Kyk, my Oom Driekus, daar was nou vir jou ‘n man wat met diere kon toor. Hierdie manne wat vandag so vir die diere fluister kon by hom gaan kers opsteek het.
As hy vir ‘n perd sê; “Trippel” dan gaan sit daai perd, trek sy skoene al vier uit en draf op sy tone soos daai blonde tannie van The Sound Of Music. As hy vir ‘n koei sê; “Melk” dan gaan staan daai koei wydsbeen oor die emmer en spuit met al vier haar tepels daai emmer vol melk. En as hy vir haar sê “room” dan room sy. Maar hy was ‘n te groot gintelman om vir die koeie te se “botter” of “kaas” want hy het geweet dit maak hulle tepels baie seer. Tant Ans, sy vrou, moes maar self die botter en die kaas in die kombuis maak.
Oom Driekus het gaan leeus jag met ‘n sinkplaat en ‘n hamer. Hy het daai leeu loop soek. Dan, as hy hom kry, dis nou die leeu, het hy die sinkplaat soos ‘n skild met bloudraad aan sy linkervoorarm vasgedraai want ‘n leeu is rof. Met die hamer in sy regterhand sê hy vir daai leeu: “Kom bang-gat! Spring.” As daai leeu spring hou hy die sinkplaat voor dat daai leeu teen die sinkplaat vasspring. Hy het geweet ‘n leeu is soos ‘n kat. As hy kwaad is spring sy naels uit. Dan slaan daai leeu se naels dwarsdeur die sinkplaat. Dis dan wanneer Oom Driekus die hamer vat en vining die leeu se naels omklink sodat hy nie weer sy pote van die sinkplaat kan afkry nie.
Wanneer ons die leeu hoor brul en blaas en die plaashonde plas plas stert tussen die bene weghol om die opstal.het ons uitgestorm plaasstoep toe want dit was altyd ‘n gesig om hom uit die veld uit te sien aankom met die brullende leeu aan die sinkplaat vasgeklink op Oom Driekus se rug. Die leeus in daardie kontrei is vandag nog bang vir sinkplate.
