Selfstandige naamwoord
Die selfstandige naamwoord is 'n woord of frase wat verwys na 'n persoon, plek, ding, gebeurtenis, voorwerp of eienskap.
Dit word meestal gekenmerk deurdat hulle in meervoude omgesit kan word deur die byvoeging van 'n agtervoegsel en in sekere gevalle dat hulle 'n geslag kan aandui. Die beste manier om 'n selfstandige naamwoord te identifiseer is om te onthou dat dit meestal iets fisies aandui bv. 'n baksteen. Slegs selfstandige naamwoorde kan in die meervoud geskryf word.
Die naamwoord: Ons onderskei in die eerste plek tussen eiename en selfstandige naamwoorde.
1. Die eienaam is verbonde aan 'n unieke persoon of saak (soos 'n fabrieksproduk, 'n plek, 'n besondere inrigting ens.)
Die eienaam: Die eie naam is spesifiek en individualiserend. Ons kan die volgende kry:
Hanna is Piet se suster
Hanna en Piet, dui twee bepaalde mense aan; twee individue wat van mekaar onderskei kan word deur hulle name.
Ons kan ook die eienaam uitbrei, byvoorbeeld.
Hanna Theron is Piet Theron se suster.
Dit is altyd die geval met 'n voornaam en van: Dit dui die betrokke persoon nog nader aan as wat slegs die voornaam (of die van) dit doen.
Die byname val ook hieronder. Byvoorbeeld: as daar twee Hanna Therons is, kan hulle van mekaar onderskei word deur byname, byvoorbeeld Dik Hanna en Swart Hanna.
Daar is ook plekname:
a) Stede: Johannesburg, Kaapstad, Londen. Port Elizabeth, New York.
b) Dorpe: Vryheid, Koster, Ladysmith, Petrusville, De-aar, Vryheid.
c) Lande: Engeland, Suid-Afrika, Ghana, Egipte, Israel, Indië, Portugal.
d) Kontinente: Asië, Amerika, Afrika, Europa, Antarktika.
e) Eilande: Madagaskar, Mauritius, Bouvet, Cuba, Gough.
f) Riviere: Oranje, vaal, Mississippi, Kongo, Nyl, Apies.
g) Streke: Wes-Transvaal, Noord-Kaap, Oranje-Vrystaat, Natal.
Of name van produkte:
Ford, Wim, Kodak, Caterpillar, Fordson, Remington, BSA, Mauser, Grundig, Gallo.
2. Die selfstandige naamwoord: By die selfstandige naamwoord merk ons 'n aantal verskynsels op. Vergelyk byvoorbeeld:
Die motor ry in die straat.
Die motors ry in die strate
Die motortjies kruip al in die nou straatjies langs.
Hieruit merk ons op:
a) Die selfstandige naamwoorde kan in enkelvoud voorkom: kar, straat, motor, pad, hond, hoeder, tafel, stoel, koppie, piering, bord, veld.
b) Dit kan ook in die meervoud voorkom: Karre, strate, motors, paaie, honde, hoenders, tafels, stoele, koppies, pierings, borde, velde.
c) Dit kan ook in verkleinwoorde voorkom: Karretjie, straatjie, paadjie, hondjie, hoendertjie, tafeltjie, stoeltjie, koppietjie, pierinkie, bordjie.
Ons kan die s.nw. se posisie in 'n sin ook bepaal.
a) Dit kom in die onderwerp posisie voor: Die man eet die kos.
b) Dit kom ook in die voorwerp posisie voor: Die seun skop die bal.
Verder kan ons die s.nw. met ander woordsoorte verbind, om 'n woordgroep te vorm of beskryf. Ons kry gevalle soos die volgende:
a) Saam met die lid woord: 'n Man; die man. Hier kry ons ook dat 'n bepaalde lidwoord (die) met die meervoudsvorm kombineer: Die mans; die kalwers; die perde.
b) Saam met die byvoeglike naamwoord: Hoë bome; 'n geslaagde wedstryd; goeie mens; goue sierade; blink dou; slegte gewoontes.
c) In 'n sin kom die lidwoord dikwels saam met die byvoeglike en s.nw. voor:
'n bal: 'n groot bal; die boom; die hoë boom; die hoë bome.
d) Daar is ook gevalle waar die telwoorde saam met die s.nw. en die lidwoord gebruik word: Die drie kinders; die dertig spelers.
e) Die byvoeglike naamwoord kan ook in die genoemde verbinding voorkom:
Die drie soet kinders; die dertig fris spelers.
f) Die s.nw. kom ook saam met die voornaam woord voor: Haar kar; sy medisyne. Hierby kan die telwoord en die b.nw. ook gevoeg word: Daardie twee lelike beeste; Sy drie goeie kinders.
g) Ons kry die s.nw. dikwels in vaste uitdrukkinge saam met die werkwoord: Jou dors les; gewoontes afleer; 'n partytjie hou; jou honger stil; 'n span toejuig;
die oes insamel; die pad aanvat.
h) Die s.nw kom dikwels saam met 'n voorsetsel voor:
Hulle loop in die pad.
Hy klim op die perd.
Die seun val van die perd af.
Hy speld dit aan sy mou.
Hy betaal vir die diens.
Ons gaan met vakansie.
Hulle staan op troue.
Ons deel die selfstandige naamwoorde in soortnaamwoorde, massanaamwoorde, versamelnaamwoorde en maatnaamwoorde:
3. Soortnaamwoorde: Die soortnaamwoorde verwys na dinge en sake: Byvoorbeeld:
'n Donkie; een donkie; so 'n donkie.
'n Skottel; een skottel; so 'n skottel
'n Wa; een wa, so 'n wa.
In die bostaande voorbeelde verbind die s.nw. met enkelvoudsaanduiders.
Soortname verbind ook met meervoudaanduiders:
Twee karre; sulke karre; baie karre.
Twee skottels; drie skottels; sulke skottels; baie skottels.
Ses perde; baie perde; sulke perde.
4 Massanaamwoorde: Hier verbind die s.nw. met die meervoudaanduiders, byvoorbeeld:
Baie vleis, baie sand, baie geld, baie meel, baie suiker;
Al die vleis, al die sand, al die geld, al die meel, al die suiker.
5 Versamelname: Die versamelnaam kom voor wanneer die soortnaamwoord of in enkelvoud of in meervoud verbind met 'n soortnaamwoord wat net in die meervoud voorkom. Byvoorbeeld:
'n trop/troppe beeste.
'n skare/skares toeskouers.
'n span/spanne tennisspelers.
'n horde/hordes inboorlinge.
6 Maatnaamwoorde: Ons kry die maatnaamwoorde waar maat aangedui word. Die soortnaamwoorde verbind in die enkelvoud of meervoud met 'n massanaamwoord. Byvoorbeeld:
'n skottel/skottels deeg.
'n sak/sakke meel.
'n bord/borde vleis.
'n kan/kanne wyn.