Dwaal ek weer deur hierdie plasing van lankal en besef watter krag skuil in woorde.
Deel weer die oes wat ek jare gelede met toestemming in ons vorige woordskuur bewaar het oor wat woorde vir ons beteken.
Mel:* Dit is my uitstort-emmer
* Dit is my bystand slaapterapie
* Dit is die sielkundige wat onverdiend in onse lewenskompetisie myne geword het
* Dit dra my uit hierdie laslappiedenke wat huishou in my
* Dit is die moedersoog wanneer ek (oorbodig) val
* Dit verstaan die genoeg in my oë as ek sonder huil om die hoek stukkend word
* Dit gee my sakkies kleinwees aan ander
* Dit leer my die intrepetasie van die houtskoolprentjies in my ongesiene self
* Dit is die spieël waarin ek sonder voorgee EK is
* Dit is my enigste saam-lag-saam-huil vriend
* Dit is my woorde ...
SueEe:Ek laat woorde soos druppels val en die gedagtes wat uitkring sal nie meer my eie wees nie ...
* Wat is woorde? Kan woorde alles wees? Of kan woorde soms niks wees?
* Kan woorde regtig emosies vereenselwig? Kan jy iemand se siel met woorde verkrag of vermoor?
* Kan jy iemand se trane met woorde afvee? Kan jy in woorde lag, sonder te weerklink van 'n giggel?
* Kan jy regtig in woorde huil, sonder 'n traan?
* "Ek" is die leë gesproke woorde in gister.
* "Myself" is die dwalende gedagtes vir vandag wat môre gister se woorde word.
* "Ons" is die ongesegde woorde van gedagtes wat die woordkalender van my lewe volmaak.
* "Ek" lewe nie. Dit is nie vir "My" 'n alleen bestaan nie. "Ons" voortbestaan kan net uit hierdie woorde geanker word.
bertha badpropSelfs midde die koue somber kleure van die winter, brand die warm fakkel van emosie in ons om sulke wonder lyne te kan neerpen ...
Jou hart word geken deur die woorde wat jy saai ...
* Woorde is sade van die siel, en waar jy dit saai ontkiem dit en groei in 'n ander se hart, die vrugte van daardie sade bepaal watter tipe mens jy is, daarom, as woorde getel word en mooi sade ontkiem, pronk jou hartstuin soos die paradys ...
* Woorde is soms al wat ek het
* soms hardloop dit rond en bont
* en stoei teen my denke
* soms kom dit fluisterend
* en vee af 'n traan
* vandag staan ek stil en weet
* sonder my woorde is ek 'n stomme profeet ...
Naas* Kan jy dink en redeneer sonder woorde? Ek weet ook nie. Dalk in prentjies maar baie primitief sonder woorde. Die vryheid van woorde onderskei die mens van die dier.
* 'n Malse Mallemeule sirkel, karring deur die grysstof in my kop.
* Denke, woorde, beelde hou die heel dag lank nie op.
* Wat sal ek maak as die mallemeule stil raak?
* Kekkel, Kraai of Blaf?
Goselynn:* Selfs die mooiste en goedbedoelste woorde kan mens se hart uit jou binnekamers uitruk en dit in stukke opkap en begrawe onder tien ton sement ...
Juenka:* Woorde kan verseker emosie uitbring. Of dit nou liefde, pyn, geluk of hartseer is. Aan die ander kant is die bloed en vlees nodig vir oorlewing. Is dit tog nie so dat die drukkie, glimlag en die traan nie maar die resultaat is van woorde nie?
Woorde:
* het my laat huil
* het my laat lag
* het my vermag
* het my in die dieptes in verkrag
Elmarie Westerink:* My woorde ... koeëls afgevuur deur my vingers om my vyande saamgetrek op my denkgrense uit te wis.
* My woorde ... haelkorrels wat neerslaan uit my vingers en die brose plante in ons liefdestuin platslaan.
* My woorde ...vlinders wat dartel en draai in die sonlig van jou oë.
* My woorde ... sagte lentereen reenboë wat span oor jou dag na die woeste wildheid
van gedagtestorms.
Sussa:* Wat uit jou mond kom, verraai wat in jou binnekamers aangaan.
* Spontane blydskap, seerkry en pyn, verlatenheid, vreugde, hartseer, woede....ja, vir elke emosie is daar ‘n woord wat sê hoe jy voel!
* In Afrikaans kan ons so lekker sê hoe bly ons is: my beker loop oor, my hart bars uit sy nate, ek djiebel en djyg!
* Ons pyn kan ook duidelik in woorde uitgedruk word: die son skyn nie meer vir my nie, my dae en nagte is eindeloos lank, ek het my lag verloor, op moedverloor se vlakte ...
* Van kindertyd af is ek lief vir woorde: skryfwoorde, praatwoorde....eie taal se woorde en ander tale se woorde, geselswoorde, groetwoorde, ek-weet-van-jouwoorde .
*Warm skryfwoorde van liefde en vriendskap wat oor ver waters op dun, veerligte lugpospapier aangekuier kom en ‘n gewone dag in opwinding verander.
* Deesdae kom dit in kordaat, swart, regop lettertjies op jou rekenaarskerm in e-posvorm: ‘n rukkie tevore in anderland vervaardig en douvars, dansendbly voor jou nuuskierige oë ....!
* Of die kenmerkende handskrif-briefwoorde van familie en vriende:die eerste vinnig lees en dan die wéér lees en wéér lees net soos met die sap uitsuig van ‘n uitdruklemoen...tot daar nie ‘n lekseltjie meer oor is nie en die dors met welbehae geles is!
* Skryfwoorde op winkelvensters, uitbundig en kleurvol...in koerante, tydskrifte en oraloor; kwinkslae en spreuke, sprokies en verhale in boeke en bundels en blaaie...baldadig dans die letters in Afrikaans en Engels en ander tale voor ons oë rond.
* Praatwoorde wat hand-om-die-lyf loop met gesigsuitdrukkings, stemtoon en lyftaal....betekenisvol, verstaanbaar vir dié wat moet hoor.
*As mens jonk is, is alles wat anders is mos wonderlik....”Ich hab’ dich lieb, ohne dich kann ich nicht leben!”het die gekystes pouse in mekaar se gewillige ore gefluister.... Die sagte “ch”-klanke het die reeds emosiebelaaide woorde laat drup van betekenis!
* In Amanzimtoti by die Zoeloe Opleidingskool het die swart studente se donker, diep stemme op ‘n Maandagmôre tydens saalopening my hoendervleis op hoendervleis laat kry: warm, vreemde klanke en stemme wat saamsmelt in die mooiste harmonieuse klanke...oerwoorde wat van geslag tot geslag oor en oor gesing en gepraat en gesê word, woorde wat jou oplig en wegvat uit die sleur en die gang van die alledaagse!
* En wil ons dankie sê vir die voorreg om te kan praat, te lees en te skryf...dan kom die woorde soms so stadig, stamelend, stotterend:
“U ken my sit en my opstaan, U verstaan van ver my gedagte. Daar is nog geen woord op my tong nie of U, Here, U ken dit geheel en al...” Mag die woorde van ons mond U welbehaaglik wees, elke dag van ons lewe op aarde!
Brigitte Smith(Met dank vir die leen van jou praglyne)
Mag ek jou vanaand met woorde skets ....
woorde wat ek uit die Bolandseisoene kan pars ...
Mag ek jou vanaand met woorde skets ...
woorde wat deur koringare kerf ...
Mag ek jou vannaand met woorde skets ...
woorde waarmee naeldekokers oor kosmosmassas regeer ...
Mag ek jou vanaand met woorde skets ...
woorde wat die Jakarandastrate tooi ...
met koringgoue vlerke ...
van bessiebloeisels ...
wat kan vlieg ...
wat nimmer meer kan lieg ...
wat teen Bolandprieële bot ...
wat nog skroei, nog as dowwe klinkers toe klot ...
met waswit asem van branders ...
wat teen oseaanpoele rondomtalie speel ...
wat wonde van kras sout rowe heel ...
van loodvry koeëls ...
wat die skrapnel van my oogbank kan krap ...
wat as oorwinnaar uit die stryd kan stap ...
van wasige engelstemme ...
wat liggeurende druppels uit die skeem’ring put ...
woorde wat om versagtende omstandighede bid.
Mrs TAggressiewe woorde sonder perk - breek ‘n gemoed en los ‘n diepe merk
natalie-dominiqueWoorde - die blommetuin van my siel, die speserye van my hartspassie
Borrelsek wil in woorde vir jou skryf
die dinge wat my hart aandryf
ek wil die woorde vir jou sê
die dinge wat in my hart lê
daar is woorde rooi en woorde blou
woorde geskryf oor my en jou
woorde groen en woorde geel
woorde wat lag en woorde wat heel
'n woord in rooi sê jy is kwaad
vra my om dinge eers daar te laat
'n woord in blou is ysig koud
ek soek my pad in jou hart se woud
'n woord in geel is giggel-pret
die skaterlag wat ons twee het
'n woord in groen is vars soos dou
wat soggens sy arms om ons vou
'n woord in bruin of pers of swart
kom selde uit 'n ligte hart
maar kleure woorde oor my en jou
is wat vir ons 'n lewe bou
as ek na jou woorde luister
die dinge wat jou hart so fluister
vorm dit ‘n orkes wat ek hoor
sag en strelend op die oor
soos baie instrumente wat saam
hul weg na harmonie baan
die note, klanke, die woorde se norm
wat saam die mooiste musiek vorm
soos ‘n beeldhouer wat klei bry
om later die mooiste beeld te kry
beitel jy met passie jou woorde
en maak dit die mooiste akkoorde
ek wil teruglê en behae daaruit kry
my oë toemaak, luister wat jy sê vir my
om te skep, te skilder, dis jou taak
dis wat jy met woorde maak
*En ek sluit af met die woorde wat ek op Outop se foto gebruik het:
Woorde kan streel en woorde kan skaad.