons plekkie nie. Dit is nie watwonders nie. Maar dis 'n plekkie waar ek en my man, en soms my seun as hy hier is, ons kan ontlaai, kan mens wees en ons siel kan loslaat.
En ek dink so aan die baie baie sportgeleenthede wat al deur my man en my bygewoon was, waaraan ons deel kon he. Soveel meer nog, aan al die geleenthede waarin ons aan jong mense se lewens iets kon toevoeg, help om hulle op die pad te sit na die volwassenes wat hulle bestem was om te wees. Met sport (alhoewel ek nie te lief daarvoor ooit was nie, het ek alles, ook dit, met passie gedoen), kulturele bedrywighede soos die geliefde tonele, revues en debatte en redenaars wat ek afgerig het, die skrywerskring waar ek jong skryftalent help vorm het, en ek kan niks anders wees as dankbaar nie.
Dan dink ek aan die situasie waarin ek myself tans bevind, 'n situasie wat my soms neerslagtig maak, depressief. Die daaglikse sleurtakies, geen professionele beroep meer waarin ek my kan uitleef en voel ek maak 'n verskil iewers nie. Maar dan, op 'n geseende oggend soos vanmore, besef ek - dit is soos die Bybel se: Vir alles is daar 'n tyd. Nou is waarskynlik die tyd om te reflekteer, en om die wonderlike dinge wat ek uit Vaderhand deur die jare kon ontvang, en die wonderlike dinge wat ek aan ander daardeur kon deurgee, te 'internalize', soos die Engelsman sal se.
Ek het gister by 'n begrafnis die wonderlike voorreg gehad om van ons oud leerlinge wat eintlik maar ons kinders is, te sien in die wasdom wat hulle bereik het. Wat meer kan ek dan op hierdie oggend voor vra? Waarom sal ek dan nie met 'n jubeling in my hart die toilette skoonmaak, die water skuif en die kos op die stoof sit nie?