Author Topic: Wraak is op sy soetste yskoud  (Read 1715 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Wraak is op sy soetste yskoud
« on: November 27, 2013, 10:36:28 AM »
        Die nag is op sy donkerste, so sê hulle wat weet, in daardie ure wanneer die dooies rondloop op soek na nog ‘n lewend siel om te teister. Ek is nie so seker oor hierdie stelling nie. Wanneer jou gedagtes oor en oor deur jou wese en siel dwaal, jou herinneringe van gebeure lank geleed met jou alleenspraak voer, is die donker nag nie beperk tot ‘n uur of twee en is die nag ‘n ewigheid en ‘n sekond. Miskien is dit tyd vir nog ‘n Bushmills single malt om die sinne so effe te doof? Maar vir wie probeer ek nou ‘n rat voor die oë draai? Drank, pille verdoof net die sinne vir ‘n uur of twee en is tog nie ‘n oplossing vir my probleem nie. Die enigste oplossing vir die probleem is om die probleem wortel en tak uit te ruk.
        Die donderwolke lê swanger oor die kerk en aangrensende begrafplaas. Daar is ‘n oop graf grynslaggend in die grou reënslierte, besig om, so half ongesiens, die kis rustend op sy lip te sluk. En die Priester se stem word verswelg deur bliksemstraal en donderslag. Ek is ook nie meer seker of dit trane is op my wange en of dit maar net die reën is wat my liggaam en siel oorstroom …
Die eerste oggend sonstraal klief soos ‘n vuurpyl teen die spieël op my sitkamermuur en splinter die donker in miljoene skerfies oor die kamer heen op dieselfde oomblik toe Bach se Toccata et Fugue in D-minor sy crescendo bereik. Tien jaar is dit nou dat die graf die kis gesluk het en my siel aan vlarde geruk is. Wel, eintlik is my siel alreeds uitgeruk nog voor die graf gesluk het. My siel is uitgeruk op daardie oomblik toe die “bloulig brigade” enkel motor deur die kruising gejaag het teen  my motor vas met my lief wat soos confetti oor die kruising gestrooi. Ek self het maande na die botsing uit die koma gekom en teen slakkepas het my herstel, ligaamlik, begin. Die sielkundige genesing, so is ek meegedeel, sou so ‘n bietjie langer neem. Ja dis ook nie eintlik ‘n kompetisie wanneer die bloulig voertuig ‘n groot swaar vierwiel aangedrewe Mercedes Benz en my voertuig maar ‘n klein Alfa Romeo Brera is … was. My Alfa is nie meer, nes my lief nie meer is nie.
        In die hof is gesê dat die bestuurder van die bloulig motor nie aanspreelik gehou kan word vir die botsing nie want, so is die hof meegedeel, hy het maar net in die uitvoering van sy pligte opgetree. Al die getuienis het getoon dat hy die enigste bloulig motor was en dat daar geen dringende afsprake was nie. Daar is ook aangetoon dat hy alleen in die motor was. Die getuienis het ook getoon dat hy van die ongelukstoneel af verwyder is deur sy kollegas. Daar is ook aangevoer dat hy onder die invloed was. Hy het ook nie eens probeer om hulp te verleen nie. En op grond van al die wanvoorstellings deur sy here en meesters en korrupte amptenare is hy onskuldig bevind en laat gaan. My stem was stom in die hof en dit smaak my die audi alteram partem reël in ons reg is ook soos confetti gestrooi. My lief is nie meer, my lief is nou tien jaar in die graf.
        Ek het die dag toe hy vry uit die hof stap, saggies in sy oor ge-fluister: jy moet van nou af met oop oë slaap. Jy is vrygespreek maar jou sterwensuur begin nou, hier, maar jy sal dood wanneer jy dit die minste verwag. Geniet jou laaste dae op die ondermaanse. Jy sal ook nie weet wanneer jou laaste uur aanbreek nie. Geniet jou laaste, geniet jou familie, geniet jou vriende. Sonder enige gevoel in sy swart oë staar hy na my, met so ‘n tartende grynslag op sy gevreet. Ek het op dié dag ook begin beplan aan sy teregstelling.
In die beplanning vir die teregstelling, het ek na ‘n paar opsies gekyk en om maar ‘n paar te noem – ek het dit baie sterk oorweeg om sy motor te “boobytrap” met plofstof. Ek het egter hierdie opsie eenkant toe geskuif omdat eerstens plofstof naspeurbaar  (traceable) is en tweedens kan onskuldige mense ook in die ontploffing ge-dood of beseer word. So wat presies wil ek dan hê? Ek wil ‘n manier vind wat persoonlik is maar wat my nie sal blootstel aan persoonlike risiko nie. Dis dan ook vir hierdie rede wat ek teen die gebruik van ‘n mes besluit het. Maak nie ‘n fout nie, ek wil wat ek gaan doen baie persoonlik maak – hy moet presies weet wat gaan gebeur en wie dit doen maar ‘n mes! Ja ek sal hom in die oë kan kyk maar hy sal my ook kan aanval en die moontlikheid dat hy my kan oorrompel is uiters goed so die mes-opsie is uit.
        Ek het gif oorweeg. Gif is mos die een manier wat ons vrouens die ding mee doen. Vat nou maar vir ou Daisie. Ja, Daisie De Melker! Sy het haar twee mans weggehelp met behulp van strignien en toe sommer op die koop toe haar enigste seun met arseen. Ek het so ‘n bietjie gaan nalees oor gif en die beste opsie sou wees om die natuur se eie te gebruik. Die meeste van ons het mos maar so ‘n giftige plantjie of twee in ons tuin. Vat nou maar die ou selonsroos, of nightshade of “Pride of India”. Almal lekker dodelik en simuleer natuurlike oorsake. Ooo en ek moet nie van Ricin (kasterolie sade vergeet nie. Maar weereens die probleem van direkte kontak – ek sal, om te verhinder dat iemand anders dan hy dit inkry, moet toesien dat hy dit neem.
Toe tref dit my – hy is mos die bestuurder van ‘n bloulig motor en as sulks moet hy mos dan inderdaad ook vertroud wees met wapens. Hy moet mos, om sy wapenvaardigheid op ‘n hoë vlak te hou, gereeld gaan skiet. Hy moet dus gereeld op ‘n skietbaan gaan skiet. Wat ‘n wonderlike geleentheid. Daar sal ek die aanvanklike afstand tussen ons hê sodat ek hom uit aksie kan stel en dan kan ek inbeweeg en in sy oë kyk as ek die doodskoot afvuur. Briljant al moet ek dit self sê. En die beste van alles – skote op ‘n skietbaan gaan ongesiens verby. Of soos ou William Shakespeare by geleentheid gesê het: die beste plek om ‘n boom te versteek, is in ‘n woud.
        Daar is ‘n ander rede ook hoekom ek op skiet besluit het. Ek het vir baie jare aan ‘n skietklub behoort en het veral uitgeblink met die geweer en veral skiet oor ‘n lang afstand. Maar watter kaliber sal die mees geskikte wees vir wat ek wil doen? My persoonlike gunsteling is my Ferlach .270, wat soos ons almal weet, akkuraat is oor ‘n lang afstand en ook ‘n klein “drop” oor lang afstande het. Ek sal egter daardie geweer, wat ek al vir jare so vêr wegsteek, my Harrington & Richards 500 nitro-express wat ek so tussen die reëls deur bekom het, gebruik. En jy mag nou vir my vra maar hoekom so ‘n swaar kaliber? Die antwoord is eenvoudig – met die 500 nitro kan ek gemaklik oor 1000m skiet en wat ek nie met die 270 kan doen nie.
Skel lui die telefoon in die portaal van my herehuis te Kalkbaai. Wie sal ook dan nou op hierdie ongoddelike uur my wil kontak. Bid jou dit aan – twee-uur in die oggend. Ek hoop nie dat daar iets met my kinders of broer gebeur het nie, want dis mos maar altyd slegte nuus so laat in die nag. Good morning, this is Natalie-Dominique speaking! Hallo daar, dis Jaques Du Pont wat praat. Ek wil graag met jou ontmoet en ‘n aangeleentheid met jou bespreek. Dis ‘n aangeleentheid in ons beide se belang. Daar is daardie klein Griekse Taverne in Kampsbaai, ja daardie een so aan die vissershawe. Sal ons so twee-uur ontmoet? Glo my as ek sê dis in ons beide se belang – en Natalie-Dominique, ek is nie daarop uit om jou te bedrieg nie. Nou maar goed, Jaques, twee uur by die taverne. En skielik is daar so ‘n bakkersdosyn aasvoëls in my maag. Wie is hierdie Jaques en wat het ek en hy dan so in gemeen?
        In elk geval is my nagrus daarmee heen en daarmee saam my skoonheidslaap. Dis ook nog hopeloos te vroeg vir Earl Grey en ek is nou gladnie in die bui vir Bushmills enkelmout whiskey nie, daarvoor is die aasvoëls in my maag heeltemal te doenig. Dan is koffie maar die enigste wat oorbly – laat ek gou die ketel kook. Mensig hoe praat ek dan ook – hoe kook mens ‘n ketel? Mmm ja daar’s genoeg water in die ketel en so met die wag vir die water om te kook warrel die gedagtes, die wonder deur my denke. Wie is hierdie Mnr. Jaques Du Pont nou eintlik? Ek ken hom van nêrens af en as hy sê ons het baie in gemeen, wat bedoel hy daarmee? Ek dink ek sal so ‘n uur voor twee na die taverne gaan sodat ek kan waarneem wie kom en gaan. Voorsorg is inderdaad die wagwoord en ek dink dat ek in elk geval nie met die Alfa 8C moet ry nie, sy trek hopeloos te veel aandag veral omdat daar so min van die 8C’s in die land is. Nee, ek sal met die Fiat Scorpione ry, sy’s in elk geval vining genoeg indien ek haastig spore moet maak. Aaa, nes Jan Spies ook gesê het - die eerste beker koffie is die tweede beste ding van die dag.
        Skuins voor Een-uur trek ek die reuse voordeur van my herehuis op knip, en op so ‘n drafstappie trippel ek die motorhuis binne. ‘n Rooi sportmotor bly maar ‘n mooi ding, veral as dit Italiaans is en die 8C Competizzione is mos ras-eg Italiaans. Maar die Fiat Scorpione, in dofswart, trek ook die oog, net op ‘n ander manier. Met die draai van die sleutel vat die Scorpione se 1400 turbo-aangejaagde enjin met ‘n grom-skree, nes ‘n kat wie se stert geknyp word. Die sowat 8km na die taverne is nou ook nie kompetisie vir die Scorpione nie met die taverne in sig net na die ghong sy enkelslag beier. Stadig, maar nie statig, grommel ek en my Fiat verby die taverne, Spiros Papalopolos se taverne. Dis in elk geval die enigste taverne in die omgewing. Mensig, mens sou dink ons is in ‘n land waar daar siesta gehou word – daar’s nie ‘n siel in sig nie, maar net vir die wis en onwis soek ek ‘n gaatjie vir die skerpioen, so uit sig. Ek weet mos nie of meneer Jaques Du Pont weet wat ek ry nie.
        Ek kan seker ook aanneem dat as daar niemand in ou Spiros se plek is as ek instap nie, dat ek sal weet as Du Pont inkom. Ja, hierdie is ook nie die mees gesogte taverne nie as ek so na die algemene verval kyk terwyl ek die deur oopstoot. Vir ‘n oomblik kan ek niks sien nie, daar is bitter min lig hier binne. Die enigste twee mense behalwe ek is twee ou gryskop griekse mans, elk met ‘n glas van die plaaslike griekse rooiwyn voor hom en diep in gesprek, in grieks. Die man agter die kroeg toonbank is in dieselfde ouderdomskategorie as die ander twee en net so vervalle en verwaarloos. Dit moet seker maar ou Spiros wees. Ek vind ‘n tafeltjie vir twee so skuins agter die kroeg en wat in nog meer skemer gehul is as die res van die plek. Skaar het ek my sit gekry toe is Spiros daar. In ‘n rasperstem swaarbelaai met ‘n knoffel- en wyn walm wil hy weet wat ek sal wil drink. Het jy Bushmills enkelmout whiskey? Ja, en ek is geskok, het dit nie verwag nie. ‘n Dubbel ‘seblief, on the rocks. Die glas is wragtig ook skoon, merk ek so toevallig en net voor ek die eerste teug neem.
        Ongesiens, ongemerk tik tok die minute verby en daar is geen teken van Du Pont nie. Ek wonder of hy gaan opdaag siende dat dit hy was wat die afspraak gemaak het. Ek sal nog 5minute wag en dan ongesiens by die kombuis uitglip, nes ‘n spy. Ek is steeds nie “kosher” met hierdie ontmoeting nie. Ek kan steeds aan geen rede dink waarom ons moet ontmoet nie en siende dat ek hom nie ken nie, kan ek aan niks dink wat ons dan in gemeen kan hê nie. Skielik spring daar so ‘n aaklige gedagte hier by die agterdeur van my kop in – afpersing! Ou Dier, dis nou die tyd om spore te maak. Moenie die noodlot tart nie deur jouself oop te  maak vir afpersing nie. En glad soos ‘n Mamba is ek uit my stoel en uit by die agterdeur van ou Spiros se Taverne. Ek sal steeds op die uitkyk moet wees vir Du Pont al weet ek nie hoe die man lyk nie en ek wil ook nou nie in die man vasloop terwyl ek dan nou uitglip nie. Gelukkig is daar agter die taverne ‘n uitgang na die straat agter en ek glip so ongesiens moontlik in dié straat af na my Scorpione toe. So sit ek toe in my Scorpione en observeer ou Spiros se taverne op die uitkyk vir Du Pont en of hy wel gaan opdaag. Daag hy op dan weet ek vir seker that he does have an hidden agenda.
        Grou en nat breek die dag, presies tien jaar na die graf Lief se kis gesluk het. My informant het my ingelig dat die Bloulig Bliksem vandag op die skietbaan gaan wees. Daar sal van sy kollegas ook teenwoordig wees maar Bliksem se gewoonte is in elk geval om agterweë te bly na sy “pelle” wegbeweeg van die skietbaan af en dan op sy eie te skiet, wat my soos ‘n handskoen pas. Die skietbaan, ‘n militêre baan is baie groot of dan die terrein is baie groot aangesien die baan ook gebruik word vir die standaard militêre “vuur en beweging” opleiding. So ek het in elk geval ‘n 1000m tot my beskikking. My inligting is ook dat my teiken nooit ooit voor 11 uur skietbaan toe gaan nie en dan bly hy vir res van die dag. Ek gaan so 6 uur by die baan wees sodat ek in posisie kan kom.
        Presies soos my inligting verkry, daag Bliksem en sy kollegas by die skietbaan op. nou lê daar vir my ‘n lang wag voor, maar dis maar wat enige sluipskutter tog ervaar. Geduld en nogmaals geduld. Ek het myself baie gemaklik gemaak en so tussen die wag deur geniet ek yskoue water. Ek het die teleskoop, ‘n Redfield 10 x 32, al ge-sight en ek weet ook dat die drop oor ‘n 1000m 45cm gaan wees. Daar is gelukkig nie enige wind om van te praat nie, die briesie gaan geen invloed op die 400grein projektiel hê nie. En so lê ek maar geduldig en wag terwyl die sekondes tikketietok op die maat van skutter-skote.
        Skielik breek die oomblik aan – Bliksem se maatjies pak hul wapens en toerusting op, klim in hul motors en jag in ‘n stofwolk van die skietbaan af weg. Hoekom is ek nie verbaas dat algaar daar ‘n bloulig monster ry nie? En dan is daar weer die bakkersdosyn aasvoëls vladderend in my maag as ek die 500 Nitro in my skouer intrek en die kruishare van die Redfield suig vas teen die buik van Bliksem want ek wil hom mos net eers immobiliseer vir die doodskoot. Soos ek deur die Redfield kyk en konsentreer op my asemhaling vervaag alles om my en is die stilte oorverdowend. Steady, ever so steady and then the explosive sound of a shot . . .
        Dan dring die diep grommel van my 8C Competizzione se V8 enjin tot my sinne deur en ek word bewus daarvan dat ek soos ‘n riet bewe. Dan die gewaarwording dat ek ook ontsettend naar is. To say that a Bushmills 10year Malt would go down well is such an understatement. Skielik staan ek in my voorhuis, Loodkristal glas in hand terwyl ysblokkies sag donderend in die glas klingel. Die amber whiskey stort soos die Victoria-valle oor die ys. Die eerste sluk skroei soos lawa deur my liggaam met die tweede wat soos lood in my bene gaan lê. Met ‘n sug-snik sak ek in my leunstoel in terwyl trane witwarm oor my wange stroom. Dis nagdonker in my voorhuis en doodstil. Ek moes seker aan die slaap geraak het, hoe laat is dit dan nou? Dis wragtig die uur waar die spoke loop en soek. Dis drie-uur in die oggend en daar is vrede in my hart, in my siel. Ek sien ook dat daar ‘n boodskap op die antwoordmasjien is – mmm dis seker Du Pont terwyl ek die “erase” knoppie druk
        Soos die gewoonte maar is, skakel ek die radio aan op Cape Good Hope. Die musiek is lig en vrolik en ek sing sommer saam so op my ou falsetto stem. Dan is die stem van die omroeper daar met die nuus. “ die lyk van ‘n man is gistermiddag laat op die militêre skietbaan gevind met ‘n pistol langs sy hand. Daar is ‘n skietwond aan sy liggaam en dis nog nie duidelik of die man selfmoord gepleeg het nie. ‘n Eienaardigheid hier is dat in sy een hand is daar ‘n vel papier gevind met ‘n sirkel op en ‘n kruis in die sirkel en met die woorde “happy 10th Anniversary. Maybe next year”.
        Kalkbaai skitter soos ‘n spieël in die oggendson en op die oomblik wat ek ‘n slukkie koffie vat, spring ‘n dolfyn in die baai met ‘n dampspoor water hangend aan haar stertvin. Met ‘n glimlaggie wat so pluk-pluk aan my mond dink ek ja! Wraak is waarlik op sy beste en  soetste  yskoud.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Wraak is op sy soetste yskoud
« Reply #1 on: November 28, 2013, 09:37:30 PM »
Baie goeie verhaal Natalie.  Ek het heerlik gelees en dit geniet.  Ons moet meer van jou verhale onder die oog kry.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Wraak is op sy soetste yskoud
« Reply #2 on: November 29, 2013, 06:17:08 AM »
Briljant geskryf.

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Re: Wraak is op sy soetste yskoud
« Reply #3 on: November 29, 2013, 09:45:27 AM »
baie dankie julle - ek waardeer dit sommer baie