[geskryf op 5 september]
Boela spring teen my op, maar hy kom nie ver nie. Sy agterlyf protesteer. Ek lag en vryf hom tussen sy ore toe hy gaan sit. Hy frons en kyk na die pakkie in my ander hand. Sy neus snuif so effens en dan draai hy sy groot kop so skuins en lig sy ore. Die eens gevreesde swart gesig wat iemand naby my toegelaat het as ek nie wou nie, is nou spierwit; net die neus is nog swart.
“Boela, jy is net een te veel vir my. Mens kan niks vir jou wegsteek nie.” Hy snuif weer. Ek gee vir hom ’n hondebeskuitjie uit die pakkie. Hy kou behaaglik en vra nog een met sy tong wat lek.
“Toe nou, dis genoeg. Jy het al die helfte opgeëet.” Ek gaan bêre die pakkie.
My hart trek saam. Die laaste jaar sonder my geliefde eggenoot en sielsmaat (gister ’n jaar gelede weg), was Boela my enigste geselskap hier op die vlakte. ’n Paar weke gelede het ek vir hom ’n maat gekry. ’n Nooi-woef, jonk en mooi; Klara. Sy het by sy voete gaan lê en hom warm gehou. Sy het geduldig langs hom gesit wanneer hulle my hoor aankom en gou geleer om te wag tot ek sy kop in ’n groet vryf en dan haar kop ook groetvryf.
Daardie dag toe ek Boela moes keer om die fisant te jaag, laat my glimlag. Ek wonder hoeveel bosduiwe het Boela hier gevang. Vere het gereeld iewers op ’n hopie gelê. O ja, en Boela het mos anderdag nog vir Liewe Heksie hospitaal toe gedra nadat sy haar beentjie gebreek het. Ek vee my trane af. Iewers is nog ’n storie waar Boela die kleine renoster Zimela ook beskerm het teen moontlike gevaar. Ek moet daardie storie gaan soek.
En nou? Nou is ek alleen. Ek en Klara Mooinooi sit en wonder waar Boela is. Hardloop hy agter ’n duif aan? Of lag hy oopbek omdat hy ’n diep bak vol pap en melk gekry het? Want Boela is gisteraand weg. Sy ou lyf kon nie meer nie, al was sy gees nog so gewillig. Hy het sommer gedood … nie gesterwe nie. Hy het my nog by die hek kom groet en ’n rukkie later met sy gewone gulsigheid, sy bak pap en melk op- en leeggelek. En laataand het hy sy bene onder hom ingetrek, so effens op sy sy gedraai en sommer opgehou asemhaal.
Ons gaan jou mis, Boela, maar jou ou lyf kan nou rus. Jou jare by ons is vasgevang in stories en foto’s en al die vreugde wat jy ons gegee het. Dankie dat jy my opgepas het, maar ook getroos het. Ironies dat jy juis gisteraand moes gaan. Dit maak jou nog meer spesiaal.