Waar ons ookal gaan vat ons die reën saam!
Gister kom ons huistoe van Grootvlei af. Die weervoorspelling seg 38 grade met GEEN reën nie. Ek sien geweldig baie uit daarna om tuis te wees. Ons kan 'n vuurtjie maak en heerlik in ons eie groen-groen tuin kuier en 'n vleisie braai. (Onthou, vir drie
jaar weke
het ek net plaveisel gesien.)
Ons hou stil en koop GTOENTE en nog groente en groente. Dis warm!
Al's uit- en weggepak sak ons tuin toe. Onder die avoboom se koelte. Ek hoor 'n dreuning. Nee, dit kannie wees nie. Dit kannie reën wees nie, maar Kannie is lankal dood van kruiwastoot.
'n Rukwind smyt Hannes se wynglas om. Verbaas kyk ons na mekaar. Toe val die groot druppels uit die lug uit. Inderhaas rol Frans die laaste stuk van die tuinslang op en stap weg.
Nog 'n rukwind en ons hoor 'n geweldige slag. Een van die avoboom se takke het losgeskeur. Dit hang nog net aan 'n flentertjie vas. Dit het mooi tussen die houthuis en 'n palmboom ingeval, net daar waar Frans sekondes tevore gestaan het. Die skade is minnimaal, maar die tak is oor die ses meter lank en dit hou 'n bedreiging in. As daardie laaste stukkie los skeur is my stoepteëls in hul moerby in.
Ons vat toe 'n band, maak dit om die tak vas, kap die laaste stukkie af en laat dit stadig sak tot op die grond.
Natuurlik is ons Saterdagprogram heel verander, maar ons is baie gelukkig en dankbaar dat ons nie erge skade gekry het nie en niemand is beseer nie.