Woordskuur > Praglyne
Kleurvolle Woordkwas
Meraai vannie Baai:
Loko-motief:
Die stilte sif stadig neer op veld, rant en vlei ...
Fisant families vroetel vervaard ...
Patryse pruttel en praat; probeer hul kuikens versamel ...
Tarentale trakteer die bosbewoners met stotter en stamel ...
Hadedas wat skellend sterwende sonstrale loof ...
Saggies versmoor verterende vingers van die nag, die wykende goud-flenters van die verdwynende dag...
En die nag sprei sy donker swart kombersie so knus oor die wye wereld, vir alle dag-lewe om te gaan rus!
Verruklike taferele geverf deur sagte sonnestraal, skilder kleurvolle kastele wat loof, sonder mense-taal ...
Die skurwe, skerp rûe van omringende rante versag met die sluipende, kruipende newels van naderend’ nag ...
Bome, bosse, silhoëte vervorm, verdof en versmelt met die res van die verdonkerende, verdwynende veld ...
Weifelend verskyn daar oorkant die valleie so ver, die mistige miniatuur-melkweg van Baberton-liggies, wat vertoon soos oer-oue sterre se geelbleek gesiggies ...
Al wat mens nou hoor is kore van krieke, muggies en muidjies en die veld-uiltjies, word ge-eggo deur nuwe naggeluidjies deur die blare die strelende, geurvolle bergbries wat sug.
©
Meraai vannie Baai:
(Met dank aan AK DiS vir die leen van sy praglyne uit Stofpad stories)
* Die wêreld hier lê wyd en vêr … soos die Heer se genade na ‘n skou tyd op Hertzogville.
* Moederaarde se grasieuse kurwes begin eers verder suid, Boshof se kant toe.
* Hier is niks om te sien vir die leke oog nie, maar as jy hier wortel geskiet het, drink jy swaar uit ‘n ander fontein.
* Ek sal nooit weer die groen gras aan die anderkant raaksien nie.
* Dis my blye lot!
* Die Marnet antenna hang sekelskeef op die afgedopte sinkdak
* Die hitte stoot dansende waterballerinas oor die daknokke die helder daglig in.
* Langs die agterdeur hou ‘n groen songebleikte Jojo tenk in die skrapse koelte van ‘n voëlvry Prosopisboom wag.
* Die dak het potensiaal om meer te kan lek as my sementdam by die huis.
* Ek bak nou soos ‘n Kentucky dytjie in my blou ratelkas Corolla oondjie.
* My hemp is sopnat aan die agterkant en kleef aan die sitplek soos “glad rap” aan ‘n basaar melktert.
* Hier is die hel voortydig.
* Die gerief van ‘n viertrek voertuig met lugversorging en kragstuur is bloot ‘n wensbeeld vasgepen teen die hoop van “eendag”.
* Die mielietjies kry swaar en hulle blare is toegedraai en lyk soos groot donkergroen Havana sigare wat moeisaam uit die lewelose stof en grond draai.
* Dit lyk of hulle iets kosbaar in die blaar holtes probeer beskerm teen die son se aanslag uit die dorre hel.
* Toe ek gistermiddag hier aankom was die hele plaas op sy kop.
* Die gort was gaar en die duiwel los.
* Ek wonder wat nou weer die jakkals uit die gat gejaag het?
* Oom Thysie sê altyd “Patat is nie die skerpste potlood in die sakkie nie maar ou Mina, (sy oorlede vrou) was op beide ente wit gedraai en fyn gepunt.”
* Hy bry sy r’e met genoeg gemak om ‘n gesoute Sandveller te beïndruk.
* As ‘n swartman grys raak is hy waaragtig oud - hy werk vir ewig hier by Oom Thysie.
* Sy twee foksterriër hondjies draai opgewonde al om ons soos twee brommers om ‘n miskoek.
* ‘n Lendelam waaiertjie wat ritmies klik, klik, klik terwyl dit sukkelend en onseremonieel draai… amper soos ‘n krom “seven single”
* ‘n Groot blou stalbrommer vlieg ons lui-lui vooruit en gaan sit op ‘n stink-vars hondebol wat halflyf onder die koffietafeltjie skuil.
* Hy plak 'n blikbeker voor my neer ... gooi hom kop toe, daar’s nog!
* Man dis die blerrie ou Patat wat my kop so deurmekaar krap met sy onnoselheid.
* Ek dink die ou se kop is net so leeg soos Palmietpan se reënmeter!
* My belangstelling is soos olie op Oom Thysie se vertel vuur.
* Hy vertel dat ek voorwaar deur die porte van onse Heer se vesting sal gaan sonder enige ondervraging, hoegenaamd.
* Dis die dat Jaap so ingenome is met my - hy het gesien hier kom ‘n vendusie met vee vir Afrika.
* Kommissie koors maak hom toe die liewe Heer se offisiële gesant
* Hy waarborg my ‘n plekkie langs Gabriel tussen al die liggies en ander mooi goed.
* Hy slaan soos ‘n os neer… so plat soos duifstront, reg voor my voete.
* Toe weet ek my verlosser leef!
* Daar staan ek met ‘n half kaal buffel voor my op die grond.
* ‘n Bang aap wat oor my skouer loer en heeltyd se “auk!”
* ‘n Kraal vol blinkoog beloftes van vrye toegang tot die hiernamaals.
* So verleë dat hy met dieselfde stofwolk wat hy hier aangekom het terug is.
* Patat het soos ‘n Blourugjakkals onder Silwer maan verdwyn.
©
Meraai vannie Baai:
Brigitte Smith
Mag ek jou vanaand met woorde skets ....
woorde wat ek uit die Bolandseisoene kan pars
Mag ek jou vanaand met woorde skets ...
woorde wat deur koringare kerf
Mag ek jou vannaand met woorde skets ...
woorde waarmee naeldekokers oor kosmosmassas regeer
Mag ek jou vanaand met woorde skets ...
woorde wat die Jakarandastrate tooi
met koringgoue vlerke
van bessiebloeisels
wat kan vlieg
wat nimmer meer kan lieg
wat teen Bolandprieële bot
wat nog skroei, nog as dowwe klinkers toe klot
met waswit asem van branders
wat teen oseaanpoele rondomtalie speel
wat wonde van kras sout rowe heel
van loodvry koeëls
wat die skrapnel van my oogbank kan krap
wat as oorwinnaar uit die stryd kan stap
van wasige engelstemme
wat liggeurende druppels uit die skeem’ring put
woorde wat om versagtende omstandighede bid.
©
Fransi:
So, so mooi!
Meraai vannie Baai:
Dink ek nou ver terug toe ek gereeld deur die skrywers se lanings gedwaal het met die woordmandjie en uit elke gedig 'n lyn of twee ge-oes het en die vreugde om dit dan saam te voeg. Soms het ek 'n woordskepping in geheel gesteel :icon_bigsmurf:
(met toestemming :notworthy: )
Navigation
[0] Message Index
[#] Next page
[*] Previous page
Go to full version