Goed, ek sal nou vir jou 'n volledige verslag gee. Djarre der djarre gelede, dit is nou toe oom Paul nog vir Diggers skrumskakel gespeel het, het ons 'n kuiertjie gereël daar by ons ou huis in Valhalla. Die geleentheid was Adéle, of Annie, soos sy destyds bekend gestaan het. Sy het kom kuier en ek het probeer om 'n paar ouens bymekaar te kry.
Karin, of Juenka, Stof en Kabouter, ek en Hannes en ek hoop nie ek het iemand vergeet nie, het saam gekuier.
Dit was mielietyd, nee eksuus, ek bedoel groenmielietyd, net so hierdie tyd van die jaar wat jou lus vir groenmielies uitgehang het maar jy kon dit nog nêrens te koop gekry het nie. Hannes het in "Timbaktu" gewerk en was oppad huistoe. Langs die pad sien hy toe hierdie lieflike groenmielielande en toe hou hy stil en steel 'n paar groenmielies, net genoeg vir die pot, en hy bring dit saam. Daardie aand toe eet ons groenmielies dat die spoeg so spat! Niks so lekker as gesteelde vrugte nie!
Ons het gekuier en gekuier tot so ek weet nie hoe laat nie. Die wyn het gevloei soos wat die Kaap dit nog nooit geken het nie! Dikker as bloed seg ek vir u. Dit was in daardie vroege oggendure wat ek besef het, nou sal koffie dalk net die regte ding wees. Toe slaat ek daai moerkoffieketel dat hy 'n "knight in armour" is tot die son opkom. Sustertjie, dit was 'n gekoffie uit die boonste rakke. Ons het al die vogeltjies wakker geraas! Hoe Adéle die volgende aand nog gevolkspele het is 'n raaisel, maar sy het dit gedoen!
So het ons bloedbroers en susters geword tot vandag toe, gesteelde mielies en boeretroos en al!