Dis 'n koue dag, 'n Maandag. 'n Koue wind forseer hom oral in.
Op 'n bankie sit hy, 'n baie ou man, in die klein hoekie son wat by sy geroeste sinkhokkie in skyn. Sy wit hande, soos bruin leer, deur die son gebrei. Jare se swaarkry het nationale paaie, nie plooie nie oor sy harde gesig en lyf getrek. Groot hande en gebarste groot vingers getuig van harde arbeid jare lank onder meedoёnlose base van genadelose maatskappye in 'n wrede selfsugtige land.
Met kil blou oё staar hy die skadu's van sy blyplek in, sy wit vel suig die dag se laaste bietjie son na binne. Dan hoor hy dit raas, en hy voel dit pyn, sy honger word sy baas.
Sy oё fokus, reuk verskerp, blitsvinnig skiet sy geoefende vingers die skerp knipmes oop. Staal sterk sening arms skiet die mes soos 'n bliksem straal die skaduwee binne, die stilte gebreek deur 'n dowwe plofgeluid.
Die ou man se mond vol kwyl, trane in sy blou oё, sy dankbaarheid sigbaar. Vinnig is daar 'n vuurtjie. Haastig word die prooi geslag, sagte vars vlees word gesout, gebraai, verslind. Nog een minder rondloper, 'n dankbare ou man met 'n vol maag, genadiglik 'n rustige nagrus, tevredenheid amper tasbaar.
* * *
Dis 'n koue dag, 'n Dinsdag. 'n Koue wind forseer hom oral in. Op 'n bankie sit hy, 'n baie ou man, in die klein hoekie son wat by sy geroeste sinkhokkie in skyn. Hy wag geduldig, die lokaas vroeg reeds reg.
Sy honger soos 'n reuse monster binne hom aan die groei. Sy eenvoudige hokkie binne mooi versier, snoesig gemaak deur veelkleurige pelse van honderde katte. Hy fokus op die oopgemaakte blikkie goedkoop katkos, lokaas.
In die skaduwee word die honger oё van n kat sigbaar. Stadig sluip hy nader aan die lekker happie. Opgewonde blou oё glimlag blymoediglik. Skielik vlieg 'n mes soos die dood, akkuraat.