Hulle sê hoe ouer jy word, hoe meer praat jy en vertel jy uit die verlede. Nou toe, maak maar jou eie afleidings..
Ek hoor nou die kerkklok lui vir Sondagaand biduur en onthou skielik die tye toentertyd toe ek nog in die koshuis was en ons MOES kerk toe gaan vir aanddiens op ‘n Sondagaand of Woensdagaand. En as jy die naweek in die koshuis moes bly, dan het jy ook Sondag-oggend die diens bygewoon.
Die kerk was in dieselfde straat as die koshuis en die skool en die biblioteek en die kerksaal en die pastoerie… Ja, dis reg, dit was een lang straat met die grootste akkerboom op die hoek van die straat by die kerk waaronder kerkgangers hulle karre parkeer het.
Vir kerk en biduur moes ons opdress in òf wit vir die Somer òf navy vir die Winter met sykouse, as jy een van die gelukkiges was wat dit gehad het, anders het jy lang bobby socks gedra. En jy moet ‘n hoed ophê. Met die eerste teken dat ons nie voor die kerkraad sou verskyn en onder sensuur geplaas sou word vir die nie dra van hoede en sykouse, het ek myne laat ‘wegraak’.
Ons moes in ‘n lang ry eers voor die koshuishekke inval en dan, met die hoofseun en –meisie aan die voorpunt, af ge-march kerk toe. Dit was maar ‘n gestamp en stoot en briefies onderlangs uitdeel al die pad. Ons het heel voor in lang rye die banke vol gepak, meisies voor onder die Dominee se neus en die seuns agter ons. Dan het die res van die karige bywoners gesit. Was dit per toeval dat ons hoede altyd skeef gesit het op ons koppe of onder die bank beland het? Krieke het ook op wonderbaarlike wyse hul verskyning gemaak, selfs op jou skoot tydens die preek.
Oom Voges was hoof ouderling, later nie meer ‘n ‘pos’ beklee nie. Te oor die sperdatum, dink ek. Die singery kon nog gaan, want dit het jou wakker gehou, maar as dit kom met ‘geleentheid vir kort gebede’, het Klaas Vakie oorgeneem.. Eers het die hoofmeisie gebid, dan die paar tannies wat dit wel tot by die kerk gemaak het, dan ‘n onnie of twee en dan het Oom Voges dit by Adam in Genesis gaan vasvat en met die laaste sewekop-draak in Openbaring ge-eindig. By daardie tyd het jy hier en daar ‘n gesnork hoor opklink uit die seuns se banke.
Dit was so stil. Nie eens die honde in die buurt het geblaf nie. Jy’t net die goggas teen die lampskerms hoor vasvlieg. Ek is nou nog oortuig daarvan dat selfs Dominee ‘n uiltjie geknip het op die stoel agter die preekstoel. Oom Voges het nie end gehad nie. Hy het hom daar bo gaan haal en hom teen die mure van die kerk gegooi. Dit het terug gebons en later gemeng met die volgende hoofstuk uit sy gebed. Dit was eindeloos. Tot daar waar almal later met oop oë gesit en saggies bid het dat ‘n muur asseblief tog net inmekaar moet val. Dominee moes maar later tydens ‘n asemtuig-vat van Oom Voges sê ‘Amen’ nog voor Oom Voges se ‘ Om Jesus wille, Aaamen. Ja.’
©Elsabe