Die Biblioteek > Staaltjies uit die ou dae

Toeka se kar pryse

<< < (5/5)

PM:
Ek ruik daardie garage!

Ja, die "general dealer"! Met koffiebone-, kerse- en lampoliereuk!  Daar kon jy van 'n spyker tot 'n dooie polisman koop.  Meel wat in "onderbroeksakkies" verpak was.  Dit het ook so baie ander funksies verrig.  Die doekie wat oor die melkemmer gekom het, of die wateremmer met die "soplepel" in waaruit ons water geskep het om te drink of vir die kosmaak.  Dit het ook gewerk vir koffiesakkies in die koffiepot en vadoeke en voorskote en om die melk deur te suig.  Witgoud!
Daardie appelkooslekkers wat 'n mens nooit nooit weer sal kry nie.  Vandag s'n smaak nie so lekker nie.  Nickerballs, met al die kleure! 
Koolstoof met moerkoffie.  In ons huis was daar altyd 'n pot koffie op die koolstoof en 'n ketel kookwater. 

Waar is daardie dae! 

Jeannedarc:
siende dat ons nie telvisie had toe ek klein was nie, was ons aangewese op die radio. voor ek skool toe is was my roetine ek moet my ontbyt eet wat maar gewoonlik hawermout, mieliepap of matabela was en dan kon ek nie wag vir die radio om aangeskakel te word sodat ek liewe heksie kon luister. dan het ek saam met ouma die oggend godsdiens geluister. dan was daar radio stilte tot een uur sodat ouma die nuus kon luister. sekere dae was die vloere ge-politoer met cobra waks - ek sal nooit daardie reuk vergeet nie. wie kan nog die ou ricketts blue blokkies onthou wat in die wasgoed spoelwater gegooi is om die wit nog witter te maak - ons het dit sommer blousel geroep. sekere dae het die rondgaande groente mark gery en dit was vir die huisma's 'n groot ding want dan is daar gesels en groente gekoop.

een uur, net na die nuus was daar hospitaaltyd waar 'n mens versoeke kon inbel wat dan vir die siekes in die hospitale gespeel is, dan het esme en jan gevolg met praktiese wenke en dan was daar gewoonlik 'n radio storie van so 'n 15 minute - oupa jasper was een so 'n storie. hier so van half vyf die middag was die radio weer aan met allerhande gebeurlikhede - die nuus in kort met die sport en wat vir my altyd sal bybly is die sokkeruitslae wat ook gegee is so reg uit engeland want die name was vir my so eksoties - man united, spurs, chelsey. en dak ook op sekere dae die perde renne uitslae. ond buurman die treindrywer het perde gespeel by die tote of dan tattersalls en as dit goed gegaan het het hy by ons aangekom en inderdaad 'n paar sopies sterk. as dit nie goed gegaan het nie is die trekklavier nader getrek en dit was 'n weeklaag.

staalburger was die hoogtepunt tydens aandete - ek was versot op die byklanke en het hierdie groot helde verering vir ou staal gehad. dan so voor slapenstyd was dit tyd vir die radio verhaal - die du plooys van soetmelksvlei en later die vlakte duskant hebron. in 1967 ontdek ek die hitparades in die vorm van LM radio. wat 'n wonderwereld wat oopgegaan het vir my en my ou vadertjie kon hierdie musiek nie hanteer nie - het gese dis van die hel af. 'n gebeurtenis wat my altyd sal bybly is toe hendrik verwoerd deur tsafendas gedood is. skielik was daar op al wat 'n radiostasie is net gewyde musiek te hoor met kommentaar so tussendeur deur omroepers met begrafnisstemme. ek is 12 jaar oud en wil nie weet van hierdie goete nie - ek wil graag my musiek hoor, wil graag hoor wie het opgeskuif in die hitparade en wie het uitgeval. en die aarde het nie op daardie dag tot stilstand gekom nie. die lewe gaan aan want vader tyd tik met ritmiese reelmaat.

PM:
As dit nou nie memory lane is nie.  Goeiste maar jy onthou goed.  Van Siembaba tot by LM hit parade.  Sondae aande dink ek. 
Jan en Esmé en dan seker nog Fanus Rautenbach. 
Ek was nog in die hoërskool toe die Beetles so populêr geword het.  Toe maak hulle die fout om te sê hulle is meer populêr as God en toe bars die bom.  Ons is verbied om ooit na hulle musiek te luister.  Dit was nou reguit uit die hel. 
Ek wou sê, ek ken daai plek, dit is waar ek groot geword het.   :icon_biggrin:

Navigation

[0] Message Index

[*] Previous page

Go to full version