Net gou 'n deel van wat aangaan.
Ouma Naas is nog in die hospitaal. Al die vriende en familie het haar Sondag kom groet. Die dokter was seker dat sy nie Sondagaand sou maak nie.
Sy is egter nog met ons. Baie swak. kan nie meer haar hand by haar mond kry nie. Daardie hande wat so baie koekies gebak en uitgedeel het is besig om stil te raak.
Ouma is in en uit soverre dit haar bewussyn betref. Sy kan nie meer haar selfoon gebruik nie. Sukkel geweldig om asem te kry. Lewe van morfien en suurstof en is baie swak.
Het ek al gese dat sy baie swak is.
Ek en Elmarie maak beurte om by haar te wees en my niggie kuier ook gereeld 'n tydjie hier. Ouma wil nie alleen wees nie en soek onmiddelik as sy by is waar ons is.
Ek vra dat julle vir haar bid waar sy een van die mooi dae hierdie blyplek vir die permanente een moet verruil.
Laasnag drieuur vra sy ek moet vir haar 'n Psalm lees. Voor ek die Bybel kan oopkry is sy halfpad deur Psalm 23 gesukkel. Toe sy klaar is smeek sy al hortende dat ons Vader haar asseblief nou moet kom haal want sy kan die pyn nie meer verduur nie.
Vanoggend kan niemand aan haar raak nie want sy kry te seer.
Die Here is haar herder deur die dal van doodskadu... Sy vrees geen onheil meer nie...