Author Topic: Onnutsige Boererate  (Read 36510 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Onnutsige Boererate
« on: December 01, 2012, 11:42:53 PM »
Meraai vannie baai Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir vergryping of misbruik van onderstaande rate ens. LOL!

Koekemakranka
Goed vir die kranke
Vleibrand
Voël Fisant…

Hierdie is blykbaar een van die rympies wat die oumense gebruik het om die boererate meer toe(gif)geeflik te maak vir die pasient. Die Hollandse setlaars het geglo dat die vrugte voordelig vir jou maag was. Hulle het koekemakranka-vrugte by brandewyn gevoeg en dit gebruik as lekker medisyne wat hulle “koekemakrankabrandewyn” genoem het.

Piet Magriet
Witgatwortel,
"gaat" my maat
is boereraat,
hulle het dit weer
by die Khoi geleer.

Dit is waar "broodboom" sy naam vandaan gekry het. Hulle het die vrug daarvan gemaal vir meel.
Koekemakranka en patattaranka? Ek sal moet gaan soekka my dolla. Ek sal van daai medisyne hou!

Naas
"Wanneer kasterolie praat
is daar storms my maat.
In die emmer,
ja, in die emmer."
©

Naas: My ouma se resep
Droe bestandele:
Boegoe
Anys
katbos
wildeals
*Dassiepis

Alles saam fyngemaak en getrek as kruietee.
Of dit gewerk het weet ek nie maar dit het ons gesond gehou, want ons was banger daarvoor as vir kasterolie.
*Dis 'n kruiebossie wat op die koppies groei waar die dassies bly.

NOG ENE VAN NAAS:
My ou vetplantjie het nou net huis toe gekom. Hier is haar Hoesmedisyne en ek WEET dit werk.
Ugh... Ughu ughu ughu.
1 pot heuning (350ml)
Glisserien (100ml)
Lennon se borsdruppels (100ml)
Suurlemoensap na smaak om die soet smaak minder te maak
Sien julle, my hoes is weg!
O ja! Julle kan die heuning by my bestel vir R5 'n pot. Ek kan egter eers oor sewe maande aflewer want ek het net een by. Sorry

~~~~~~~~~~~~~~~~

Mevrou Varkie (Lorraine)het hierdie kostelike rate raakgelees:
BAKGAT BOERERATE

*Doring - As 'n doring in jou voet steek en dit breek af, krap 'n bietjie geel was uit jou oor en sit op die doring, Draai toe met 'n lap en die volgende dag sal die was die doring uitgetrek het.

*Dowighyd - 'n Mens sny 'n hasi oop en druk die water uit di blaas in 'n flessi en dan 2 maal per dag 2 druppels in die oor te doen, en 'n pluisi fan di hasiwater in di oor steek en gedurig nat maak.

*Dronkenskap (genees van) - Gooi ongemerk 'n bietjie perdesweet in die drank.

*Ekseem: Sit elke dag twee rooibosteesakkies in die badwater.

*Ferstopping (Constipation)Rou uie fyngesny, en met semels deurmakaar in 'n pan lou gemaak en op di buik gesit.'n Onfeilbaar middel: maak pille fan kasteroli en heuning, sit in fondament, maak di pil soos 'n rooi boontji.

*Fyt - Maak 'n pap vam knoffel of perdemis en sit op vinger.

*Gewig verloor - Trek wilgerboomtoppe se blare soos tee, drink 'n koppievol drie keer per dag.
As jy fan 'n giftige ding gebyt is Geef di lyder in: soet melk, olie, wilde dagga gekook, wyn en rou yers deur makaar geklits, goud gefyl en ingegé, menswater (urine) met asyn, boegoe brandewyn, 'n ou deurgerookte pypkop fyn gemaak ingegé.

*Hande/voeteroom Gebruik goeie ou speensalf, verkrygbaar by enige ko-operasie. Baie goedkoper en beter as vandag se fensie duur rome.

*Vir 'n "sonstreep" in die hare. In plaas van die gebruik van jel en haarsprei, gebruik op 'n warm dag suurlemoensap op nat hare, en laat dit droog. Na 'n paar gebruike en buite in die son sal jy "natuurlike" sonstrepe he wat HOU en HOU!

*Heeshyd - As iemand hees is, neem 'n telepel rou heuning, 'n lepel gestampte tésuiker, 'n telepel gestampte gemmer, dri lepels boegoe brandewyn, dit deurmakaar gemeng en dikwils gebruik.
*Hik - Rook hoendervere.

Beroerte:  
Di sike mag dagga laat rook, en as hy ni self kan rook ni, dan kan 'n ander di rook in zijn mond inblaas tot syn tong los gaan, dan kan hy self rook.

Vir bloedklonte:
'n KLEIN bietjie cinnamon in warm water elke dag werk wonders. Cinnamon is soos die natuur se disprin. Dit verdun die bloed.

Vir hoë bloeddruk:
Die asyn sous van gebottelde beet werk wonders! So lepel elke dag

Maag (Swakke)
1 bottel jenewer, 1 lepel rubarber daarin, drie maal per dag te drink, na di ete.
Draag 'n sakki wilde als op di maag : is dit droog, neem dan weer farse, hou daarmé an tot dat naderhand al wat jy eet of drink bitter smaak, dan sal di maag wel hersteld wees

Maagseer wat bloei.
Neem 30 Viooltjieblare (Violets) - die soort wat in die tuin groei, nie African Violets nie, kook op in 'n pint (450ml) water vir 30 minute. Dreineer en laat afkoel - hou in yskas, en drink 2 eetlepelsvol elke oggend.

Psoriase en ekseem
Neem ‘n klein botteltjie petroleumjellie (Vaseline), gooi vier koevertjies Grandpa-pynpoeier daarby en meng goed. Dra sommer die botteltjie by jou en smeer aan die geaffekteerde plekke elke keer as jy daaraan dink.

Vir ekseem help ‘n koppie varkvet met een eetlepel blomswael gemeng. Smeer gereeld aan die plekke wat deur ekseem geaffekteer is. Blomswael is verkrygbaar by die apteek.

Voete wat brand en bene wat pyn
Neem 500ml brandspiritus, krummel vier blokkies kamfer daarin. Kamfer is verkrygbaar van die apteek. Skud die mengsel goed en wend dan met ‘n stukkie watte aan die voete of bene aan. Vir die voete begin bokant die enkel en vryf AF nooit op en af nie, die oumense glo dan vryf jy die siekte deurmekaar! Dieselfde geld vir die bene, begin bokant die knie en vryf af.

Jig (‘gout’) en gewrigsontsteking (‘arthritis’)
Neem een liter water, sny een kilogram knoffel op en voeg dit by die water. Die knoffel moet liefs gesny word met ‘n messie en nie deur ‘n knoffelpers (‘garlic crusher’) verwerk word nie. Kook die mengsel vir 30 minute op ‘n matige hitte en haal dan van die stoof af. Gooi 250 gram heuning en een liter suikerriet spiritus (‘cane spirit’) in die warm water.
Dit is belangrik dat die ‘cane’ in die warm water gegooi word sodat die alkohol kan verdamp. Laat die mengsel afkoel en gooi dit dan deur ‘n siffie in ‘n glasbottel en hou die bottel in die yskas. Neem ‘n kelkie (Engelse ‘tot’) drie keer per dag. Gebruik die bottel totdat dit klaar is, wag sewe dae en maak dan nog ‘n bottel aan. Alhoewel u heelwat beter mag voel ná sowat drie bottels, moet mens ses tot agt bottels van hierdie mengsel gebruik vir regtig goeie resultate.

Slegte bloedsomloop
Neem een teelepel rooipeper, gooi dit onder in die skoen, trek ‘n sokkie aan die voet en loop dan die hele dag met die rooipeper onder in die skoen. Dis belangrik om nie met kaal voete op die rooipeper te loop nie.
Hoë bloeddruk Rooipeper kan ook gebruik word vir hoë bloeddruk. Dis belangrik om kennis te neem dat mense met die O-bloedgroep rooipeper met welslae kan gebruik en dat mense van ander bloedgroepe versigtig moet wees. ‘n Mespunt rooipeper, drie keer per dag ná etes, kan geneem word om hoë bloeddruk aan te spreek.

« Last Edit: December 02, 2012, 04:35:04 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #1 on: December 01, 2012, 11:43:10 PM »
TOE DRA PIET MAGRIET VIR ONS AL HIERDIE WONDERLIKE RAAT AAN VIR SWAK HARTE.
007 IS ALTE DRANKBAAR!!


HART...Gooi kookwater op ‘n handvol lemoenblare en trek soos tee.
Drink 3 maal per dag ‘n kelkievol.

HART…1 boddeltje bruin dulsies…1 wit dulsies..1 rooi laventel..1 versterk
druppels…1 hofmans druppels…1 balsem vitoe. Gooi alles deur mekaar…
neem een teelepel vol met water die more en die aant. Die aant Ek kan my net die reuk alleen voorstel.

HART…As jy hartkwale het, meng die volgende alles saam en neem een
eetlepelvol drie maal per dag. 1 Bottel kookwater…500g heuning…1
botteltjie Lennon versterkdruppels…1 botteltjie Lennon wit dulsies…1
botteltjie Lennon wonderkroon essens…1 botteltjie pepperment druppels

HART…As jy pyn op die hart ondervind moet jy 2 dessertlepels suiker …
en 1 dessertlepel fyn gemmer meng en dit droog op die tong sit en
wegsluk met water. Moet net nie 'n asemteug vat nie, dit is gevaarlik met so 'n bekvol

HART…Braai 1 eetlepel gestampte..droë lemoenskil en 1 eetlepel
koljander in ‘n droë pan tot bruin. Gooi in bak en voeg by 1 eetlepel wit
peper…1 pond stroop en 3 XXX peppermente wat fyngemaak is by.
Meng baie goed en eet so paar keer per dag 1 teelepelvol.

HART…Bring 3 bottels water tot kookpunt en voeg dan 3 pakkies engelse
sout by….laat 10 minute kook en haal dan van stoof af om af te koel.
Voeg nou 1 botteljie peppermentessens by en meng goed. Gooi in in
bottel met prop. Drink ½ kelkievol voor etes 3 maal per dag. Klink of dit ook goed kan werk vir 'n verstopping en vir hoes. Jy sal nie waag om te hoes nie.

HART…Die fernaamste raad is eet saans nooit feul of onverteerbare kos
nie. Le nooit op jou linkersy of op jou rug nie. Verdryf alle
swaarmoedige gedagtes en laat snags ‘n lampie brande. By die aanfal ‘n
pepermint eet of ‘n bietjie suurlemoen sap drink…sal die hartlkoppings
gewoonlik laat ophou. So nie dan kan ‘n kompres met koue water op die
linker bors gelê word.

HART…Dit is baie raadsaam dat mense met hart probleme alle wit suiker
deur heuning vervang

HART…Drink 3 maal per dag ‘n kelkie tiemie wat in kookwater getrek is
soos tee

HART…Gooi ½ koppie suurlemoenbloeisels in 1 bottel brandewyn en laat
goed trek. Drink 1 eetlepelvol 3 maal per dag so ‘n uur voor etes. Dit kan vir my werk, ek sal net die dosis effens verhoog.

HART…Gooi 1 groot eetlepel wit teesuiker in 1 bottel jenewer en skud
goed tot die suiker opgelos het. Drink elke oggend en aand 1 kelkievol. Hoe groot is die kelkie?

HART…Gooi 2 botteltjies geel balsemvita op 1 botteltjie heuning en
meng goed. Drink 1 teelepelvol 3 maal per dag.

HART…Gooi in ‘n bottel die volgende…1 botteltjie versterkdruppels…1
botteltjie intrensdruppels..1 botteltjie wit dulsies en 1 botteltjie rooi
laventel. Skud goed om te meng..en drink 1 teelepelvol op ‘n kelkie water
3 keer per dag. Soos die hart verbeter moet jy die dosis sny na 2 keer
per dag…dan net 1 keer per dag.

HART…Kap 7 neute stukkend en sit in ‘n ½ bottel brandewyn en laat goed
trek. Drink 3 maal per dag 1 eetlepelvol…drink dit skoon…moenie water
byvoeg nie. Ek weet dit sal vir hoofpyn ook werk.

HART…Kook 1 bottel water en laat afkoel en gooi in ‘n glas of erdebak.
Voeg by 1 botteltjie rooi laventel…1 botteltjie wit dulcies…1 botteltjie
versterkdruppels…1 botteltjie wonderkroonessens…1 botteltjie
groenamara en 1 botteltjie hoffmansdruppels. Meng alles goed saam en
gooi in bottel. Skud goed voor gebruik. Drink 3 keer per dag 1
eetlepelvol in ‘n kelkie water. Geen wonder Lennon was 'n skatryk man nie.

HART…Kook 1 koppie melk en voeg by 1 geklitste eier…1 eetlepel
brandewyn en 1 eetlepel suiker. Meng goed en drink op jou nugtermaag.

HART…Kook 1 koppie rou koljander op 1 bottel water tot dit goed getrek
het. Suig deur en gooi in ‘n bottel. Gooi nou 2 botteltjies wit
balsemvita in en skud baie goed om te meng. Drink 3 ker per dag 1
eetlepelvol.

HART…Kook 14 brandnekeltoppe in 2 bottels water tot dit verminder
het na 1 bottel. Laat afkoel en suig deur. Drink 3 keer per dag 1
kelkievol 1 uur voor etes. Brandnekelknoppe???

HART…Kook water en gooi dan 1 bottelvol in ‘n bak en sit by…1 pond
heuning…1 bottel versterkdruppels…1 bottel wit dulcies…1 bottel
peppermentdruppels…1 bottel wonderkroonessens en 3 XXX
peppermente wat fyngemaak is. Meng baie goed en sit in flessies.
Neem 1 desertlepelvol 3 keer per dag.

HART…Laat trek vir 2 dae… 2 onse koljander op 1 bottel
jenewerbrandewyn. Drink op jou nugternaag 1 eetlepelvol.

HART…Maak ‘n pasta van heuning en kaneel….en smeer op brood in plaas
van konfyt of enige ander smeermiddel. Eet dit gereeld elke dag en dit
sal help om te verhoed dat jy hartaanvalle kry…en selfs al het jy al ‘n
hartaanval gehad en die smeer op brood eet elke dag sal dit help om
enige verdere aanvalle te verhoed….en gereelde gebruik verlig die
simptome van asemloosheid en versterk die hart….en hou die are soepel
en sag. Dit help beslis vir spinnekopbyt sere. Probeer dit gerus. Los maar die brood en smeer dit aan die bytplek! Nie eet nie!

HART…Maak 30 XXX pepperment goed fyn en gooi in bottel brandewyn.
Skud goed en laat tot dit pepperment opgelos het. Skud om te meng.
Drink 3 maal daagliks ½ kelkie daarvan.

HART…Meng ½ bottel brandewyn…1 botteltjie rooi laventel…1 botteltjie
jamaikagemmer…1 botteltjie wit dulsies en 1 botteltjie
hoffmansdruppels baie goed. Neem 3 of 4 keer per dag 1 teelepelvol in
‘n klein kelkie louwarm water waarby 1 ½ teelepels suiker…of heuning
gevoeg word.

HART…Meng 1 bottel wit dulcis…1 bottel hoffmans druppels…1 bottel
versterk druppels…1 bottel rooi laventel…1 bottel pyn keller…1 bottel
frans brandewyn of ou wyn. Alles goed gemeng…laat staan ver he week…
en neem dan elke tyd voor maaltyd 2 eetlepel vol.

HART…Meng 1 eetlepel heuning…’n mespunt peper en ‘n mespunt
gemmer. Meng goed en eet 1 teelepelvol 3 maal per dag.

HART…Meng 4 eetlepels baie sterk koffie en 1 eetlepel brandewyn as jy
hartkloppings het…dit sal jou hart dadelik laat bedaar.

HART…Meng saam ½ bottel jenewer…1 eetlepel fyn gekerfde
lemoenblare…1 eetlepel fyne gekerfde tiemieblare en 1 eetlepel
kruisementblare. Laat goed trek en skud die bottel om te meng. Drink
elke oggend op jou nugtermaag 1 eetlepelvol in ‘n koppie kookwater

HART…Meng saam…1/2 bottel franse brandewyn… ½ botteltjie
kajapoetolie…1 botteltjie balsemvita…1 botteltjie wit dulcies….1
botteltjie versterkdruppels…1 botteltjie rooi laventel…1 botteltjie
endresdruppels…1 botteltjie pepementdruppels…en 1 botteltjie
hofmansdruppels. Drink 2 eetlepelsvol 3 keer per dag.

HART…Neem ½ bottel whisky…1 bottel rooi poeier…1 bottel
hoffmannsdruppels…1 bottel versterkdruppels…1 bottel rooi balsemvita…
2 onse sal volatile en 1 eetlepel fyngemaakte…droë nartjieskil…en sit
alles saam in ‘n fles. Kurk toe en laat trek…skud gereeld. Drink 1
telepelvol in ‘n kelkie water 3 maal per dag.

HART…Neem 1 groot eetlepel fyn finkel en sit in bottel brandewyn en
skud …laat dit nou op ‘n warm plek trek…buite in die son…of langs die
stoof trek vir so agt dae. Skud die bottel voor gebruik en drink dan 1
eetlepelvol 3 maal per dag in ‘n kelkie water na etes.

HART…Neem 1 koppie wynruitblare en en sit in ‘n bottel soetwyn en laat
vir 8 dae in die son trek. Drink elke aand 1 kelkievol.

HART…Neem 21 wit pepermente en 2 lepels honing op 1 bottel water en
een wynig rooi lafendel. Goot doormakaar geschut en 3 maal daags een
wynig in neem.

HART…Neem 5 knoffelhuisies en kneus goed. Gooi 1 bottel kookwater
oor en laat trek. Wanneer dit koud is dan suig jy dit deur en drink 3
maal per dag ½ koppie daarvan. Niemand sal jou pla vir die res van die tyd nie.

HART…Neem die bloed van ‘n waterskilpad en laat dit droog word en
maal dit tot ‘n fyn poeier, Sit ‘n klein mespunt van die bloed in ‘n paar
druppels rooilaventel en drink 3 maal per dag daarvan.

HART…Neem nartjieskil en sny stukkend en gooi kookwater oor en trek
goed. Drink 3 maal per dag hiervan so ‘n kelkievol.

HART…Sit ‘n mespunt rooi poeier op die tong en sluk in…herhaal 3 keer
per dag.

HART…Sit kwart pond anyssaad in 1 bottel Old Jamaica Rum en laat trek
vir 48 uur. Syg deur en gooi terug in bottel. Neem 1 eetlepelvol 3 maal
per dag voor etes. Nadat jy 3 bottels van die mengsel opgebruik het sal
jou hart weer reg wees.

HART…Skil ‘n nartjie en haal al die wit vleis af wat tussen die slyfies is
en sny dan die skyfies stukkend en sit in vrugtefles. Gooi daarop 1
bottel jenewer en laat dit ‘n maand lank trek. Drink nou 1 desertlepelvol
voor elke ete.

HART…Skroei 1 groot koppie koljander en maal dit fyn…of rol met ‘n
bottel tot fyn. Gooi kookwater op en laat trek soos tee. Drink elke
oggend op jou nugtermaag ½ koppie van die water.

HART…Sny 8 to 10 nartjies stukkend…met skil en pitte en al en sit in ‘n
glasbak en gooi 1 bottel brandewyn oor. Laat dit vir 7 dae trek in die
son of naby die koolstoof waar hitte is. Suig dan deur ‘n skoon doek en
gooi in ‘n bottel en kurk toe. Drink elke dag…3 maal per dag voor elke
ete 1 wynglasvol. Kry solank nog ‘n bottel gereed…jy moet 3 bottels so
opgebruik en dan is jou hart weer sterk.

HART…Trek 1 eetlepel bitterblare op 3 koppies kookwater …maar nie te
sterk nie…want dis baie bitter. Drink 3 maal per dag hiervan.

HART…Trek 1 koppie wynruit in 1 bottel brandewyn soos tee. Drink elke
aand 1 kelkie hiervan na ete…dis baie goeie raad.

HART…Vir ‘n lekhart….Koop by die apteek sikspens se klipsweet en sny
fyn en gooi in 1 bottel port wyn. Dit moet port wyn wees …nie ander wyn
nie. Skud goed en laat 3 dae trek…maar skud die bottel in die 3 dae ‘n
paar keer per dag. Drink 1 eetlepelvol 3 keer per dag. Die raad is self
wonderlike vir klein kindertjies. 'n sikspens se klipsweet

HART…Vir iemand met ‘n lekhart…skroei 3 eetlepels koljander tot bruin
en gooi in 1 bottel brandewyn en skud goed. Laat trek en neem 3 keer
per dag 1 teelepelvol in ‘n bietjie water. Vir kinders kan jy ½ teelepelvol
in water gee.

HART…Vir water op die hart drink 14 druppels harlemensies en daarna
drink jy elke aand 20 druppels tot daar verbetering is. Verminder die
dosis geleidelik tot jy net 10 druppels drink. Hou so rukkie aan met 10
druppels en verminder dan weer tot jy kan ophou daarmee…moet nie
sommer ophou nie…dit moet geleidelik wees

HART…Werk mosterd in ‘n ou flennielap in en sit op die hart. Dit sal die hart versterk.

« Last Edit: December 01, 2012, 11:45:42 PM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #2 on: December 01, 2012, 11:44:44 PM »
OUMA PIETIE (Piet Magriet)
‘n Raad vir growwe hakke en sommer droë vel, is om na jou naaste kooperasie te gaan, en ‘n houertjie MELKSALF/SPEENSALF te koop, en dan ‘n houer Zambuck (Sambok salf) te kry.
Sit altwee houers in die son tot dit maklik sal meng, en gooi die samboksalf by die melksalf, en meng goed deur.
Smeer saans aan as jy uit die bad klim. Moenie jouself beplak nie, ‘n bietjie bring jou ver, maar dit is verseker ‘n wenner.

Naas
Speensalf en perresalf, (altwee ko-operasie aankope) help vir baie dinge.
(Maar nie vir hart probleme nie.)

Piet Magriet
Mens weet nooit, die spene lê darem na aan die hart jongie.

ASPOESTERTJIE:
Ek sal maar vir die veeartsie vra of speensalf net so goed werk vir depressie. Ek sien die koeie lyk net so kalm as hulle klaar gemelk is.
« Last Edit: December 01, 2012, 11:52:16 PM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Nuttige & Onnutsige Boererate
« Reply #3 on: December 01, 2012, 11:48:42 PM »
vlakvarkie: As iemand `n bles(pankop) het:
Vryf die kopvel in met growwe sout.
Daarna as die kopvel goed ingevryf is smeer jy heuning bo oor
Neem dan `n bakkie water en hou dit sowat `n meter bokant die persoon se kop.
Kry iemand wat jou kan help. Die hare word dors en kom uit na die water toe.
Die persoon wat by jou is moet die hare wat knoop wat uitkom, sodat hulle nie weer
terugtrek nie. Whalla!!! Een van die dae het jy `n weerbarstige kapsel.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Anselize: Hier volg een van my rate.
KRUISEMENT:
1 koppie gesnyde kruisement
1 Koppie kookwater
Laat trek vir 10 tot 15 minute
Gooi water af en Drink vir die verligting van griep

NOG ENE VAN ANSELIZE
Boereraat vir Kanker.
Eet elke dag 10 appelkoospitte se binneste.

Boereraat vir genees van diabetes
1 teelepel rooi peper elke dag - nie die pille nie die ware jacob.

Blaas en Nierpyp infeksie
Mespunt Koeksoda 3 keer per dag
(hoes - Kasterolie) Ha ha ha
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

« Last Edit: December 01, 2012, 11:50:51 PM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #4 on: December 03, 2012, 06:12:59 AM »
Manne, ek het hierdie weer vreeslik geniet.  Die ou wat nou nog nie weet dat brannewyn nie brieke het nie, sal nooit nie!  :icon_biggrin:

Niks om oor te lag nie, maar ek het nogtans geskater. 
Beroerte: 
Di sike mag dagga laat rook, en as hy ni self kan rook ni, dan kan 'n ander di rook in zijn mond inblaas tot syn tong los gaan, dan kan hy self rook.
Om te weet is om te verstaan.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #5 on: December 25, 2012, 09:17:17 PM »
ASPOESTERTJIE:
Ek sal maar vir die veeartsie vra of speensalf net so goed werk vir depressie. Ek sien die koeie lyk net so kalm as hulle klaar gemelk is.

daai wat die koeie so lyk is nie rustigheid nie. hulle maak so lang gesig  want ...(sou jy nie ook so gevoel het nie)....elke dag word hulle nippels 2 keer getrek en hulle kry net 1 keer 'n jaar seks en dan is dit nog KI ook.

Vol afwagting en dan gebeur daar ook niks...die dat hulle sulke lang gesigte het.

Offline Gawelina

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 360
  • Gender: Female
    • Gawelina
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #6 on: December 25, 2012, 10:42:58 PM »
Hahaha ai tog AB. Nou het ek darem lekker gelag vir jou onnutsigheid.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #7 on: December 26, 2012, 08:30:05 AM »
Opgeplooid gelag diekant Stoffel.  :toothy4:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #8 on: December 26, 2012, 08:57:48 PM »
Die beste raad vir sulke lang gesigte is "gumboots".  'n Spantou en 'n balk.  As jy nie mooi verstaan nie, stuur vir my 'n e-pos dan verduidelik ek vir jou stap vir stap!
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Onnutsige Boererate
« Reply #9 on: December 26, 2012, 10:48:59 PM »
Ek gaan nou soos skoondoggie antwoord: Iek fostaan niet  :icon_biggrin: maar wil graag verstaan en weet want dit klink na 'n arige kombinasie   :`ip2: