Duisend dankies vir omgee liefste mater
Die afgelope drie weke was dit soveel makliker om asem te haal as voorheen en ek het kans gesien vir alles. Die wonder om jou asem diep te kon intrek sonder ongemak en hoesbuie was die grootste geskenk midde die omstandighede van verwydering van die gifsakkies (explant).
Die baba olifantjie het sy weg terug gevind na die Knysna woude en jou hart het verlig en bedeesd in volmaakte ritme geklop vir die eerste keer in jare. Die brandpyn in jou borskas verdwyn vanself en jy praat manlief mal in laaang sinne sonder om uitasem of hees te raak. Geen wakkerskrik meer met die doodse benoudheid wat jou laat regop sit, snakkend na asem.
Onwillekeurig bly wonder jy hoeveel van die ander PH simptome gaan nou makliker hanteerbaar en 'ligter' voel of straks stelselmatig met die verloop van tyd, net verdwyn? Gaan die abnormale drukking in jou hart en longe verminder?
Selfontleding laat jou ook wonder of die rede vir soveel beter voel dalk net was omdat jy basies die minimum gedoen het in die proses van heling of is daar regtig verligting soos duisende ander vroue wêreldwyd getuig na die verwydering van die twee gifsakkies en omhulsels?
Een kampnaweek omring deur die rook van die mooiste kampvure het my laat besef die asemdief se kloue is nog deeglik ingeslaan. Die olifantjie is terug en die gesteelde asems koggel in die pandok se gang terwyl jou hart uitbundig in jou borskas baljaar op 'n foxtrot-ritme.
Gewikkel in 'n emosionele oorlog wou ek tranerig terugkruip na gister se gemak, maar gister is verby en more lê nog toegesluit.
Net tyd gaan leer of daar blywende veranderinge gaan intree rakende die asemdiefsimptome. Intussen het ons net vandag om al die seëninge te geniet en elke pynvrye asemteug te waardeer.