Author Topic: Ou idiome uit die volksmond  (Read 123213 times)

0 Members and 2 Guests are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Ou idiome uit die volksmond
« on: December 02, 2012, 01:40:15 AM »
Astoontjie afgelei van die ou idioom: Hy het as op sy tone - sy gulp is oop.

Sy bek hang - kwaad of teleurgesteld.

Wie se brood mens eet, dié se woord mens spreek - afhanklik van
iemand wees.

Nie `n naald hê om sy gat mee te krap nie - brandarm te wees.

Jan Sparriewarrie -Jan spaar die waarheid, lieg

Orige jukskei - nuttelose persoon.

Soos `n ketter vloek - baie erg vloek.

Kontant met die mond  -vrypostig.

Spaar vir jou mond, is goed vir die kat en die hond - as jy te
min  eet, gaan die oorskiet kos tog maar vir die diere.

Plas en plooi - fyn beplan en spaarsaam met jou geld werk.  

Vir wind en weer rondloop - kinders wat alleen grootword.
« Last Edit: December 02, 2012, 01:43:50 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #1 on: December 02, 2012, 01:43:27 AM »
Vergelykings uit die skatkis:
Hol wange soos 'n toegeslane brood.
 
Hol toonnaels soos 'n soplepel.
 
Plooigesig soos 'n mofskaap.
 
Deurskyn ore soos 'n vlakhaas.
 
Knopneus soos 'n bakoond.
 
Stem soos 'n koffiemeule.
 
Uistaanboude soos 'n melkkoei.
 
Wegstaan tande soos 'n stalvurk.
 
Skurwe hakskene soos 'n vleipatat.
 
Napoleon Bonaparte
 1769-1821 "Moenie jou vyand onderbreek wanneer hy ’n fout maak nie."
 
Eintlik is daar net twee soorte vriende, goeie vriende en slegte vriende. Goeie vriende het jy nodig en slegte vriende het jou nodig.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #2 on: December 02, 2012, 01:44:47 AM »
Met erkenning: Fanus Rautenbach
Ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep:
 Reisigers gaan heen.
 
Parlementslede op die groen kussings gaan sag heen.
 
Die melkman en die posman kom om.
 
Jagters gaan bokveld toe.
 
Kokke steek lepel in die dak.
 
Die horlosiemaker se tyd het aangebreek.
 
Die valskermspringer ontval ons.
 
Die tuinier is van die gras af gemaak.
 
Die melkboer het die emmer geskop.
 
Die begrafnisondernemer sien sy gat.
 
Die dominee het die tydelike met die ewige verwissel.
 
Die ouderling is ontslape.
 
Die koerantman is direk hemel toe.
 
Die skeidsregter het sy laaste asem uitgeblaas.
 
Die dokter se hart het gaan staan.
 
Die elektrisiën se liggie is gedoof.
 
Die koster het die doodsklok hoor lui.
 
Die kleremaker se draad is geknip.
 
Die Springbokrugby-afrigter kom tot rus.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #3 on: December 02, 2012, 03:35:49 AM »
PM:
Hierdie het ek in die gratis e-tydskrif gekry.  "Sonder seëls"

Sy is ’n afgelekte meisie. (Sy het al baie kêrels gehad.)

Ek lê vir hom in die hek. (Ek wag vir hom. Ek wil hom in die hande kry.)

Dis net sterk bene wat weelde kan dra. (Dit vra ‘n sterk karakter om nie hoogmoedig te word as jy ryk is nie.)

Hy is van sy eet af. (Hy voel siek.)

Hy lieg blink en bles. (Hy kan baie lieg.)

Moenie jou so inkoejawel gedra nie. (Moenie jou so swak gedra nie.)

Sy hare staan weer vanoggend verkeerd. (Hy is omgekrap.)

Hoekom lyk jy so afgesak? (Hoe lyk jy dan so moeg?)

Hy lieg klippe aanmekaar. (Hy jok erg.)

Hy gaap soos ‘n snoeiskêr. (Hy gaap met ‘n mond wat groot oop is.)

Hy is eergister se dief. (Hy is baie geslepe.)

Ek sal vir jou ‘n been gooi. (Ek sal vir jou sê wanneer ek jou opinie nodig het.)

Laat dit maar aankalk. (Skryf dit op my rekening.)

Hy is van dik deeg aanmekaar gesit. (Hy is ‘n lafaard.)

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #4 on: December 02, 2012, 03:38:15 AM »
Ou uitdrukkings oor geld en ruilmiddels (soos aangedra deur PM lankal vir ons boekie van woorde)

‘n Pot vol goud.
 
Platsak wees.
 
Geld wat stom is maak reg wat krom is.
 
Geld wat sleg is maak krom wat reg is.
 
Ek sal kan doen met ‘n miljoen.
 
Dit ruik na geld.
 
Geld groei nie op my rug nie.
 
Op die koop toe.
 
Geld groei nie aan bome nie.
 
Geld in die water gooi.
 
Vir kwaadgeld rondloop.
 
Hy staan of hy geld in die bank het.
 
Hy maak of hy geld in die bank het.
 
Dit kos ‘n plaas se geld.
 
Dit is te dik vir ‘n Daalder.
 
Met iets te koop loop.
 
Ryk gesaai bankrot ge-oes.
 
As armoede by die voordeur inkom gaan liefde by die agterdeur uit.
 
Vir geen geld ter wêreld nie.
 
So arm soos ‘n kerkmuis.
 
Moenie al jou geld op een perd sit nie.
 
Twee mossies vir ‘n stuiwer.
 
‘n Stuiwer in die armbeurs gooi.
 
‘n Duit in die armbeurs gooi.
 
Kop bo water hou.
 
Geld wat geel is maak reg wat skeel is.
 
Tyd is geld.
 
Hy is ‘n geldwolf.
 
Gierigheid is die wortel van alle kwaad.
 
Vir dertig stukke silwer.

Agter geld soos die duiwel agter ‘n siel aan.
 
Die geld brand in sy sak.
 
Geld uit iemand se sak jaag.
 
Hy besit geen duit nie.
 
Die goudpot aan die einde van die reënboog.
 
Dis nie alle goud wat blink nie.
 
Dit is met geen goud te betaal nie.
 
Hy is ‘n ongeslypte diamant.
 
Sy is ‘n diamant in my kroon.
 
Moenie jou pêrels voor die swyne werp nie.
 
Dit is peper duur.
 
Die sout van die aarde.
 
ʼn Man saai nie koring in ʼn varkhok nie.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #5 on: December 02, 2012, 03:40:30 AM »
NOG OU GESEGDES EN DIE BETEKENISSE DAARVAN:
 
*Dit sit my in die bed.
 - Dit begryp ek nie.
 
*Hy het die saak ter berde gebring
 - Hy het die saak opgehaal
 
*Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
 - Jy doen vir jou familie die meeste.
 
*Die boog kan nie altyd gespan bly nie.
 - 'n Mens kan nie net werk nie; hy moet rus ook.
 
*Die bordjies is verhang.
 - Die toestand is verander.
 
*In die land van die blindes is eenoog koning
 - onder 'n groep mense wat niks van iets weet nie, blink die een mens uit wat wel so 'n bietjie kennis daarvan het.
 
*Hy is in die bol gepik / met die maan gepla / van lotjie getik / het 'n klap van die windmeul weg / het nie al sy varkies op hok nie - hy is nie by sy volle verstand nie
 
*Buig die boompie solank hy jonk is
 - vorm die kind se karakter solank hy nog klein is
 
*Iemand om die bos lei
 - iemand uitoorlê / bedrieg
 
*Hy het in die botter geval
 - hy het dit baie gelukkig getref
 
*Hulle het dit nie breed nie
 - hulle het nie baie geld nie
 
*Anderman se boeke (briewe) is duister om te lees
 - 'n mens verstaan moeilik 'n ander se sake
 
*Moenie nou probeer mooi broodjies bak nie
 - moenie nou op vleierige manier guns probeer win nie
 
*Op sy baadjie kry / streepsuiker kry / riemspring
 - die onderspit delf / 'n pak slae kry
 
*'n Baan of bohaai opskop
 - 'n lawaai maak
 
*Iemand van bakboord na stuurboord stuur / van Pontius na Pilatus stuur / van die kassie na die muur stuur
 - iemand rond en bont stuur sonder dat hy werklik geholpe kom of iets kan uitrig.
 
*Jy slaan die bal ver mis
 - jy vergis jou heeltemal
 
*Julle moet hom bandvat
 - julle moet streng optree
 
*Beenaf wees (op 'n meisie)
 - verlief op iemand
 
*Jy lyk baie bek-af / jou ore hang
 - jy lyk baie moedeloos, min lus vir die lewe
 
*Dit spreek boekdele
 - dis 'n sprekende bewys.
 
*Ek laat my nie met 'n blaas ertjies op loop ja nie / ek skrik nie vir 'n koue pampoen nie
 - ek word nie so maklik bang nie
 
*Hy steek vir almal blad
 - hy groet almal met die hand
 
*'n Saak blou-blou laat (laat links lê)
 - 'n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie).
 
*Dit is botter by die vis
 - kontant betaal
 
*Balsem in die wonde giet
 - troos bring
 
*Sy boeke is deurmekaar
 - Hy is in die moeilikheid
 
*Sy is 'n bloukous
 - Sy is 'n geleerde vrou
 
*Dis botter aan die galg smeer
 - Dis vergeefse moeite
 
*Hy het my 'n bril op die neus gesit
 - Hy het my bedrieg
 
*Hy pak die bul by die horings
 - Hy tree moedig op / Hy gebruik die geleentheid
 
*Hy merk nie die balk in sy eie oog nie
 - Hy sien nie sy eie foute raak nie
 
*Belofte maak skuld
 - As jy iets beloof, moet jy jou belofte hou
 
*Nuwe besems vee skoon
 - As jy 'n nuwe betrekking aanvaar, werk jy baie fluks.
 
*Voor Baäl die knie buig
 - afvallig word; die ware leer versaak.
 
*Baantjies vir boeties
 - betrekkings vir vriende en bloedverwante.
 
*Eers baas, dan Klaas
 - eers die meerdere, dan die mindere.
 
*Vir elke bagatel (aan die huil gaan)
 - vir elke kleinigheid
 
*Bak en brou
 - knoei.
 
*Gou by die bak, lui by die vak
 - gou om te eet, maar stadig om te werk.
 
*Iemand 'n poets bak
 - iets grappigs doen ten koste van iemand.
 
*Balke saag
 - snork.
 
*Wie sal die kat die bel aanbind?
 - wie sal hierdie gevaarlike werk durf doen?
 
*'n Goeie begrip het 'n halwe woord nodig
 - as iemand gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.
 
*Die beste beentjie voorsit
 - jou bes doen sodat jy 'n goeie indruk kan maak.
 
*Ou bene maak
 - oud word.
 
*'n Berg van 'n molshoop maak / van 'n muggie 'n olifant maak
 - iets groots maak van 'n nietigheid.
 
*Die berg het 'n muis gebaar
 - dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie.
 
*Iemand goue berge beloof
 - mooi beloftes maak.
 
*'n Saak bewimpel
 - nie met die volle waarheid voor die dag kom nie, onaangenaamhede in verband met 'n saak probeer toesmeer.
 
*'n Nuwe blaadjie omslaan
 - opnuut begin met die voorneme om beter te doen.
 
*Sonder om te blik of te bloos
 - onbeskaamd.
 
*Dis laaste sien van die blikkantien
 - jy sal hom nooit weer sien nie.
 
*Blind vir iemand se foute wees
 - onwillig wees om iemand se tekortkominge raak te sien.
 
*Sy bloed kook
 - hy is baie kwaad.
 
*Bloed uit 'n klip tap
 - iets onmoontliks probeer doen.
 
*'n Bloutjie loop
 - teleurgestel word in jou verwagtings.
 
*My blus is uit
 - ek is baie moeg, uitgeput.
 
*Dis 'n geslote boek
 - dis 'n geheim.
 
Moenie die boer die kuns afvra nie
 - moenie te veel uitvra omtrent iets as iemand nie die geheim wil verklap nie.
 
*'n Ou bok hou van jong blare
 - ou mans hou van jong meisies.
 
*Bokveld toe gaan / lepel in die dak steek
 - Sterf
 
*Dit gaan so tussen die boom en die bas
 - dit gaan so-so.
 
*Hoë bome vang die meeste wind
 - mense in belangrike posisies word die meeste gekritiseer.
 
*Boontjie kry sy loontjie
 - 'n skelm spring sy straf nie vry nie.
 
*Iemand 'n brander stuur
 - iemand 'n kwaai brief stuur.
 
*'n Broertjie dood aan iets hê
 - iets haat.
 
*Dit gaan maar broekskeur
 - dit gaan maar swaar.
 
*Jy sal dit nie kan bybring nie.
 - jy sal dit nie kan bekostig nie.
 
*Bitter in die mond maak die hart gesond
 - onaangename dinge is dikwels goed vir die ontwikkeling van die karakter
 
*Die elmboog gelig / deur die wingerd geloop / tiermelk gedrink / soen die mannetjie met die kurkhoed / kromhoutsap
 - te veel gedrink
 
*Sy turf sit
 - sy plan het misluk; hy kry dit nie reg nie.
 
*Jou twak is nat
 - jy sal dit nie regkry nie, dit sal misluk


Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #6 on: December 02, 2012, 03:41:39 AM »
ADAM
Iemand nie van Adam af ken nie.
 
Die ou Adam.- Die mens se sondige natuur.
 
Adam en Eva se skoene aantrek.- Kaalvoet loop.
 
Adamsgewaad.
 
Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang.- gesê van iemand wat die skuld op 'n ander probeer pak.
 
AAL
 So glad soos ʼn aal – Baie geslepe
 
Aal is geen paling nie – Die mindere kan nie met die meerdere vergelyk word nie.

AALWYN
 So bitter soos aalwyn – Baie bitter
 
Hy het aalwyn getap – Hy is in ʼn slegte stemming

Met ʼn aalwynpil in jou kies loop – Met ʼn suur gesig loop.
 AANGESKOTE
 Aangeskote wees – Effens dronk wees

AANSYN
 In aansyn roep – Die werklike bestaan veroorsaak.
 
In aansyn wees – Bestaan

AAPSTERT
 Iemand aapstert gee – Iemand ʼn goeie pak slae gee.
 
AAPSTUIPE
 Die aapstuipe kry – Baie kwaad wees en hom nie kan bedwing nie.
 
AARDBEWING
Dis ʼn aardbewing in ʼn mishoop – ʼn Groot gedoente oor niks. ( It’s a storm in a tea-cup)
 
AARDE
 Die aarde nutteloos beslaan – Van geen waarde wees nie (to serve no purpose; to be of no earthly use)
 
Te goed vir hierdie aarde – Besonder goedgeaard. (To good for this world.)

In goeie aarde val – Gunstig ontvang word
 
Die aarde was toe te koud vir hom om op te trap – Hulle wis nie wat hulle alles vir hom moes doen nie.
 
AAS
 Waar die aas is, vergader die arende – Die mense gaan altyd na ʼn plek waar hulle iets in hulle voordeel kan kry (Ongunstige betekenis)

Die aas beethê – Tot iets verlei wees

As jy die aas roer, stink dit – Moenie jou met onsmaaklike sake bemoei nie.

AASVOËL
Sy lyf aasvoël hou – Net teen etenstyd op ʼn plek kom en direk daarna vertrek

Lyk of die aasvoëls sy kos afgeneem het – Verleë lyk
 
ʼn regte aasvoël – ʼn Vraat
 Dis ʼn slegte aasvoël wat bly sit (nie wegvlieg nie) as hy gevreet het – Gesê deur ʼn gas as verskoning om te mag vertrek onmiddellik na die maaltyd.

ABC
 Hy ken nie die abc nie – Hy weet niks
 
Vir iemand die abc moet leer –ʼn Baie onkundige persoon in elementêre sake moet reghelp.

Die abc reg opsê – Die regte ding sê

ABWIEKWAKOOL
 Hy is so sleg soos ʼn abiekwakool – Hy beteken niks
 
AB-JAB
 Hy kon nie eers die AB-jab nie – Hy is ongeletterd.
 
AF
 Iemand te glad af wees – Iemand maklik uitoorlê
 
Iemand te gou af wees – Te slim vir iemand wees.
 
Waar is, moet af – Waar iets is, moet ʼn verlies verwag word

Dit gaan so op en af – Dit gaan beter en dan weer slegter.
 
Af en toe – Nou en dan
 
Van iets af wees – Daar nie seker van wees nie.

AFDRAAND
 Op die afdraand wees met sy briek los – Deur sy eie skuld sy ondergang vinnig tegemoetkom
 
AFKLOP
 Iemand afklop – Iemand ʼn pak slae gee. (To dust someone’s jacket
 
AFKRAP
 Iemand gedug afkrap – Iemand kwaai berispe.
 
Iemand afkrap – Iemand vir skuld uitverkoop.
 
AGTER
 Van agter gesien – Agterna; by nader beskouing (In retrospect; on closer inspection)

Agter iemand in wees – Iemand agtervolg
 
Van agter beter lyk as van voor – Baie lelik wees.
 
Agteropskop – baie vrolik en gelukkig wees.
 
AGTERSTEVOOR
 ʼn Perd agterstevoor ry – ʼn Saak verkeerd aanpak

Agterstevoor suinig wees – Op ʼn verkeerde manier suinig wees.
 
In alles agterstevoor wees – Alles op ʼn verkeerde manier doen.

AKKER
 Sy akkers brand – Hy is in die moeilikheid

Jou akker sal kraak – Jy sal dit swaar kry.

Laat jy jou met akkers in, word jy van varke gevreet – Dit doen iemand kwaad om hom met ongewenste persone op te hou.

Elke man op sy akker – Elkeen op sy eie pos; elkeen moet hom met sy eie sake bemoei.

Nie omgee oor watter akkers die water loop nie – Jou nie aan die gevolge steur nie.
 
DAG
 Dag der dae – Oordeelsdag

Elke dag ʼn draadjie is ʼn hempsmou in ʼn jaar – Deur stelselmatig te werk, rig mens baie uit.

Hoe meer dae, hoe meer neukery – Elke dag het sy moeilikheid.

Hy prys die dag nooit voor twaalfuur in die aand nie – Hy spreek nooit ʼn oordeel uit voor hy doodseker van ʼn saak is nie.

DOOD
 Dood is die mossie – Die geheim het uitgelek.
 
Dood is jou naam – jy sal verongeluk.
 
Die dood is in die pot – ʼn Vervelende plek of geselsskap.

Daar uitsien soos die dood in sluiters – Besonders maer wees.

Net een dood skuldig wees – ʼn Mens gaan maar net eenkeer dood.

Van die dood in die wêreld gekom het, is ʼn mens nie van sy lewe seker nie – ʼn Mens weet nie wat in die toekoms sal gebeur nie.
 
DOODBOEK
 Op die doodboek skryf – Iets wat ʼn mens maar kan vergeet.

DOODSKLEED
 Die doodskleed het geen sakke nie – Iemand kan niks van sy besittings na die hiernamaals neem nie.
 
DOP
 Dop en Dam – Brandewyn en water
 
Geen doppie het geklap nie – Niemand het daarvan notisie geneem nie.

Hy het net die dop gepik – Hy is jonk en onervare.

Oud uit die dop gekruip – Gesê van ʼn kind wat baie oulik is.

DOPPIE
 Dit is doppie in die emmer met hom – Dis klaar met hom. )

Sy doppie het geklap – Hy is dood.

Dit is doppies – Dit is hopeloos.

DORKAS
 ʼn Dorkas – ʼn Liefdadige vrou.

DRAAD
 Draad kou – Heimwee hê.

ʼn Draad vir elke naald hê – Altyd met ʼn antwoord gereed wees.
 
HOOI
 Te hooi en te gras – nou en dan
 
Te veel hooi op sy vurk neem – Te veel onderneem.

HOOKHAAI
 Hookaai skreeu voor jy die brug oor is – jou verheug voordat jou doel bereik is.
 (Die woord word deesdae hokaai gespel)

HOOP
Teen hoop op hoop – In weerwil van alle waarskynlikheid.

Op hoop van seën – Met vertroue wag op ʼn gunstige uitslag

Tussen hoop en vrees – In onsekerheid

Buite hoop lê – So siek dat daar min hoop vir herstel is.

Hotnotsriel
 'n Hotnotsriel dans – Onder 'n kweperlat deurloop

HOTNOTSGOT
 Soos 'n hotnotsgot op 'n bondel wit wasgoed – Probeer om aandag te trek
 
HOTNOTJIE
 Hotnotjie onder die kombers – Handpasteitjies
 
HOU
 Hou en trou sweer – 'n Eed neem om getrou te wees.
 
MA
 Iemand slaan dat hy sy ma vir ʼn eendvoël aansien – Iemand so slaan dat hy nie behoorlik die gebruik van sy oë het nie.

MAAG
 Van sy maag ʼn afgod maak – Vraatsugtig wees
 
Dit sit hom dwars in die maag – Hy is daarmee verleë

Hy sit met iets in sy maag – Hy is in die verleentheid as gevolg van iets
 
Maagvol wees vir iets – Teensin hê in iets
 
MAAI
 Loop na jou maai – Jy kan gaan net waarheen jy wil (ongunstig):

Maai waar jy nie gesaai het nie – Die voordeel trek van werk wat ʼn ander gedoen het.
 
Maai wat jy gesaai het – die gevolge van jou eie dade dra

Maai en pagaai – Woelerig of opgewonde wees.

MOER
 Jou malle moer afwag – Baie lank wag
 
In sy moer – stukkend

Na sy moer – weg, verlore, dood

Loop na jou moer – loop na jou verstand

MOERLAND
 Hy is moerland toe – Hy is verlore, dood
 
MOET
 Dit moet – Dit is noodsaaklik

Moet is dwang (en huil is kinderagtig) – Gesê aan iemand wat oor die noodsaaklikheid van iets twyfel.

MOND
Bitter in die mond maak die maag gesond – Medisyne wat sleg smaak, is baie goed

Die mond van ʼn dronk man praat die waarheid - iemand wat dronk is, kan niks verberg of geheim hou nie.
 
Uit een mond – Eenparig

Van mond tot mond gaan – Oral versprei

Het jy geen mond nie? – Kan jy nie iets sê nie? Waarom praat jy nie?
 
Hy gee nie sy mond verniet kos nie – Hy het altyd ʼn antwoord gereed

Los in die mond wees – Geneig wees om vuil taal te gebruik
 
MOP
 Moppe tap – grappe vertel

MÔRE
 Môre is nog ʼn dag – Daar is nie haas nie.
 
Môre-oormôre – Binnekort; een van die dae.
 
MÔRES
Iemand môres leer – Iemand kwaai teregwys
 
MÔRESTOND
 Die môrestond het goud in die mond – Dit is tot jou voordeel om vroeg op te staan.
 
MOS
 Die mos begin werk – Die saak begin ontwikkel
 
MOSES
 Sy moses is dood – Hy oortref almal.
 
Sy moses kry – Sy meerdere teëkom.
 
MOSSIE
 So dood soos ʼn mossie – morsdood

Hom oor ʼn dooie mossie verheug – Hom oor iets denkbeeldig of nietigs verheug.
 
Mossie maar man – Klein maar sterk
 
MOSTERD
 Mosterd na die maal – te laat.

Iemand deur die mosterd trek – Iemand skrobbeer.
 
MUGGIE
 Die muggie uitsif ( uitsyg ), maar die kameel insluk – ʼn Klein foutjie veroordeel, maar self ʼn groot sonde skaamteloos begaan.
 
Van ʼn muggie ʼn olifant maak – iets baie oordryf.

MYL
 Baie myle lê tussen doen en sê – Daar is ʼn groot verskil tussen sê dat jy iets sal doen en dit werklik verrig.

MYN
 ʼn Myn sout – Die erts in ʼn myn kunsmatig verryk om te bedrieg.

Geen besef van myn en dyn hê nie – Hy steel maklik

Die myn en die dyn – Myne en joune

 WA
 Krakende waens loop die langste – Sieklike mense is baie taai.

Voor op die wa wees – Te gemeensaam en opdringerig
 
WAAI
 Iemand ʼn waai gee – Iemand ʼn klap gee.
 
WAAR
 Goeie waar prys hulleself – Goeie dinge het geen aanbeveling nodig nie.
 
Niks is minder waar nie – Dis ver van waar.

WAARD
 Soos die waard is, vertrou hy sy gaste – Iemand na jouself beoordeel.
 
WAARHEID:
 Die waarheid in die aangesig slaan – Nie die volle waarheid vertel nie.
 
Besyde die waarheid – Ver van waar.
 
Die waarheid bewimpel – Nie die waarheid praat nie.

Die waarheid wil nie gesê wees nie – As mens reguit die waarheid vertel, word jy gehaat.

Die waarheid geweld aandoen – Leuens vertel.

Die heilige waarheid – Die suiwerste waarheid.

Die waarheid is – Feit is.

ʼn Waarheid soos ʼn koei – Iets wat vir homself spreek.

Die naakte waarheid – Die suiwer waarheid.

Die ronde waarheid – Die Volle waarheid

Die waarheid spaar – Onwaarhede vertel

Iemand kaalvuis die waarheid vertel – Iemand reguit die waarheid sê.

WOORD
 ʼn Goeie woord kos geen geld nie – Vriendelikheid vereis geen groot opoffering nie.
 
ʼn Goeie woord vind ʼn plaas – Met beleefdheid kom ʼn mens altyd die verste.

Die lewende woord – Die spreektaal.
 
Woorde uit die mond kan die hart verwond – Eenvoudige woorde kan baie seermaak.
 
Daaroor kan ek ʼn woordjie saampraat – Uit ondervinding kan ek oor daardie saak praat.

Woorde maak nie seer nie – Dis beter om ʼn geskil met woorde as iets anders op te los.
 
Geen Spaanse woord nie – Nie ʼn enkele woord nie.
 
ʼn Woord stemreg verleen – ʼn Woord in ʼn taal erken.

Hy het geen stomme woord gesê nie – Hy het doodstil gebly
 
Sy woord verpand – Op sy woord van eer belowe.

Weeg jou woorde – Wees versigtig wat jy sê.
 
WURG-WURG
 Dit gaan maar soms wurg-wurg – Dit gaan soms besonder moeilik.

WYD
 Wyd en syd bekend – Oral bekend.

WYLE
 By wyle – Af en toe (N
 
WYN
 Helder wyn skink – Openlik met iets voor die dag kom.
 
Goeie wyn het nie ʼn krans nodig nie – Iets wat goed is, hoef nie geprys te word nie.

Wyn in die man, wysheid in die kan – As iemand dronk is, kan ʼn mens nie by hom wysheid verwag nie.
 
Van wyntjie en Tryntjie hou – Lief vir drank en vroue wees.

WYSHEID
 Die wysheid is in die kan – Hy is dronk.

Hy maak asof hy die wysheid in pag het – Hy maak asof hy slimmer as ander is.
 
WYSIE
 Iemand van sy wysie af bring – Iemand heeltemal deurmekaar maak.

Van die wysie af raak – Deurmekaar raak.

Van sy wysie af wees – In die war raak.

WAARMAKER
 ʼn Waarmaker van sy woord – Iemand wat sy woord gestand doen.

WAFEL
 Iemand met ʼn groot wafel – Iemand met ʼn groot mond.

WAFFERS
 Dit is nie wat waffers nie – Dit is niks besonders nie.
 
WAG
 Nie weet wat hou te wagte staan nie – Nie weet wat voorlê nie.

WAL
 Aan hoër wal kom – Voorspoedig wees.

Aan laer wal geraak – Teenspoed ondervind

Aan laer wal wees – In die moeilikheid wees.

Iemand van die wal in die sloot help – Iemand verder in die moeilikheid dompel.

WANS
 Dit reën sommer uit wans uit – Dit reën geweldig.
 
WATER
 ʼn Vabond van die eerste water – ʼn Regte skelm.

Hy kom nie warm by die water nie – Hy is lui.

Wanneer die water tot aan die lippe kom – In die uiterste geval.

Water in ʼn mandjie dra – Die onmoontlike probeer doen.

Koue water op iemand se plante gooi – Iemand ontmoedig.

Water loop altyd see toe – Iemand wat geld het, maak maklik meer geld.

Water in die see dra – Oorbodige werk verrig.
 
ʼn Diamant van die suiwerste water – Van die beste gehalte of fynste kwaliteit.
 
In troebel water visvang – In tye van verwarring eie voordeel behaal.
 
Hulle is soos water en vuur – Hulle is geswore vyande.
 
WENING
 Wening en knersing van tande – Diep berou
 
WÊRELD
 Hy was by toe die wêreld gemaak is – Hy maak of hy baie slim is.
 
Iemand na die ander wêreld help – Iemand doodmaak.
 
Die wêreld staan op sy kop – Alles is deurmekaar.

Die wêreld is ʼn pypkaneel, elk suig daaraan en kry sy deel – Elkeen speel sy rol op aarde.
 
WÊRELDSGOED
 Wêreldsgoed is soos ʼn handvol vlieë – Tydelike dinge is nie blywend nie.
 
Wêreldsgoed is eb en vloed – Daar is niks bestendig in aardse besittings nie.
 
 XANTIPPE
 ʼn Egte Xantippe – ʼn Kwaai, twissieke vrou (Engels dieselfde: A Xantippe)
 
YDELHEID
 Alles is ydelheid – Alles op aarde is verganklik en onbestendig

Ydelheid der ydelheid – Ydel vermaak of vertoon.

YDELTUIT
 ʼn Ydeltuit – ʼn Hoogmoedige meisie

YSKAS
 ʼn Plan in die yskas sit – Die uitvoering van ʼn plan uitstel.

YSKOUD
 Dit laat my yskoud – Ek steur my glad nie daaraan nie.
 
Van iets yskoud word – Met groot ags vervul word.

YSTER
 ʼn Mens kan nie yster met hande breek nie – ʼn mens kan nie die onmoontlike doen nie.

Hy is van yster en staaal – Hy is baie sterk

YSTERKLOU
 Ysterklou in die grond slaan – Wegvlug; vastrap.
 
YSTERVARK
 Gaan ystervark slaan – Gaan vry.


Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #7 on: December 02, 2012, 03:42:51 AM »
Nog gesegdes:
Hy het die hasepad gekies.
 
Hy het miere.
 
Van ‘n muggie ‘n olifant maak.
 
Hy is ‘n wolf in skaapklere.
 
Hy het rooimiere.
 
Die berg het 'n muis gebaar.
 
Jy hou jou rammetjie-uitnek.
 
'n Ou bok hou van jong blare.
 
Jy steek jou kop in 'n bynes.
 
Hy is nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie.
 
Om jou op die haaivlakte te bevind.
 
Die kreeftegang van agteruitgaan.
 
Sy kloek soos 'n hen al om haar kuikens.
 
So tuis wees soos 'n vis in die water.
 
Luiaard gaan na die mier.
 
So besig soos 'n miernes wees.
 
Dit is net die oortjies van die seekoei wat ons van weet.
 
As die muis dik is, is die kaas bitter.
 
So blind soos 'n mol.
 
Name in gesegdes en uitdrukkings:
 
Piet Magriet:
In die arms van Morpheus - vas aan die slaap.
 
In die arms van Bacchus – lekker besope
 
Die wysheid van Salomo.
 
Hulle is soos Dawid en Jonathan.
 
Job se geduld.
 
Sodom en Gemora - Gauteng?
 
Sy is ‘n Delila.
 
Hy weet waar Dawid die wortels gegrawe het.
 
Is Saul ook onder die profete?- skertsend gesê as jy iemand in 'n kring (veral in goeie geselskap) aantref waar jy hom nie verwag nie.
 
Iemand met ’n Janusgesig — ’n huigelaar.

'n Vreemdeling in Jerusalem wees.
 
Die ware Jakob.
 
Hy is 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.
 
Hunker na die vleispotte van Egipte.
 
Voor Baäl die knie buig.
 
Die rondte van vader Cloete doen.
 
Antjie Somers.
 
Soos die rots van Gibraltar.
 
In Abraham se skoot wees.

Die achilleshiel van iemand - die kwesbare plek van iemand of die swak punt in sy karakter.
 
Jannietjie Jammerballetjie.
 
Saartjie suurgat.

Naas:
Moenie jouself Martie Martelgat hou nie

« Last Edit: December 23, 2012, 05:16:01 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #8 on: December 02, 2012, 03:45:07 AM »
Name in gesegdes en uitdrukkings:
Ek is Piet Verdriet op Moedverloor se vlakte vandag.
 
Hy is Jan Salie vanuit die Wag- 'n-bietjie- bosse.
 
Sak Sarel pa wil 'n Springbok skiet op Dooierus.
 
Vra my broer Jack, hy lieg nes ek!

Eerder bang Jan as dooi Jan anders is jy Bokveld toe.
 
Jan Rap en sy maat dans die riel vanaand.
 
Mal Jan onder die afkop-hoenders.

Jan Alleman in die straat is die segsman vir die ouens wat met hulle mond vol tande staan.
 
Nou is jy regte Slim Jan vandat jou twak nie meer nat is nie!
 
Jan Taks die belasting man eis sy pond vleis.
 
Ek is nou die baas en jy is Klaas met ou Hansie die kneg.
 
Hy stuur ons van Pontius na Pilatus om te soek na 'n naald in die hooimied.
 
Al die paaie lei na Rome en die kronkelpaaie na ons drome.
 
Rome is nie in een dag gebou nie so gaan jou gang rustig - hoe meer haas hoe minder spoed.
 
Hy is opgedreun tot by oom Daantjie in die kalwerhok en weer terug.
 
Dit kom nog uit Noag se ark saam met Metusalem.
 
Koerland se vleiseter is 'n lui kalant en so uitgeslape soos my prokureur nie kan droom om te wees.
 
Dit is vir my Grieks en ek maak nie kop of stert daarvan uit nie.
 
Piet Pompies van Soetmelksvlei is nie van hier nie.
 
Japie my skapie jy hou my hart se punt in die holte van jou skaapwagters-hande.
 
Ledigheid is die duiwel se oorkussing, lig jou alie en kry jouself in rat.
 
Gee die duiwel wat hom toekom - hy slyp al lank genoeg aan sy steen.
 
« Last Edit: January 22, 2013, 12:47:32 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #9 on: December 02, 2012, 04:00:35 AM »
Hier is  twee idiome wat ek by die *Maroela erf gaan leen het wat minder bekend is:

1. Idioom:
 Die blikbord lui vir iemand

 Betekenis:
 Iemand is bankrot.

 Oorsprong:
 Al sy besittings is verkoop, ook die porseleinborde sodat net die blikbord oorbly. ʼn Ander bron vermeld dat dit verwys na ʼn blikbord wat geslaan is as daar ʼn vendusie begin, soos vandag se klok.

2. Idioom:
 Dit gaan jou blikkies

 Betekenis:
 Mag dit met jou goed gaan
 
Oorsprong:
 Die vroeëre uitdrukking het die byvoeging jêm gehad, dus blikkies jêm: die soetheid is in verband gebring met “aangenaam”; dus is die wens dat wat voorlê vir jou soet, aangenaam sal wees.

*toestemming vooraf verleen aan die woorrdief vir ons eie bewaring   

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #10 on: December 02, 2012, 06:05:10 AM »
Keelgesegdes:

Dit hang my by die keel uit.
(Ek walg daarvan.)

Dit steek my dwars in die keel/krop.
(Dit wek my teësin.)

Dit gaan bo jou keel.
(Dit is meer as wat jy kan verduur.)

Om ’n keel op te sit
 (Om hard te skree.)

Om iemand na die keel te vlieg.
(Om iemand aan te val.)

In die keel bly steek.
(Dit nie kan verdra nie.)

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #11 on: January 22, 2013, 12:32:57 AM »
Stuur Adele my vandag 'n skakel na waar ons lankal gewoel het met spreekwoorde en gesegdes. Duisend dankies mater, ek is besig om te loer watter ek nog nie hier ook kom uitstal en bewaar het nie!  Kon ek my oge nie glo toe ek sien hoeveel keer daardie erfie al besoek was nie!

Afrikaanse Spreekwoorde en uitdrukkings (Read 33944 times)

 :notworthy: :hello2:

Deel gou weer die paartjies met julle:

Aspoestertjie: As daai veeartsie hier op die plaas aankom met sy regop ge-helde hare en hy't daai grootoog donkerbrille van hom op sê oupa altyd. "Die mannetjie lyk weer va'more soos 'n brommer in paartyd."

PM: My oupa sou gesê het hy lyk soos 'n "tiger moff pilot".  

Naas:
 "Nou is ek so dik soos drie donderwere." en die antwoord: "Moet asseblief net nie dreun nie."

Anselize:
 Rooi sonsondergang - Die son slat weer die horison kyk hoe rooi is dit.

Lorraine:
"Moenie praat soos 'n lap wat skeur nie"
(Kry klaar gepraat, moenie dat ek alles uit jou trek nie)

"Hoe lyk dit my iemand het jou hare met 'n vurk en mes gesny?"
(Nadat twee troepe mekaar se hare probeer sny het)

"Ek is nou so honger, my maag maak al truuks om geld in die hande te kry!"
(Tipies army-kind wat altyd honger bly)

« Last Edit: January 22, 2013, 01:14:44 AM by Meraai vannie Baai »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #12 on: January 22, 2013, 05:20:04 AM »
Ek wil altyd by hierdie plasings verbygaan sonder om te antwoord want dit voel vir my soos heilige grond.   :notworthy:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #13 on: July 07, 2016, 12:26:30 AM »
Oupa sal dalk ook hier sy eie boek kan skryf.

Dom:
Hy so toe, as hy poep blaas sy sokkies op.
En as oupa rêrig kwaad is vir Ta se onnooslikheid," hy is so toe soos 'n klei-os se hol"

As as iemand snaaks optree.
"Hy het weer sy wheetbix gerook" of "Hy het weer sy Pro Nutro gesnuif" "Sy grysstof is geklits"
"Hy melk nou weer die bul by die horing."

Om iemand goed sleg te sê.
"Jou Sussie lek Prit"
"Jou mal ant Tillie se blou Woer-woer"

As 'n kind goed grootgemaak is maar groot sleg geword het.
"Die appel het afdraand gerol."

Oupa kan ook kwaad word.
"Ek is nou so kwaad dat ek 'n krokkedil kan borsvoed"
"Ek soen sommer 'n mamba oopmond"

 :mumum:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3663
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Ou idiome uit die volksmond
« Reply #14 on: July 07, 2016, 01:24:53 AM »
Ek glimlag van oor tot oor  :icon_biggrin: