Om te veel woorde te gebruik is soos om hout te verf. Jy steek die pragtige grein agter 'n kleurvolle, dowwe laag weg en dit lyk soos 'n muur. Om die regte woorde te gebruik, is soos vernis op die hout, dit bring die grein uit, dit lewe.
Wanneer jy enige woord in die verkleiningsvorm skryf, hoekom wil jy dit nog meer verklein. 'n Karretjie is klein, hoekom wil jy van die klein karretjie praat as dit nie doelgerig is nie?
Die leser het 'n algemene kennis en 'n goeie verbeelding daarby. Dit is nie nodig om woord vir woord vir hom/haar alles te vertel nie. Kies jou woorde so dat dit die prentjie teken. Soms sien die leser totaal en al 'n ander prentjie as wat jy beskryf het. Dit beteken dat jy genoeg aan die verbeelding oorgelaat het.
Jy hoef nie te praat van 'n donker nag nie. Almal weet die nag is donker. Elke woord moet 'n doel hê. As dit metrum bewerkstellig is dit van pas.
Soms werk 'n mens aan 'n gedigstruktuur waar jy van vereiste lettergreeptellings moet gebruik maak. In daardie geval mag jy 'n ekstra woord inpas. Oor die algemeen kan jy deur jou gedig lees en elke woord wat nie 'n doel dien nie uitvee. Dit is tog wat digkuns beteken. Maak dit dig.
'n Wyle gelede het ek 'n stukkie gelees waar een skrywer aan 'n ander gesê het om nie die woord "die" in 'n gedig te gebruik nie.
Toe verander die skrywer die werk en skryf: "man loop in bos" dit is nie hoe ons praat nie. Dit geld ook vir die tweede ontkenningswoord "nie" wat in Afrikaans gebruiklik is. Dus, moenie woorde wat die algemene gebruikstaal is, uitlaat as jy nie 'n spesifieke doel daarvoor het nie. Die tweede "nie" versag net die rym.
Natuurlik is jy 'n digter en natuurlik het jy digtersvryheid. Dig doelgerig.