As woorde dros...
My tien getroue vingervriende verstyf gereeld op die sleutelbord van die tikkertjie soos ek tussen die voue in my kreukelkamer soek na die drosters.
Dink Outop sal my al in sy slaap kan antwoord so gereeld reageer hy op vrae soos die volgende: "Wat noem 'n mens dit nou weer as iemand net wegraak?"
Dan sal hy geduldig antwoord: "Dros."
Soms sal ek die spasie waar die verlore woord(e) moet inkom net so los en verder tik. Die witspasies word al hoe meer.
Een van die dae het ek tien styfdomvingers en naakte blaaie sonder lettergrepe. O die skande en sonde. Vra ek Outop gisteraand wat dink hy gaan gebeur as ek die reuse sleutel met sy gegote ysterwerke om hom (wat teen ons gordyn verskyn het) probeer gebruik om die onbekende oop te sluit?
Sou ek myself in die woordtronk bevind, omring met al die drosters? Dalk ontdek ek Alice se Wonderland en val alles weer in plek, dan kan ek die
Wonderboek Van Woorde vir Assie en Naas gee om te illustreer sodat almal die woorde wat van kies-tot-kies gerol was 'wyl ek my verlustig het in die klanke, kan verstaan.
Wat gebeur as 'n skrywer niks skryf nie?
R.W. Watkins het 'n gedig geskep met slegs drie naakte lyne as spasies waar woorde geplaas kan word!