Die dag toe ons gebore is, het ons elkeen reeds die eerste tree gegee op die pad na die einde. Wanneer en hoe - wis maar min van ons. PM vra my vandag hoe ek daaroor voel om te weet daar hang 'n swaard oor die lewenslyn gespan vir my.
29 Julie 2012: Met vrees en onkunde toegeklamp in my vuiste, stap ek by die spreekkamer uit. In my sak die inkskets wat dok geteken het. (Ek liefffff prentjies - maar nie die soort nie.) 'n Nuwe vloekwoord 'Pulmonêre Hipertensie' het ongenooid homself tuisgemaak in ons lewens. PH word 'n pynlike afkorting en skielik wens ek die twee letters was nie in die alfabet nie.
Dat 'dit' terminaal kan wees vind ons 'n paar weke later uit en begin verward soek na 'n ligstrepie in die donker dae en nagte.
Altyd bang gewees vir oudword, gaan dit my nou (sic) gespaar bly, vertel ek wrang vir Outoppie. En ons grimlag saam oor die ironie; huil stil na binne.
En so dra hy en ek - vir eers, in swye saam aan hierdie nuwe kruis en soms teen skemer, kom sit ons dit vir rukkies neer. Langsmekaar. Woordloos. Verblind deur ongestorte trane en 'n duisend onbeantwoorde vrae. Tot een aand...
Die eerste, van seker nog baie vasklou en saamhuil het dit deur my gedagtes geflits en word dan ook oorgevoude driehoekies van die eerste paar blaaie in die verhaal van ongeskrewe paragrawe waar niks regtig sin maak nie.
***************
Na die diagnose bevestig is deur die kardioloog in sy ondersoek met 'n
fensie naam, het dit tyd geword om kinders, familie en vriende in te lig oor die prognose. 'n Tyd in ons lewe waar ek myself gehaat het weens die pyn (wat
'dit' in my), aan geliefdes veroorsaak. Ons jongste seun se rousnikke oor die foon het my my ore laat toedruk en die gang af vlug. Outop het die foon geneem terwyl Kind net aanhou huil het...
Ek wou net wegkom van alles af. Ongelukkig neem 'n mens jouself saam waar jy ookal gaan. So ook die skete en kwale.
Na ons almal ingelig het word dit stil om ons. Doodstil. Droog oases op. Die foon is stil. Die poskoets draf leeg verby. Niemand weet wat om te se vir ons nie. Soos 'n banneling in 'n mallemeule beleef ek die sekondes van goeie en slegte ure/dae.
***************
Verwurg deur alleenwees, kry ek myself aan die kraag beet en neem ooraktief weer deel aan die lewe. Die glimlag in my siel en op my lippe vasgeplak met vals bravade. So glip die weke een-een verby in die martelende wagproses om te sien of die drukking in regterhartkamer gaan verminder of vermeerder, of soos gister se mis, vir altyd weg sal wees.
Stap ons gedwonge voort op die onbekende PH-pad ... bereik van die mylpale: Skok en ongeloof. Twyfel oor die diagnose. Dokters en spesialiste maak wel foute het ondervinding ons reeds geleer. Die drie verkeerd-gediagnoseerde 'gaatjie in die hart oorsaak van alles' laat die onsekerheid vreet aan jou binneste oor die werklike oorsprong van die toestand. Ek besef dit gaan 'n laaaaang onsekere pad wees tot by die cul de sac.
******************
My, en so ook jou eie toekoms, mag baie kort of lank wees. Nie een van ons kan daarop reken nie. Dit plaas ons op dieselfde roete in verskillende bootjies. Ek wag op uitslae wat dalk vir my 'n aanduiding kan wees van die lengte van my vaart op die lewensseë.
22 November is D-Dag vir ons.
Dan gaan hulle nog drie toetse doen om vas te stel wat gaan aan en hoe nou verder? Onsekerheid vreet soos die groot K en senuwese is garingdun.
Denneys van PHSA het gevra dat pasiente/familielede, versorgers en dies meer, 'n briefie aan God stuur vir die bekendmakingsveldtog van November. Ek kon nog nie my briefie skryf nie maar het vandag die onsekerheid probeer verwoord en sal dit in my 'kerskous' plaas.
22 November 2012: Wat sal dit wees?
Is dit meer...
is dit minder...
of was dit net gene, oorgeërf
of is die oorsprong onbekend
en kan/sal dit die einde wees?
Liewe Vader,
Dalk was die diagnoses weer verkeerd
en het daardie twee gevreesde letters
uit die alfabet, nou vir altyd verdwyn.
PS: Dankie vir die voorreg om te weet hoe kosbaar tyd kan wees.
Here, stuur ons asb. die kersfees 'n wonderwerk - 'n kuur, vir PH.
*****************
22nd November 2012: What will it be?
Is it more...
is it less...
or was it just a gene - inherited
or will the cause be unknown for ever
and it could spell 'the end'?
Dear God,
Maybe they got it all just wrong again
and somehow, that two dreaded letters
from the alphabet are now, forever gone.
PS: Thank you for the privilege to know how precious time can be.
Please Dear God, send us a miracle for this christmas - a cure for PH.